Somer op die Limmatrivier in Zürich

Somer op die Limmatrivier in Zürich

Die rivier leer ons om stadiger te leef

My bene dryf in die koel, kristalhelder water. My tone raak net-net aan die oppervlak terwyl die stroom my stadig vorentoe dra. Dan gebeur iets onverwags. ’n Blou naaldekoker land saggies op my knie. Ek bly doodstil. Sy vlerke blink in die son soos piepklein loodglasvensters. Vir ’n paar asemteue is daar net die rivier, die naaldekoker en ek wat saam met die stroom dryf. Ek ervaar dit as  ʼn heilige oomblik.

Charl dryf ’n entjie agter my. Hy kyk hoe die landskap stadig verbyglip terwyl gesinne laggend op groot opblaasbande dobber. Sommiges balanseer drankies versigtig op hul knieë, terwyl ander lui gesels terwyl die water hulle stroomaf dra. Niemand jaag nie. Dit is juis dit wat my die meester tref. Ek wens ek kon hierdie eenvoudige, rustige vreugde van ’n Zürich somersoggend saam met my kinders en familie beleef.

Die somer in Zürich het sy eie hartklop. Wanneer die hitte oor die stad neerdaal, word die Zürichmeer en die Limmat almal se speelplek. Mense laat vaar hul gewone erns, trek hul swemklere aan en glip die water in asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is. Vir ’n rukkie speel ons almal saam.

Die rivier se tradisies: Zürich se jaar in water

Die Limmat het amper ’n kalender van sy eie. Met elke seisoen kom daar ’n nuwe ritueel en tradisies wat mense terugbring na die rivier en telkens ’n ander kant van die stad onthul.

Limmatschwimmen — Die Groot Dryf

Ons eerste swem in die Limmat was tydens die gewilde Limmatschwimmen. Een dag per jaar verander die rivier in ’n reuse, vrolike stroom mense. Tot 4 500 swemmers spring in die water, elk met ’n opblaasfiguur om aan vas te hou. Elke jaar bring sy eie ontwerp. In 2022 het ons daarin geslaag om kaartjies te kry.

Charl en ek het ons heldergeel eendjie styf vasgehou terwyl die stroom ons saam met duisende ander stroomaf gevoer het. Ons het gelag, gedryf en vir ’n paar minute vergeet van alles wat ’n mens gewoonlik aan die lewe laat dink.

Die geleentheid is só gewild dat ons nie weer na ons vorige deelname kaartjies kon kry nie. In  2027 vier Limmatschwimmen sy 60ste bestaansjaar.

Samichlaus Schwimmen — Die Dapperes

Vroeg in Desember, wanneer die winter reeds sy koue hand oor Zürich begin lê, klim sowat 300 swemmers met Kersvaderhoede in die ysige Limmat. Dit is ’n liefdadigheidsgeleentheid, maar ook ’n toets van pure moed. Ek kan eerlik sê: om hulle van die kant af dop te hou, is vir my heeltemal voldoende. Net om te kyk hoe hulle in daardie koue water verdwyn, laat my bene sommer vanself bewe.

Lichterschwimmen — ’n Rivier van Lig

Op die laaste Donderdag voor Kersfees laat skoolkinders honderde gloeiende lanterns in die rivier dryf. Gesinne staan langs die oewers met warm pons in hul hande en kyk hoe die klein liggies stadig stroomaf dryf. Een vir een verdwyn hulle om die draai. Dit is een van Zürich se sagste tradisies en ’n stil oomblik van lig voordat die winter hom behoorlik kom tuismaak.

Ons eie Limmat‑tradisie en ’n onverwagte ontdekking

Iewers tussen al hierdie groot stadsrituele het ek en my vriendin Henriette ons eie klein tradisie ontwikkel. Elke Augustus, wanneer die somer op sy warmste is, swem ons in die oop gedeelte van die Limmat.

Verlede jaar was die rivier vol en vinnig. Die stroom het ons amper sonder moeite saamgedra. Ons kon eenvoudig ontspan en die water sy werk laat doen. Vanjaar was dit anders. Die droogte het die rivier stadig gemaak. Die water was vlakker en die rotse meer sigbaar. In plaas daarvan dat die rivier ons gedra het, moes ons swem om by die eindpunt uit te kom.

Ons het egter nie geweet hoe vreemd dit nog sou word nie, want onder die lae watervlak het die rivier iets versteek. Ander swemmers het ’n handgranaat skaars ’n meter van die oewer af raakgesien. Die polisie en militêre bomverwyderingskundiges het opgedaag. Hulle het bevestig dat dit ’n lewende granaat uit die voormalige Joego-Slawië was en dit veilig verwyder. Ek kon nie help om anders na die rivier te kyk nie en te wonder wat nog daaronder skuil?

Europa bak onder rekordtemperature en die rivier se oewers het ’n nuwe vorm aangeneem. Rotse wat gewoonlik onder water skuil, lê oop en droog. Vlak poele verskyn waar daar vroeër ’n dieper stroom was. Vanjaar sien mense selfs meer slange langs die Limmat, gelok deur die warm rotse en vlak water. Ek en Henriette het dus besluit om ons uitstappie op die opblaasbande tot volgende jaar uit te stel en ook net as die reën teen daardie tyd weer haar weg na Zürich gevind het.

Wanneer die riviervlakke laag daal

Die verandering in die rivier raak nie net swemmers nie. Van April tot Oktober glip elektriese rivierbote deur Zürich se Ou Stad. Ek is mal daaroor om besoekers op hierdie vaarte te neem. Die water wys hoeke van die stad wat jy nie van die land af kan sien nie. Geboue, brûe en ou mure lyk anders wanneer jy verby hulle dryf.

Vanjaar kan die bote nie vaar nie. Die rivier is te vlak.Amptenare het alle toere opgeskort omdat die bote die gevaar loop om die rivierbedding te skraap. Selfs die opritte het te steil geword vir mense om veilig aan boord te gaan. Dit is vreemd om die Limmat só te sien. Stil en amper kwesbaar. Dalk is dit juis daarom dat ek hom nou anders raaksien.

Wat die rivier vir ons leer

Terwyl ek hierdie somer in die Limmat afdryf, besef ek hoe stil ’n rivier ons leer. Dit wys hoe landskappe verander, hoe water styg en daal, hoe tradisies voortbestaan selfs wanneer omstandighede verander. Dit herinner ons dat beweging nie altyd perfekte toestande vereis nie. Soms vertraag die stroom ons spoed, soms verras dit, soms dra dit ons moeiteloos. Tog vind dit altyd ’n pad vorentoe.

Langs die pad versamel die rivier mense en skep gedeelde oomblikke. Die naaldekoker op my knie, ’n lantern wat verby dryf en ’n gedeelde ritueel met Henriette word ankers van verbondenheid.

Miskien is dit die grootste geskenk van die rivier nie dat hy ons êrens heen neem nie. Hy leer ons om vir ’n oomblik stil genoeg te wees om raak te sien waar ons is.

Groete

Emsia

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui