Nuweling in die sosiale media gemeenskap

Nuweling in die sosiale media gemeenskap

Ek het grootgeword tydens ‘n era toe jy by iemand gaan kuier het vir jou sosiale-kontak behoefte en in ʼn tydskrif verdwaal het vir ontvlugting. Tydskrifte het stories en ontsnapping na vêr plekke gebied. Dit het ons geïnspireer met mooi dinge, kreatiewe idees en gedagtes. Tegnologie het die wyse waarop ons leef verander en sosiale media spreek deesdae ons behoefte aan sosialisering en ontvlugting aan.

Maniere van sosiale kontak en ontvlugting het verander

Ons dra ons sosiale netwerke en ontsnapping op ons fone met ons saam. Die stories wat ons lees en die prente waarna ons kyk, gaan oor mense wat ons ken. Ons kies die vriende wie se nuus en foto’s ons wil sien en kan selfs kommentaar daarop lewer of ʼn grappie daaroor maak.

Ons kan deel wees van groepe met mense met dieselfde belangstellings as ons, wenke, idees en raad kry van mense met gedeelde passies en nuwe vriende maak. Ons belangstellings bepaal die advertensies en inligting wat ons ontvang.

Hoe werk sosiale media?

Ek wou meer leer oor die misterie van hierdie nuwe sosiale wêreld wat ek soms intimiderend vind. Ek het Facebook as ‘n platform nagevors en ‘n paar dinge geleer. Sosiale mediaplatforms moet verseker dat gebruikers waarde vind gedurende die tyd wat hulle daaraan bestee. Facebook het dus Algoritmes in plek gestel om seker te maak dat gebruikers kwaliteit inligting kry op grond van hul belangstellings. Dit was goed om te sien dat die beginsels van die algoritmes baie ooreenstem met gewone sosiale gedrag.

Sosiale gedrag beginsels

Deelname en bydraes word vereis. Om deel te wees van enige sosiale sisteem, moet jy deelneem en bydra. Jou bydraes moet interessant wees en gesprek uitlok. Dit moet handel oor onderwerpe wat ander mense interesseer, hulle laat lag, hoop gee, inspirasie of nuwe idees gee. Die algoritme verseker dat ‘n bydrae sirkuleer solank mense kommentaar lewer of reageer

Bevorder deelname. Gesprekke oor onderwerpe wat mense die geleentheid bied om deel te neem is wenners. Ek geniet bydraes wat my laat dink, emosie ontlok en vir my meer inligting en geleentheid gee om kommentaar te lewer.

Tydsberekening is belangrik. Jy moet jou bydrae maak wanneer jou sosiale media vriende aanlyn beskikbaar is en tyd sal hê om te reageer. Besighede wat sosiale media gebruik om hulle dienste of produkte te adverteer, moet bepaal wat die optimale tyd vir hulle teikenmark is om te reageer.  Dit is die beste manier om te verseker dat die advertensie in sirkulasie bly.

Toon reaksie om deelname aan te moedig.  Dit het baie moed van my geverg om deel van hierdie aanlyn sosiale netwerk te word.  Ek was so bang dat niemand reaksie op my bydraes gaan lewer nie.  Na gesprekke met ander, het ek besef dat hierdie vrees net menslik is. Humoristiese, interessante of omgee kommentaar laat mense voel hulle bydraes maak saak, word waardeer en dien as aanmoediging om daarmee vol te hou.

Deel van ʼn virtuele sosiale gemeenskap

Dit is vir enige nuwe inwoner  ʼn uitdaging om by ʼn nuwe gemeenskap in te skakel. As introvert hou ek gewoonlik eers dop voor ek al my moed bymekaar maak en versigtig begin deelneem. Soms het nuwe inwoners so baie ander dinge wat hulle tyd opneem en hulle behoefte is net vir ontvlugting. In die geval is dit vir hulle voldoende om net dop te hou en nie deel te neem nie. Ons moet elke individu se behoeftes en keuses respekteer. 

Ek is dankbaar vir elke oud-inwoner van die sosiale media wêreld wat my as nuweling laat tuis voel het, en ek onderneem om dieselfde te doen. In ‘n nuwe land met Covid-beperkings en ‘n sosiale behoefte, ervaar ek samesyn in hierdie virtuele sosiale gemeenskap. Ek het ou vriende uit verskillende stadiums van my lewe ontdek en nuwe vriende ontmoet met gedeelde passies. Ek het ook beter insig in die lewens van kennisse gekry.

Al was ek aanvanklik skepties, kan ek eerlik erken dat sosiale media tot my lewe bydra. Ek beoordeel egter noukeurig die oorsprong van plasings en die tyd wat ek op sosiale media spandeer.

Groete

Emsia

Comments are closed.