Vriendinne wat ‘n ma se turbulensies verlig

Vriendinne wat ‘n ma se turbulensies verlig

Baie van my vriende se jongste kinders skryf hul eindeksamen. November is ‘n stresvolle maand, en binnekort sal hulle moet aanpas by ‘n leë huis. Hulle ervaar die afsluiting van ‘n betekenisvolle hoofstuk in hul lewensboek.

Die turbulensies van moederskap

Elke ma kyk terug en dink met ‘n glimlag oor die onstuimigheid van moederskap. Ek weet ek sou nooit oorleef het sonder die insette en hulp van vriende nie. Ek glo dat God hierdie vriende vir my uitgekies het. Daar is geen toeval in die keuse of tydsberekening van mense wat ons pad kruis nie.Ek skryf meer hieroor in toe-val-lig in plaas van toevallig.

Vriende sien jou behoefte en help sonder dat jy vra. Hulle bemoedig en gee eerlike menings. Hulle daag jou uit om nuwe dinge te probeer of om situasies op nuwe maniere te sien. Soms kan hulle humor raaksien of skep wanneer jy op die rand van wanhoop is.

Klein seuntjies

Ek en Jackie het paaie gekruis toe ons seuntjies klein was. Sy het ná haar man se hartoorplanting in Kaapstad beland. Dit was op dieselfde tyd as wat ek deur ‘n egskeiding gegaan het. Ten spyte van haar uitdagings was sy altyd gereed om te help. Baie keer het sy my seuns na skool saam met haar huis toe geneem. Dit het my toegelaat om my werk klaar te maak en dan ‘n glasie wyn op haar stoep te geniet terwyl ons na die sonsondergang-uitsig van Tafelberg gekyk het. Soms het sy ons ook bederf met heerlike, gekookte kos.

Sy was saam met my opgewonde toe Charl in my lewe opdaag. Ek het weer liefde gevind maar kort voor ons troue het haar man gesterf. Met baie rou emosie en verlies het sy moedig en alleen ons troue bygewoon. Dit was ons beurt om te help en ondersteun waar ons kon.

Sy het gelukkig ook weer liefde gevind. Ons beide het verstaan van die uitdagings om tienerseuns groot te maak met die hulp van ʼn pa wat nie hulle eie is nie. Ons seuns is nou jong mans, maar ons is dankbaar oor die rol wat ons in mekaar se lewens kon speel.

Jong mans

In Christo se laaste skooljaar het hy verlief geraak. Net voor ons na Zürich verhuis het, het ek en sy meisie se ma, Ronel, ‘n koppie koffie gaan drink om mekaar te leer ken. Ons het mekaar se geselskap geniet, en ons kon nie ophou praat nie. Min het ek geweet watter kritieke rol Ronel in my lewe sou speel.

Ek het nie geweet daar is ‘n pandemie op pad en dat Ronel se huis vir amper 18 maande my kind se huis sou word nie. Sy het hom by die koshuis afgelaai en hom gereeld met lekkernye bederf. Niks was vir haar te veel moeite nie en sy het my op hoogte gehou met foto’s en boodskappe. Sy het die situasie goed verstaan ​​aangesien haar ouers ook verhuis het om in die buiteland te gaan werk nadat sy skool voltooi het, terwyl sy in Suid-Afrika agtergebly het vir haar studies.

Ons kinders se verhouding het ongelukkig nie Covid-19 oorleef nie, maar ek en Ronel het besluit ons vriendskap sal voortduur. Ná ons eenmalige ontmoeting het ons vriendskap gegroei deur oproepe, boodskappe en briewe. Met haar liefde vir reis, hoop ons dat sy vir my in Switserland kan kom kuier.

My suster, my vriendin

Ek is baie geseënd dat een van my vriende ook my suster is. Ons verskil vier jaar, en ek het haar vir die eerste twintig jaar nie in die vriendskapskategorie geplaas nie. In my tienerjare het sy en haar vriendinne my soms mal gemaak. Hulle het een middag in ’n groot kameeldoringboom langs die skool se rugbyveld weggekruip en soos jakkalse gehuil terwyl die rugbyspan geoefen het. Dit was ‘n groot verleentheid, want ek was verlief op een van daardie spelers.

Ek het nooit gedink sy sou my 911 wees as ek raad en perspektief as ‘n ma nodig het nie. Ons het ons tienerjare baie anders benader, en haar perspektief op sekere situasies is waardevol. Daar was tye wat ek haar soggens met ‘n swaar hart gebel het op pad werk toe. Ek het egter baie ligter by die werk aangekom met perspektief en motivering. Sy het ook ‘n goeie sin vir humor, en haar lagterapie werk altyd.

Vriende is geskenke van God, elkeen toegedraai in hul unieke verpakking. Hulle stap die pad van die lewe saam met ons, verskaf ondersteuning, aanmoediging, perspektief en dade van liefde en omgee.

Dankie aan almal wat saam met my die pad stap en daar is vir my.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Vriendinne wat ‘n ma se turbulensies verlig

  1. Emsia
    Dankie vir die vertel van jou swaarkry & bystand v vriende. Ek weet nie of mans anders is nie, maar ek sukkel om sulke ondersteunende vriendskappe te onthou. Nogmaals dankie. Veral ook met jou deelname in die YouVersion bybelstudie. Soos jy afgelei het, sukkel die ander 2 erg met kommer op hul oudag. Jou bydrae is vir my bemoedigend.
    Mooiloop.

    1. Oom Frikkie, die deelneem aan die YouVersion is vir my ‘n groot voorreg en dit maak ‘n reuse bydrae tot my lewe. Dit help my om dinge op ander maniere te sien en rustiger te wees en meer duidelik nodige boodskappe in my lewe te kry.

Comments are closed.

Comments are closed.