Laat gaan is deel van ouerskap

Laat gaan is deel van ouerskap

As ‘n ma van twee jong volwasse mans, moes ek meer voorbereid op Zanders se versoek gewees het. Tog het sy voorstel, in ‘n behoefte om homself uit te daag, my steeds onkant gevang. Ek moes my jongste 15-jarige seun, se behoeftes objektief evalueer. Dit het gehelp om na te dink oor my volwasse seuns se behoeftes, optrede en ontwikkeling toe hulle ongeveer dieselfde ouderdom was.

Jacques

Die eerste versoek van my oudste seun wat my onkant betrap het, het gedurende sy graad 11-jaar gekom. Jacques wou saam met sy beste vriend en maats op ‘n tienervakansie gaan. Die vriend se broer wat op daardie stadium`n student was, sou die motor die 400km tot in Hartenbos en terug bestuur. Dit was die eerste maal dat `n versoek van die aard my pad kruis. Alarms van potensiële risiko’s het my gedagtes gevul. Ek het egter ‘n vinnige besluit geneem en nee gesê.

Die vriend se ma het haar kundigheid as sielkundige gebruik en my in ‘n boodskap gerusgestel. Sy het erkenning daaraan gegee dat dit algemeen is dat ouers veral met hul oudste kind so voel en reageer. Sy het my verseker dat al die betrokke jongmense verantwoordelik is. Dit is goed as hulle stappe in die rigting van onafhanklikheid te neem. Sy het uit ervaring bevestig dat ‘n ma dié tipe situasies heel anders sien en benader teen die tyd wat dit by haar tweede en derde kind kom.

Voordat ek ‘n finale besluit geneem het, moes egter myself eers met my eie analitiese bendering oortuig. My versoek was Jacques se eerste betekenisvolle les in die die konsep van risiko’s en beheermaatreëls. Ek het hom gevra om ‘n lys saam te stel van al die bekommernisse wat ek oor beplande vakansie mag hê. Vir elkeen van hierdie risiko`s moes hy ook met iets wat my meer gemoedsrus daaroor sou gee, opkom. Jacques baie moeite gedoen met my versoek en oplossings gegenereer vir potensiële bekommernisse bo wat ek verwag het.

Benewens die genot van ‘n onvergeetlike vakansie, het Jacques ook op ‘n heel ander onverwags manier by sy pogings baat gevind. ‘n Vraag in die Engelse graad 12-eindeksamenvraestel het vereis dat studente ‘n motiveringsbrief skryf wat ouers oorreed om hulle toe te laat om saam met vriende op ‘n graad 12-vakansie te gaan.

Christo

Christo, het ‘n bedrywige sosiale lewe gehad.  Ons moes hom oral rondry en in `n behoefte aan  onafhanklikheid het hy`n motorfiets as oplossing voorgestel. Daardie motorfiets het tot my voortydige  veroudering gelei. Toe hy een aand nie op die afgespreekte tyd by die huis was nie, het ek al die ongeluk in my gedagtes sien afspeel.

My paniek het vir Charl ook uit die slaap gehou en my man het aangebied om my te help om die noodeenhede van verskeie hospitale te kontak. Die eerste hospitaal wat ons bereik het, het pas ‘n ongeval van ‘n motorfietsongeluk opgeneem. Toe ek egter verneem dat die pasiënt Engels praat, het ek besef dit was nie Christo nie. Dit het baie selfbeheersing gekos om tot die volgende dag te wag voordat ek in ‘n beter emosionele toestand was om my ervaring en perspektief van die situasie met hom te deel.

Gedurende sy graad 11-jaar het Christo my genader met ‘n versoek om aan ‘n uitreikprogram na Zambië deel te neem. Die feit dat die uitreik deur die skool georganiseer was, het my meer op my gemak laat voel om my kind na Afrika te stuur. Dit was ‘n ongelooflike geleentheid om sy perspektief op die wêreld te verbreed.

Terwyl hulle daar was, het die jong deelnemers by Zambiese gesinne gebly en hulself in die plaaslike kultuur verdiep. Christo het stories vertel hoe hy saam met die gesin se kinders ‘n hoender vir aandete gevang het en die vere gepluk het voordat hulle dit in die pot gaargemaak het. Ten spyte van beperkte hulpbronne, het die Zambiese gashere hul besoekers met die grootste gasvryheid behandel. Hulle het vir hulle die vleis aangebied terwyl hulle net mieliepap saam met die vleissous geëet het. Hierdie ervaring het my tienerseun se deernisvolle hart diep geraak.

Zander

Zander se onlangse versoek was om aan ‘n uitruilprogram wat deur die Round Square-organisasie by sy skool aangebied word, deel te neem. Die reëling stel ‘n student van ‘n ander land in staat gestel om vir ses weke by ons tuis te gaan en saam met Zander skool by te woon. Daarna besoek Zander weer vir ses weke die student se tuisland, gaan by sy gesin tuis en woon saam met hom sy skool by. Zander mis die see en wou baie graag na `n skool naby die see gaan. Dit het dus uitstekend vir hom uitgwerk toe die uitruil met `n student Zander se ouderdom in Perth is.

Die idee om my 15-jarige seun alleen op ‘n vliegtuig na Australië te stuur om vir ses weke by vreemdelinge te gaan woon, was skrikwekkend. Ons het dadelik ‘n aanlynvergadering met die gesin gereël. Na ons virtuele ontmoeting het ek baie meer rustig gevoel. Daar was vinnig  ʼn gemaklikheid met mekaar en hulle lewenswyse het bekend gevoel.

Ons sien gretig uit na Campbell se aankoms in Zürich net na die Paasnaweek. Hy is opgewonde om sneeu vir die eerste keer te ervaar en wil sy Frans, wat hy as Addisionele Taal op skool neem, oefen. Ons het belowe om hom na die Alpe te neem om in die sneeu te stap of te slee en om ‘n Franssprekende gebied in Switserland te besoek. Campbell was verheug om te hoor ons het treinkaartjies bespreek vir ‘n langnaweek besoek aan Parys.

Scotch College, Perth

Zander en Campbell vlieg saam na Perth op 17 Mei. Zander gaan saam met Campbell Scotch College Boys’ School bywoon. Hy sal die skooldrag dra en een keer per week by die Kapeldiens aansluit. Daarbenewens sal Zander op Vrydae aan die saalbyeenkoms deelneem en die seuns aanskou wat in huisgroepe marsjeer op die maat van die College Pipe Band. Bekend vir sy uitnemendheid, tree die College Pipe Band gereeld by Internasionale Tattoos op.

Daarbenewens sal Zander aan die skool se verpligte sport- en gemeenskapsdiensprogramme deelneem. Laasgenoemde bied aan studente ‘n kans om hul Christelike waardes op tasbare wyse in die praktyk uit te druk. Scotch College werk saam met verskeie organisasies, insluitend Disabled Surfing, Second Bite (wat kos herverdeel), Salvation Army, en People Who Care, onder andere.

Om ons kinders te laat gaan is ‘n daad van liefde

Ek is bly dat my kinders hulself uitdaag. In die proses daag hulle my ook uit en help my om deur hul ervarings te groei en die wêreld te ontdek.

Ons uitdaging, as ouers, is om te erken dat terwyl vashou gerusstellend kan voel, dit ‘n diep liefdesdaad is om ons kinders toe te laat om te groei en te floreer. Ons moet hul toenemende onafhanklikheid ondersteun en vier. Wanneer hulle vertroue in hul vermoë om op hul eie voete te staan het, sal hulle terugkeer en ons band sal een van liefdevolle interafhanklikheid wees.

As ouers moet ons ons kinders se groeiende onafhanklikheid fasiliteer, ondersteun en vier, al is dit moeilik. Om te laat gaan is ‘n daad van liefde. Wanneer hulle vertroue in hul vermoë om op hul eie voete te staan het, sal hulle terugkeer en ons band sal een van liefdevolle interafhanklikheid wees.

Groete

Emsia

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui