Die Corona virus het almal op hol

Die Corona virus het almal op hol

20 Maart 2020

Corona virus het die wêreld op hol! Mense se vernislagies raak dun en die onseker omstandighede bring die verskillende nasionaliteite se eiesoortige kleure na vore wanneer hulle onder druk is.  Ons Suid Afrikaners oorleef moeilike tye met humor en kreatiwiteit.  Die Switsers hanteer moeilike tye met reëls en prosesse.  In die omstandighede het ons het nou meer as ooit waardering vir al die grappies op Facebook en is dankbaar vir almal wat dit aanstuur.

Elke oggend, as Charl probeer uitvind watter vure brand die hoogste, kry ons die nuutste nuus oor die Corona virus situasie. Die hospitale moniteer die situasie noukeurig om gereed te wees.  Die eerste impak was die regering wat afgekondig het dat alle byeenkomste van meer as duisend mense gekanselleer moet word. Hierdie tyd van die jaar is daar baie feeste en byeenkomste om mense deur die laaste winterkoue te dra, wat nou gekanselleer is.

Werk van die huis af

Werkgewers het aanbeveel dat werknemers nie met publieke vervoer mag reis nie en vergaderings moet aanlyn plaasvind.  Prosesse en tegnologie word in plek gestel sodat nie-mediese personeel van die huis af kan werk.  Die hospitale is besig om hulleself in te rig om pasiënte te versorg soos nodig.  Ooreenkomste word met verskaffers gesluit om beskikbaarheid van mediese items soos gesig-maskers en ventilators te verseker.  Die meeste verskaffers van die items is ironies genoeg in China!

Woon skool aanlyn by

By Zander se skool het hulle ook die nodige voorbereidings begin tref as die skole sou sluit.  Hulle is ingerig en die kinders opgelei om skool by te woon in ʼn virtuele klaskamer op hulle rekenaars van die huis af.  Alle sportbyeenkomste en skool vergaderings met ouers is gekanselleer.  Die geleentheid waar al die graad 5 ouers die kinders se harde werk ten opsigte van hulle wêreldprobleem navorsing sou kon aanhoor en aanskou is ook gekanselleer.  Dit is ironies dat die oorsaak van die verandering in plan  ʼn onverwagse wêreldprobleem met die naam Corona virus is.

Impak op toerismebedryf

Charl het ʼn gunsteling fondue restaurant in Zürich wat hy al vir 25 jaar besoek.  Voorheen moes hy ten minste twee weke voor die tyd ʼn tafel bespreek.  Die afgelope tyd was die restaurant net kwart vol. Toeriste is minder en veral die gebrek aan Chinese toeriste laat ʼn groot leemte.  Die eienaars is baie bekommerd oor die toekoms van hierdie top restaurant in Zürich.  Baie mense in die toerisme-bedryf het reeds hulle werk verloor. Daar is ook minder mense sigbaar op straat en in die treine en busse.

Ons het vele stories gehoor van verjaarsdagvieringe of huweliksherdenkings in die mooiste dele van Italië wat afgestel moes word weens kwarantyn. ʼn Kennis ‘n student by Milaan Universiteit. Hulle het 23h00 uur gehoor die Universiteit sluit en Milaan word in kwarantyn geplaas. Sy het onmiddellik in haar motor geklim en Zürich toe gery, want die polisie het dadelik beperkinge begin plaas op die mense se bewegings. Sy kon gelukkig net betyds daar wegkom.

Ons hou die situasie versigtig dop en gee ons samewerking. My grootste vrees is dat die situasie so draai dat ons nie vroeg in April Suid Afrika toe kan kom nie. Charl se grootste vrees is dat ons wel Suid Afrika toe gaan en nie weer kan terugkom Switserland toe nie!

Groete

Emsia

Comments are closed.