Sirkus se plek in die vermaak arena

Sirkus se plek in die vermaak arena

Sirkusse het ontstaan as ʼn vorm van vermaak lank voor die era van rolprente, televisie en sosiale media.  Dit sirkus arena was ‘n plek van eksotiese mistiek.  Ek het gewonder oor die toekoms van sirkus in ʼn era gevul met vele vorms van vermaak. Ons het die Knie-sirkus in Zürich twee keer in een maand bygewoon!

Knie Sirkus is ʼn familiebesigheid

Friedrich Knie, ʼn mediese student, het die Knie Sirkus in 1803 gestig nadat hy op ʼn perderuiter verlief geraak het. Dit is ‘n familiebesigheid en een van die oudste en mees prominente Europese sirkusgroepe.  Deesdae bestuur lede van die 7de geslag die familiebesigheid en hul kinders (die 8ste geslag) tree reeds in die arena op.  Ek verstaan die uitdagings van familiebesighede en het baie respek vir die Knie-familie.

My sirkus ervaring oor tyd

Ek was as kind in ʼn sirkus, toe Boswell Wilkie Circus ons myndorp, Sishen, in Suid Afrika besoek het.  Ek was opgewonde, maar ook vreeslik bang vir die narre en die akrobate het stres by my veroorsaak.  Dit was gevolglik ʼn ervaring met gemengde gevoelens.  Ek was nuuskierig om te sien wat ʼn hedendaagse sirkus bied.

In wese het die boustene van ’n sirkus oor tyd dieselfde gebly met akrobatiese toertjies, slapstick-komedie en diere. Sirkusse het baie negatiewe kommentaar uitgelok oor die wrede en onregverdige manier waarop hulle diere in die verlede behandel het. Die Knie Sirkus gebruik slegs perde en ponies maar hanteer die diere ongelooflik respekvol binne en buite die sirkustent.

Daar was, soos destyds, twee narre wat kontinuïteit verskaf het. Hulle gesigte was gelukkig nie geverf nie! Hulle snaakse woordspeling in Duits was effens verlore op ons, maar ons het lekker saam met die ander mense gelag.

Tegnologie in die sirkus

Hulle het tegnologie slim in die vertonings gebruik vir ‘n visuele skouspel. Die Extreme Light Dance Crew het ‘n genotvolle vertoning van lig, musiek en dans met hul LED-kostuums geskep. Die groep bestaan uit lede van Oekraïne en Rusland ten spyte van die oorlog tussen hul tuislande.

Die vinnige akrobatiese bewegings op ‘n trampolien en ‘n LED-verligte muur was vermaaklik. Verligte hommeltuie in die sirkustent het ‘n ongelooflike visuele effek geskep.

Pipistrello

Elke jaar sien ek die Pipistrello sirkus tent by ons dorpie Zumikon se dorpsplein.  Hulle sirkus waens staan op die dorpsplein en hulle eet almal saam by lang houttafels.  Hierdie sirkusgroep beweeg tussen dorpe gedurende die warmer maande. 

Hulle is ‘n saamspeel-sirkus en organiseer projekte met skole, remediërende onderwysinstellings, en vakansie-organiseerders.  Saam met die Pipistrello-span slaan die deelnemers die sirkustent op, ontwikkel ’n sirkusvertoning met hul eie idees en bied dit aan die einde van die week aan.

Sirkus is ʼn tradisie

ʼn Vriendin, wat ʼn Switserland grootgeword het, het my vertel dat hulle elke jaar die openingsvertoning van die Knie sirkus bywoon.  Die sirkus was vir ʼn maand lank op ʼn plein langs die meer.  Oor naweke was daar tot drie vertonings per dag. Hulle toer op hierdie manier deur die stede en groter dorpe in Switserland.

Die Hirslanden groep het al die kaartjies vir ʼn paar vertonings in Switserland gekoop as ʼn dankiegeskenk aan werknemers. Dit het vir baie werknemers en hulle gesinne genotvolle vermaak en ontvlugting gebied. Dit is die rede waarom ons gedurende Mei-maand twee keer by die sirkus was.

Sirkus het ‘n plek in die vermaak arena

Al die opgewonde kindergesiggies en die reuk van springmielies het die kinderlike opgewondenheid vir my terug gebring.  Ek het elke oomblik van die vertoning geniet.  Soms het ek lekker gelag en ander tye na my asem gesnak. Die vierwiel motorfiets wat ʼn “backflip” hoog in die arena gemaak het, het beslis my senuwees getoets. Die toertjie is blykbaar uniek in die wêreld.

Soms voel ons gesin soos ‘n sirkus.  Ek sal vir privaatheidsredes die narre se identiteit geheim hou.  Ons almal doen egter gereeld balanseertoertjies. ʼn Sirkus bestaan uit ʼn span mense wat soos ʼn goed geoliede masjien saamwerk.  Hulle het spesifieke vaardighede en rolle op die verhoog, maar help ook agter die skerms met die gewone huishoudelike take.

Ek verstaan nou dat sirkus ʼn tradisie is wat generasies verbind en aanpas by die tye. Ek glo dit het steeds  ʼn plek as vorm van vermaak in die toekoms, solank as wat dit kan bly innoveer.

Groete

Emsia

Comments are closed.