Is dandelions onkruid, veldblomme of kruie?

Is dandelions onkruid, veldblomme of kruie?

Gedurende die lente in Switserland, word die velde geel gekleur deur die massas dandelions wat oral sigbaar is. Na slegs ‘n paar dae verander die geel blomme in wit ronde saadkoppe wat maklik deur die wind versprei word. As ons na dandelions kyk, kan ons onkruid sien wat moeilik is om uit te roei, pragtige veldblomme of kosbare kruie.

Dandelions in die veld

In Afrikaans word dandelions, perdeblomme genoem.  Die perdeblomme wat ons in Suid-Afrika kry, is ‘n verskillende en meer harige weergawe van die Europese spesies.

Voordelige medisinale waarde

Ek het eers onlangs bewus geword dat dandelions baie voordelige medisinale eienskappe het en kruiedokters dit as kosbare kruie sien. Dandelions is ‘n ryk bron van vitamiene A, B-kompleks en C, minerale soos yster, kalium en sink.

In die noordelike halfrond het mense sedert die 10de eeu dandelions vir genesing gebruik. Die Indiese, tradisionele Chinese en Europese kruiedokters het dit gebruik vir lewer- en galblaasondersteuning en as ‘n teenvoeter vir ‘n ongestelde maag. Deesdae doen wetenskaplikes studies om hul doeltreffendheid in die voorkoming en behandeling van kanker en vermindering van cholesterol te toets.

Inspirasie vir gesonde drankies

Drankies van dandelions gemaak

Die plant is verwant aan sigorei, en mense rooster en gebruik sy wortels as ‘n kafeïenvrye plaasvervanger vir koffie. Hulle gebruik ook gedroogde of vars wortels om kruietee met baie gesondheidsvoordele te maak. Ek lees dat die Amerikaners dandelions gebruik om wyn te maak en die Britte om bier te maak. Ek het geglimlag vir die opmerkings dat mense dit meer drink vir die gesondheidsvoordele as die smaak.

Dit lok bye en ander insekte

By op 'n dandelion

Dandelions is ryk aan stuifmeel en nektar en is ‘n groot aantrekkingskrag vir bye en insekte wat na hulle toe stroom en in die kelke van die geel blomme verdwyn. Wanneer jy op ‘n warm somersdag deur ‘n veld vol geel blomme stap, hoor jy die dreuning van bye wat nektar versamel.

Gesonde voer vir diere

Dandelions deel van beeswyding

Die koeie in Switserland smul heerlik aan die geel blomme as jy na die kontras tussen hul weiding en die area langsaan kyk. Ideale beesweiding moet soos ‘n ‘slaaibak’ van grasse en peulgewasse vir die beeste wees. Gelukkig is plante wat mense as onkruid in hul grasperke beskou, soos dandelions of klawer, baie voedsaam vir beeste en hulle geniet dit.

Legendes en simboliese betekenis

Dandelion saadknop

Volgens legende, as jy al die sade van die dandelion knop met ‘n enkele asem kan afblaas, dan sal die persoon vir wie jy lief is, jou ook liefhê. As daar saadjies oor is, kan die persoon op wie jy verlief is bedenkinge hê oor hul gevoelens vir jou. Hierdie video deur Emmy-bekroonde Britse fotograaf Neil Bromhall wys die transformasie van die dandelion blom na die saadkop, wat my in verwondering laat.

Dandelions het vele positiewe simboliese betekenisse. Hulle verteenwoordig deursettingsvermoë en uithouvermoë om die uitdagings te oorkom wat die lewe ons bied. Dandelions pas baie goed by hul omgewings aan. Hulle is dikwels bestand teen baie onkruiddoders en groei in verskillende soorte grond.

Ek sal vashou aan die positiewe simboliese betekenis van die goudgeel blomme in die tye wanneer die lewe uitdagings op my pad gooi.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Is dandelions onkruid, veldblomme of kruie?

  1. Indrukwekkende inligting oor so ‘n eenvoudige blommetjie. En die video is treffend.
    Baie dankie

    1. Ja die video was vir my ongelooflik treffend en laat besef hoeveel ontwerp in elke klein dingetjie in die natuur ingaan. Ek besef maar net dat daar so baie dinge is om te leer en te ontdek as ons die moeite wil doen.

Comments are closed.

Comments are closed.