Graffiti en straatkuns in Switserland

Graffiti en straatkuns in Switserland

Met ons aankoms in Zürich, was ek verstom deur al die graffiti in die stad. Op daardie stadium het ek graffiti as ‘n vorm van vandalisme beskou. Graffiti en straatkuns se rol in die samelewing het egter aansienlik verander. Kuns in openbare plekke bied geleenthede vir kunstenaars om hul talent ten toon te stel en sosiale menings met die algemene publiek te deel.

Banksy

Banksy het ‘n beduidende rol gespeel om graffiti meer gewild te maak. Die kunstenaar se straatkuns beklemtoon sosiale en politieke kwessies direk en pragtig. Die eerlikheid van die kuns en die feit dat die kunstenaar anoniem is, dra by tot Banksy se roem. Banksy se styl is minimalisties en gebruik dikwels ander items van die straat om deel van die beeld te vorm. Banksy het daarin geslaag om die kreatiwiteit en plek van graffiti in die artistieke gemeenskap te bevorder.

Mense het sedert die uitbreek van die oorlog verskeie Banksy-kuns in die Oekraïne ontdek. ‘n Uitstalling wat verleng is, “The Mystery of Banksy – A Genius Mind”, gee mense in Zürich die geleentheid gegee om meer te leer en Banksy se kuns te waardeer.

As ek aan Banksy dink, kom die meisie wat na die hartvormige ballon gryp, by my op. Die beeld het baie emosionele interpretasies. Vir sommige lyk dit asof die meisie die ballon verloor, terwyl ander sien dat sy op die punt is om dit te vang. Dit simboliseer hoop, liefde en vryheid.

BANE

Ek het onlangs bewus geword van BANE, ’n bekende Switserse straatkunstenaar. Fabian Florin, oftewel BANE, woon in die Switserse dorp Chur. Baie van sy werke is in Chur, maar sy werke versier ook nou mure in ander wêreldstede. ‘n Indrukwekkende muurskildery is op die koringmeultoring in Chur. Langs ‘n rivier in Chur is daar ook ‘n pragtige 3D-prent van ‘n visserman.

BANE se lewensverhaal is baie inspirerend. Op veertien het hy aan dwelms verslaaf geraak en vir 14 jaar op straat gewoon. Sy leefstyl het hom verskeie kere agter tralies geplaas. In sy laat twintigs het hy ‘n laagtepunt bereik. Hy is met drie en ’n half jaar tronkstraf gedreig, maar het langtermynterapie gekies. Die harde onttrekking het twee maande geduur, en die terapie twee jaar. In hierdie tyd het Fabian muurskilderye begin spuit.

Vir hom was sy kuns soos ’n klein “vlam” wat in hom gebrand het. “Noem dit hoop of die wil om te oorleef. Maar hierdie vlammetjie het daarin geslaag om die verskil op daardie oomblik te maak“, sê BANE.

BANE het ook deure vir ander graffiti-kunstenaars oopgemaak. Beskadiging van eiendom deur graffiti is onwettig in Switserland soos elders. Die stad Chur het egter besluit om graffiti as ‘n vorm van kuns te ondersteun en het sedert 2014 talle mure vir kreatiewe kunswerke vrygestel. Die stadsamptenare vra die kunstenaars om hul kunswerke op sosiale media met die hutsmerk #streetartchur of #churkultur te merk en te erken hulle vir hul deelname.

Frauenfeld se Straatkuns Fees

Omdat ek BANE se werk persoonlik wou sien, het ek Frauenfeld besoek. Die dorp het aan die begin van Junie ‘n Straatkunsfees gehou. Sestig nasionale en internasionale straatkunstenaars het Frauenfeld in ‘n opelug kunsgalery omskep. Besoekers kan die hele somer na die kunswerke kyk. Ek dink dit is ‘n baie kreatiewe manier om toeriste te lok.

Ek het BANE se kunswerk met die titel – Cutting through History gevind. Die gebou met die muurskildery van ‘n jong meisie wat naaldwerk doen, was die winkel van die dorp se kleremaker. My ma het in ons jeug ons klere self gemaak en ek onthou haar voor haar naaimasjien of met ‘n naald of skêr in haar hand. Hierdie kunswerk het iets in my geroer en ook volgens die naam, deur my geskiedenis gesny.

Straatkuns speel ʼn belangrike rol

Ek kyk nou anders na straatkuns en kan die voordele sien wat dit inhou. Daar is ‘n toerismevoordeel omdat mense van ander gebiede af reis om muurskilderye en ander straatkuns te sien, wat inkomste vir plaaslike besighede kan genereer. Straatkuns het ‘n toeriste-aantreklikheid in baie stede regoor die wêreld geword. Daar is selfs ‘n Straatkunstoepassing wat jy kan aflaai wat jou sal help om kunswerke in ‘n spesifieke stad te sien.

Straatkuns kan ook dien as ‘n platform vir sosiale kommentaar en bewusmaking. Dit kan die aandag op belangrike sake vestig en gesprekke binne die gemeenskap stimuleer. Straatkuns laat my dink aan die uitdrukking deur Albert Einstein. Hy het gesê Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het.

Ek sluit af met woorde van Banksy.

Art should comfort the disturbed and disturb the comfortable.

I’ve learnt from experience that a painting isn’t finished when you put down your brush – that’s when it starts. The public reaction is what supplies meaning and value. Art comes alive in the arguments you have about it.

Groete

Emsia

Comments are closed.