Die verskillende kleure van waarheid

Die verskillende kleure van waarheid

Kleur is kragtig. Dit het ‘n impak op ons buie en emosies en inspireer ons besluitneming. Ons verwysingsraamwerk bepaal of ‘n spesifieke kleur ‘n positiewe of ‘n negatiewe assosiasie het. Kleur laat ons ook met vraagtekens wanneer ons iets sien wat anders lyk as wat verwag is.

Verskillende perspektiewe van dieselfde plek in Zumikon

Oranje lug in Switserland

Gedurende Februarie het ons opgemerk hoe die lug hier in Switserland verander van die gewone wit, blou en grys na die mooiste oranje. Die verskynsel het ons aan die raai gehou en my aan die oranje woestyn sonsondergange in die Kalahari laat dink. Die koerant het bevestig dat sand ook die rede vir die oranje lug is. Woestynsand waai van die noordelike dele van Afrika, soos Mauritanië, Mali en Algerië, na Europa. Die sand dien as ‘n lens, wat die kleur van die lug verander.

Sand vanaf Afrika het die lug van Switserland oranje ingekleur

In die wetenskap leer ons dat ‘n prismalens wit lig in verskillende kleure kan breek. Waarheid, net soos lig, kan ook in verskillende kleure gebreek word. My kleur van waarheid, positief of negatief, hang af van my lens – my perspektief.

Paasnaweek boodskap oor Kleure van Waarheid

Een Paasnaweek jare gelede het ek ‘n nodige boodskap oor kleure van waarheid ontvang. Alleen en in die middel van ‘n egskeiding het ek kerk toe gegaan. Die tema van die preek was Kleure van Waarheid. Die pastoor het verduidelik hoe die eerste vier boeke van die Nuwe Testament van die Bybel alles oor Jesus se lewe gaan.

Hy het die verskillende perspektiewe en fokusse van elk van die vier boeke uitgelig en toegeskryf aan die vier skrywers se sienings. Ek het daardie oggend weggestap en verstaan dat my lens die kleur van my waarheid bepaal. Dit was ‘n waardevolle les.

Kerk in Zumikon

Perspektiewe op Suid Afrikaanse geskiedenis

Ons tiener, wat sy perspektiewe vorm, het my onlangs aan die kleure van waarheid herinner. Op 16 Desember verlede jaar het Zander gevra hoekom sy vriende in Suid-Afrika ’n openbare vakansiedag vier. Ek het verduidelik dat die Voortrekkers tydens die Slag van Bloedrivier ‘n gelofte aan God gemaak het dat as Hy hulle die oorwinning oor die Zoeloemagte van Dingaan gee, hulle die dag as ‘n jaarlikse geloftedag sal herdenk. Ná die 1994-verkiesing is hierdie openbare vakansiedag herdoop na die Dag van Versoening om alle perspektiewe te oorweeg.

Onlangs moes Zander ’n biografiese mondeling doen oor ’n belangrike persoon in die geskiedenis. Hy het die lewe van Nelson Mandela gekies. Ter voorbereiding het Zander ‘n boek gelees wat ‘n goeie opsomming van Suid-Afrikaanse geskiedenis verskaf. Emosioneel het hy sy perspektief op die Slag van Bloedrivier met my gedeel.

“Die Boere het deur die land van die Zoeloes getrek en wou van die Zoeloes as slawe neem. Hierdie situasie het die konflik veroorsaak. Die Zoeloes het hulself probeer verdedig en het net spiese as wapens gehad. Die Boere het gewere gehad en kon agter hul ossewaens wegkruip. Baie Zoeloes en net ‘n paar Boere het daardie dag gesterf. Dit is baie onregverdig en hartseer. Hoekom vier ons hierdie dag van gelofte? Die Zoeloes moes seker ook gebid het?”

Zander het ‘n ander perspektief gehad as die een wat ek tydens Apartheid op skool geleer het.

My kleur van waarheid, positief of negatief, hang af van die lens waardeur ek kyk. My kleur van waarheid het ‘n impak op my bui en my emosies. Dit inspireer my besluitneming. Kleur is kragtig. Situasies herinner my dikwels aan hoe belangrik dit vir my is om my lense te hersien voordat ek oordeel of optree.

WOW museum Zürich

My kleur van waarheid, positief of negatief, hang af van die lens waardeur ek kyk. My kleur van waarheid het ‘n impak op my bui en my emosies. Dit inspireer my besluitneming. Kleur is kragtig. Situasies herinner my dikwels aan hoe belangrik dit vir my is om my lense te hersien voordat ek oordeel of optree.

Groete

Emsia

4 thoughts on “Die verskillende kleure van waarheid

  1. Wow dit was n interessante brief oor hoe mense verskillende perspektiewe het. Ek dink dat die kleure van die waarheid nie altyd beteken daar is net een regte waarheid nie! Dit is baie mooi dankie dat jy gedeel het.

    1. Baie dankie vir jou terugvoer en reaksie. Ek is bly om te hoor dat jy dit interessant gevind het.

  2. Emsia. Jy het ‘n gawe om met woorde beelde te skep wat lewensgetrou is. So bring jy wisselende kleure in verband met wisselende gemoedstoestande en seisoene, wisselende periodes v jou lewe en omstandighede. Ek is nie eintlik ‘n kleur-mens nie – weet nie wat bymekaar hoort & wat bots nie, maar is bewus van treffende kleure in die natuur. Dankie vir die deel.

Comments are closed.

Comments are closed.