Kies om moontlikheid en potensiaal te sien

Kies om moontlikheid en potensiaal te sien

Ek het onlangs ‘n onverwagse boodskap van ‘n joernalis van die Suid-Afrikaanse tydskrif Rooi Rose ontvang. Sy was besig om ‘n artikel te beplan oor maniere om die vele fasette van die lewe te vier.

Sy het ‘n paar woorde van my nodig gehad oor die viering van familie. Haar versoek het tot verskeie van my passies gespreek.

Dewitt Jones, ʼn National Geographic fotograaf

Haar inspirasie vir die artikel was ‘n video deur Dewitt Jones, ‘n National Geographic fotograaf met die titel, Celebrate what is right with the world. Ek het tien jaar gelede my eerste Dewitt Jones video gesien met die titel, There is more than one right answer. Ek het dit sedertdien seker al vyftig maal gekyk en tydens die fasilitering van strategiese beplanningsessies vir organisasies gebruik. Op ʼn persoonlike vlak was Dewitt soos ʼn mentor vir my en sy wysheid en insig het tot my gespreek.

As ‘n klein seuntjie het Dewitt Jones inspirasie gevind in National Geographic tydskrifte. Pragtige foto’s het vir hom die moontlikhede gewys wat die wêreld bied. In sy rol as fotograaf het hy geleer dat ‘n mens kreatiwiteit moet gebruik en lense en perspektiewe moet verander totdat jy potensiaal in ‘n situasie raaksien. Sy woorde was:

Through that lens of Celebration, I saw that there is far more right with the world than wrong with it. Always something to celebrate and be grateful for.

Ek deel van Dewitt se wysheid wat tot my spreek.

Ons moet leer om moontlikhede en potensiaal in situasies raak te sien

As mense is ons geneig om vinnig te wees om fout te vind. Boonop konfronteer die media ons ook voortdurend met vrees, skaarste en mededinging. Hierdie neiging beïnvloed later die gesindheid en manier waarop ons na die wêreld om ons kyk.

Ons moet kies om moontlikhede en potensiaal raak te sien en glo dat dit daar is. As ons glo dat die regte dinge en mense op die regte tyd daar sal wees, sal ons dit begin raaksien. Sodra ons moontlikhede begin sien, gee dit ons die energie om oplossings te vind en deur verandering te gaan.

Verandering skep momentum en geleenthede. Ons kan nie verandering beheer nie, maar moet die energie daarvan inspan om ons te neem waar ons wil wees.

Ons moet vreugde vind in ons dagtaak.

Dit is inspirerend om mense dop te hou wat met passie en vreugde werk. Sommige mense is gelukkig om werk te vind wat ooreenstem met hul liefde en belangstelling. Hulle kry hul energie uit wat hulle doen.

Baie ander verrig egter ‘n dagtaak wat hulle uit nood eerder as keuse geneem het. Sommige mense kry dit reg om hul dagtaak met ‘n positiewe gesindheid uit te voer omdat hulle deur ‘n lens van dankbaarheid kyk en fokus op die geleentheid om ‘n verskil te maak.

Om op die regte manier na situasies te kyk, is slegs moontlik as jy elke dag met die nodige energie en passie begin. Ons moet dus tyd maak vir daardie dinge wat ons vreugde en energie gee sodat dit kan oorspoel na ons dagtaak.

Geleenthede en uitdagings dans saam

Die versoek om iets te skryf oor hoe ons ons gesin en familie vier, het my genoop om te besin oor die afgelope vier jaar. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat geleenthede en uitdagings saam dans. ‘n Geleentheid het oor ons pad gekom, maar het ons as gesin en familie geweldig uitgedaag. As ek egter die regte lens gebruik, kan ek sien hoe die uitdagings geleenthede vir ons as individue en as familie geskep het. Ek deel hieronder my bydrae tot die artikel vir die Januarie 2023-uitgawe van die Rooi Rose tydskrif.

Ons vier mekaar as individue en familie

’n Uitsonderlike werksgeleentheid in Switserland het ons pad gedurende 2019, gekruis. Geleenthede en uitdagings dans egter saam. Charl moes in ʼn nuwe Duitssprekende werksomgewing en Zander by ‘n internasionale skool met Duits en Spaans as nuwe tale, aanpas. Ek moes my twee oudste seuns en familie in Suid Afrika agterlaat. Jacques, ’n tweedejaarstudent, en Christo, ’n matrikulant, moes vinnig op hulle eie voete staan.

Afstand en uitdagings het ons gehelp deur nuwe lense na mekaar kyk. Met nuwe perspektief sien ons nou innerlike krag en deursettingsvermoë, in plaas van tekortkominge, raak. Ek vertel my hartsmense hoe trots ek is as ek sien hoe hulle kreatiwiteit inspan om moontlikhede raak te sien en hulle talente aanwend om ʼn verskil te maak. My seuns sê meer gereeld: “Dankie Ma, ek waardeer dit. Ons mis Ma. Ek is lief vir Ma.”

Ek deel my hart in my briewe huis toe aan familie en vriende en geniet die gesprekke, boodskappe, foto’s en musiek wat ek in ruil ontvang. Ons het mekaar op ‘n dieper vlak leer ken en waardeer. Ek beskou my ma se warm stem vol liefde en om saam met haar na RSG se eredienste te luister, as ʼn voorreg. My suster se humorsin is medisyne vir my siel.

Met aanraking as liefdestaal het my hart gejubel toe ek my seuns na die Covid periode op die lughawe weer styf teen my kon vasdruk. Ons is Suid Afrika toe met tasse vol geskenke spesiaal vir elkeen uitgesoek. Ons vier mekaar deur kosbare tradisies, stories te deel en lekker saam te lag en kuier. Dit is pure genot om saam nuwe plekke en dinge te ontdek en so herinneringe te bou.

Familielede is ondersteuners en getuies van ons se unieke lewensreise. Ons is dankbaar vir en vier mekaar as individue en familie!

Groete

Emsia

6 thoughts on “Kies om moontlikheid en potensiaal te sien

  1. Dit is pragtig geskryf, Emsia. Ek is mal oor die gedeelte wat sê dat geleenthede en uitdagings saam dans en gaan dit altyd probeer onthou. Dit is wyse en ware woorde.

    1. Baie dankie Wineta! Ek waardeer jou ondersteuning regtig baie. Ek hoop ons kry eendag die geleentheid om ‘n koppie koffie saam te drink

  2. Baie pragtige woorde wat saam gevoeg is om n hart storie te vertel. Hoop dis die eerste van vele.

  3. Emsia. Jy is ‘n lewende bewys v hoe (moeilike) omstandighede, mens dwing/help om nuwe perspektief op jou lewe te kry – as jy bereid is om aan te pas – selfs te verander.
    Dankie vir jou insigte.

    1. Baie dankie vir jou mooi woorde Caron. Ek waardeer dit

Comments are closed.

Comments are closed.