Ons engele op aarde is sorgvuldig uitgekies

Ons engele op aarde is sorgvuldig uitgekies

Mense kom in ons lewens vir ʼn rede, ʼn seisoen of ʼn leeftyd. Ons weet egter nie as ons hulle ontmoet, vir watter rede hulle oor ons pad gestuur is nie. Net tyd sal leer.

Oom Frikkie as ‘n Oupa-engel vir ons gestuur

Ek glo vas dat met ons reis hier op aarde, ons Hemelse Vader met baie sorg spesifieke mense uitkies om engele op ons pad te wees. As ons terugkyk op ons lewensreis, kan ons soms met ʼn glimlag terugdink aan die wyse waarop individue ons pad gekruis het, sowel as die unieke rol wat elkeen in ons reis speel. Met die kronkel wat ons pad nou hier Switserland toe gevat het, kry ek net meer herbevestiging van die feit. Daar is ʼn hele paar engele in Suid Afrika wat steeds baie klippe uit ons pad vir ons rol en ondersteuning bied. Ons het gelukkig hier in Switserland ook die engele begin raaksien.

Zander se juffrou, Sandy Hill

Een groot engel is Zander se juffrou, Sandy Hill. Sy is van Britse afkoms, het jare se ondervinding as ma en onderwyseres en weet hoe om amper tieners te hanteer. Tesame met haar liefde vir rugby is sy ʼn perfekte juffrou vir Zander en is hy baie erg oor haar.  Sy rig ook hulle binnehuise sokkerspan af. Die Vrydag voor die 2019 wêreldbeker rugby eindstryd het sy haar Engelse ondersteuners-hempie skool toe gedra.  Maandag was hy baie trots toe sy hom plegtig voor die klas gelukgewens het met die Bokke se oorwinning. By die tennis het die twee Britse ma’s my ook gelukgewens en die Japannese ma het vertel hoe almal in Japan nou skielik rugbymal is.

Aan die einde van kwartaal een het ons die gebruiklike individuele ouer-onderwyser vergaderings gehad. Kwaai juffrouens maak my na al die jare nog steeds senuweeagtig. Ter voorbereiding van die vergadering het ek vir Zander gevra watse terugvoer ek van Juffrou kan verwag. “Ag Ma, ek dink sy gaan sê akademies gaan dit redelik, maar dat ek heeltemal te veel praat in die klas. Dit is nie ʼn probleem vir my nie, maar ek mag dalk van die ander kinders pla”. Juffrou het met ʼn glimlag bevestig dat Zander se opsomming korrek is. Aan haar terugvoer kon ek agterkom dat sy moeite doen om die kinders as individue te leer ken.

Zander se vriend Nate en sy ma Ellen

Zander se vriendskap met Nate, die Amerikaner van San Francisco, het sommer op die eerste skooldag ontstaan. Ek het onafhanklik op dieselfde dag in Nate se ma, Ellen vasgeloop en ons het so lekker gesels, dat ek haar vir koffie genooi het. Oor koffie het ons besef dat ons loopbane baie dieselfde rigtings geloop het en ons belangstellings baie ooreenkomste het. Ons het al ʼn paar keer saam gaan stap en het ook saam met ons Duitse klasse begin.

Pampoenplaas en Halloween

Die laaste naweek van die herfs skoolvakansie het ek en Zander ʼn pampoenplaas besoek. Hy kon sy geluk nie glo toe Nate-hulle ook toevallig op dieselfde dag en tyd daar opdaag nie. Ons was verstom oor die kreatiewe pampoen-uitstallings. Met die heerlike speseryreuk van pampoensop en glühwine in die lug, kon mens pampoene vir die naderende Halloween uitkerf.

Halloween is ʼn groot geleentheid by die internasionale skool. Met die aanbreek van die laaste kwartaal, moes ons as ouers opteken vir hulpverlening met die Halloween vieringe. Die opsies het bestaan uit versierings opsit, bak vir die koekverkoping, toesig hou by die disko (hulle weergawe van ʼn sokkie) of jou kar versier en beskikbaar maak as ʼn “trick or treat” punt met ʼn kattebak vol lekkers. Met gebrekkige kennis oor die onderwerp het ek vir die koekverkoping opgeteken en sommer sjokolade oatskoekies (mishopies) gemaak en ʼn suurwurm in elkeen gedruk. Met die ingee van my koekies, het ek eers die ander Halloween kunswerke gesien! Ek beplan om volgende jaar eerder by die disko toesig hou.

Switserse engele, Stephan en Barbara

Switserse engele wat naby aan ons woon is Stephan en Barbara.  Stephan werk saam met Charl en ons baie dankbaar vir ʼn bietjie later slaap as hy hom soms oplaai werk toe. Hy het al vir Charl baie nuttige wenke en raad gegee. Hy is gekwalifiseerd as ʼn mediese dokter en sy vrou ʼn verpleegster. Hulle het vir ʼn lang tyd in Jemen gewerk waar hulle vier kinders ook skoolgegaan het. Hy het kort nadat hy daar gekom het leer Arabies praat en skryf toe hy agterkom dat sy tolk aanbevelings maak, vêr verwyderd van sy diagnose.

Sy storie is nogal ʼn inspirasie as ek so met die Duits sukkel. Hulle boer met bokke hier naby op ʼn stuk grond wat hy huur. Aangesien hy nie ʼn boerdery lisensie het nie, mag hy nie ʼn stal opsit nie en het toe ʼn wa op wiele gekoop waarin hy in die nag die diere warm hou. Hy is beslis ʼn Switserse boer wat ʼn plan kan maak.  Barbara was ook so dierbaar om my uit te nooi na ʼn geleentheid by hulle kerk om Adventskranse te maak asook vir koffie en Switserse kerskoek by haar huis.

Oral waar ons betrokke raak, ontmoet ons baie interessante mense. Ek het uiteindelik met my Duitse klasse begin en ons is ʼn groep van 12 studente verteenwoordigend van 12 lande. Ek sien uit daarna om die mense oor die volgende ses maande beter te leer ken.

Net tyd sal leer of die mense wat ons ontmoet in ons lewens kom vir ʼn rede, seisoen of ʼn leeftyd.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Ons engele op aarde is sorgvuldig uitgekies

  1. Bly om te hoor iemand dink ek is ‘n engel hier op aarde. Nou moet ek nog net iemand kry wat dink ek sal (dalk) ook ‘n engel in d hemel (kan) wees!

    1. Hoe lekker lag ek nou! Ek is seker Oom sal ‘n Engel in die hemel ook wees!

Comments are closed.

Comments are closed.