Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het

Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het

Gedurende die afgelope twee jaar het Kreatiwiteit hom aan my voorgestel. Ek het baie genot en waarde uit die verhouding geput. My verhouding met Kreatiwiteit was ‘n perfekte voorbeeld van die uitdrukking – “when the student is ready, the teacher will appear“.

Aangesien ek nie myself as ʼn kreatiewe persoon beskou nie, spreek die volgende woorde deur die skrywer Kurt Vonnegut tot my.

“Practice any art, music, singing, dancing, acting, drawing, painting, sculpting, poetry, fiction, essays, reportage, no matter how well or badly, not to get money and fame, but to experience becoming, to find out what’s inside you, to make your soul grow. I do not think being good at things is the point of doing them.  I think you got all these wonderful experiences with different skills, and that all teach you things and makes you an interesting person, no matter how well you do them.”

Ek het in die verlede nie te veel op kreatiewe aktiwiteite gefokus nie. Ek het dit geblameer op ‘n gebrek aan tyd en kreatiewe vermoëns. Die Covid grendeltyd het my gedwing om iets te vind om te doen. Ek het meer begin fokus op fotografie, skryf, eksperimenteer met nuwe resepte en verf met akrielverf.

Fotografie

Met fotografie besluit ek op ‘n onderwerp en probeer dit dan deur my lens van verskillende hoeke vasvang. Soms is dit ‘n seisoen, plek, geleentheid of tyd van die dag of jaar. Ek probeer verskeie tegnieke wat my dwing om anders na alledaagse voorwerpe te kyk. ’n Vlak van detail wat ek nog nooit opgemerk het nie, word skielik vir my sigbaar. Dit maak my opgewonde om die kleur, ontwerp en patrone van dinge in die natuur wat voortdurend verander, waar te neem. Ek deel meer daaroor in my brief met die titel Fotografie is ‘n leermeester van waarneming.

Bak en Kook

Aangesien ek elke dag moet kook, het ek besluit om meer kreatiwiteit te inkorporeer. Die vars produkte op die winkelrakke is seisoenaal en verander voortdurend. Sodra iets nuuts verskyn, probeer ek resepte kry om dit uit te toets. Die Switserse het byvoorbeeld Spätzli, wat amper soos pasta is, met seisoenale groente. Ek probeer ook gereeld nuwe variasies met Gnocchi en Risotto.

My oudste seun, Jacques, het ʼn Vegan Bakkery met die naam The Cinnamon Club wat die mooiste koeke bak.  Ek staan telkemale verstom oor die kreatiwiteit.  Ek deel meer daaroor in by brief oor Kosmaak met liefde geïnspireer deur my seun.

Verf

My skilderpogings is steeds op graad 1-vlak. Ons het Paint-by-Numbers as ‘n wintermaand-vermaakprojek begin. Ek het dit so geniet dat ek verf, kwaste en papier aangeskaf het. Die uitkomste is nog nie iets wat ek bereid is om te wys nie, maar ek vind die proses aangenaam. My nuutste prente is meer van ‘n abstrakte aard en ontwikkel soos ek aangaan. Ek geniet abstrakte kunswerke meer aangesien daar minder ruimte is vir sigbare foute.

Genot in kreatiwiteit

Ek is nog in baie opsigte ‘n beginner, maar die genot en positiwiteit wat ek ervaar wanneer ek dit doen, is van onskatbare waarde! Daar is baie persoonlike bevrediging daarin om iets nuuts te probeer en te sien hoe jy vorder. Dit is ook baie ontspannend en verplaas my na ‘n ander wêreld. Ek moes aanvaar dat ek dit bloot vir die genot daarvan doen en moes my innerlike kritikus so ver moontlik wegstuur.

Ek hou van Albert Einstein se uitdrukking, “Creativity is intelligence having fun“. Kreatiwiteit help my om op nuwe maniere na die wêreld en voorwerpe om my te kyk. Ek vind skielik korrelasies tussen dinge wat ek nooit voorheen opgemerk het nie. Ek is meer bewus van en vind vreugde in die alledaagse dinge rondom my.

Ek kan beslis Kreatiwiteit as vriend aanbeveel.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het

  1. Emsia. Pragtig geskryf & uiteengesit. Ek wonder of my afval-plank-kas makery, ook kwalifiseer as kreatiwiteit. Ekself is soms baie ingenome oor my planne & d uitkoms en dit met afval plank. Sterkte met jou projekte, hoop ek sal eendag geleentheid kry op v joune te proe!

    1. Ek dink beslis Oom se skeppings wat ook as herwinningsprojekte klassifiseer, is kreatiwiteit!

Comments are closed.

Comments are closed.