Verskillende juwele van die Baltiese See

Verskillende juwele van die Baltiese See

Dit is fassinerend sowel as verrykend om meer oor ander kulture te leer. Daar is soveel aspekte wat ‘n impak op die ontwikkeling van kulture regoor die wêreld gehad het.

Die geleentheid om vir ‘n paar jaar in Europa te woon, maak sekere lande en kulture meer toeganklik vir ons. Ons het besluit om die somervakansie te benut om dele van Noord-Europa rondom die Baltiese See met ‘n skip te verken.

Zander het sy Duits geoefen

Ek het al in `n vorige brief vertel dat ons gesin `n lang pad met MSC stap.  Die Baltiese see-vaart het vanaf Kiel vertrek en die meeste passasiers was Duits.

Die gebruik van die Duitse taal op die skip het ‘n voordeel vir Zander ingehou. Hy het by die tienergroep aangesluit en was dapper genoeg om Duits te probeer praat. Hy het in die proses kosbare vriendskappe met Duitse seuns gevorm. Hulle was baie geduldig met hom en het hom gehelp om sy Duitse woordeskat en uitspraak te verbeter. Hulle het selfs ingestem om weer iewers in die komende jaar in ‘n Duitse stad te ontmoet.

Tydens hierdie Baltiese vaart het ek meer van sekere Noord-Europese lande waarvan ek baie min geweet het, geleer.

Kopenhagen, Denemarke

In Kopenhagen se hawe aangekom, het ek dadelik die rye windmeulens in die see opgemerk. Denemarke is ‘n leier in windkrag innovasie.

Ná ons besoek is my beeld van Kopenhagen die rye gekleurde geboue, wat soos Lego-huise lyk.

Lego het in Denemarke ontstaan toe ‘n skrynwerker speelgoed begin maak het om sy inkomste aan te vul. Charl en Zander bou graag Lego en het die oudste Legoland-winkel met verskeie uitstallings baie geniet.

Ons het grootgeword met die verhale van Hans Christian Anderson, ‘n Deense skrywer van kinderverhale. ’n Standbeeld van die Klein Meermin, wat deel van hierdie stories vorm, was die eerste besienswaardigheid wat ons in Kopenhagen gesien het.

Tallinn, Estland (Estonia)

Toe ons deur twee stadstorings in Tallinn die ou stad binnestap, het dit gevoel of ons die 21ste eeu agterlaat en terug is in die Middeleeue. Blommeverkopers het ‘n verwelkomende en geurige atmosfeer geskep.

Ons het die handgemaakte items geniet wat die eienaars met trots in die toeristewinkels uitgestal het. Die woltruie, hoede en sokkies het my laat besef hoe koud dit hier moet word in die winter. Daar was ook baie produkte wat uit hout gesny is. Ek neem aan dat die skep van handwerk ‘n manier is om deur die lang koue winters te kom.

Ek was mal oor die mooiste juwele gemaak van Baltiese amber, wat hulle uit die see verkry. Dit is ‘n edelsteen wat meer as 45 miljoen jaar gelede ontwikkel het uit boomgom van dennebome.

Die Russiese argitektuur van sommige geboue het ons daaraan herinner dat ons baie na aan Rusland is. Voor die restaurant, waar ons ‘n bier geniet het, was ‘n plakkaat wat hul ontevredenheid met Poetin aandui.

Helsinki, Finland

In teenstelling met Estland, het Helsinki, bekend vir sy argitektuur en ontwerp, ‘n geweldige moderne en minimalistiese gevoel. Zander was mal oor Helsinki.

Ek wou die Sibelius-monument sien ter ere van ‘n wêreldbekende komponis. Hierdie monument bestaan uit 600 orrelpype. Dit was ‘n entjie buite die stad en met ‘n bietjie tyd oor het ons besluit om in ‘n moderne winkelsentrum te gaan stap.

Bouwerk naby die sentrum het meegebring dat die busse nie meer stilgehou het op die plekke wat op die padkaart aangedui is nie en het ons gesukkel om betyds terug by die skip te kom. Gelukkig het my ervare kaartlesers tot ons redding gekom.

Stockholm, Swede

Stockholm het my asem weggeslaan. Ek sal graag terug wil gaan, want ek het nie genoeg tyd gehad om alles op my wenslys te sien nie. Stockholm strek oor 14 eilande en ek was mal oor die stad met al sy water en goed versorgde parke.

Ons het die Paleis, die amptelike woning van die koning wat al 50 jaar aan bewind is, besoek. Ek was verstom om te sien hoe toeganklik hulle die Paleis vir besoekers gemaak het. Dit is deftig en pragtig.

Dit was ook interessant om die skryftaal te kon verstaan, want daar is baie woorde wat na aan Afrikaans is. Om ‘n dag in Stockholm se treinstelsel deur te bring is soos om ‘n kunsuitstalling te besoek. Kunstenaars het honderd stasies met unieke kuns op die platforms, mure of wagareas versier.

As ek meer tyd gehad het, sou ek graag die Nobelprys museum, ABBA-museum en die parke wou besoek het.

Ons besoek aan Noord-Europa en die Baltiese See was ‘n verrykende ervaring. Ek deel foto’s hieronder.

Groete

Emsia

Comments are closed.