Toetse op die Switserse pad

Toetse op die Switserse pad

Charl het altyd daarvan gedroom om met ‘n kampeerwa deur Europa te ry. Met die verhuising na Switserland het die droom nader aan moontlikheid gekom. Daar was egter ’n paar hekkies wat hy moes oorkom sodat die kampeerwa-vakansie ’n werklikheid kon word.

Charl met drome van kampeerwa

’n Suid-Afrikaanse bestuurslisensie is slegs geldig vir die eerste jaar in Switserland. ‘n Bestuurstoets in Switserland binne die eerste jaar is dus nodig om ‘n Switserse bestuurslisensie te verwerf. Almal het aanbeveel dat ons bestuurslesse neem voordat ons die bestuurstoets in Duits aflê. As jy die bestuurstoets druip, moet jy heel voor begin en deur die leerlinglisensieproses gaan. Die proses behels dat jy ‘n noodhulpkursus moet slaag en klasse moet bywoon voordat jy die teorietoets kan skryf. Ek het besluit ek kom goed met die treine oor die weg, maar Charl het die uitdaging aanvaar.

Bestuurslesse

Charl is een van die versigtigste en wetsgehoorsame bestuurders wat ek ken. Ek kon nooit die negatiewe impak wat die bestuurslesse op Charl se bestuursvertroue sou hê, voorspel het nie. Die bestuurskool-instrukteur was streng en vinnig om aan die stuurwiel te gryp.

Charl wat motor bestuur

Hierdie hele bestuursles-ervaring het gemaak dat ek oom Schalk weer van voor af waardeer het. Oom Schalk het beide Jacques en Christo gehelp om hul rybewyse te kry. Ek het aanvanklik langs Jacques gesit terwyl hy leer bestuur het. Elke keer as ons by die huis kom, wou ek ‘n glas wyn hê. Ek het die hulp van oom Schalk ingeroep om ‘n potensiële alkoholprobleem te vermy. Ek het onlangs aan oom Schalk geskryf om te sê hoe baie ek sy deernis en omgee tydens sy lesse waardeer en dat sy bestuurslesse 10% van die prys van die Switserse lesse was.

Charl het natgesweet van elke laatmiddag se bestuursles gekom. Die kort somer is warm, en volgens regulasies word lugversorgers nie toegelaat nie. Al die sessies moes ook met ’n masker en plastiekhandskoene plaasvind. Die masker het ook sy bril opwasem.

Motor bestuur met masker en handskoene

Sommige verkeersreëls in Switserland is anders as in Suid-Afrika

Sommige verkeersreëls hier in Switserland is heelwat anders as in Suid-Afrika.  Voetgangers het byvoorbeeld meeste van die tyd voorrang en voertuie is wetlik verplig om vir hulle te stop.  As jy by ʼn treinoorgang wag, is jy verplig om jou motor af te skakel en uit rat uit te haal, ten einde koolstof uitlaatgasse te beperk. Die verskillende reëls, spoedbeperkings, nuwe onbekende paaie en regterkantbestuur het die hele bestuursituasie ʼn groter uitdaging gemaak as aanvanklik verwag.

Bestuurtoets

Bestuurstoets

Al die geluk was aan Charl se kant toe hy ‘n verkeersbeampte kry wat ‘n paar jaar in Amerika gewerk het en goed Engels praat. Die beampte het hom baie gemaklik laat voel, en ‘n paar dinge het vroeg in die toets goed gegaan. Die vertrouensnaald het vinnig gestyg, en hy het die papiere gekry wat hom magtig om in Switserland te ry.

Viering van lisensie met SA wyn

Ons het ʼn bottel Suid-Afrikaanse wyn ten duurste gekoop en gebêre vir die dag wat ons rede het om iets te vier. Oor ʼn glas yskoue Tokara Chardonnay kon Charl weer begin droom oor ʼn Europese vakansie in ʼn kampeerwa en ʼn lewe sonder Covid-19. 

Groete

Emsia

One thought on “Toetse op die Switserse pad

Comments are closed.

Comments are closed.