Migrasie vind wêreldwyd plaas

Migrasie vind wêreldwyd plaas

By Zander se nuwe skool was migrasie die eerste onderwerp waaroor hulle navorsing en ʼn klasaanbieding moes doen.  Migrasie was ʼn goeie onderwerp om mee te begin aangesien dit al die families by sy skool persoonlik raak.  Hulle het spesifieke faktore wat migrasie veroorsaak bespreek en moes ʼn toepaslike migrasie voorbeeld uit die geskiedenis van hulle land van afkoms kies vir hulle navorsingsprojek.

Gelukkig vir ons Suid Afrikaanse geskiedenis, kon Zander sy hele projek oor Jan van Riebeeck en die speserye uit Indië doen.  Die skool het selfs van die ouers genooi om persoonlike migrasie-stories te deel, wat die kinders baie interessant gevind het.

In Suid-Afrika is migrasie ʼn groot werklikheid – in sowel as uit.  Daar is soveel mense wat vanuit Afrika lande na Suid Afrika toe trek in die hoop vir werk en ʼn beter bestaan.  Dan is daar net soveel mense wat uit Suid Afrika trek in die hoop vir werk en ʼn beter toekoms.

Samuel van Malawi

Tegnologie help om kontak te hou met ons hartsmense.  Samuel, ons tuinman in Suid-Afrika, is van Malawi.  Taal was maar moeilik, maar hy het vroeg-vroeg gevra vir die “wee-fee password” om met sy mense tuis te kommunikeer.  Ek het met baie deernis geluister as die man met sy mooi glimlag oor sy klein kinders in Malawi vertel, terwyl die trane onbeskaam oor sy wange loop.

Met ʼn klip in my hart het ek geweet my dag is ook op pad dat my kinders so vêr van my af gaan wees.  Samuel stuur nou en dan met trots vir my foto’s van ons tuin in Welgemoed wat hy steeds met liefde en sorg vir die nuwe eienaars onderhou.  Ek neem aan hy het hulle “wee-fee password” ook gekry.

Samuel en sy vrou, hulle huis in Malawi en hulle seun

Zürich vlugtelingkamp

Mense migreer vir verskillende redes, maar ʼn groot groep mense wat migreer is vlugtelinge. Ek is deel van die skool se “Community Impact” mamma-groep wat Vrydae die vlugtelingkamp in Zürich besoek.  Die stories wat mens daar hoor is maar baie onstellend. 

Teen die tyd dat die vlugtelinge veilig by ʼn vlugtelingkamp aankom, is hulle al deur baie trauma.  Die hartseerste stories is van ouers en kinders wat van mekaar verwyder raak gedurende die vlugproses en dan nie weet of hulle mekaar ooit weer gaan sien nie. 

Ek probeer maar fokus op die positiewe en doen moeite om die tydjie wat ons daar is, lekker te maak.  Ons gaan net vir twee ure en maak saam pizzas en speel verskeie speletjies met die kinders.  Kommunikasie is ‘n uitdaging, want meeste van hulle praat Persies of Arabies. 

Hulle begin leer van die begin af Duits en dit is die enigste gemeenskaplike taal wat meeste van ons met hulle het.  Daar word ek gedwing om my Duits te oefen.  Gelukkig praat hulle stadig en ʼn basiese Duits.  Die tieners help my sommer gou reg as my Duits nie reg uitkom nie. Ek geniet veral die kleintjies wat sommer maklik op my skoot kom sit of my hand vat om vir my te wys wat hulle wil hê of doen.

Verskillende tale is ‘n uitdaging

Baie van die vlugtelinge kom van Iran, Irak en Afghanistan met Persies as taal en dan dien een van die ICS mammas wat kan Persies (Farsi) praat, baie maal as tolk. Sy luister na die vlugtelinge se stories en deel dit met ons. In baie van die lande kry mense baie swaar as gevolg van korrupsie in die regering. 

In sommige lande misbruik die regering die moslem godsdiens om landsburgers te manipuleer en daar word erg teen vrouens gediskrimineer. Vrouens en dogters word verplig om die kopdoek (Hijab) in die publiek te dra en word in die tronk gegooi of swaar beboet as hulle nie dit doen nie. In Iran het mans weens die wette baie mag oor hulle gesinslede en ek het gou besef dat baie vrouens en kinders uit Iran wegvlug weens gesinsgeweld.

Verlies aan voorregte wat burgerskap bied

Mense vlug of trek omdat hulle hoop op iets beter in ʼn ander land.  In baie gevalle word daar nie aan hulle verwagtinge voldoen nie, want hulle besef gou dat hulle nooit dieselfde voorregte as burgers van daardie land sal hê nie.  In ʼn ander land sal jy na ‘n paar jaar in die samelewing inskakel, maar tog op ʼn manier lewenslank ʼn buitestaander wees. 

ʼn Mens kan kos leer eet, taal leer praat, maar kultuur is nie oordraagbaar nie.  Kultuur vorm deel van jou identiteit van kleins af en is so ʼn belangrike deel van wie jy is.  Dit help jou die konteks verstaan, weet wat die ongeskrewe reëls is en veroorsaak dat jy saam kan lag as iemand ʼn grappie maak, wat ons as Suid Afrikaners tog so graag doen.

Om na ʼn ander land toe te trek het altyd ʼn impak op die mense naby aan jou en vir hulle is dit soms erger, want hulle was nie noodwendig deel van die besluit nie. Hulle ervaar nie die avontuur nie, net die verlies.

ʼn Mens mag nooit ʼn ander persoon se keuses en besluite oordeel voor jy nie in sy skoene geloop het nie.  Die faktore en omstandighede wat besluite dryf, is uniek tot elke persoon.  Met ons korttermyn kontrak hier in Switserland kry ons ʼn voorsmakie van hoe dit voel.  My gevolgtrekking is dat migrasie nie ʼn besluit is wat ʼn mens maklik neem nie.  Daar is baie uitdagings in so ʼn veranderingsproses. Ek is seker die miljoene mense regoor die wêreld wat die besluit deur die eeue heen moes neem vir hulle eie unieke redes en die aanpassing moes maak, sal die feit bevestig.

Groete

Emsia

Comments are closed.