Onsekerheid tot moontlikheid

Onsekerheid tot moontlikheid

Die beplanner in my sukkel met onsekerheid.  Verskeie planne in my lewe het nie uitgewerk nie.  Ten spyte van die onsekerheid het die omstandighede wel interessante moontlikhede en geleenthede geskep. In meeste gevalle was die mislukking of uitdaging nodig om my perspektief en ook my optrede te verander.

Hoogtevrees

Ek het reflekteer op tye in my lewe waar planne nie uitgewerk het nie en ek moes leer om geleenthede raak te sien.

Die eerste groot paniekaanval onthou-oomblik was my finale eksamen op Universiteit. Alles was in plek om die volgende jaar in Stellenbosch te begin werk, maar toe druip ek een van my hoofvakke! My pa was opgeroep om uit te help. Ten spyte van sy eie werksprobleme moes hy  verlof insit en my terug neem Bloemfontein toe neem vir ʼn mondelinge eksamen.  Hy moes sy oudste wat in groot paniek was, motiveer en ondersteun.  Ondersteuning was tradisioneel my ma se rol. Hy het  tjoklits gaan koop terwyl ek stoei met Maatskappywet en Ouditkunde Standpunte.

Die mondeling het nie so goed gegaan nie en ek was bekommerd. Tuis gekom, was my ma se glimlag en bos blomme ʼn groot verligting. Prof het gebel met goeie nuus. Die krisis het veroorsaak dat ek my pa se liefde en ondersteuning op ʼn ander manier kon ervaar. Ons pa-dogter verhouding was op ʼn nuwe vlak.

Emsia en universiteitsdae

My grootste lewensdroom was nog altyd om kinders te hê. Na ses jaar van een-strepie swangerskapstoetse, baie bid en smeek het ons ʼn afspraak by die Infertiliteitskliniek gemaak. Die waglys is lank en die eerste beskikbare afspraak is maande vêr in Julie. My lyf voel vreemd en ek doen nog ‘n swangerskaptoets ʼn dag voor ons afspraak. Die mooiste gesig van twee strepies begroet my en nege maande later kry ek die rol wat ek die heel graagste wou hê – die Mamma-rol!

Op amper veertig kruis my lewenspad weer die Infertiliteitskliniek. Ek onthou die dokter se woorde “Wetenskap skep moontlikhede, maar julle moet altyd onthou dat God die uiteindelike besluit maak”. Ek is geseën met drie wonderlike seuns. Candice en Justin het ook later by ons gesin aangesluit. Charl wat gedink het hy gaan nooit kinders hê nie, sê altyd hy het een, drie of vyf kinders, afhangend van hoe jy daarna kyk.

Van kinderloos tot drie seuns

Gesin is my vreugde. Na ʼn huwelik van twaalf jaar, besef ek tydens ʼn onverwagse middagete-afspraak dat my huweliks- en gesinslewe soos ek dit geken het, onherroeplik verander het.  Die onsekerhede staan met hulle bangmaakgesigte in ʼn ry. Hoe gaan ek die huis afbetaal? Sal ek regkom met die huis-instandhouding en die grootmaak van die seuns? Gaan ek met al my kompleksiteite weer ʼn lewensmaat vind vir die pad?

Ek het dele van die huis omskep en uitverhuur om die finansiële uitdagings hok te slaan. In die proses het ek wonderlike en interessante mense in krisisjare van hulle eie lewe leer ken. Ek en die seuns het spesiale tye saam beleef. Ek was wel gedwing om my tegnologie- en krieketkennis te verbeter en het sommer vinnig moes leer van besproeiing en swembaddens. Die Vader het ook vir my ʼn lewensmaat gestuur wat my kompleksiteite soms verstaan en soms verdra.

Van alleen tot getroud

Switserland en die toekoms bly nog een groot onsekerheid en nou het Covid-19 ook nog in die ry kom staan. Ek het wel geleer om die Groot Plan te vertrou. Ek probeer nog verstaan en werk aan die moontlikhede wat die situasie skep. In onseker tye hou ek vas aan woorde van die wyses.

“Embrace uncertainty. Some of the most beautiful chapters in our life’s, won’t have a title until much later” – Bob Goff

“Trust the wait. Embrace the uncertainty. Enjoy the beauty of becoming. When nothing is certain, anything is possible” – Mandy Hale

Reenboog as teken van hoop

Every problem, every dilemma, every dead end we find ourselves facing in life, only appears unsolvable inside a particular frame or point of view. Enlarge the box, or create another frame around the data, and problems vanish, while new opportunities appear.” ― Rosamund Stone Zander, The Art of Possibility

Groete

Emsia

Comments are closed.