Kosmaak met liefde geinspireer deur my seun

Kosmaak met liefde geinspireer deur my seun

Jare gelede het ons Italiaanse kollega tydens middagete opgemerk: “Ek kan proe hulle het nie die kos met liefde voorberei nie.” Op daardie stadium was enige kos wat deur iemand anders voorberei is heerlik, selfs kantienkos. Ek het tyd nodig gehad om sy opmerking te begryp.

Ek het beperkte kooktyd gehad met ‘n loopbaan, huishouding en drie kinders om rond te ry. Met ‘n vegetariese man en vleisetende seuns was kosmaak in my kry-dit-klaar kategorie. Ek vermoed nie veel liefde het in my eenpotgeregte beland nie.

Toe my seuns die nes verlaat, was hul kookvaardighede beperk tot gebakte eiers, plaatkoekies en braai. Jacques heg waarde aan ‘n gesonde leefstyl en met ‘n beperkte begroting moes hy ná skool op sy kookvaardighede staatmaak. Gou was ons beïndruk met sy kreatiwiteit in die kombuis.

Jacques se besigheid – The Cinnamon Club

Jacques was lank deel van die Kruger-huishouding tydens die Covid grendeltyd. Hy het aangebied om verantwoordelikheid te aanvaar vir die huishouding se hoofmaaltyd, wat hy teen ‘n spesifieke tyd in die aand moes klaarmaak. Hy was verplig om al die relevante voedselallergieë te oorweeg en sy kreatiwiteit in te span. In die proses het hy ontdek dat ‘n veganistiese leefstyl die meeste voedselallergieë oorkom.

Nadat hy sy besigheidsgraad voltooi het, het Jacques besluit om te fokus op sy liefde en passie vir bak met plantgebaseerde produkte. Hy eksperimenteer graag met verskeie kruie en speserye. Hy het vroeër ‘n bietjie kaneel by al sy skeppings gevoeg, en hierdie gewoonte het sy besigheidsnaam, The Cinnamon Club, geïnspireer. Gaan kyk asseblief na sy pragtig aangebied veganistiese en glutenvrye koeke op The Cinnamon Club se webtuiste.

My kosmaak inspirasie

Jacques het my intussen geïnspireer om meer kreatief te wees met kosmaak. Ek probeer elke week ‘n resep uit ‘n ander land met al die regte bestanddele, kruie en speserye. Ek maak ‘n punt daarvan om die land te identifiseer waar die verskillende items vandaan kom. Met die skil en voorbereiding van die geregte waardeer ek die uniekheid en perfeksie van die vars produkte.

Ons bly tussen die plase en kan plaasvars produkte koop. Ons kry vars melk by die melkery naby ons huis. In die lente en somer maak hulle ook aarbeie, frambose, kersies en ander soorte vrugte beskikbaar in die yskas langs die pad. Anders as waaraan ons gewoond is, is plaasprodukte hier effens duurder as in die winkels omdat dit vars van die plaas af is.

Heerlike brode

Dit is maklik om Charl met brood te verlei, en hy bak dit graag self. Wanneer ons Duitse taalvaardighede verbeter het, wil ons graag aan ‘n broodbakkursus deelneem. Charl het steeds ‘n droom om in die toekoms ‘n bakkery te besit. Intussen bederf ek hom met die groot verskeidenheid brood wat by die plaaslike bakkery beskikbaar is.

Die Duitssprekende lande is bekend vir hul gefermenteerde produkte. Een van Charl se kollegas, Stefanie, het ons bederf met bottels ingelegde groente en ingelegde rooi uie. Sy kweek haar kruie waarmee sy dit piekel. Die geure is hemels en ‘n uitstekende geskenk gemaak met liefde. Stefanie het belowe om in die herfs vir my van haar ingelegde pampoene met vanielje te stuur. Ek sien baie daarna uit om dit te sien en te proe.

Ek kom al ’n lang pad in die kombuis met inspirasie uit verskeie oorde. Ek verstaan egter nou wat Gaetano bedoel het met, “‘n Mens kan proe wanneer iemand kos met liefde voorberei het.”

Groete

Emsia

Comments are closed.