Kaas is deel van die Switserse kultuur

Kaas is deel van die Switserse kultuur

Kos en drank vorm ‘n kritieke deel van enige kultuur en erfenis. Wanneer mense hul kos met jou deel, deel hulle hul kultuur en ‘n stukkie van hul hart.

Wes-Kaap, Suid Afrika

Toe ek na die Wes-Kaap verhuis het, het my Stellenbosse vriende my aan wyn voorgestel. Wynkennis vorm ‘n noodsaaklike deel van enige student se informele opleiding. Die verskeie wynlandgoedere in die Wes-Kaap bied baie wynproe-geleenthede. Die Wes-Kaap het seekos en Kaaps-Maleise kos by my lys van gunsteling geregte gevoeg. Ons het die Kaapse Maleise spesiale styl van kook geërf van die slawe van Maleisië, Indonesië en Oos-Afrika wat gedurende die 17de en 18de eeu na Kaapstad gebring is.

Switserse Kaas

Ons brei ons kennis van Switserse kaas uit. Daar is talle Switserse kaasvariëteite en verskillende streekspesialiteite. Net soos wyn is die maak van kaas ‘n kunsvorm. Die Switserse is trots op hul kaas gemaak met plaaslike melk en uitstekende vakmanskap.

Daar is meer as 450 verskillende kaassoorte in Switserland. Die maak van kaas verbruik byna die helfte van die melk wat in Switserland geproduseer word. Die top-geproduseerde Switserse kaas is Le Gruyère. Emmentaler kaas, met sy kenmerkende gate, is die kaassoort wat die meeste uitgevoer word.

Beide Gruyère- en Emmentaller-kaas is gemerk as fromage d’alpage / Alpkäse. Hierdie kenteken beteken dat die kaasmakers die kase gedurende die somer produseer wanneer die koeie in die berge wei. Baie Switserse boere neem hul koeie in die lente na die weivelde en bring hulle terug in die herfs. Die kruie en blomme wat die koeie eet waar hulle wei, gee die kaas ‘n spesifieke karakter en geur.

Gruyère

Ons het onlangs die voorreg gehad om ‘n kaasfabriek, La Maison du Gruyère, in die Middeleeuse dorpie Gruyère in die Alpe, naby die Franse grens, te besoek. Die boere in die dorpie maak hierdie kaas sedert die 12de eeu om die wintermaande te oorleef. Hulle het later van die kaas na Frankryk en Italië begin uitvoer, maar die wêreld het eers die naam amptelik gedurende die 17de eeu erken.

Ons het gesien hoe hulle die ongepasteuriseerde koeimelk in koperpotte verhit en ensieme byvoeg om dit te verdik. Die veroudering van Gruyèrekaas duur tussen 3 en 10 maande. Soos wyn word die kaas mettertyd beter. Ons het grootgeword met Heidi en Peter se stories. Ek besef nou dat hulle in die winter elke aand Fondue kaas saam met Oupa geëet het, net soos die mense nog steeds doen.

Ons het ook in Gruyère die ou kasteel op die heuwel wat in die 13de eeu gebou is, besoek.  Dit het die vorige aand gesneeu en ons kon in ons verbeelding probeer terug gaan na daardie tye.  Die mure is dik, die vensters min en in elke vertrek ʼn groot kaggel wat die mense moes warm hou. In die gesellige atmosfeer het hulle om lang tafels kuier en hul gesmelte Gruyère kaas en brood geeet saam met lekker wyn.  As dit in die winter saans vroeg donker word, het hulle in die musiekkamer saam musiek gemaak en gesing.

ICS skool se internasionale fees

Die gesinne by Zander se internasionale skool is van regoor die wêreld. Elke jaar reël die Inter Community Community School Zurich se Parents Association ‘n internasionale fees waartydens almal mekaar se tradisionele kos van hul land van herkoms kan sien en proe. Aangesien sosiale kontak steeds beperk is, sal hulle vanjaar ‘n ICS internasionale kookboek vrystel.

Ek het ons Kaaps-Maleise kerrie-en-rys resep as ‘n Suid-Afrikaanse bydrae tot die Kookboek ingedien.

Groete

Emsia

Comments are closed.