Vele aanpassings by’n nuwe ritme

Vele aanpassings by’n nuwe ritme

Die nuus dat ons nie meer gedurende April Suid Afrika toe kan kom nie, is ‘n groot teleurstelling. Zander het lang lyste gemaak van almal wat hy wou sien, dinge wat hy wou doen en kos wat hy wou eet. Hy wou onder andere net weer ʼn slag ProNutro vir ontbyt eet, braaivleis en boerewors rolletjies met blatjang en tamatiesous hê vir middagete Spur toe gaan vir ‘n Hamburger en tjips en Nachos

Zander se gunsteling Suid Afrikaanse kos wat hy mis

Nog slegte nuus het gekom toe ons besef dat Christo en Michaela ook nie meer die Junie vakansie kan kom kuier nie, want die Switserse Ambassade het laat weet hulle is gesluit tot middel Junie en geen visa kan verkry word nie. Ons probeer nou om ons se vlugte so te verander dat ons in Junie Suid Afrika toe kan vlieg.

Inkopies

Dit is ‘n hele verandering in leefstyl met alles behalwe kruidenierswinkels en apteke gesluit en mense wat gedwing word om van die huis af te werk. Net ʼn paar mense word op ʼn slag in die winkels toegelaat nadat ʼn sekuriteitsbeampte seker gemaak het jy het jou hande ontsmet. Die mense raak kwaai as jy te naby aan hulle beweeg. Met lente in die lug is ons baie allergies. As jy winkel toe wil gaan moet jy gevolglik seker maak jy het jou neus geblaas en al jou niese afgehandel voor iemand  ʼn sauerkrautbottel na jou wil gooi.

Werkslewe

Charl werk ongelooflike lang ure van die huis af en is die hele tyd op videovergaderings.  Soos wat die reëls in die land verander en nuwe uitdagings na vore kom, moet besigheidsleiers die hele tyd nuwe planne maak.  Almal was genoodsaak om tuiskantore in te rig en daar is nêrens meer selfone en rekenaars in Switserland te kry nie.  Die selfoon en internet netwerke is onder druk, want dit was nooit ontwerp met die swaar gebruik in gedagte nie. 

In die hospitale is alle vooraf beplande operasies uitgestel om plek te maak vir die groeiende aantal Covid pasiënte.  Die Hirslanden groep se ervaring is dat kuberaanvalle verdubbel het die afgelope paar weke.  Mense het meer tyd op hande en besighede is meer onder druk en kwesbaar in onseker tye.

Skool en sosiale verkeer

Aanvanklik was die veranderende situasie baie traumaties vir Zander . Hy was onrustig en het gesukkel om te slaap. Hy het gelukkig gou ʼn nuwe ritme gevind wat vir hom lekker werk.  Elke dag stuur die skool werk vir die dag en hy en sy Meksikaanse maatjie doen dit terselfdertyd op die rekenaar, terwyl hulle met mekaar oor die selfoon praat.  Die voltooide werk word terug skool toe gestuur wat voor die volgende dag deur die onderwysers gemerk word. 

In die middae speel hy hier by die woonstelkompleks met paar ander seuns van sy ouderdom.  Hulle vyf, wat die maksimum is volgens die reëls, is ʼn mengelmoes verteenwoordigend van Singapoer, Pakistan, Duitsland, Nederland en natuurlik Suid Afrika.  Hulle speel almal buite polisie-en-dief, sokker en Zander het hulle ook nou blykbaar handjietennis leer speel wat hulle pouses by Welgemoed gespeel het.  Hy kom saans stokflou huis toe net voor ons eet en lyk eintlik of hy sy nuwe roetine geniet.

Ons geniet die natuur

Die weer raak aangenamer en kan ons darem elke aand gaan stap.  Vroegoggend tjirp die voëltjies onbewus van Corona.  Oral stap en ry mense fiets met hulle honde en kinders.  Dit is veral jong ouers met kleuters op scooters wat die prentjie oorheers. Ouers se kreatiwiteit om die kleingoed besig te hou asook hulle geduld word getoets.  Ons is dankbaar dat ons nog nie soos die mense in Italië en Spanje verbied is om uit ons woonstelle en huise te gaan nie. 

Die Corona virus situasie het gelukkig vir ons ‘n geleentheid geskep.  Kerke maak nou hulle dienste op YouTube beskikbaar.  Ons mis kerkdienste in ons moedertaal en die vele dienste beskikbaar in Afrikaans skep vir ons ʼn gevoel van samesyn. 

Ek is oortuig dat Corona ons gaan help om anders na dinge en verhoudinge te kyk.  Ons sal moeg van tegnologie wees, meer tyd buite in die natuur wil spandeer en meer moeite doen met kosbare mense en verhoudinge.  Met die reuse ekonomiese impak wat die situasie op baie organisasies en individue gaan hê, vermoed ek dat mense ekonomies gedwing gaan wees om eenvoudiger te lewe. 

Groete

Emsia

Comments are closed.