Hoofstukke in ons lewensboek

Hoofstukke in ons lewensboek

Die boek van die lewe het verskillende hoofstukke. Anders as met ʼn storieboek weet ons nie hoeveel hoofstukke daar is nie en kan ons nie gaan kyk hoe die storie eindig nie.

As naïewe tiener het ek ʼn perfekte storielyn vir my eie lewensboek uitgedink. Ek het die plek, agtergrond en ander karakters in my storie gevisualiseer asook tydraamwerke vir belangrike gebeure in gedagte gehad. Met ʼn hele paar hoofstukke reeds afgehandel, kan ek nou net my kop skud en lag vir my eie naïwiteit. Ek het egter ook tot ʼn paar insigte en gevolgtrekkings gekom.

Ek het egter tot ʼn paar insigte en gevolgtrekkings gekom.

Ons is nie die skrywers van ons lewensboeke nie

Ek het vinnig besef dat ek net ‘n karakter in my lewensboek is, nie die skrywer nie.

Die storielyn bly dus selfs vir die hoofkarakter ‘n verrassing. In ‘n interessante verhaal is daar voortdurend opwindende gebeure en intriges om die hoofkarakter te help ontwikkel en vir die volgende hoofstukke voor te berei.

Tydens die storie kom en gaan ondersteunende karakters en neem verskillende rolle en karaktertipes aan. Sommige karakters verskyn in groot dele van die boek, maar ander verskyn slegs in enkele hoofstukke.

Elke boek is uniek en oorspronklik

Elke boek se storielyn en karakters is uniek en oorspronklik. Die Skrywer het die agtergrond, omstandighede, ander karakters en boodskap noukeurig beplan.

Elke hoofkarakter se ontwikkeling is teen sy eie tempo. Vir die karakterontwikkeling om plaas te vind, moet die hoofkarakter uitdagings oorkom, lesse leer en tot nuwe insigte kom. Soms is verskeie uitdagings en situasies nodig voordat die hoofkarakter die vereiste lewenslesse leer.

Ons speel verskillende karakters in verskillende boeke

Ons is die hoofkarakter in ons eie lewensboek, maar speel ander rolle in ander mense se lewensboeke. Verskillende karaktertipes is nodig om die storie interessant te hou, die hoofkarakter te ontwikkel en spesifieke eienskappe van die hoofkarakter na vore te bring.

Soms verander die karaktertipe van individue soos die boek vorder. Vertrouelinge kan in antagoniste verander wanneer ‘n vertrouensbreuk plaasvind. Ek is sommige mense se katalisator vir groei en het die antagonis (vark in die verhaal) rol in ‘n paar ander stories.

Die hoofstukke is kort

Hoofstukke vol uitdagings voel soms asof dit vir ewig gaan aanhou. Ek besef nou dat ‘n lewensboek se hoofstukke kort is. Soms dwing omstandighede die hoofkarakter in ‘n nuwe hoofstuk in en ander kere word ‘n besluit geneem om te verander.

Die boeklengte is onseker. Die hoofkarakter moet dus die geleenthede benut en die meeste van die rol in elke hoofstuk maak. Ervaring en lesse geleer, moet in die volgende hoofstukke gebruik word.

Ander mense se lewensverhale is waardevolle hulpmiddels

Die Skrywer van my lewensboek verskaf vir my baie antwoorde op my vrae en nuwe perspektiewe deur mense se stories. Boonop motiveer dit my en help dit my om my rol in my storie beter te verstaan.

“I can see clearly now”

Oor die jare het ek baie antwoorde en wysheid in Dr James W Dyer se boeke gevind. Sy memoires, wat laat in sy lewe gepubliseer is, het my denke oor my lewe en gebeure beïnvloed. In sy memoires het hy gebeure en kruispaaie in sy lewe vanuit ‘n 84-jarige perspektief gedeel. Hy het tot die volgende gevolgtrekking gekom,

“I wasn’t aware of all of the future implications that these early experiences were to offer me. Now, from a position of being able to see much more clearly, I know that every single encounter, every challenge, and every situation are all spectacular threads in the tapestry that represents and defines my life, and I am deeply grateful for all of it.”

Ons sal ook betekenis en insig in ons eie lewensverhale vind as ons vanuit ‘n huidige perspektief na die gebeure en die lesse wat ons daaruit geleer het, kyk. Op hierdie manier vind ons dalk antwoorde op al die hoekom-vrae.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Hoofstukke in ons lewensboek

  1. Emsia
    Ek is ook bly julle is in my lewensboek – dit vul ‘n baie belangrike rol en anker daarin. Lief julle baie.
    Frikkie

    1. Die Skrywer van ons boeke het geweet ons hoort in mekaar se stories, want Oom se woorde beskryf ons gevoel ook!

Comments are closed.

Comments are closed.