Briewe dra woorde en emosies

Briewe dra woorde en emosies

In Switserland is die posstelsel effektief en die inwoners benut dit ten volle. Inwoners stuur uitnodigings en dankie-kaartjies per pos soos ons voorheen in Suid-Afrika gedoen het. Die Post werknemers lewer daagliks die pos in kenmerkende geel afleweringsvoertuie af. Ek het in die kleiner dorpe gesien hoe hulle die deurklokkies van die afgetrede inwoners lui en die briewe saam met vriendelike geselsies oorhandig.

Foto deur: Kyburz Switzerland

Dit is kosbaar om ‘n handgeskrewe dankie-briefie in die pos te ontvang. Dit voel of iets van die skrywer se menswees saam met die briefie arriveer. Ek is mal oor briewe en bêre almal wat ek ontvang. Toe ek tydens ons verhuising alles in bokse vir die stoorkamer moes pak, het ek tussen al die briewe en herinneringe uit die verlede verdwaal.

Ek heg waarde aan geskrewe woorde

Ek heg baie waarde aan woorde.  Woorde is kragtig en kan heel, motiveer en sake van die hart kommunikeer. Dit kan egter ook verwond. Briewe is die draer van woorde en gepaardgaande emosie en het nog altyd `n belangrike rol in my lewe gespeel. Met ons verhuising na Switserland het my tweeweeklikse briewe aan familie en vriende vir my `n reddingstou geword. 

Briewe is `n goeie manier om met die mense wat vir my kosbaar is kontak te hou. Dit dwing my om oor gebeure te reflekteer, sin daarvan te maak en in woorde weer te gee.

Briewe vir moeilike gesprekke

Ek het al in die verlede briewe gebruik om moeilike boodskappe oor te dra. Sommige was net ‘n goeie uitlaatklep vir opgekropte woede en frustrasie. Gelukkig het ek hulle agterna in klein stukkies opgeskeur en in die asblik gegooi.

Ná moeilike gesprekke kan ek gewoonlik aan baie ander dinge dink wat ek wens ek eerder gesê of op ’n beter manier gestel het. Woorde op papier gee my tyd om te dink en maak seker dat ek dit versigtig kies ten einde die boodskap met die regte bedoeling oor te dra. Woorde op papier is meer permanent en ek het al geleer ek moet hierdie briewe met die langtermyn in gedagte skryf.

My kinders

Ek hou daarvan om spesiale geleenthede in my kinders se lewens met briewe te erken. Daarin vertel ek vir hulle wat ek in hulle waarneem maar spreek ook my hoop vir hul lewenspad uit. Ek weet hulle lees dit soms wanneer hulle daardie plekke op die pad bereik waar hulle moedeloos voel en woorde nodig het. Selfs al is ek nie meer ‘n telefoonoproep vêr nie, weet ek my woorde sal by hulle wees.

Ek het al die briewe wat hulle tydens hul kinderjare geskryf het, gebêre. Daar is pragtige briewe met Moedersdag, verjaarsdae en briewe aan Kersvader.

Met sekere ouerskap situasies was ek meer tegemoetkomend as ander ouers, maar ek was met al my seuns streng oor ouderdomsgeskikte rekenaarspeletjies en flieks. Jare gelede was Christo se maats baie gefrustreerd met my omdat ek hom nie wou toelaat om ‘n 16-ouderdomsbeperkte rekenaarspeletjie saam met hulle te speel nie. Hulle het besluit om elkeen vir my ‘n persoonlike brief te skryf. Ek kon net glimlag toe ek die 12-jarige argumente lees. Ek beplan om daardie briewe eendag vir hom gee as self hy ‘n tiener het.

My pa en ma

As jong volwassene het ek meer bewus geword van die lewe se drake. Ek het anders na my ouers gekyk en was dankbaar vir wat hulle vir ons gedoen het ten spyte van al hul uitdagings. In ‘n brief aan my pa en ma het ek hulle bedank vir al hul opofferinge. Daar was vakansies wat hulle by die huis gebly het omdat alle beskikbare fondse na ons naskoolse opleiding moes gaan. Hulle moes vroeg opstaan, planne maak en probleme opgelos. My ma het my vertel van my pa se emosies toe hy die brief ontvang het. Ek is so dankbaar dat ek dit geskryf het, want ek het my pa kort daarna verloor.

Tydens ’n onlangse besoek het my ma vir my die briewe gewys wat my pa voor hul troue aan haar geskryf het. Hulle het in verskillende klein dorpies gewoon. Briewe was die enigste manier waarop hulle privaat oor ‘n afstand kon kommunikeer. Dit was kosbaar om my pa se handskrif op papier te sien en sy woorde so vol liefde vir haar te lees.

Ek kon iets van sy menswees in sy briewe ervaar maar ook beter insig in hul uitdagings kry. Hy moes met sy eerste motor ’n grondpad aandurf om by haar te kuier. Baie van sy probleme het met sy kar te doen gehad. Ek is seker sy briewe neem my ma vêr terug in tyd. 

Dankie dat jy my briewe lees

Groete

Emsia

2 thoughts on “Briewe dra woorde en emosies

  1. Pragtig Pragtig ! Gaan nou anders dink , as ek die geel poskarretjies sien pos aflewer!
    Dankie vir jou brief

    1. Ah dankie vir jou kommentaar! Daardie geel karretjies is iets wat ek altyd van Switserland sal onthou. Dit is veral vir my mooi as hulle in die sneeu met hulle ry. Moet maar lekker koud op hulle wees in die winter.

Comments are closed.

Comments are closed.