’n Verskietende ster word agtien
Hierdie week word ons jongste seun, Zander, agtien. ’n Mylpaal wat voel soos ’n storie wat ek al jare lank lees en skielik besef ek is besig om ’n nuwe hoofstuk binne te gaan.
My gedagtes dwaal terug na ’n warm somermiddag, baie jare gelede. Ek kon my seuntjies se gelag in die swembad hoor. Deur die venster het ek gesien hoe Charl hulle van sy skouers af met ’n boog deur die lug skiet. Ek het glimlaggend toegekyk met groot dankbaarheid vir tweede kanse in liefde en die lewe.

In daardie oomblik het ’n wens in my hart ontstaan. Hy is so ’n goeie stiefpa. Mag hy ook eendag die voorreg hê om ’n pappa te wees. Ek dink vandag met ’n glimlag terug aan iets wat Charl jare tevore tydens ’n 4×4-kampnaweek in die berge gesê het. Ons kinders was nog kleuters. “Julle seuntjies is te oulik. As ek eendag sulke oulike seuntjies kan hê, sal ek graag ’n pa wil wees.” Min het ons geweet hoe profeties daardie woorde sou wees.
’n Klein sterretjie waarvoor ons gehoop het
“Die mens wik, maar God beskik,” het dr. Kruger gesê. “Met mediese wetenskap kan ons julle help om swanger te raak, maar of dit suksesvol gaan gebeur, is nie in ons hande nie.” Ons kon op die sonarskerm sien hoe die embrio in die baarmoeder teruggeplaas word. Vir my het dit soos ’n klein verskietende sterretjie gelyk wat deur ’n donker hemel skiet. Ek het gebid dat hierdie klein sterretjie vir ons lig, liefde en vreugde sou bring. God het daardie gebed beantwoord op maniere wat ek nooit kon voorsien nie.
Agtien jaar van wording
Zander het in ‘n besonderse jong man ontwikkel. Hy is bedagsaam, nuuskierig en vol drome wat ver anderkant die horison strek. As ek op sy eerste agtien jaar terugkyk, sien ek ‘n spoor gemerk deur diegene wat hom gevorm het. Individue wat God doelbewus en sagkens langs sy pad geplaas het.

Die boeties, Jacques en Christo, het sy aankoms afgewag met die opwinding wat net kinders kan hê. Hulle wou hom alles leer, insluitend sport, tegnologie en eintlik enigiets wat nodig was sodat hy so gou moontlik kon saamdoen. Hy is nie meer die klein boetie wat leiding nodig het nie, maar hulle sluit hom steeds in en dra op hul eie manier oor: “Ek het jou.”
Daar was die grootouers, Ouma Martie en Ouma Lenie, wat vir hom stories gelees het en hom vreugde gebring het. Oupa Frikkie, Charl se skoonpa uit sy vorige huwelik, het gevra of hy Zander se oupa kon wees. Hy het met heelhartige liefde in daardie rol getree: Saterdag-speelafsprake, verjaardagpartytjies, klein rituele wat hom in Zander se lewe ingewerk het. Selfs nou, oor die afstand tussen Suid-Afrika en Europa, bly hy teenwoordig. Dit is ‘n geskenk om herhaaldelik gekies te word.

Die hande wat hom gedra het
Ek onthou die eerste oggend by Welgemoed Pre-Primêre Skool. Zander het klein en onseker gestaan, ‘n klein figuurtjie op die rand van ‘n nuwe wêreld. My hart het gepyn toe ek wegstap. Toe kom ‘n blonde meisie met violetblou oë na hom toe, neem sy hand en vra of hy haar maatjie wil wees. Abby het hom, in een eenvoudige gebaar, gewys hoe maklik dit kan wees om te behoort.

George was sy buurmaatjie, klasmaat en mede-vennoot van menige kattekwaad. Ek dink steeds aan die keer toe hulle brandende klappers in die toilet gegooi het en ’n stuk van die onderkant van die toilet weggeskiet het. ’n Mens kan seker sê hulle vriendskap was soms … ontploffend. Hulle het saam koek gebak, gebou, gebraai en geleer. Hulle het mekaar se wêrelde groter gemaak sonder dat julle dit eers besef het.
Toe ons na Switserland verhuis het, was ek weer bekommerd. Hoe sou hy aanpas? Sou hy maats maak? Ek het hom ná sy eerste skooldag buite die skool ingewag, vol vrae. Sy eerste woorde was: “Hallo Ma, is dit reg as ek en my vriend vanmiddag swembad toe gaan?” Dit was dit. Geen drama nie. Geen lang verduideliking nie. Daar was reeds ’n vriend en ’n plan. Nate het een van sy besonderse vriendskappe geword, een wat selfs duisende kilometers en ’n verhuising terug na Amerika nie kon breek nie.

Oor die jare het Zander se wêreld groter geword. Vriende van verskillende lande, kulture en tale het deel van sy storie geword. ’n Kleurvolle “village” van vriende, ouers en onderwysers het hom gehelp grootmaak.
Sy neef en niggie, Altus en Marga, is sy Suid-Afrikaanse verbinding, sy herinnering aan huis. Altus het hom geleer van jag, die natuur en Afrikaanse rap. Hulle het by ons in Switserland kom kuier. Hy het sy Europese wêreld met hulle gedeel, en hulle het hulle Suid-Afrikaanse wêreld met hom gedeel. Deur hulle het hy geleer dat ’n mens se gevoel van behoort oor oseane heen kan strek.

My gebed vir Zander
Wanneer jou kind 18 word, besef jy skielik dat die pad voor hom baie langer is as die pad agter hom. Daar is soveel dinge wat ‘n mens vir hom kan wens – sukses, gesondheid, wysheid, geleenthede en ‘n mooi toekoms.
As ek vandag net één ding kon bid, sou dit wees dat Zander goeie mense in sy lewe sal hê. Mense wat hom sal liefhê wanneer hy op sy beste is, maar ook wanneer hy nog besig is om uit te vind wie hy is. Diegene wat saam met hom sal lag wanneer die lewe maklik is, maar wat sal bly wanneer die storms kom. Mense wat sy sagte hart sal bewaar in ’n wêreld wat dit dikwels probeer verhard. Vriende met integriteit wat eerlik is, selfs wanneer dit moeilik is. Hulle wat hom nader aan God trek en hom herinner aan wat regtig belangrik is. Ek bid dat hy self so ’n mens vir ander sal wees.
Ek bid dat hy die moed sal hê om groot te droom en sy eie pad te loop, maar dat hy nooit sy karakter vir sukses sal verruil nie. Dat hy sterk genoeg sal wees om soms alleen te staan, maar nederig genoeg om hulp te vra. Dat hy sal weet wanneer om vas te staan en wanneer om sy koers te verander. Wanneer die lewe eendag vinniger beweeg as wat hy verwag het en groot besluite voor hom lê en hy nie weet watter kant toe nie, bid ek dat hy sal onthou: Hy is nog altyd in God se hand.

Die lig wat ons nooit verwag het nie
Agtien jaar gelede het ons hom nie geken nie. Ons het nie geweet hoe hy sou lyk nie, hoe sy stem sou klink, wat hom sou laat lag of watter mens hy eendag sou word nie. Ons het net geweet ons verlang na hom. Toe sien ons hom, ’n klein verskietende ster op ’n sonarskerm. Ek het gebid: “Here, laat hierdie klein sterretjie vir ons lig bring.”
Vandag weet ek dat God daardie gebed beantwoord het, ver bo enigiets wat ek ooit kon vra Zander het nie net vir ons lig gebring nie, maar ook vir sy broers, sy grootouers, sy vriende, sy onderwysers en vir elkeen wie se pad met syne gekruis het.
Hy was toe ‘n verskietende ster, en hy is steeds.
Groete
Emsia