Wat die Lewe my oor Oorvloed geleer het

Wat die Lewe my oor Oorvloed geleer het

“When the student is ready, the teacher will appear.”

My ma het beslis haar deel gedoen om ons vir die volwasse lewe voor te berei. Wat kosmaak betref, was die leermeester egter lank gereed voordat die student belang gestel het!

Van Gebrande Kos tot Lewenswysheid

Wanneer my ma koor toe gegaan of vir ’n revue gaan oefen het, moes ek die kos dophou. Die probleem was dat my lyf in die kombuis was, maar my gedagtes gewoonlik elders. Die gevolg? Heelwat brandoffers! Gelukkig het ons buurtannie my ’n paar truuks geleer om gebrande kos te probeer red. Dit was waarskynlik al waarvoor die student destyds gereed was.

Ná my studies, toe ek in Stellenbosch begin werk het, het die werklikheid my ingehaal. Met ’n klerksalaris en my ma ver weg, sou kookvaardighede handig te pas gekom het. YouTube was nog nie ’n opsie nie en ek moes maar ’n Kook en Geniet by die dorpsbiblioteek gaan uitneem.

Ons twee jaar in Londen ná my klerkskap het my kookkuns verder getoets. Manlief het voltyds studeer, en ons moes met my salaris alleen klaarkom. Wanneer oorlewing die beste motivering word, leer ’n mens vinnig! Ek het begin eksperimenteer en uiteindelik kooklesse aangebied aan vriende wat, soos ons, probeer het om in Londen kop bo water te hou. Die student het uiteindelik die leermeester geword.

Wanneer min jou oor meer leer

Ek het onlangs ’n gedagte raakgelees wat my diep laat nadink het:

“Min word eers oorvloed wanneer jy die leegheid van niks oorleef het.”

Dit geld nie net vir geld of materiële dinge nie, maar ook vir verhoudinge, gesondheid, tyd en ons verstaan van wie ons werklik is. Dikwels besef ons eers wanneer iets ontbreek hoe kosbaar dit nog altyd was.

Dit het ook my perspektief as ouer verander. Ons wil ons kinders beskerm en hulle pyn en teleurstellings spaar. Maar hoe graag ons ook al wil, kan ons nie elke les namens hulle leer nie. Wanneer ek terugkyk, besef ek dat die tye van min, onsekerheid en uitdaging my die meeste geleer het. My begrip van oorvloed het verander. Dit gaan nie noodwendig oor hoeveel ons het nie, maar oor hoe ons leer kyk na dit wat ons reeds ontvang het.

Verhoudinge: Oorvloed lê in verbondenheid

Ons is nie gemaak om alleen deur die lewe te reis nie. Dikwels leer pyn ons om beter lief te hê, geduldiger te wees en eerste uit te reik. Verhoudinge wat skeefloop, kan ons aan onsself laat twyfel. Tog bly liefdevolle, ondersteunende verhoudinge vir my een van die grootste vorme van oorvloed.

Switserland was vir my ’n besondere leermeester. Hier het ek die waarde van opregte vriendskap op ’n dieper vlak begin verstaan. Betekenisvolle verhoudinge gebeur nie vanself nie; dit vra tyd, aandag en die bereidheid om soms eerste die brug te bou. Die internasionale gemeenskap waarin ons woon, het my perspektief verbreed en my laat besef hoeveel ons by mekaar kan leer. Ons hoef nie dieselfde te wees om mekaar se lewens ryker te maak nie.

Gesondheid: ’n Kosbare geskenk

Soms wag ons totdat Ouderdom as leermeester opdaag voordat ons werklik aandag aan ons gesondheid gee. Ons neem gesondheid maklik as vanselfsprekend aan totdat die lewe ons herinner hoe kosbaar dit is.

Die Switsers se gesondheidsbewustheid het vir my ’n goeie voorbeeld gestel. Terselfdertyd het ek gesien hoe vriende, selfs dié met ’n gesonde leefstyl, met beserings en mediese diagnoses worstel. Gesondheid is nie iets wat ons volledig kan beheer of as vanselfsprekend kan aanvaar nie. Ons kan egter verantwoordelik omgaan met dit wat aan ons toevertrou is, met groter waardering na ons liggame luister en nie ons welstand tot môre uitstel nie.

Tyd en identiteit: Wie is ek buite my rolle?

Hier in Switserland het ek besef hoeveel van my identiteit aan my verskillende rolle en die bydraes wat ek lewer, gekoppel was.

Maar wie is ek wanneer daar meer tyd is en minder rolle waarin ek myself herken? Wanneer ek nie besig is om iets te bereik of vir iemand iets te beteken nie, is ek gemaklik met myself, net soos ek is? Hierdie vrae het my laat besef dat ons soms so besig raak om ons plek in die wêreld te probeer volstaan dat ons vergeet om bloot onsself te wees.

Ons waarde lê nie net in wat ons doen nie, maar ook in wie ons is. Ons hoef nie voortdurend besig, nuttig of suksesvol te wees om genoeg te wees nie. Ons rolle kan verander sonder dat ons waarde verminder.

Ek leer dat tyd nie bloot iets is wat ons moet volmaak nie. Dit is ’n geskenk wat ons bewustelik kan bestee aan mense wat saak maak, dinge wat betekenis gee en die ontdekking van wie ons is wanneer ons niks hoef te bewys nie.  ’n Belangrike vorm van oorvloed is om vrede te maak met wie ons is, terwyl ons oop bly vir wie ons kan word.

Die Lewe as Leermeester: Ons bly lewenslank studente

Wanneer ek terugkyk, glimlag ek oor die verskillende weergawes van myself: die meisie wat die kos moes dophou, die student met haar biblioteekboek en die jong vrou in Londen wat met min geld moes leer klaarkom. Elke ervaring het iets bygedra tot wie ek vandag is.

Ons is lewenslank studente. Elke nuwe lewensfase bring nuwe uitdagings en geleenthede om te groei. Soms leer ons deur foute, soms deur verlies en soms deur die stilte waarin ons onsself opnuut moet leer ken. Party lesse verstaan ons eers jare later.

As ouers kan ons ons kinders liefhê, ondersteun en begelei, maar ons moet hulle ook ruimte gun om hul eie wysheid te ontdek. Dalk gaan die lewe nie daaroor om elke moeilike les te vermy of al die antwoorde te hê nie, maar om ontvanklik te bly vir dit wat elke seisoen ons kan leer.

Oorvloed is nie om alles te hê nie, maar om met nuwe oë te sien wat die lewe ons geleer het en om daardie wysheid met ’n oop hart aan ander oor te dra.

Groete,

Emsia

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui