Uitdagings en wonderwerke tydens ons uittog

Uitdagings en wonderwerke tydens ons uittog

Met die trek van die Israeliete uit Egipte deur die woestyn vir veertig jaar, het die Liewe Vader geweet Hy sal hulle met ʼn groot plan moet lei anders sal hulle nooit in die beloofde land uitkom nie.  Ten einde hulle na aan Hom te hou, te laat saamstaan en help vorentoe beweeg, het Sy plan baie uitdagings en wonderwerke ingesluit.

Sedert ons Welgemoed verlaat het, het ons ook baie uitdagings, wonderwerke en engele op ons pad beleef.  Na ons uittrek uit Welgemoed, is ons vir ʼn paar dae see toe vir ʼn bietjie saamwees voor Charl weer terug Zürich toe vlieg en ek en Zander in die pad val om bietjie-vir-bietjie ons hartsmense en hartsplekke te groet.

BMW met pap wiel tussen Prieska en Griekwastad

BMW hou nie van grondpad nie!

Op pad na Kathu konsulteer ek Google Maps oor die paaie in die Noord-Kaap en vat ʼn kortpad, min wetend dis ʼn grondpad.  Die BMW hou nie van grondpad nie.  Laat Sondagoggend op ʼn klipperige pad sonder selfoonsein tussen Prieska en Griekwastad, bars die BMW se band!  

Ons is gestrand, want BMW het “run flat tyres” en geen spaarwiel nie. Net toe my paniekaanval die oorhand wou kry, verskyn daar ʼn groot trekker met 3 werkers op, soos engele uit die hemel.  Ek klim met my rekenaar, handsak en paspoorte op die trekker se een wiel en Zander op die ander.  By die plaashuis help die boer my met die plaastelefoon om ʼn nuwe band uit Prieska te bestel en ek kon my familie inlig oor ons penarie.

Swaer Andre laat weet die pad is te sleg om verder te ry.  Hy reël met ʼn boer in die Griekwastad omgewing om ons en die BMW met sy plat sleepwa te kom haal voor dit nag word.  Genadiglik kon ons daardie aand ons moeë koppe neerlê op sagte kussings in ʼn gastehuis in Griekwastad.  Al wat ek kon prewel voor ek my oë stadig toemaak was: “Dankie Vader vir al die Noord-Kaap engele wat met soveel liefde en omgee tot ons redding gekom het op hulle kosbare Sondag!”

Ons familie kuier vir oulaas op die plaas

My Kalahari kuier was soos ‘n oase in die woestyn

Die kuier by my ma in Kathu en Ansa en Andre op die plaas was soos ʼn lower groen oase met lieflike palmbome in ʼn woestyn na weke se bokse pak en grondpad ervaring.  Ons bekers het oorgeloop van liefde, omgee en bederf en niks kon ons pla nie.  Ek is so dankbaar dat Christo en Michaela ook saam kon kom kuier.  So tussen die groot ou kameeldoringbome en die goud-oranje sonsondergange het ons heerlik gekuier, geëet, gelag en die saamwees geniet.  Die groet en wegry was baie seer.

Ek, my ma en my sus, Ansa.

Pretoria vir visas optel

Na konsultasie oor die veiligste pad na Pretoria vir visas optel, is ek deur ʼn skoolvriendin bygevoeg op ʼn paar ry-veilig WhatsApp groepies. Hulle het twee kere ongelooflik tot ons redding gekom toe ons onluste op ons beplande roetes kon vermy.  Die visa-aansoeke was ʼn groot klip wat potensieel die Switserse appelkar kon omgooi, maar genadiglik het alles daar met Switserse presisie seepglad verloop.

Kuier saam met Jacques en Candice in Parys

Na die visas het ons vir Jacques en niggie Candice in Potchefstroom opgetel en ʼn heerlike saamweestyd in Parys langs die kabbelende waters van die Vaalrivier gehad.  Jacques het ons bederf met smaaklike etes wat hy voorberei het.  As oud Kovsie het die hele Vrystaat-landskap sommer ook wonderlike herinneringe van wonderlike studentedae teruggebring.

Jacques, Zander en Candice in Parys in die Vrystaat

Oupa en Ouma Kruger in Limpopo

Jacques is saam met ons om vir Oupa en Ouma Kruger in Limpopo te groet.  Nadat ons van Jacques afskeid geneem het, is ons na nefie Justin in Sandton. Hy het vir my en Zander die liggies van Sandton gaan wys en gehelp dat ons veilig op die Gautrein kom vir ons laaste rit OR Tambo lughawe toe.

Ons dag van vertrek het aangebreek.  Al die uitdagings en wonderlike oomblikke dra ek soos juwele in my hart en het net gebid dat ons na die lang reis darem in Zürich sal uitkom.  My vrees was dat ek soos Moses nooit die beloofde land sal sien nie.  Ek het so baie drome van hoe ek met my hartsmense daar wil kuier, spesiale oomblikke beleef en herinneringe bou.

Ek is uiters dankbaar vir my reismaatjie, wat al die dinge saam met my beleef het.  Hy ken sy Ma so goed en het met soveel liefde en humor ongelooflike ondersteuning gebied.

Groete

Emsia

Comments are closed.