Musiek praat die taal van my siel

Musiek praat die taal van my siel

Musiek praat met my siel op maniere wat selfs woorde nie kan bereik nie.  Ek self het nie baie musiektalent nie. Pa het in ʼn orkes gespeel en beide my ma en suster is met suiwer nootvaste sangstemme geseën. Ek het egter in die musiek waardering ry beland toe talente uitgedeel is, maar daarvan het ek gelukkig mildelik ontvang.

Liedjies vertel stories van mense, plekke en tye

Tydens my kinderjare het daar altyd musiek in ons huis gespeel.  Daar was ʼn radio in elke vertrek, selfs in die badkamer.  As tieners het ons ons gunstelingliedjies van die radio af op kassetbande opgeneem. Ons het vir my ma ‘n lys van liedjies gegee wat sy moes opneem terwyl ons op skool was. My suster het die woorde van elke gewilde treffer geken, en ek het maar my eie woorde uitgedink

Met my ma se 70ste verjaarsdag het ek ‘n CD-stel van haar 40 gunstelingliedjies as geskenk saamgestel. Sy het liedjies gekies wat verteenwoordigend is van al haar lewensfases en vir my die storie agter elkeen vertel. Tydens haar verjaardagviering het sy kopieë van die CD’s aan haar vriende en familie uitgedeel. ’n Besondere liedjie op die CD wat my na aan die hart lê, is die Māori Love Song. Sy het vir my vertel dat daardie liedjie net na my geboorte in die kar op pad huis toe op die radio gespeel het.

Ek het vir myself ook ‘n Top 40 iTunes trefferslys saamgestel en liedjies gekies wat my aan mense na aan my herinner. Ek luister elke Donderdag daarna as ek die huis skoonmaak en dan kuier my siel by almal terwyl die liedjie wat ons verbind speel.

Musiek is die taal van die hart

Musiek het ‘n fisiese, emosionele en geestelike impak op ons. Dit het die krag om ‘n hele verhoog opgewonde te maak en te vermaak, maar kan ook strelende gemak verskaf. Filmvervaardigers gebruik dit baie goed om emosie en gevoel te skep terwyl die plot ontvou. Mense vertel stories deur musiekblyspele, jazz, rap en opera. Musiek is ‘n medium vir aanbidding en lofprysing in kerke. Dit vorm ook deel van kultuur en volksmusiek om mense ‘n gevoel van eenheid te gee.

Musiek in Switserland

Musiek speel ‘n belangrike rol in die Switserse kultuur. Vele geleenthede bestaan ​​om musiektalent te ontwikkel en uit te leef. In die somer is daar een keer per week ’n orreluitvoering in Zürich se moederkerk (Fraumünster). Verskillende kerkorreliste kan hul talent op die indrukwekkende orrel in die historiese Gotiese gebou deel. My siel is in die hemel as ek na suiwer orrelklanke luister.

Gedurende die somer is daar baie musiekfeeste en konserte. Daar is buitelugkonserte waar mense piekniek kan hou terwyl hulle na simfoniemusiek langs die meer luister. Ons het die Lusern Musiekfees in die groot (KKL) konsertsaal in Lusern bygewoon. Ek en Zander het ‘n Star Wars-fliek op ‘n groot skerm gekyk terwyl ‘n lewendige simfonieorkes die klankbaan verskaf het. In Desember beplan ons om die 007 Sky Fall fliek met lewendige musiek te ervaar.

Die Alphorn is ‘n tradisionele Switserse musiekinstrument. Jare gelede het die skaapwagters dit gebruik om koeie uit die weivelde te roep wanneer dit tyd was vir melk. Later het hulle die Alphorn vir volksmusiek en toerisme gebruik, en nou het dit ‘n nasionale simbool geword. Ons ontmoet dikwels ‘n persoon of groep mense wat hierdie Alphorn by toeriste plekke speel.

Ek hou van Plato se woorde:

Music gives a soul to the universe, wings to the mind, flight to the imagination and life to everything.

Groete

Emsia

Comments are closed.