Paasfees en lente vier nuwe lewe

Paasfees en lente vier nuwe lewe

Met die koms van die lente sien ons oral tekens van nuwe begin. Die stilte en eensaamheid van lang, koue winternagte maak plek vir vrolike klanke en tekens van nuwe lewe wat oral in die natuur sigbaar is. Knoppe verskyn aan die bome en blomme gee kleur. Diere en insekte ontwaak uit hul winterslaap en weet instinktief dat dit tyd is om voort te plant.

Die Noordelike Halfrond se Paasfees in die lente bring die boodskap van nuwe lewe sigbaar tuis. Die klem val op ontwaking en nuwe begin. Mense versier die bome in hul tuine met paaseiers. Die pastelkleurige eiers wat tussen die bloeisels versteek is, benadruk die tema van vernuwing.

Dierelewe

Oral in die natuur is tekens van lente en ontwaking. Spatsels kleur verskyn in die natuur. Eekhorings hardloop energiek op en af in die bome terwyl voëls vrolik op takke sit en sing. Ek geniet die voëls se vroegoggend kwetter.

Gedurende die lente is daar oral jong diere te sien. Tydens ‘n wandeling in die woud, het ek ‘n takbokooi en twee van haar kalwers teëgekom. Die verbasing om mekaar te sien was wedersyds. Oral op die plase is daar lammers en kalwers te sien.

Paddas

Vroeg lente ontstaan die “mind the frog”-borde oral in Switserland langs die landelike paaie. Charl het ook die borde op sy roete werk te waargeneem. Op die spesifieke roete is die woud aan die een kant en ons dorpie so golfbaan aan die ander kant. Daar was versperrings aan die kante van die pad om die paddas te keer om oor die pad te gaan. Die amfibië hiberneer in die winter in die woud en migreer dan vroeg lente na hulle broeigebiede.

Charl het een oggend vroeg oppad werk toe, gesien hoe ‘n helper van die Susy Utzinger Dierewelsynstigting paddas en salamanders versamel en hulle oor die pad dra sodat hulle veilig hulle broei-areas op die golfbaan kan bereik.

Krimpvarkies

Daar onstaan ook soortgelyke bewusmakingsborde vir die krimpvarkies wat na hulle winterslaap ontwaak. Krimpvarkies is ‘n bedreigde spesie en word goed in Switserland beskerm. Mense verwelkom hierdie nagdiertjies in hulle tuine aangesien hulle help om insekte en slakke te beheer. Hulle krul op in ‘n balletjie as hulle bang is of bedreig voel.

In Switserland word daar hoofsaaklik van outomatiese grassnyers gebruik gemaak, maar ongelukkig ʼn groot bedreiging vir krimpvarkies is. Krimpvarkies is nagdiertjies maar die adolessente loop in die dag rond. Sodra hulle ‘n grassnyer gewaar, rol hulle in ʼn bolletjie met ʼn noodlottige uiteinde.

Voëls

Rooi valke sirkel oor die vars geploegde landerye en soek na hulle volgende maaltyd in die vorm van muise of molle. Die kraai voel bedreig deur die rooi valke en ons het al verstom gestaan en kyk hoe die kraaie heel astrant hierdie roofvoëls in die lug probeer aanval en wegjaag. Ek kry die idee dat ons area ook dien as ‘n vliegskool vir die rooi valke en geniet dit om te kyk hoe die ouers met groot geduld hul kleintjies leer vlieg.

Die houtkappervoël se kenmerkende dreuning terwyl hy op verrottende hout klop en trommel, is iets wat ek altyd met lente in Switserland sal assosieer. Ons was opgewonde toe ons ‘n swaan op haar eiers langs die meer sien. Die eiers broei eers na ses weke uit. Die jong swane het ‘n donkergrys kleur en word eers na hul tweede somer wit.

Bloeisels en blomme

Die eerste lenteblomme wat verskyn is die sneeuklokkies, kroukusse en affodille.  Elke jaar net as ek opgewonde raak oor lente se opwagting, dan val daar weer `n vlaag sneeu.  Dit is inspirerend om te sien hoe die blomme deur die sneeu beur om hulle skoonheid en kleur aan die wêreld te vertoon. Die magnoliabome se bloeisels verskyn teen die derde week van Maart. Geleidelik versier verskillende soorte blomme die landskap en verf dit met asemrowende skakerings.

Rose in sewe Zürich-fonteine

In die week voor Paasfees, vul die Gereformeerde Kerke in Zürich verskeie fonteine met rose. Hulle het hierdie tradisie begin om van die fonteine met rose te vul in 2021 toe die pandemie in volle swang was. Die idee was om hoop aan almal gedurende daardie moeilike tye te bring. Nou in 2024, met soveel onsekerheid in die wêreld, is daar steeds ‘n behoefte aan tekens van hoop en vrede. Die leuse van die tradisie is “Ohne Dornen kein Rosen”. Dit beteken dat sonder dorings, daar geen rose is nie en beklemtoon die veerkragtigheid en skoonheid wat uit teëspoed kan voortspruit.

Paaseiers

In ‘n land bekend vir sy sjokolade, is Paaseiers en Pasehase`n hoogtepunt.  Van vroeg in Maart het die veelkleurige Paaseiers al die winkels versier. Sjokolade handelsmerke ding mee om die mooiste Paasmandjies met hasies en eiers te verskaf. Die verskillende sjokoladeskeppings is amper te mooi om te eet en maak pragtige geskenke. Besighede gee hierdie pragtige Paashase en -eiers as korporatiewe geskenke.

Paasfees vier nuwe lewe

Paasfees, tesame met die koms van lente, dra ‘n diepgaande boodskap van vernuwing vir Christene wêreldwyd. Dit simboliseer die triomf van die lewe oor die dood en bied ‘n kragtige viering van nuwe begin en hoop.

Groete

Emsia

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui