Die lewe se groot, moeilike besluite

Die lewe se groot, moeilike besluite

30 Oktober 2018

Groot, moeilike besluite kruis dikwels onverwags jou lewenspad. Hulle veroorsaak koersaanpassings. Hulle impak op jou is beduidend, maar so ook op die mense na aan jou. Die groot, moeilike besluite veroorsaak nagte se wakker lê en ure se lysies om voor- en nadele te analiseer.  Die besluit word uiteindelik geneem op grond van ‘n wete diep binne-in jou. Die woorde van hierdie wete is beperk, wat dit uitdagend maak om die besluit te verduidelik.

Charl diep in gedagte

Ons groot en moeilike besluit

So ‘n groot en moeilike besluit het nou oor ons pad gekom. ‘n Geleentheid het hom voorgedoen vir Charl om vir ‘n paar jaar in Switserland te werk. Die impak hiervan is groot. Die grootste is vir seker op Jacques en Christo. Jacques het darem sy voete gevind as student aan die Noordwes-Universiteit, maar Christo moet sy finale skooljaar voltooi en dan met sy studentejare aan die Universiteit Stellenbosch begin. My seuns is onafhanklike jong mans, maar my moederhart bloei vir hulle.

Impak op my familie

Die impak op my ma en suster, Ansa, is ook groot. Met hulle wat in die Kalahari woon en ons in die Wes-Kaap, is afstand nie ‘n vreemdeling nie. Ons jaarlikse byeenkomste, soms in die Kaap en soms in die Kalahari, is my jaarlikse hoogtepunt. Dit is die week wat ons vergeet van ons verantwoordelikhede, pret hê, onophoudelik gesels, lag en gemmertee in die tuin drink. Daardie week leer Ansa se plaaskinders meer van die stadslewe, of my stadskinders leer van die plaaslewe, afhangend van waar ons kuier.

Selfoontegnologie stel ons in staat om in kontak te bly. Ons beplan om by ons ritme te hou om een keer per jaar in Suid-Afrika te kuier, en hopelik kan hulle ons een keer in Switserland besoek. Ons skuif skep ‘n uitstekende geleentheid vir ons familie om ‘n internasionale vlug en ‘n Europese ervaring te hê.

Ons kuier op die plaas in die Kalahari

Charl is baie opgewonde oor die werksgeleentheid. Zander is hartseer om afskeid te neem van sy vriende en rugby. Ek is bekommerd oor sy aanpasbaarheid as Afrikaanse seun in ‘n internasionale skool. Ek weet egter dat kinders baie meer aanpasbaar is as wat ons dink. Charl sal vroeg in die nuwe jaar in Zürich begin werk, maar ek en Zander sal heelwat later by hom aansluit sodat ek die grootste deel van sy laaste skooljaar by Christo kan wees.

Dit maak my hartseer om my familie en wonderlike vriende agter te laat. Ons het die afgelope twintig jaar kosbare vriendskappe opgebou rondom die sportveld en na kerk op Sondae. Hoe neem ek afskeid van ons huis en sy lieflike tuin waar my kinders grootgeword het?

Oktobermaand

My pa het altyd gesê: “Oktober is die mooiste maand van almal!”. Ek het eers gedink dit is as gevolg van die lente, maar ek verstaan nou beter. Dit was die dertiende tjek maand by die werk. Oktober was ook vir my ‘n rooiletter maand. Op ’n laat Donderdagmiddag in Oktober het my lewensreis begin. Die Switserse geleentheid het in Oktober aan ons deur kom klop, en volgende Oktober gaan ek heel waarskynlik my vyftigste verjaardag in Switserland vier.

Dit is ‘n moeilike besluit, maar ons moet die geleentheid aangryp. Ek is jammer oor die impak op die mense vir wie ek lief is. Hulle het nie eens ‘n keuse in die saak nie. Ons weet nie hoe dit gaan uitdraai nie, maar ons weet dat so ‘n ervaring sal bydra tot ons persoonlike groei en perspektief op ‘n veranderende wêreld.

Besluite

My beste vorm van verandering verwerk, is om daaroor te skryf.  Ek het dit reeds vyf-en-twintig jaar gelede uitgevind toe ons die twee jaar in Londen gewerk het en dit my enigste bekostigbare manier was om kontak te hou. Daardie tyd was dit nog gewone briewe in ʼn koevert met ʼn posseël op. Ons kon nog op die Suid Afrikaanse posdiens staatmaak.

Ek belowe om gereeld vir die mense wie ek omgee te skryf en almal so op hoogte te hou van ons innerlike en uiterlike reis. Hierdie is die eerste van baie briewe.

Groete                                                   

Emsia

5 thoughts on “Die lewe se groot, moeilike besluite

  1. Ek geniet jou skrywes altyd baie Emsia en gaan verseker elke brief wat jy skryf ook lees!

    1. Dit is wonderlik om van jou te hoor Mariet! Dankie, ek beplan om op ‘n weeklikse basis my briewe te post.

  2. Awesome! Love die uitleg en al fodies!

    Keep Going 🙂

  3. Emsia
    Ek het die Engelse weergawe op iPad raakgeloop en daar my (hartseer) inset gelewer. My verlange na julle bots met die wonderlike ervarings wat julle ondervind en met ons deel.

    Baie dankie dat ek deel daarvan kan wees. Jou stories gaan nog wye draaie gooi.

    Drukkie vir Zander & Charl
    Groete ook aan Jacques & Christo via hierdie Brief-skakel. Vertrou jul studies oorleef hierdie jaar.
    Mooiloop

Comments are closed.

Comments are closed.