As vreemdelinge vriende word

As vreemdelinge vriende word

Ons wil almal graag vriende hê, maar is nie altyd bereid om die moeite en tyd in te sit om vriendskappe te vorm nie. In ‘n nuwe land het ek gou besef hoeveel moed dit verg om na ‘n vreemdeling uit te reik. ‘n Eenvoudige gesprek is egter nodig om die proses om iemand beter te leer ken, af te skop.

Die waarde van vriendskap

Alle mense het konneksie nodig en ons vind dit in verskillende verhoudings. Vriendskap is ‘n verhouding wat ‘n belangrike rol in ons welstand speel. Gesonde en ondersteunende vriendskappe verbeter ons selfvertroue en eiewaarde. Dit help ons om ernstige lewensgebeure soos verandering of verlies te hanteer. Boonop versterk dit ons gevoel van behoort en moedig ons aan om veranderinge aan te bring wanneer nodig. Vriendskap bied ons ook die geleentheid om ‘n rol in iemand anders se lewensverhaal te speel.

Reik uit

`n Mens onderskat gereeld hoeveel iemand dit waardeer as jy na hulle toe uitreik.  Verlede jaar het een van die ma`s in Zander se graadgroep, Darja, vir my `n onverwagse boodskap gestuur.  Sy het gevra of ek kans sien om saam met haar die graadgroep ouer te wees wat kommunikasie tussen die skool en ouers hanteer.  Sy het dit as `n lekker manier om mekaar beter te leer ken ingekleur.  Ek was aanvanklik onseker of ek die regte persoon is vir die taak, maar het besluit om dit `n kans te gee.

Sy sal nooit besef watter groot guns sy my gedoen het nie.  Die positiwiteit wat ek deur haar aksie ervaar het, was ʼn aansporing vir my om meer vrymoedigheid te neem om na ander mense uit te reik. Daar is ʼn korrelasie tussen my gevoel van behoort en die aantal mense met wie ek ʼn gemaklikheid het om mee te gesels.

Raak betrokke

Ek maak die maklikste vriende deur iets saam met iemand te doen.  Dit is waarom dit so goed is om as vrywilliger by sake betrokke te raak.  Die geleentheid om saam aan `n gemeenskaplike doelwit te werk, skep ook baie geleentheid om ander mense op `n informele manier beter te leer ken en gemeenskaplike belangstellings te identifiseer. 

By die internasionale skool bly die meeste gesinne tussen 3 en 5 jaar. Die skool het baie strukture en prosesse in plek om mense te help integreer en die verandering hanteer. Die Ouervereniging reël geleenthede waar ouers saam met ander ouers as vrywilligers kan werk. Hulle koördineer ook klubs waar ouers met gemeenskaplike belangstellings aktiwiteite saam kan geniet.

Dit het baie moed geverg om my naam op die lys te sit en geleenthede vir die eerste keer by te woon. Ek het by die tennisklub en die vlugtelingkamp vrywilligersgroep aangesluit. Gelukkig het die ander mammas my tuis laat voel. Ek het baie positiwiteit ervaar in saamwees en minder alleen in my uitdagings om in ’n nuwe land aan te pas.

Belê in vriendskappe en verhoudings

Dit is maklik om so op werk, belangstellings en familie gefokus te wees dat ons nie tyd vir vriendskappe maak nie. Ek is al baie jare daaraan skuldig. Iets drasties, soos om na ‘n ander land te verhuis, het egter my oë oopgemaak.

Afstand en ’n verandering in omgewing het my genoop om anders na verhoudings te kyk en meer moeite daarmee te doen. ’n Mens moet buite die boks dink en kreatiewe maniere vind om die verhouding in stand te hou. Sommige vriende geniet dit om saam aktief te wees en ander hou daarvan om nuwe plekke te besoek. Ek doen aanlyn Bybelstudie saam met ‘n paar vriende en ek hou kontak met ander deur gereelde koffiekuiers, telefoonoproepe en briewe.

Ons moet tyd belê in die mense wat vir ons kosbaar is. Die konneksie en positiewe uitwerking daarvan is altyd die opoffering en belegging werd.

‘n Onlangse vriendskapsgeskenk

Ek het onlangs ‘n kosbare geskenk in die vorm van ‘n Afrikaanssprekende vriendin in Switserland, ontvang. Ons het soveel in gemeen dat ek weet dat Marna vir my gestuur is.

Een keer per week gaan ons op ‘n daguitstappie en verken Switserland saam. Dit is ‘n opwindende manier om die vriendskap te groei. Ek waardeer dit om ‘n vriendin in ‘n ander land te hê wat my kultuur verstaan, my taal praat en soortgelyke waardes en belangstellings het. Dit is ‘n positiewe manier om die buitelandse ervaring, vreugdes en uitdagings te deel.

As ek terugkyk op my lewenspad, kan ek sien hoe die regte mense op die regte tyd my pad gekruis het. Alhoewel op verskillende maniere en tye, het elkeen ‘n belangrike rol in my lewe gespeel. In `n vorige brief het ek meer vertel oor vriendinne wat my moederskap turbulensie help verlig het.

Ek verstaan nou dat elke vriend en vriendin ‘n geskenk is wat met `n doel aan my gegee is.

Groete

Emsia

Comments are closed.