Ek kyk na Suid Afrika met nuwe oë

Ek kyk na Suid Afrika met nuwe oë

Soos wat die vliegtuig besig was om te land, het ek Tafelberg aan die een kant en groen wingerde aan die ander kant gesien. Ons was tuis. Ek het die somerson op my vel geniet. Ek het agter my masker oor die grappies in Afrikaans gelag soos almal die nodige Covid papierwerk in hulle rugsakke probeer vind.

My Doane ervaring

My hart het in my keel geklop toe die Doeanebeampte na my en Zander roep. Ons sakke was vol geskenke wat ek die afgelope 30 maande versamel het as ‘n teenmiddel vir verlange. Die man het ons paspoorte geneem en ‘n vorm ingevul. “Keer jy terug huis toe vir Kersfees, Mevrou?” vra hy in sy Xhosa-aksent. Ek het geknik en genoem dat my seuns in die aankomssaal vir ons wag.

Hy het klaargemaak en my in die oë gekyk. Die man het my terug in Suid-Afrika verwelkom en die mees opregte seëninge oor ons besoek en samesyn in Afrikaans uitgespreek. Hy het ons laat gaan. Hierdie onverwagse deernis het ‘n kraak in my emosionele damwal veroorsaak.

Hierdie damwal het uiteindelik gebreek toe ek my seuns se jong manslywe styf teen my kon vasdruk. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd was woorde wat my reddingstou geword het, onnodig.

Groen landskappe

In die motor het ek my verwonder aan die groen omgewing. Ons het na Switserland verhuis tydens ʼn langdurige droogte wat die landskappe en gemoedere in Suid Afrika kleurloos gelaat het.  Suid Afrika het die afgelope tyd baie reën ontvang wat die riviere en damme laat oorloop het. Die reuk van nat grond en hope wild in die veld tydens ons Kersfees-kuier by Ansa-hulle op die plaas, was ʼn groot seën. Die dreuning en sproei van die massas water by die Augrabies watervalle was ʼn unieke ervaring.

Covid impak

Covid het sy stempel op my land en sy mense gelaat. Op ons vlug na SA het ek baie jongmense en gesinne met klein kinders opgemerk. Die meeste grootouers het nog nooit hierdie kleintjies gesien nie. Die impak van isolasie en onsekerheid op veral ouer mense het my hartseer gemaak.

Tog het ek ‘n groter begrip en deernis tussen verskillende generasies en kulture waargeneem. Christo het my waarnemings bevestig. Hy is lid van Helshoogte koshuis se Huiskomitee, en hulle werk voortdurend hul koshuisvisie en -missie by om kulturele, godsdienstige en seksuele verskille en voorkeure te akkommodeer. Hulle maak mekaar bewus en debatteer hoe samewerking in ‘n toekomstige Suid-Afrika moet lyk.

Met sy ouers ver weg, moes Christo vir lang tye saam met ander jong mans in dieselfde situasie in die koshuis bly. Hulle was mekaar se familie en het mekaar gevolglik as mense beter leer ken.

Medisyne vir die siel

As mense het ons ʼn behoefte aan balans tussen die bekende en avontuur.  Ons behoefte was groot aan bekendheid. Bekendheid saam met liefde en omgee van familie en vriende wat ons bederf en op die hande gedra het, was medisyne vir die siel.  In die Kalahari het my ma en suster en haar gesin ons op elke denkbare manier bederf.

My seuns het my soos ‘n koningin behandel. Jacques het vir heerlike en kreatiewe vegetariese disse gesorg terwyl ek kon agteroor sit. Christo het die motor bestuur en was die probleem oplosser van alledaagse uitdagings.

My en Zander se gevolgtrekking

Voor ons terugkeer het Zander by George, sy ou vriend en buurman gebly. Hulle het tot laat geswem, gespeel en grappies gemaak.

Sy gevolgtrekking daarna was in die kol. Hy het gesê:

 “Ma, dit het gevoel asof al die emosie wat in my bors vasgesit is, uiteindelik kon uitkom. Wat oorbly is ‘n gevoel van tevredenheid. Ek sien nou weer kans vir Switserland en ʼn nuwe jaar.”

Ons het al die seën en voorspoed ontvang wat die man by Doane ons toegewens het. Ek kyk met nuwe oë na die mooi van my land en sy mense. Kyk gerus deur ons oë na ons herinneringe vasgevang deur my kameralens.

Ek sien uit daarna om te help bou aan ‘n toekoms saam met die mense van Suid-Afrika nadat ons seisoen in Switserland geëindig het.

Groete

Emsia

Comments are closed.