‘n Sneeukombers bring rustigheid

‘n Sneeukombers bring rustigheid

Ek het my seuns en familie twee jaar laas gesien. Ons beplande SA besoek hou gevolglik my kop en hart besig. Dit is die vyfde maal wat ons na SA probeer vlieg en ek was hoopvol. Die slegte nuus oor Omicron en vlugbeperkings, was soos ʼn nagmerrie.  Elke nuusberig wou my versmoor en ek het gesukkel om te slaap en my emosies in bedwang te hou.  Ek het gebid en gesmeek. Die sneeu het saggies gekom en my vertroostend in ʼn wit kombers toegevou.

Betowerende eerste sneeu

Sneeu, veral die eerste sneeu, is betowerend. Die gekleurde landskap word monochroom wanneer sneeuvlokkies liggies soos vere op die grond val. Die stilte wat saam met die ongerepte spierwit landskap kom, is heilig. Sneeuval skep aanvanklik ‘n gevoel van kalmte en dan opwinding. Kinders lag, en volwassenes praat. Gesinne bou sneeumanne en spog met hul skeppings.

Zander en sy vriende geniet die sneeu met hul sleë na skool en oor naweke. In die aande is hy honger, koud en moeg. Dit verg goeie beplanning om sy sneeubaadjie, broek en handskoene weer droog te kry voor die volgende dag. Ek en Charl geniet dit om in die sneeu te stap. Vars sneeu knars onder jou skoene.

Voorbereidings vir die sneeu

Gedurende November begin voorbereidings vir die verwagte sneeu. Die boere ploeg die lande, en die munisipaliteit plant rooi paaltjies om die paaie in die wit landskap aan te dui. Ligte en Kersversierings maak hul verskyning en gee ‘n sprokiesagtige gevoel.

Veiligheid in die sneeu

Na ʼn sneeuval skraap padskrapers, met hulle oranje waarskuwingsligte, reeds van vroegoggend af die paaie, sypaadjies en treinstasies sodat almal kan voortgaan met hulle daaglikse aktiwiteite.  Sodra die sneeu begin smelt, veroorsaak die nagtemperature dat dit vries tot ʼn gladde yslaag wat baie gevaarlik is om op te loop. Daar is ‘n groot voorkoms van knieë, heup en pols insidente in hierdie toestande. Ons verstaan nou die nodigheid van warm waterdigte skoene met dik sole.

Voertuie in Switserland het ʼn stel bande vir somer en ʼn afsonderlike stel bande vir winter. Sodra ʼn voertuig in sneeu of ys moet ry, is kettings nodig om die vastrapbeheer te verhoog. Die gladde oppervlaktes verhoog die voorkoms van ongelukke. Selfs die treine gly soms op hulle spore as gevolg van die sneeu of ys.

Sneeu bring vir my rustigheid

Gedurende ons eerste Desember in Switserland, was my kinders se kuier my grootste kersgeskenk.  Die eerste sneeu het begin val die dag na hulle aankoms.  Net voor slaaptyd het die eerste sneeuvlokkies hulle verskyning gemaak. As Suid Afrikaners is ons nie eintlik aan sneeu gewoond nie. Dit was spesiaal dat ons hierdie eerste sneeuervaring kon deel!  Ons het soos kinders buite gespeel en die sneeu op ons gesigte en tonge laat val.

Hierdie jaar se sneeu is dus vir my meer as net wit vlokkies.  Die wit kombers het my gehelp om rustig te raak.  Ek ervaar ʼn innerlike vrede en wete dat alles ten goede sal meewerk.  Daar is nie waarborge nie, maar ek het hoop en vir nou is dit vir my genoeg.

Ek hoop jy kry ook jou teken van hoop wat vir jou rustigheid en vreugde vir die feesseisoen sal bring.

Groete

Emsia

 

2 thoughts on “‘n Sneeukombers bring rustigheid

  1. Dakie Emsiia met d deel van hierdie sagte deel v jou lewe. Ons bid saam met jou vir vrede ten spyte van gebeure. Dalk is dit wat nodig is…uitsien na die sneeu…kommer dat nie sal sneeu nie, help niks… en dan val dit sonder dat jy iets bygedra het. Mag jul kuier na SA gebeur sonder dat jy jou daaroor (hoef te) bekommer. Vrede vir julle.

    1. Baie dankie Oom. Hierdie ervaring was ‘n goeie les vir my. Ek moes oorgee aan God en bereid wees Sy uitkoms te aanvaar. Die sneeu was vir my ‘n teken van Sy deernins. Ek het vrede hieroor en glo Sy wil sal geskied.
      Dit lyk tog op hierdie stadium dat ons moontlik kan kom en daaroor jubel my hart.

Comments are closed.

Comments are closed.