My Briewe aan Emsia geskenk

My Briewe aan Emsia geskenk

Ek sal my onlangse verjaardag onthou as ‘n besonderse spesiale viering. Ons was die naweek in Oostenryk en die herfsskoonheid en ons saamwees het ‘n rol gespeel, maar ek het ook ‘n wonderlike verrassingsgeskenk ontvang.

Christo en Simone het besluit om ‘n versameling Briewe aan Emsia saam te stel. Met Charl en my suster se hulp het hulle briewe en foto’s van familie en vriende ingesamel. Dit was ‘n aangename verrassing wat my in trane gehad het. Almal se deernisvolle woorde was soos ‘n kombers van liefde wat my omvou het. Dit was egter ook soos ‘n spieël wat my ‘n duideliker siening gegee het van die aard van my verhoudings en hul persepsies van my.

Die verskeidenheid mense in my lewe

Die briewe het die verskeidenheid en diversiteit van die mense in my lewe beklemtoon. Terwyl ek elke brief gelees het, kon ek die skrywer se stem met herkenbare manier van praat, hoor. Met elke verhouding het ons verskillende raakpunte, simbole en herinneringe waarmee ons die vriendskap vier. Ek deel enkele uittreksels.

`n Kreatiewe vriendin

Ek en een van my vriendinne het besluit dat die kleur van ons vriendskap geel is. Dit is vir ons ‘n simbool van vreugde. Ek het haar brief se speel op geel geniet.

Ek skryf vir jou ‘n brief vandag elektronies, maar in my geestes-oog skryf ek vir jou ‘n brief in my beste handskrif op ‘n 1970’s skryfblokbladsy (wat in die laerskooldae as hobby bymekaargemaak is) met ‘n ouo-goud Sarah Moon prentjie op en met ‘n geel Bic-pen in my hand. (om jou so bietjie nostalgies te maak oor ons grootword era in Suid Afrika). Ek sluit my brief af met baie liefde en vreugde en sit dit in ‘n giggel geel koevert spesiaal vir jou.

`n Syfer vriendin

Nou soos jy weet, is syfers meer my ding, maar ek gaan vir jou ‘n verjaarsdagbriefie skryf. Ek dink dat God die dag toe hy jou geskape het, in ‘n ongelooflike goeie bui was.

Met al die standvastigheid, het God gedink sy mag dalk ‘n bietjie boring wees- so toe gee GOD vir Emsia, n flippen lekker humorsin. Hy gee haar ook die talent om tevrede te wees. God het haar so bekyk en Hy was ook tevrede.

My eerste vriendin

My vriendskap met my eerste vriendin is 50 jaar oud. Sy is een jaar en een dag ouer as ek en het my leer lees toe sy in graad 1 was. Ons het albei rekenmeesters geword, Kruger as getroude vanne gehad en ons kinders op dieselfde dag gedoop in die dorp waarin ons grootgeword het, want ons wortels is in die Kalahari. Hulle het hul seun Charl Kruger gedoop, en ons seun was Christo Charl Kruger gedoop. Ons woon albei tans in die buiteland. Sy skryf,

Daar is soveel herinneringe wat ek met jou deel, die lys gaan aan en aan. Sommige is prettig, ander nostalgies en ander eenvoudig net seer. Dit is wat ʼn ware vriendskap is – deur dik en dun.

Skoonfamilie

Die briewe het weer vir my bevestig hoe ryk ek is met my skoonfamilie. Wanneer jy trou of jou lewe met iemand deel, word jy deel van ‘n ander familie.

Ek het die Kruger-gesin as student leer ken. Ons het in kontak gebly, selfs nadat ek opgehou het om Kruger agter my naam te skryf. Ek is vriende met my seuns se niggies en nefies op sosiale media en kyk met opgewondenheid hoe hul lewenspaaie ontvou.

Met my tweede kans in liefde en lewe het ek deel van die Goosen-familie geword. Ek het twee ouer skoonsusters wat kontak hou en lief en leed deel, al woon ons oor verskillende kontinente heen. In die vorm van Candice, Charl se broer se dogter, het ek ‘n dogter gekry toe sy haar ouers verloor het.

Ons het nog kontak met Charl se skoonpa uit sy vorige huwelik en het hom as Zander se Oupa aangeneem. Hy het op Saterdae kom kuier en saam met Zander gespeel en so vir my en Charl ’n paar uur sonder verantwoordelikhede gegee. Volgens hom is hy nou ’n “remote” oupa. Hy is ‘n vaderfiguur vir my en Charl.

My kinders

In my ouer seuns se woorde kon ek sien dat al het hulle waardering vir my ma-rol, hulle ook die ander dimensies wat my menswees uitmaak, begin raak sien.  Hulle verstaan nou die uitdagings wat dit geverg het om besige seuns vol kreatiewe planne lewendig te probeer hou, beter. 

My 15-jarige  jongste het in sy brief verduidelik dat hy nou reeds weet dat hy in die toekoms ook beter waardering sal hê vir die dinge wat hom nou irriteer.

Vir baie mense is foto’s ‘n manier om herinneringe te bewaar of ervarings met ander te deel. My ma hou daarvan om foto’s te neem. Sy het altyd haar kamera en het selfs elke foto wat sy oor die afgelope 30 jaar geneem het gestoor. In teorie lyk dit na ‘n goeie idee, maar ek en my pa moet poseer en wag dat sy foto’s neem oral waar ons gaan!

Ma, weet dat ons volgende keer as ons jou terg omdat jy foto’s neem, sê ons net ons is lief vir jou. Ons sal dalk nie nou die voordele ten volle nou sien nie, maar die aantal dankies wat jy sal ontvang wanneer ons dit in die toekoms sien, sal dit die moeite werd maak. So dankie, Ma, dat jy vir ons omgee en lief is, selfs wanneer jy nie ons dankbaarheid kan sien nie.

My besef

Die grootste besef uit al die briewe, was die belangrikheid daarvan om ons liefde en waardering vir die mense in ons lewens uit te druk terwyl ons die geleentheid het. Die briewe wat ek ontvang het, was presies dit.

Groete

Emsia

2 thoughts on “My Briewe aan Emsia geskenk

  1. Liewe Emsia,
    Ek het jou net een maal ontmoet en ‘n middagteetjie saam met jou geniet. Dit, en Anzelle se ervarings saam met jou en jou gesin, was genoeg om te besef dat jy ‘n liefdevolle omgeemens is. Die gevoel het net gegroei met jou “Facebook – briewe”. Ek ag myself bevoorreg, en ek is dankbaar, want dit verryk my siel. Baie dankie.
    Seënwense vir jou en al jou geliefdes.
    Hetty Smit

    1. Liewe Hetty,
      So baie dankie vir jou pragtige boodskap. Ek waardeer dit opreg. Anzelle was soos deel van ons gesin en daardeur voel dit of ek en jy al lankal vriende is. Ek leer al hoe meer hoe `n mens kan connected voel, al is mens nie bymekaar nie. Met die afstand tussen ons en ons kinders soos wat julle so goed verstaan, vind ons ander maniere om te connect en sosiale media help my hiermee. Ek hoop julle het lekker saam gekuier met hulle onlangse besoek en ervaar ook baie seën.
      Groete,Emsia

Comments are closed.

Comments are closed.