Die ritme van seisoene skep vertroue

Die ritme van seisoene skep vertroue

Met lente wat in die natuur sigbaar raak, ervaar ek ‘n gevoel van opgewondenheid en nuwe lewenslus.  Die winter was lank, koud en soms alleen as die snerpende koue dit moeilik maak om die huis te verlaat. Die langer en warmer dae en tekens van nuwe lewe in die natuur gee my hoop.

Al vier seisoene in Switserland

Kinder ervaring van seisoene

Seisoene het nog altyd  ʼn groot impak op my gemaak. Kleintyd was dit bloot die opwinding en nuwe geleenthede wat elke seisoen bring as jy verveeld begin raak van dieselfde roetine, klere en kos. Die Kalahari-winters is kort, maar ek onthou geurige bredie, boontjiesop en wildspastei in die koue aande.  Na skool het ons in die son gesit terwyl my ma vir ons lemoene skil. Die wêreld was droog en vaal.

Die somers was lank en warm en ons het alle beskikbare tyd by die dorpswembad deurgebring. Skouer-seisoene was kort, maar ek onthou die uitsien na die nuwe rok wat my ma vir ons gemaak het om skool toe te dra op 1 September.  Ons het ons nuwe rokke bibberend, maar met trots gedra.

Kathu, Suid Afrika

Volwasse ervaring van seisoene

Met ouderdom en realiteite van die lewe, het seisoene vir my nuwe betekenis gekry. Seisoene wat op hulle tyd opdaag is die een sekerheid waaraan ek kan vashou al voel die wêreld hoe deurmekaar. Dit bevestig daar is ʼn Skepper met ʼn Meesterplan. In die Wes Kaap het ek geleer Herfs kom tydens Paasnaweek. Dit is die mooiste prentjie as die wingerdblare verkleur na skakerings van geel en roesbruin en die berge ‘n donkerder blou raak. Daar iets spesiaals aan sagte winterreën wat jou soos ʼn kombers koesterend toevou. Na weke van onder die kombers sit, raak mens egter moeg van binnehuis wees en wil jy die son op jou vel voel.

Wes-Kaap in die herfs

Met verloop van tyd het ek die metaforiese betekenis van seisoene begin verstaan. Die ritme en balans van seisoene asook die belangrike rol wat elk van die vier seisoene speel, het meer betekenis gekry. My kinders se lewensbome is besig om bloeisels en nuwe blare te vorm en gereed te maak om hulle vrug hier op aarde te dra. Elke oggend herinner die pyne op verskillende plekke in my lyf my daaraan dat my lewensboom wat tans in herfs is, gereed maak vir winter.

Positiewe perspektief op winter

Met die hulp van seisoene kan ek winter en sy rol in ʼn meer positiewe lig sien. In ons winter-seisoene het ons die tyd en wysheid om ondersteuning te bied aan die wat dit nodig het in hulle eie seisoene. Vir die eerste keer in my lewe het ek ‘n wit winter ervaar. Die stilte en skoonheid van die spierwit sneeu slaan my asem weg. Ek deel die visuele ervaring in ‘n foto-video.

Ongeag die seisoen in die natuur wat verskillend tussen die noordelike en suidelike halfrond is, ervaar ons almal winter met Covid-19 inperking. Ons hoop is op Lente. Een van ons tuiniers het dit so mooi gestel: “Aan die einde van winter lyk dit of die Master ‘n skakelaar druk en alles skielik gelyk begin groei!” Ek geniet elke nuwe blaar en botsel buite en raak in vervoering as ek foto’s neem. Ek gaan bewus wees en opgewonde raak oor die groei wat by ons as mense wêreldwyd gaan plaasvind na die winterperiode.

Nuwe groei in die natuur

Groete

Emsia

2 thoughts on “Die ritme van seisoene skep vertroue

  1. Emsia,
    Dankie vir die deel wees van jou herinneringe. Dit is kosbaar. Ek was nog nooit so bewus van die aarde se 2 helftes, soos nou nie – ons bome se blare val af, julle s’n kom uit. Dis asof die natuur homself balanseer – om nie alles op een keer te gee nie – so ondersteun Noord & Suid se produkte mekaar.
    Geniet die kleure daar bo.
    Lief julle
    Frikkie

    1. Ek hou baie van die manier waarop Oom daarna kyk – die balans en dat Noord en Suid mekaar help met produkte. Ons eet heel jaar lemoene. Een helfte SA lemoene en die ander helfte Spaanse lemoene🤗

Comments are closed.

Comments are closed.