Ons maak wonderlike winter pret ontdekkings

Ons maak wonderlike winter pret ontdekkings

28 Februarie 2020

ʼn Onverwagse weeklange sport-vakansie in Februarie het ons verras. In Switserland sluit die skole vir ʼn week of twee tussen die einde Januarie en middel Maart om die mense geleentheid te gee om te gaan ski. Die Desember vakansie is baie kort en die sneeu val gewoonlik eers later. Almal hier sien baie uit na die ski-vakansie en hulle bespreek verblyf in die berge lank voor die tyd.

Ski-vakansie realiteite

Teen die tyd dat ons verblyf probeer bespreek het, het ek gou agtergekom dat die vraag groter as die aanbod is. Ek het ook agter gekom dat ʼn ski-vakansie ʼn peperduur uitstappie is tussen verblyf, ski-toerusting, klere en passe om tot bo in die berge te kom.

Ons het die addisionele probleem dat ons nie kan ski nie en met Charl wat by ʼn hospitaalgroep werk, goed ingelig is oor die aantal ski-ongelukke per jaar. Daguitstappies was ʼn goeie manier om nuwe ontdekkings te maak en meer inligting te bekom vir die toekoms.

Charl en Zander in warm swembad

Termiese spa’s

Een van die heerlike ontdekkings was die termiese spa’s wat in hierdie lande voorkom. Ons het twee van hulle besoek en beide was groot bederf. Die Switsers verstaan watter welkome lafenis en pamperlang die warm water vir seer spiere is. In die spa is daar gewoonlik een groot swembad met waterspuite teen die kant wat jou lyf masseer. Besoekers staan in ʼn ry en beweeg van een hoë druk spuit na ʼn volgende elke twee minute. Die eerste waterspuit begin by jou kuite en die laaste een eindig by jou skouers.

Leukerbad

Ek is mal oor die stoombaddens wat verskillende aromageure stoom vrylaat. Meeste spa-areas het ʼn buitelug swembad waar jy met jou lyf in heerlike warm 38 grade water staan terwyl jy na wit gesneeude berge kyk en die ysige lug op jou gesig voel. Dit voel onwerklik en is asemrowend mooi.

Die een spa het ʼn soutbad in ʼn ondergrondse grotagtige area met rustige klanke. By die ingang is daar lang verduidelikings van die gesondheidsvoordele van sout vir die menslike liggaam. Dit het my met nuwe oë na die voordele van ʼn son, see en strand vakansie laat kyk.

Warm swembad met sneeuberge

Watervalle in Rynrivier

Een van ons daguitstappies was na die watervalle in die Rynrivier naby aan die Duitse kant. Dit was pragtig om die massas water te sien, die gedruis te hoor en die ligte sproei op jou gesig te voel.  Ons het net daar besluit dat ons in die somer sal terugkom om die sproei vanaf ‘n roeibootjie op die rivier te ervaar.

Watervalle in Rynrivier

Sledging by Elm

Daar is gelukkig verskeie maniere om die sneeu te geniet as jy nie vaardig op ski’s is nie. As Suid-Afrikaners wat nie eintlik sneeu gewoond is nie, is al die opsies effens oorweldigend. Een opsie is “sledging” as jy met ʼn houtslee teen die heuwels af gly.

ʼn Ander opsie is om te “snow-shoe” as jy groot plat verlengings aan jou skoene vashaak ten einde bo-op die sneeu te loop.  “Cross-country” is ʼn ander opsie vir die wat vaardig genoeg is om met die ski’s vêr afstande in die sneeu paadjies te beweeg. Ons het besluit om met die “sledging” te begin om selfvertroue te wen.

Zander probeer sledging

In teenstelling met vorige jare het hier naby aan ons amper geen sneeu geval nie.  Die Switsers skryf dit toe aan globale aardverwarming. Daar was darem twee kere ʼn ligte sneeuval wat groot opwinding verskaf het. Meer sneeu het aan die Franse en Italiaanse dele van die Alpe voorgekom.

By Elm aangekom het  ʼn kabelkarretjie ons vyfhonderd meter hoër geneem vanwaar ons teen die berg op ʼn slee afgegly het vir ʼn twintig-minute-lange rit. Die rit was soms baie hobbelrig en vreesaanjaend as jy spoed op tel terwyl jy die afgrond net hier langs jou kan sien. Ons het kwaai met ons skoene gerem om die slee in die pad te hou terwyl die sneeu opspat in ons oë. Ons skoene, sokkies en broeke was sopnat maar die adrenalien het lekker vinnig deur ons are gepomp.

Groete

Emsia

Comments are closed.