Woorde het my reddingstou geword

Woorde het my reddingstou geword

Ek was nog nooit een vir baie woorde nie.  Ek geniet diep en insiggewende gesprekke, maar is gewoonlik beter met luister as met praat. Die afgelope twee jaar is woorde egter my enigste vorm van kontak met ander mense. 

Die woorde wat ek hoor en praat

Telefoongesprekke het my voorheen angstig gemaak. Deesdae het ’n telefoonoproep my nuwe geskenk geword. Ek sien uit daarna om iemand se stem te hoor. My weeklikse oproep met my ma is soos ‘n konstante waaraan ek vasklou. Ek is dankbaar vir die voorreg om haar stem te hoor. Nadat ons inligting oor die welstand van familie en vriende gedeel het, gesels ons oor ons passies en belangstellings. Ons verlustig ons ook in die kosbare oomblikke en positiewe herinneringe van die verlede. Dit is altyd spesiaal om my ma te hoor lag.

My seuns hou ook nie van telefoongesprekke nie, maar deesdae gesels ons vir ure oor die foon. Ons het voorheen ons liefde vir mekaar uitgedruk deur tyd saam te spandeer en aktiwiteite saam te doen. Dikwels het dit in stilte geskied, omdat mekaar se teenwoordigheid genoeg was.  Ons het mekaar met take gehelp of met klein geskenkies verras.  Aanraking, as ʼn uitdrukking van omgee, het terloops in die verbygaan gebeur. Woorde is nou al wat ons het.

Die woorde wat ek skryf en lees

Ek ervaar skryf as ‘n waardevolle manier om van die emosies wat my wil oorweldig, ontslae te raak.  Dit help my om sin te maak van wat ek voel.  Die papier gee nie raad nie, luister geduldig en gee vir my perspektief en antwoorde. Gedurende my egskeiding het ek my emosies in digvorm neergepen. Met ons trek Switserland toe, help my briewe elke twee weke my om sin te maak van gebeure, kontak te hou en herinneringe op papier te lewendig te hou.

Ek lees graag en vind dikwels antwoorde op my vrae in geskrewe vorm. Soms vind ek selfs bemoediging in geskrewe stukke, gedigte en wyse woorde van mense op sosiale media. Ek het geleer om selektief te wees met die aard en die bron van die inligting wat ek lees. Woorde het ʼn groot impak op my gedagtes, wat oorspoel na my gevoelens en het ʼn impak op my aksies.

Woorde is kragtig

Woorde is ʼn draer van inligting en emosies. Dit het ʼn impak op ander mense.  As woorde ʼn mens se enigste vorm van konneksie word, moet jy hulle versigtig kies.  Dit is belangrik vir die een wat dit spreek maar ook vir die een wat dit hoor. Woorde kan opbou, inspireer, motiveer, erkenning gee en liefde oordra.  Dit kan egter ook afkraak, ontmoedig en twyfel en onsekerheid saai. 

Ons woorde is ‘n bevestiging vir die wêreld van hoe ons ander, ons lewens en onsself sien. Wanneer ons iets hardop sê, word hierdie woorde ʼn waarheid vir onsself, maar ook vir almal wat dit hoor.  Dit is baie belangrik dat ons waak oor ons woorde en seker maak hulle is waar en positief.  Woorde kan nie terug getrek word nie.

Die pen is magtiger as die swaard

Ek het waardering vir die idioom wat lui, “Die pen is magtiger as die swaard”. Geskrewe woorde kan ander oortuig, opvoed, inlig en meer verandering te weeg bring as wat geweld of misbruik van mag ooit kan doen. Dit gee ander die geleentheid om die woorde te oordink, emosionele reaksie te ervaar en aksie te neem uit eie wil.

Woorde het my reddingstou geword en ek is dankbaar vir elkeen wat my met die uitruil van woorde help om kop bo water te hou.

Liefdegroete

Emsia

Comments are closed.