Browsed by
Category: Moederskap

Selekteer die brief wat jy wil lees.

’n Verskietende ster word agtien

’n Verskietende ster word agtien

Hierdie week word ons jongste seun, Zander, agtien. ’n Mylpaal wat voel soos ’n storie wat ek al jare lank lees en skielik besef ek is besig om ’n nuwe hoofstuk binne te gaan.

My gedagtes dwaal terug na ’n warm somermiddag, baie jare gelede. Ek kon my  seuntjies se gelag in die swembad hoor. Deur die venster het ek gesien hoe Charl hulle van sy skouers af met ’n boog deur die lug skiet. Ek het glimlaggend toegekyk met groot dankbaarheid vir tweede kanse in liefde en die lewe.

In daardie oomblik het ’n wens in my hart ontstaan. Hy is so ’n goeie stiefpa. Mag hy ook eendag die voorreg hê om ’n pappa te wees. Ek dink vandag met ’n glimlag terug aan iets wat Charl jare tevore tydens ’n 4×4-kampnaweek in die berge gesê het. Ons kinders was nog kleuters. “Julle seuntjies is te oulik. As ek eendag sulke oulike seuntjies kan hê, sal ek graag ’n pa wil wees.”  Min het ons geweet hoe profeties daardie woorde sou wees.

’n Klein sterretjie waarvoor ons gehoop het

Die mens wik, maar God beskik,” het dr. Kruger gesê. “Met mediese wetenskap kan ons julle help om swanger te raak, maar of dit suksesvol gaan gebeur, is nie in ons hande nie.” Ons kon op die sonarskerm sien hoe die embrio in die baarmoeder teruggeplaas word. Vir my het dit soos ’n klein verskietende sterretjie gelyk wat deur ’n donker hemel skiet. Ek het gebid dat hierdie klein sterretjie vir ons lig, liefde en vreugde sou bring. God het daardie gebed beantwoord op maniere wat ek nooit kon voorsien nie.

Agtien jaar van wording

Zander het in ‘n besonderse jong man ontwikkel. Hy is bedagsaam, nuuskierig en vol drome wat ver anderkant die horison strek. As ek op sy eerste agtien jaar terugkyk, sien ek ‘n spoor gemerk deur diegene wat hom gevorm het. Individue wat God doelbewus en sagkens langs sy pad geplaas het.

Die boeties, Jacques en Christo, het sy aankoms afgewag met die opwinding wat net kinders kan hê. Hulle wou hom alles leer, insluitend sport, tegnologie en eintlik enigiets wat nodig was sodat hy so gou moontlik kon saamdoen. Hy is nie meer die klein boetie wat leiding nodig het nie, maar hulle sluit hom steeds in en dra op hul eie manier oor: “Ek het jou.”

Daar was die grootouers, Ouma Martie en Ouma Lenie, wat vir hom stories gelees het en hom vreugde gebring het. Oupa Frikkie, Charl se skoonpa uit sy vorige huwelik, het gevra of hy Zander se oupa kon wees. Hy het met heelhartige liefde in daardie rol getree: Saterdag-speelafsprake, verjaardagpartytjies, klein rituele wat hom in Zander se lewe ingewerk het. Selfs nou, oor die afstand tussen Suid-Afrika en Europa, bly hy teenwoordig. Dit is ‘n geskenk om herhaaldelik gekies te word.

Die hande wat hom gedra het

Ek onthou die eerste oggend by Welgemoed Pre-Primêre Skool. Zander het klein en onseker gestaan, ‘n klein figuurtjie op die rand van ‘n nuwe wêreld. My hart het gepyn toe ek wegstap. Toe kom ‘n blonde meisie met violetblou oë na hom toe, neem sy hand en vra of hy haar maatjie wil wees. Abby het hom, in een eenvoudige gebaar, gewys hoe maklik dit kan wees om te behoort.

George was sy buurmaatjie, klasmaat en mede-vennoot van menige kattekwaad. Ek dink steeds aan die keer toe hulle brandende klappers in die toilet gegooi het en ’n stuk van die onderkant van die toilet weggeskiet het. ’n Mens kan seker sê hulle vriendskap was soms … ontploffend. Hulle het saam koek gebak, gebou, gebraai en geleer. Hulle het mekaar se wêrelde groter gemaak sonder dat julle dit eers besef het.

Toe ons na Switserland verhuis het, was ek weer bekommerd. Hoe sou hy aanpas? Sou hy maats maak? Ek het hom ná sy eerste skooldag buite die skool ingewag, vol vrae. Sy eerste woorde was: “Hallo Ma, is dit reg as ek en my vriend vanmiddag swembad toe gaan?” Dit was dit. Geen drama nie. Geen lang verduideliking nie. Daar was reeds ’n vriend en ’n plan. Nate het een van sy besonderse vriendskappe geword, een wat selfs duisende kilometers en ’n verhuising terug na Amerika nie kon breek nie.

Oor die jare het Zander se wêreld groter geword. Vriende van verskillende lande, kulture en tale het deel van sy storie geword. ’n Kleurvolle “village” van vriende, ouers en onderwysers het hom gehelp grootmaak.

Sy neef en niggie, Altus en Marga, is sy Suid-Afrikaanse verbinding, sy herinnering aan huis. Altus het hom geleer van jag, die natuur en Afrikaanse rap. Hulle het by ons in Switserland kom kuier. Hy het sy Europese wêreld met hulle gedeel, en hulle het hulle Suid-Afrikaanse wêreld met hom gedeel. Deur hulle het hy geleer dat ’n mens se gevoel van behoort oor oseane heen kan strek.

My gebed vir Zander

Wanneer jou kind 18 word, besef jy skielik dat die pad voor hom baie langer is as die pad agter hom. Daar is soveel dinge wat ‘n mens vir hom kan wens – sukses, gesondheid, wysheid, geleenthede en ‘n mooi toekoms.

As ek vandag net één ding kon bid, sou dit wees dat Zander goeie mense in sy lewe sal hê. Mense wat hom sal liefhê wanneer hy op sy beste is, maar ook wanneer hy nog besig is om uit te vind wie hy is. Diegene wat saam met hom sal lag wanneer die lewe maklik is, maar wat sal bly wanneer die storms kom. Mense wat sy sagte hart sal bewaar in ’n wêreld wat dit dikwels probeer verhard. Vriende met integriteit wat eerlik is, selfs wanneer dit moeilik is. Hulle wat hom nader aan God trek en hom herinner aan wat regtig belangrik is. Ek bid dat hy self so ’n mens vir ander sal wees.

Ek bid dat hy die moed sal hê om groot te droom en sy eie pad te loop, maar dat hy nooit sy karakter vir sukses sal verruil nie. Dat hy sterk genoeg sal wees om soms alleen te staan, maar nederig genoeg om hulp te vra. Dat hy sal weet wanneer om vas te staan en wanneer om sy koers te verander. Wanneer die lewe eendag vinniger beweeg as wat hy verwag het en groot besluite voor hom lê en hy nie weet watter kant toe nie, bid ek dat hy sal onthou: Hy is nog altyd in God se hand.

Die lig wat ons nooit verwag het nie

Agtien jaar gelede het ons hom nie geken nie. Ons het nie geweet hoe hy sou lyk nie, hoe sy stem sou klink, wat hom sou laat lag of watter mens hy eendag sou word nie. Ons het net geweet ons verlang na hom. Toe sien ons hom, ’n klein verskietende ster op ’n sonarskerm. Ek het gebid:  “Here, laat hierdie klein sterretjie vir ons lig bring.”

Vandag weet ek dat God daardie gebed beantwoord het, ver bo enigiets wat ek ooit kon vra Zander het nie net vir ons lig gebring nie, maar ook vir sy broers, sy grootouers, sy vriende, sy onderwysers en vir elkeen wie se pad met syne gekruis het.

Hy was toe ‘n verskietende ster, en hy is steeds.

Groete

Emsia

Ouerskap verander met volwasse kinders

Ouerskap verander met volwasse kinders

Ouerskap is ’n groot voorreg, maar dit bring ook ’n reuse verantwoordelikheid mee. Die manier waarop ons ons kinders grootmaak, beïnvloed nie net húlle nie, maar ook die geslagte ná hulle. Dit verg voortdurende wysheid, balans en baie liefde, veral wanneer ons kinders volwassenheid begin betree en ons rol saam met hulle verander.

Wanneer die ouerskaprol begin verander

Toe ons kinders klein was, was ons rol eenvoudig en duidelik. Ons moes voorsien, versorg, beskerm en hulle onvoorwaardelik liefhê. Selfs wanneer almal nie altyd saamgestem het nie, was daar sekerheid dat die finale besluit by ons as ouers lê.

Namate ons kinders volwassenheid betree, verander alles. Die ouer-kind verhouding word heronderhandel en beweeg van outoriteit en afhanklikheid na begeleiding langs mekaar. Elke kind beweeg op sy/haar eie manier deur hierdie oorgang en as ouers leer ons om elkeen met nuwe oë en nuwe respek te ontmoet.

Ek bid gereeld vir wysheid in my ma-rol. Dikwels ervaar ek dat God deur boeke, gesprekke of onverwagsse insigte met my praat. Ek deel graag ’n paar gedagtes uit hierdie reis — dinge waarin ek groei, waaraan ek werk en waarvoor ek dankbaar is.

Om te laat gaan

Ons moet ons kinders lief genoeg hê om hulle te laat gaan. Hoe moeilik dit ook al is, ons rol móét kleiner word sodat hulle met selfvertroue tot verantwoordelike volwassenes kan groei. Ons rol skuif van beheer na bemagtiging. Daarmee kommunikeer ons “ek glo in jou”. Volwasse kinders neem verantwoordelikheid vir hul finansies, verhoudings, groei en lewenskeuses.

Ons rol word om sagkens aan te moedig, sonder om in te meng. Soms kan ons nog as mentors dien, maar net wanneer ons uitgenóói word. Die fokus verskuif na bevestiging eerder as korreksie, na die dinge wat reeds goed en mooi is. Bevestiging bou identiteit en selfvertroue; kritiek kan maklik afbreek.

Gesonde grense wat groei bevorder

Gesonde grense gaan nie oor beheer nie — dit gaan oor respek. Dit skep veiligheid en bring helderheid vir beide ouers én kinders. Sonder grense raak rolle vaag, kinders bly afhanklik en ouers voel oorweldig. Grense sê nie: “Ek besluit namens jou” nie. Grense sê: “Ek bestuur my betrokkenheid, maar ek vertrou jou om jou besluite en gevolge te hanteer.” Só kweek ons selfstandigheid, karakter en innerlike krag.

Finansiële verantwoordelikheid en volwassenheid

’n Jongman vra eendag vir ’n ouer, wyser sakeman: “Wat verg dit om finansieel gesond en verantwoordelik te word?

Die sakeman glimlag en antwoord: “Twee woorde: goeie besluite.

Maar hoe leer mens om goeie besluite te neem?” vra die jongman.

“Een woord,” sê hy: “ervaring.”

En hoe kry ek ervaring?” dring die jongman aan.

Die ouer man het geantwoord: “Twee woorde: slegte besluite.”

Een van die belangrikste aspekte van ware volwassenheid is finansiële rentmeesterskap. Ons leer nie ons kinders deur alles namens hulle te finansier nie, maar deur verantwoordelikheid stapsgewys oor te dra. Oop gesprekke oor geld, duidelike perke vir ondersteuning en selfs die vryheid om ’n paar foute te maak — dit alles kweek wysheid. Ons doel is nie om elke krisis te keer nie, maar om hulle toe te rus om self sterk te staan.

’n Nuwe seisoen van vriendskap

Wanneer ons minder nodig is, kan dit ’n gevoel van verlies bring en dit is normaal. Dit is ook ’n uitnodiging tot persoonlike groei: tyd saam met vriende, nuwe stokperdjies, nuwe ervarings. Selfsorg is nie selfsugtig nie. Dit is noodsaaklik.

Tóg bly dit kosbaar om steeds dinge saam met ons kinders te doen. Die verhouding beweeg van hiërargie na vriendskap. Om saam te lag, nuwe herinneringe te skep, nuwe plekke te ontdek – dit hou ons naby aan mekaar.

Hul wêreld lyk anders as ons s’n

Elke generasie beleef die wêreld anders. Vandag se jong volwassenes het waardes en perspektiewe wat wesenlik van ons sʼn verskil. Hulle leef in ’n konteks wat hulle laat soek na vryheid, egtheid, betekenis en buigsaamheid. Ons generasie is gevorm is deur plig, sekuriteit, stabiliteit en lojaliteit.

Hulle glo identiteit is vloeibaar en persoonlik. Elke mens het die reg om hulself te definieer in terme van geloof, loopbaan, seksualiteit en kultuur. Werk is vir hulle bloot ’n middel tot ’n betekenisvolle, gebalanseerde lewe. Titels dra selde gewig. Hulle respekteer integriteit, bekwaamheid en geloofwaardigheid. Hulle verifieer alles aanlyn.

Digitale kommunikasie is vir hulle volwaardige kommunikasie. WhatsApp, memes en stemnotas is normaal én emosioneel eg. Ons generasie het fisiese teenwoordigheid en mondelinge gesprek gesien as die enigste “regte” manier om ’n verhouding te bou.

Hulle beskou verdraagsaamheid as ’n noodsaaklike kenmerk van liefde. Baie jongmense beleef dit as liefdeloos wanneer afkeuring oor iemand se geloof, seksualiteit of leefstyl uitgespreek word.

Soos ons eens gewens het ons ouers kon óns beter verstaan, is dit nou óns beurt. Dit vra meer luister as praat, meer nuuskierigheid as oordeel, en meer belangstelling as beheer.

My hoop vir hierdie seisoen

Mag ons ouerskap in hierdie nuwe seisoen gekenmerk wees deur sagte wysheid, innerlike rus en liefde wat vrylaat eerder as vashou.

Namate kinders volwassenheid bereik, skuif ouerskap van beheer en afhanklikheid na ’n verhouding van begeleiding, vertroue en vriendskap.

Mag ons kinders altyd weet ons probeer nie meer hul pad beheer nie. Ons stap gewillig saam as ‘n veilige tuiste, wyse reisgenote en dankbare getuies van God se werk in hul lewens.

Met liefde en diepe dankbaarheid

Emsia

‘n Ma se perspektief op liefde en huwelik

‘n Ma se perspektief op liefde en huwelik

My twee ouer seuns is op ’n ouderdom waar baie van hul vriende begin trou. As ek terugkyk, besef ek nou dat ek te jonk was toe ek self die eerste maal getrou het. Ek het nog nie die nodige lewenservaring of kennis gehad nie. In daardie tyd was saamwoon voor die huwelik in ons gemeenskap as onaanvaarbaar beskou.

Nadat ek die pyn van egskeiding ervaar het, het ek baie oor liefde en huwelik gedink, gelees en dit deeglik bestudeer. Ek is dankbaar vir tweede kanse in liefde en die lewe. Ek dink dikwels aan die belangrikste lesse wat ek as vrou en ma aan my seuns wil oordra om hulle te help om  sterk, liefdevolle en volhoubare verhoudings te bou.

Sielsgenote Word Gemaak, Nie Gevind Nie

Toe ek jong was, het ek geglo dat daar ’n perfekte sielsgenoot daar buite vir my was. Ek het egter geleer dat so ’n verhouding iets is wat oor tyd ontwikkel. Deur saam te lag, uitdagings die hoof te bied, mekaar te vergewe en alledaagse herinneringe te bou, groei twee mense van lewensmaats na ware sielsgenote.

Waarom die Huwelik Anders Is

Huwelik is meer as net saamwoon of ’n wettige kontrak teken; dit behels ’n diepe verbintenis. Dit verweef liefde met ’n belofte. Die wettige aspek skep ’n veilige ruimte waar jy jou werklike self kan wees, terwyl liefde jou toelaat om volledig kwesbaar te wees.

Om in ’n huwelik ten volle geken en steeds liefgehê te word, weerspieël die onvoorwaardelike liefde wat God vir ons het. Hierdie soort liefde gee jou die vrymoedigheid om jou ware, self te wees. Dit leer ons ook om mekaar se swakhede en tekortkominge met genade te hanteer. Ons moet soms bereid wees om ons eie behoeftes tweede te stel vir die welstand en vreugde van ons maat.

Wat huwelik onderskei, is die belofte wat jy voor God, jou familie en jou gemeenskap maak: “Ek sal jou liefhê, getrou bly, en saam met jou deur elke seisoen van die lewe loop.” Hierdie beloftes bring stabiliteit in jou verhouding, gee dit ’n doel en skep ’n band wat nie net volhoubaar is nie, maar versterk namate julle mekaar se hoop en drome ondersteun.

Die Geheim van Volhoubare Liefde

Liefde in ’n huwelik behels meer as net passie; dit bestaan uit verskeie lae en aspekte. Die aanvanklike vonk bring julle bymekaar, intimiteit bevorder nabyheid, vriendskap vestig diep wortels in julle verhouding, maar onselfsugtige liefde voed voortdurende groei.

Gelukkige paartjies bou hul huwelike op ’n stewige fondasie van vriendskap met intensie. Hulle wys respek, geniet mekaar se geselskap, en druk liefde in die klein, alledaagse maniere uit. Wanneer julle mekaar opreg waardeer, kweek julle ’n positiewe gees wat help om julle huwelik sterk deur al die seisoene van die lewe te hou.

Gewoontes en Rituele is die Huwelik se Gom

Dit is dikwels die klein dinge—nie die groot gebare nie—wat ’n huwelik bymekaar hou. Gewoontes en rituele werk soos die stil gom wat liefde sterk hou. Eenvoudige daaglikse praktyke, soos om te vra hoe jou maat se dag was, ’n ete saam te geniet sonder afleidings, of net om “dankie” te sê, mag onbenullig lyk, maar dit skep ’n ritme van sorg en verbondenheid. Met verloop van tyd bou hierdie oomblikke diep vertroue, emosionele veiligheid en stabiliteit.

Rituele voeg nog ’n laag van krag by. Dit kan so eenvoudig wees soos ’n slaaptydroetine, ’n weeklikse koffiedatum, of selfs daardie snaakse binnegrappies wat net julle twee verstaan. Hierdie gedeelde gewoontes sê stilweg: “Ons behoort aan mekaar.” Hulle herinner julle aan die “ons” wat in die hart van julle huwelik leef.

In hierdie gewoontes en rituele word liefde meer as net ’n gevoel—dit word iets wat beide elke dag uitleef. Hulle hou julle naby, help julle om deur die uitdagings van die lewe te navigeer, en vul julle huwelik met vreugde en betekenis.

Mans en Vroue ervaar liefde soms verskillend

Een van die waardevolste dinge wat ek oor die jare geleer het, is dat mans en vroue liefde soms verskillend ervaar. Vroue verlang dikwels na emosionele nabyheid—om gehoor en verstaan te word. Mans daarenteen voel dikwels die mees geliefd wanneer hulle gerespekteer en waardeer word vir wat hulle doen.

Ons harte soek eintlik dieselfde: om veilig en waardevol te voel. Ons verskillende maniere om dit uit te druk—sy deur woorde, hy deur dade—kan mekaar aanvul as ons dit raaksien en eer. Wanneer ons leer om hierdie verskille te verstaan, groei ons liefde dieper, sterker en blywender.

Die Hart van Ware Intimiteit

Toe ek jonger was, het niemand oor intimiteit in ’n huwelik gepraat nie. Jy moes maar self uitvind. Tog is dit só ’n belangrike deel van ’n blywende verhouding. Die veiligheid van julle emosionele band vorm die grondslag van intimiteit. Hoe veilig julle by mekaar voel, bepaal die gevoel van nabyheid.

Soms kan intimiteit half afgestomp voel, meer soos om net die roetine te volg. Dit kan ʼn huweliksmaat laat voel asof hulle nie werklik gesien of waardeer word nie. Ander kere is intimiteit weer ’n bron van troos en sekerheid, waar sagte aanraking en teer gebare jou herinner dat jy geliefd en gekoester is.

Die diepste vorm van intimiteit gebeur wanneer daar sinchronie is. Dit is daardie wonderlike plek waar emosionele oopheid, sagtheid en speelse nabyheid saamvloei. In sulke tye voel julle veilig genoeg om jul harte oop te maak, jul behoeftes te deel, en julleself heeltemal te laat gaan sonder vrees. Jul aanraking en verbinding word ’n taal van liefde en een wat vreugde, nabyheid en vertroue bring.

Gedeelde mag en gesamentlike besluitneming

’n Sterk huwelik bestaan uit ʼn vennootskap en nie ’n hiërargie waar een bo die ander staan nie. Albei maats het ’n stem in besluite en ontvang mekaar se menings en perspektiewe met respek. In sulke huwelike voel albei geliefdes gerespekteer, waardeer en deel van die span. Dit gee nie net balans aan die verhouding nie, maar bou ook vertroue, gelykwaardigheid en ’n gesonde gevoel van saamhorigheid.

Konflik in die huwelik

Geen twee mense is presies dieselfde nie en verskille in persoonlikheid, prioriteite of verwagtinge lei natuurlik tot meningsverskille. Wat regtig saak maak, is hoe julle konflik hanteer, nie of dit gebeur nie. Elke paartjie gaan anders met konflik om. Sommige vermy gesprekke en ander baklei gereeld. Ander kry dit reg om kalm oor hul verskille te praat en kompromieë te vind sonder om hulle stemme te verhoog. Die sleutel is om ’n manier te vind wat vir albei werk.

Een uitdaging om bewus van te wees, is wat ons “emotional flooding” noem. Dit gebeur wanneer een of albei maats emosioneel oorweldig raak tydens ’n argument. Jou brein gaan dan in “veg, vlug of vries”-modus en intense gevoelens soos woede, vrees of frustrasie neem oor. ’n Maat wat flooding ervaar, kan lelike dinge kwytraak, onttrek of sukkel om helder te dink, wat effektiewe kommunikasie amper onmoontlik maak. Flooding is ’n natuurlike reaksie. Indien paartjies dit herken, is die beste om en ’n kort pouse neem. Hulle kan daarna kalm terugkeer na die gesprek, beter kommunikeer en probleme oplos sonder om die verhouding te beskadig.

Daar is geen enkele “regte” manier om konflik te hanteer nie. Die gesondste paartjies respekteer mekaar se perspektiewe, bly emosioneel verbind en werk saam om probleme op te los eerder as om te kompeteer of te onttrek. Om konflik met sorg te navigeer bou vertroue en hou liefde steeds in die hart van jou huwelik.

Ter afsluiting

Uiteindelik is ’n huwelik nie ’n perfekte sprokie nie. Dit is eerder ’n reis van twee mense wat kies om elke dag saam te bou, saam te leer en saam lief te hê. Wanneer daardie liefde geanker is in God se voorbeeld, word dit nie net volhoubaar nie, maar ’n bron van vreugde en krag vir elke seisoen van die lewe.

Groete

Emsia

Veerkragtige, verantwoordelike volwassenes

Veerkragtige, verantwoordelike volwassenes

Jong kinders geniet dit dikwels om vrae oor hul ouderdom te beantwoord. My seun Christo het nooit sy huidige ouderdom gegee nie. In plaas daarvan sou hy sê: “Ek is besig om 5 of 6 te word.” My seuns was gretig om groot te word en self beheer oor hulle lewe te hê. My oudste twee seuns het nou al daardie punt bereik waar hulle selfversorgend is.  Hulle opmerkings oor hoe sorgvry kinderjare was, is bevestiging dat hulle die verantwoordelikheid en uitdagings van volwasse lewe ervaar.

As ma kyk ek nou van ‘n afstand af hoe elkeen van my kinders volwassenheid op hul eie manier navigeer. Zander, nou “besig om 17 te word,” het my bekommernisse tydens sy ouer broers se tienerjare waargeneem. Hy het my sy sewejarige en kinderlike wysheid gebied: “Ma, tieners is soos katte – hulle kom gelukkig altyd weer huis toe om te eet,” en “Ma, as jy worry, moet jy net iets kry om jouself besig mee te hou.”

Zander is nou self daardie tiener. Sy kamerdeur is altyd toe en sy skedule is stampvol, maar hy kom gelukkig steeds huis toe om te eet. Ons tyd saam met hom asook ons geleenthede om hom vir volwasse lewe voor te berei is besig om weg te glip. Ek probeer om die ouerskapslesse wat ek ten opsigte van my ouer twee seuns geleer het, toe te pas. Dit is nodig dat ek balans vind tussen doelgerigte ondersteuning en die ruimte gee wat hy nodig het om die lewe op sy eie te ontdek en persoonlik te groei.

Waarvoor en hoe berei ons, ons kinders voor?

Ons as ouers moet seker maak ons kinders is toegerus met die vaardighede, ingesteldheid en waardes wat hulle nodig het om met selfvertroue en veerkragtigheid ‘n voortdurend veranderende wêreld te navigeer. Wanneer dit tot my deurdring dat ons as ouers heeltyd ʼn voorbeeld in al hierdie dinge stel, dan besef ek weer watter groot verantwoordelikheid ouerskap meebring.

Verhouding met God, self en ander

Dit is vir my belangrik dat my kinders ‘n persoonlike verhouding met God ontwikkel. Ek is terdeë bewus van hoe uniek elke kind se geloofsreis is. My rol was om die saadjies van geloof te plant, hul nuuskierigheid te koester en te vertrou dat God hul verhouding met Hom in Sy perfekte tydsberekening sal versterk. As ‘n gesin herken en deel ons dikwels oomblikke van God se teenwoordigheid in die natuur en deur die lewe se klein seëninge. Ek koester elke foto wat hulle vir my stuur van die Skepping se skoonheid, wat ons aan Sy handewerk herinner.

Dit is belangrik dat ons kinders die tyd te neem om hulleself te verstaan ​​en te leer hoe om hul emosies op ‘n gesonde manier te identifiseer, te bestuur en uit te druk. Terselfdertyd moet ons almal oefen om met empatie na ander te luister en verskillende perspektiewe te respekteer. Terwyl ons kinders hul eie verhoudings navigeer, neem hulle ons as ouers se optrede en gedrag noukeurig waar.

Oop gesprekke met ons kinders is noodsaaklik, maar om die regte oomblikke te vind, veral gedurende die tienerjare, kan uitdagend wees. Toe ons in Suid-Afrika gewoon het, het ek my seuns skool toe gery. Dit het ons waardevolle geselstyd gebied. Zander neem die trein skool toe, so ek moet nuwe maniere identifiseer vir gesels en saamweestyd. Ons eet saam as gesin en ek nooi hom gereeld vir roomys by die meer vir kwaliteit tyd saam met hom.

Kritiese denke, probleemoplossings- en lewensvaardighede

As ouers speel ons ‘n deurslaggewende rol om ons kinders probleemoplossings vaardighede te leer. Hulle kan egter net werklik leer en selfvertroue bou deur self uitdagings die hoof te bied.

Ek het vroeër dadelik ingespring om my kinders deur hul stryd te help, gretig om hul probleme saam met hulle op te los. Switserland het oor ons pad gekom en ek glo dat my Skepper my doelbewus aan die ander kant van die wêreld geplaas het sodat ek kon leer om terug te tree. Ek moes oefen om op ‘n afstand te luister en raad te gee net wanneer hulle daarvoor gevra het.

Dit is ook belangrik om nie deur tradisionele geslagsrolle beperk te word nie. Voordat ek begin werk het, het my pa my geleer om ‘n motorband om te ruil. Hy het my dit honderd maal laat doen totdat hy die gerustheid gehad het dat ek myself in ʼn probleemsituasie kan help. Net so het my seuns van kleins af help koekies bak en maaltye voorberei. Een van hulle het selfs sy passie vir bak in ‘n besigheid omskep.

Finansiële kennis en verantwoordelikheid is belangrike vaardighede wat ek by my kinders wou tuisbring. Toe hulle studente was, het ons aan die begin van elke jaar saam ‘n begroting opgestel. Wanneer onverwagte uitgawes opduik, sou ons bespreek hoe om dit as ‘n span aan te spreek. Hulle moes maniere vind om geld te verdien om hul finansies te laat klop. Ek het gesien hoe hulle leer om hul finansies te bestuur, deurdagte aanpassings te maak en mekaar as vriende te ondersteun wanneer nodig.

Aanpasbaarheid in  ʼn voortdurend veranderende wêreld

Ons moet ons kinders toerus met die vaardighede om ‘n onvoorspelbare wêreld te navigeer en die lewe se uitdagings die hoof te bied. Niemand weet wat die toekoms inhou nie, en probleme duik dikwels onverwags op. Ons doel is om hulle te leer om buigsaam te wees en aan te pas sonder om te breek.

Om dit te bereik, moet ons hulle help om mislukkings as leergeleenthede te beskou en hul moeite, deursettingsvermoë en probleemoplossings vaardighede eerder as net hul suksesse te beklemtoon. Ten einde self ʼn voorbeeld te stel, kan ons uitdagings met nuuskierigheid eerder as vrees benader.

Aangesien kinders die beste leer deur ervaring, moet ons hulle geleenthede bied wat hulle buite hul gemaksones stoot. Ek was aanvanklik vreesbevange toe Zander, op 15, ses weke in Australië as deel van ‘n uitruilprogram wou deurbring. Ek moes egter leer om te laat gaan is deel van ouerskap. Die persoonlike groei wat ons by hom gesien het, was ongelooflik.

Die manier waarop ons verandering waarneem en bespreek, beïnvloed ons kinders. As ons verandering as ‘n natuurlike deel van die lewe omhels, sal hulle leer om dieselfde te doen en besef dat verandering groei en nuwe geleenthede vir beide hulle en ons kan meebring.

Ek leer nou weer by my kinders

Soos ons kinders volwasse word, verander ons verhouding in een van wedersydse inligting en lesse uitruil. Ek is dankbaar vir hierdie verskuiwing, want soos ons “besig is om ouer te word”, raak dit al hoe meer uitdagend om tred te hou met die vinnige pas van verandering in die wêreld. Ons leer uit mekaar se perspektiewe en ondersteun mekaar deur uitdagings. Hulle inspireer my op onverwagte en verskillende maniere.

Groete

Emsia

Ma Lenie se liefde, lag en lewenslesse

Ma Lenie se liefde, lag en lewenslesse

Ons ma, Lenie vier vanjaar haar 80ste verjaardag. Oor die afgelope paar jaar het baie van ons skoolvriende hul ouers verloor. As kinders het ons dikwels by mekaar se huise gekuier, maaltye gedeel en oorgeslaap. Ons gesinne het deel van mekaar se lewens gevorm en die nuus van hierdie ouers se heengaan het ons diep geraak. In die proses het my ma ook jare lange vriendskappe verloor met al hoe minder mense wat kom kuier of gereeld bel om te verneem hoe dit gaan.

Ons wou haar verjaardag gebruik om haar te bedank vir haar rol in ons lewens. Terselfdertyd wou ons haar ook herinner aan haar bydraes en die impak wat sy op die lewens van ander en die gemeenskap gehad het. Vriende en familielede moes met staaltjies en stories help om hierdie doelwit te bereik, want stories het krag.

Almal se staaltjies en stories het ons verseker vir verskillende redes laat glimlag. Ek glo hulle was vir my en my suster net so ‘n groot geskenk soos wat dit vir my ma was. Hulle het heelwat lewenswaarhede by my tuis gebring wat ek graag wil deel.

Daar is baie verskillende weergawes van onsself in ‘n leeftyd

Die bydraes ontvang was van mense wat my ma in verskeie stadiums van haar lewe geken het.  Elke storie het ‘n weergawe van haar op ‘n spesifieke tydstip weerspieël. Oor die jare gaan ons almal deur baie verskillende weergawes van onsself. As kinders sien ons net ‘n paar weergawes van ons ouers, terwyl hulle op hul beurt elke weergawe van ons sien.

Elke weergawe het ‘n belangrike rol gespeel om rigting aan ons lewensreis te gee. Hulle almal het bygedra tot die persoon wie ons vandag is. Ons moet met eerbied en respek kyk na die wyse waarop die jonger weergawes van onsself die uitdagings en oorwinnings hanteer het. Ons het krag gevind in daardie ervarings en dit het ons gehelp om te groei, heel en floreer.

Die tydlose vreugdes wat soos ʼn goue draad deur ons lewens weef

Vriendskappe, tuinmaak, musiek en naaldwerk is die vreugdes wat soos ‘n goue draad deur my ma se staaltjies en stories geweef is. Hierdie vreugdes is vry van tyd en plek. Hulle is oral beskikbaar en sy kan hulle vind waarheen die toekomspad haar ookal mag lei.

Dit het my weereens herinner hoe noodsaaklik dit is om tyd te belê in die dinge wat vir ons vreugde bring. Ons toekomstige weergawes sal baie dankbaar vir die beleggings wees.

Ons is soms onbewus van ons impak op ander

My ma het ‘n manier gehad om ons vriende welkom in ons huis te laat voel. Sy het opreg in hul lewens belang gestel en saam hul lief en leed gelag en gehuil. ʼn Paar maal het sy selfs uitgehelp met mondelinge of breiprojekte wat nie wou klaar nie. Sy het graag haar liefde deur haar gebak, selfgekookte konfyt en etes uitgedeel. Haar terte, koeksisters en beskuit was onvergeetlik.

Sommige van ons skoolvriende het opregte woorde gedeel oor die impak van haar omgee, deernis en luisterende oor op hul lewens. Dit het my diep geraak. Hulle stories het my daaraan herinner dat mense altyd onthou hoe ons hulle laat voel het, selfs al is ons onbewus van die blywende indruk wat ons laat. Ons geduld, liefde en vriendelikheid vorm deel van die nalatenskap wat ons agterlaat.

Elkeen van ons word met ’n gawe gebore

Elkeen van ons word gebore met iets spesiaals—’n gawe wat uniek aan ons is. Dit kan ‘n talent, ‘n eienaardigheid of ‘n manier wees waarop ons na die wêreld kyk. My ma het ’n pragtige sangstem ontvang wat sy in die kerkkoor, die dorp se revue en selfs by troues, soos my eie, gedeel het.

Nog ‘n paar van haar gawes het duidelik geword deur die stories en herinneringe wat ander gedeel het. Sy het ʼn vermoë om die positiewe in elke situasie raak te sien. Ek dink aan haar met ‘n stralende glimlag wat kuiltjies in haar wange vorm. Sy het ‘n manier gehad om ander te help om ‘n spatsel kleur in die lewe se grys oomblikke te vind. Met eindelose geduld het sy na mense se stories geluister wanneer hulle dit nodig gehad het om gehoor te word.

Ons woorde refrein soms in ander se gedagtes

My ma het ‘n paar uitdrukkings gehad wat in my gedagtes opduik tydens die lewe se oomblikke. Een wat gereeld na my toe kom, is: “Wag net totdat jy eendag self ‘n ma is, dan sal jy verstaan.” Sy het dit gewoonlik gesê terwyl sy deur my slaapvenster angstig die straat dopgehou en gewag het dat my suster huis toe kom. In my tienerwysheid sou ek opmerk: “Ma hou op worry en gaan slaap.” In my rol as ouer refrein haar woorde gereeld wanneer ek oor my kinders bekommerd is.

My kind, hou die kroon op jou man se kop.” My ma het dit self baie goed uitgeleef. Haar liefde vir my pa was sigbaar en sy het hom alle opsigte ondersteun en aangemoedig. Hierdie was vir my nodig om te hoor nadat ek nie meer met die pa van my kinders getroud was nie. Ek het die wysheid verander na “Hou die kroon op die pa van jou kinders se kop” en is na al die jare dankbaar vir ma se stem wat in my gedagtes refrein het.

Wat is ons nalatenskap?

Die positiewe woorde oor my ma se impak op ander mense was lekker om the hoor op haar 80ste verjaardag.  Dit is goed om uit daardie perspektief na ons eie lewens te kyk, want dit help ons om meer vreesloos te lewe en met die wete ons daaglikse optrede  ʼn impak op ander het. 

Dit is nie die groot prestasies wat saakmaak nie. Hoe ons mense laat voel het en daar vir hulle was as hulle ʼn luisterende oor of liefdevolle aanmoediging nodig gehad het, is wat ʼn impak het.

Groete

Emsia

Laat gaan is deel van ouerskap

Laat gaan is deel van ouerskap

As ‘n ma van twee jong volwasse mans, moes ek meer voorbereid op Zanders se versoek gewees het. Tog het sy voorstel, in ‘n behoefte om homself uit te daag, my steeds onkant gevang. Ek moes my jongste 15-jarige seun, se behoeftes objektief evalueer. Dit het gehelp om na te dink oor my volwasse seuns se behoeftes, optrede en ontwikkeling toe hulle ongeveer dieselfde ouderdom was.

Jacques

Die eerste versoek van my oudste seun wat my onkant betrap het, het gedurende sy graad 11-jaar gekom. Jacques wou saam met sy beste vriend en maats op ‘n tienervakansie gaan. Die vriend se broer wat op daardie stadium`n student was, sou die motor die 400km tot in Hartenbos en terug bestuur. Dit was die eerste maal dat `n versoek van die aard my pad kruis. Alarms van potensiële risiko’s het my gedagtes gevul. Ek het egter ‘n vinnige besluit geneem en nee gesê.

Die vriend se ma het haar kundigheid as sielkundige gebruik en my in ‘n boodskap gerusgestel. Sy het erkenning daaraan gegee dat dit algemeen is dat ouers veral met hul oudste kind so voel en reageer. Sy het my verseker dat al die betrokke jongmense verantwoordelik is. Dit is goed as hulle stappe in die rigting van onafhanklikheid te neem. Sy het uit ervaring bevestig dat ‘n ma dié tipe situasies heel anders sien en benader teen die tyd wat dit by haar tweede en derde kind kom.

Voordat ek ‘n finale besluit geneem het, moes egter myself eers met my eie analitiese bendering oortuig. My versoek was Jacques se eerste betekenisvolle les in die die konsep van risiko’s en beheermaatreëls. Ek het hom gevra om ‘n lys saam te stel van al die bekommernisse wat ek oor beplande vakansie mag hê. Vir elkeen van hierdie risiko`s moes hy ook met iets wat my meer gemoedsrus daaroor sou gee, opkom. Jacques baie moeite gedoen met my versoek en oplossings gegenereer vir potensiële bekommernisse bo wat ek verwag het.

Benewens die genot van ‘n onvergeetlike vakansie, het Jacques ook op ‘n heel ander onverwags manier by sy pogings baat gevind. ‘n Vraag in die Engelse graad 12-eindeksamenvraestel het vereis dat studente ‘n motiveringsbrief skryf wat ouers oorreed om hulle toe te laat om saam met vriende op ‘n graad 12-vakansie te gaan.

Christo

Christo, het ‘n bedrywige sosiale lewe gehad.  Ons moes hom oral rondry en in `n behoefte aan  onafhanklikheid het hy`n motorfiets as oplossing voorgestel. Daardie motorfiets het tot my voortydige  veroudering gelei. Toe hy een aand nie op die afgespreekte tyd by die huis was nie, het ek al die ongeluk in my gedagtes sien afspeel.

My paniek het vir Charl ook uit die slaap gehou en my man het aangebied om my te help om die noodeenhede van verskeie hospitale te kontak. Die eerste hospitaal wat ons bereik het, het pas ‘n ongeval van ‘n motorfietsongeluk opgeneem. Toe ek egter verneem dat die pasiënt Engels praat, het ek besef dit was nie Christo nie. Dit het baie selfbeheersing gekos om tot die volgende dag te wag voordat ek in ‘n beter emosionele toestand was om my ervaring en perspektief van die situasie met hom te deel.

Gedurende sy graad 11-jaar het Christo my genader met ‘n versoek om aan ‘n uitreikprogram na Zambië deel te neem. Die feit dat die uitreik deur die skool georganiseer was, het my meer op my gemak laat voel om my kind na Afrika te stuur. Dit was ‘n ongelooflike geleentheid om sy perspektief op die wêreld te verbreed.

Terwyl hulle daar was, het die jong deelnemers by Zambiese gesinne gebly en hulself in die plaaslike kultuur verdiep. Christo het stories vertel hoe hy saam met die gesin se kinders ‘n hoender vir aandete gevang het en die vere gepluk het voordat hulle dit in die pot gaargemaak het. Ten spyte van beperkte hulpbronne, het die Zambiese gashere hul besoekers met die grootste gasvryheid behandel. Hulle het vir hulle die vleis aangebied terwyl hulle net mieliepap saam met die vleissous geëet het. Hierdie ervaring het my tienerseun se deernisvolle hart diep geraak.

Zander

Zander se onlangse versoek was om aan ‘n uitruilprogram wat deur die Round Square-organisasie by sy skool aangebied word, deel te neem. Die reëling stel ‘n student van ‘n ander land in staat gestel om vir ses weke by ons tuis te gaan en saam met Zander skool by te woon. Daarna besoek Zander weer vir ses weke die student se tuisland, gaan by sy gesin tuis en woon saam met hom sy skool by. Zander mis die see en wou baie graag na `n skool naby die see gaan. Dit het dus uitstekend vir hom uitgwerk toe die uitruil met `n student Zander se ouderdom in Perth is.

Die idee om my 15-jarige seun alleen op ‘n vliegtuig na Australië te stuur om vir ses weke by vreemdelinge te gaan woon, was skrikwekkend. Ons het dadelik ‘n aanlynvergadering met die gesin gereël. Na ons virtuele ontmoeting het ek baie meer rustig gevoel. Daar was vinnig  ʼn gemaklikheid met mekaar en hulle lewenswyse het bekend gevoel.

Ons sien gretig uit na Campbell se aankoms in Zürich net na die Paasnaweek. Hy is opgewonde om sneeu vir die eerste keer te ervaar en wil sy Frans, wat hy as Addisionele Taal op skool neem, oefen. Ons het belowe om hom na die Alpe te neem om in die sneeu te stap of te slee en om ‘n Franssprekende gebied in Switserland te besoek. Campbell was verheug om te hoor ons het treinkaartjies bespreek vir ‘n langnaweek besoek aan Parys.

Scotch College, Perth

Zander en Campbell vlieg saam na Perth op 17 Mei. Zander gaan saam met Campbell Scotch College Boys’ School bywoon. Hy sal die skooldrag dra en een keer per week by die Kapeldiens aansluit. Daarbenewens sal Zander op Vrydae aan die saalbyeenkoms deelneem en die seuns aanskou wat in huisgroepe marsjeer op die maat van die College Pipe Band. Bekend vir sy uitnemendheid, tree die College Pipe Band gereeld by Internasionale Tattoos op.

Daarbenewens sal Zander aan die skool se verpligte sport- en gemeenskapsdiensprogramme deelneem. Laasgenoemde bied aan studente ‘n kans om hul Christelike waardes op tasbare wyse in die praktyk uit te druk. Scotch College werk saam met verskeie organisasies, insluitend Disabled Surfing, Second Bite (wat kos herverdeel), Salvation Army, en People Who Care, onder andere.

Om ons kinders te laat gaan is ‘n daad van liefde

Ek is bly dat my kinders hulself uitdaag. In die proses daag hulle my ook uit en help my om deur hul ervarings te groei en die wêreld te ontdek.

Ons uitdaging, as ouers, is om te erken dat terwyl vashou gerusstellend kan voel, dit ‘n diep liefdesdaad is om ons kinders toe te laat om te groei en te floreer. Ons moet hul toenemende onafhanklikheid ondersteun en vier. Wanneer hulle vertroue in hul vermoë om op hul eie voete te staan het, sal hulle terugkeer en ons band sal een van liefdevolle interafhanklikheid wees.

As ouers moet ons ons kinders se groeiende onafhanklikheid fasiliteer, ondersteun en vier, al is dit moeilik. Om te laat gaan is ‘n daad van liefde. Wanneer hulle vertroue in hul vermoë om op hul eie voete te staan het, sal hulle terugkeer en ons band sal een van liefdevolle interafhanklikheid wees.

Groete

Emsia

Blomme vir my ma by Keukenhof

Blomme vir my ma by Keukenhof

My beeld van my ma is ‘n groot bedding vol helderkleurige blomme. Haar lieflike tuin is haar speelplek maar ook haar wegkruipplek. Sy wys haar liefde met blomme. As skoolmeisie het sy my op my verjaardag met rose uit haar tuin bederf. Daar is altyd ‘n bos blomme in ons kamers wanneer ons kuier. Ek was baie opgewonde toe die geleentheid vyf jaar gelede ontstaan het om vir my ma die mooiste lentetuin in die wêreld, Keukenhof, te wys.

Ma Lenie in Holland

Opgewondenheid en benoudheid

Ek kon nie wag om die nuus met haar te deel nie. Haar opgewondenheid was so groot soos haar stresvlakke. Op die ouderdom van 71 was sy nog nooit oorsee nie. Programme oor Keukenhof op televisie was vir haar die genoegsame motivering om aansoek te doen vir ‘n paspoort. Sy het ook ‘n warm baadjie gekoop en ‘n blou mus gebrei.

Ek en my ma het via Dubai gevlieg en Charl in Amsterdam ontmoet. Ons het die verskillende etes en wye verskeidenheid musiek en flieks op die vliegtuig geniet. Sy het haar aan die ervaring oorgegee en gehardloop wanneer nodig om die aansluitingsvlug te haal.

Afskeid op die lughawe

Ons was bederf in ons blyplek in Leiden

Ons verblyf in Leiden was perfek. Die bed-en-ontbyt tannie was ‘n afgetrede sielkundige omtrent my ma se ouderdom. Omdat Nederlands en Afrikaans so na aan mekaar is, het ons met mekaar in ons eie tale gekommunikeer en verstaan. Ons gasvrou het ons met verskeie Hollandse lekkernye bederf. Elke oggend was daar nog ‘n tuisgemaakte verrassing, vars uit die oond, vir ontbyt. Die taal en kultuur van die Nederlandse programme op televisie het ons geamuseer.

Ma Lenie ervaar Holland

Amsterdam, Zaanse Schans en Delft fabriek

Ons het ons Keukenhof-besoek vir later die week beplan. Intussen het ons Amsterdam te voet verken en die mense, duisende fietse en historiese geboue bewonder. Toe ons bene moeg geword het, het ons die stad vanaf een van die bote op die kanale bekyk. Ons het die Zaanse Schans besoek en windmeulens, handwerkwinkels en museums gesien. By die Delft-fabriek het hulle die mooiste handgeverfde blou Delft-breekware gemaak.

Tulpplase

Lande met geel affodille

Die dag voor ons Keukenhof-uitstappie het ons tussen die tulpplase rondgery en die rye kleur bewonder. Soms het ons uit die kar geklim om nader te kyk en die wonderlike reuk van die massas blomme te ervaar. Die beeld van die blomvelde was my prentjie van die hemel. Ons was verstom oor die goudgeel affodille wat oral soos veldblomme te voorskyn gekom het.

Keukenhof

Tulpe in Keukenhof

Keukenhof was meer as wat ek verwag het. Dit was bevredigend om die verbasing in my ma se oë te sien, en dit was kosbaar om haar vreugde te ervaar. Ons was verstom deur die talle uitstallings, kleurvolle tulpvariëteite en ander blomme. Toe Charl later agterkom dat ons meer as 10 km gestap het, merk my ma verbaas op: Haai, ek het nie eers geweet ek kan so ver stap nie!

Hierdie jaar het ons gehoop om Keukenhof vir ‘n tweede keer te besoek. Keukenhof ontvang meer as ‘n miljoen besoekers per jaar. Keukenhof was gereed om op 20 Maart 2021 oop te maak en het kaartjies aanlyn begin verkoop. Die regering het hulle egter ingelig dat die huidige Covid-toestande hulle nog nie toelaat om oop te maak nie, al is hul tuine gereed. Covid-getalle in Europa styg weer, wat die derde golf aandui. Gelukkig het Keukenhof hul tuine virtueel op sosiale media vertoon. Ek begin dus elke dag met ‘n vinnige besoek aan Keukenhof!

Keukenhof tuine

Ek wens ek kon my ma verras met ‘n onverwagse besoek en blomme. Ek is egter nou beperk tot die tulpfoto’s wat ek vir haar per WhatsApp stuur. Gelukkig weet ek uit ondervinding dat daar soms uit die bloute geleenthede ontstaan.

Liefdegroete

Emsia