Vincent van Gogh: Lig in die Donkerte

Vincent van Gogh: Lig in die Donkerte

Die lewe en geestesgesondheidstryd van die Nederlandse skilder Vincent van Gogh het my nog altyd gefassineer. Miskien omdat ek iets van sy verlange na lig en kleur verstaan. Ná sewe jaar in Switserland, begin ‘n mens die lang winters en grys dae anders beleef. Wanneer die son uiteindelik deurbreek en die somer die landskap met kleur vul, verstaan ek beter waarom Van Gogh so aangetrokke was tot die helder lig van Suid-Frankryk.

My eerste kennismaking met Vincent was jare gelede deur Don McLean se bekende lied, Vincent, met die onvergeetlike openingswoorde: “Starry, starry night”.

Dit het my nuuskierig gemaak oor die kunstenaar agter die beroemde skilderye. Ek het begin besef dat hy die wêreld met buitengewone sensitiwiteit waargeneem het, maar terselfdertyd diep geworstel het met sy eie innerlike donkerte.

Arles: Waar lig en kleur lewe kry

‘n Paar jaar gelede, het ons deur die Franse platteland getoer en ‘n paar dae in Arles deurgebring. Dit was hier, omring deur Provence se kleurryke landskap en helder sonskyn, waar Vincent een van die produktiefste tydperke van sy lewe beleef het. Die goudgeel sonneblomme rondom die dorp het dadelik my aandag getrek. Dit was maklik om te verstaan waarom hierdie blomme so ‘n belangrike plek in sy kuns ingeneem het.

Arles het vandag ‘n Van Gogh-roete waar besoekers plekke kan ontdek wat met sy lewe en skilderye verbind word. Ons het onder meer die bekende Café Terrace at Night besoek. Hy het die buiteterras in een van sy bekendste skilderye verewig. Later het ons ook die voormalige hospitaal besoek waar hy behandel is nadat hy ‘n deel van sy linkeroor afgesny het.

Afdrukke van sy skilderye hang in die rustige binnehof. Dit was aangrypend om op dieselfde plek te staan waar ‘n man wat soveel skoonheid geskep het, terselfdertyd soveel innerlike pyn beleef het. Hoe naby kan lig en donker soms aan mekaar leef!

Dit is nooit te laat om jou roeping te ontdek nie

Tydens ‘n onlangse Van Gogh-uitstalling in Zürich, het ek geleer dat Vincent eers in 1880, op 27-jarige ouderdom, besluit het om hom voluit aan kuns te wy. Voorheen het hy verskillende beroepe probeer, onder meer as kunshandelaar, onderwyser en lekeprediker.

Daarna het hy hard gewerk, ander kunstenaars bestudeer en sy eie unieke styl ontwikkel. In die ongeveer tien jaar van sy kunstenaarsloopbaan het hy ‘n merkwaardige hoeveelheid werk geskep.

Vandag voel jongmense dikwels dat hulle reeds op twintig presies moet weet wat hulle met hul lewe wil doen. Vincent se verhaal herinner ons daaraan dat ‘n mens se lewe nie volgens ‘n vaste tydlyn hoef te ontvou nie. Soms begin die belangrikste hoofstuk juis wanneer ons dink dit is dalk te laat.

Theo: Die krag van iemand wat in jou glo

Vincent se jonger broer, Theo, verdien ‘n besondere plek in sy verhaal. Theo het hom aangemoedig om sy kuns ernstig op te neem, hom finansieel ondersteun en deur moeilike tye by hom gestaan. Die twee broers het oor die jare honderde briewe aan mekaar geskryf. Hierdie briewewisseling bied vandag ‘n besondere kykie op Vincent se drome en worstelinge. Ek wonder dikwels hoe anders Vincent se verhaal sou verloop het sonder Theo se ondersteuning.

Ons onderskat soms die invloed wat een mens se geloof in ‘n ander kan hê. Dit hoef nie groot gebare te wees nie. Soms is dit ‘n oproep, ‘n besoek, ‘n brief of ‘n paar woorde van bemoediging. Dit verander nie noodwendig iemand se omstandighede nie, maar dit kan hulle help om die krag te vind om nog ‘n dag aan te hou.

Die Geel Huis: ‘n Droom te midde van donkerte

In 1888 het Vincent na Arles verhuis, aangetrek deur die lig en warmte van die suide. Hy het die Geel Huis gehuur met die droom om ‘n kunstenaarsgemeenskap te vestig. Paul Gauguin het hom vir ‘n kort tyd daar aangesluit, maar hulle uiteenlopende persoonlikhede het tot spanning gelei. Kort voor Kersfees 1888, het Vincent ‘n ernstige geestesgesondheidskrisis beleef waartydens hy ‘n deel van sy linkeroor afgesny het.

Ná verdere krisisse het hy hom in Mei 1889 vrywillig by die inrigting Saint-Paul-de-Mausole in Saint-Rémy laat opneem. Selfs daar het hy aangehou skilder. Gedurende hierdie tyd het hy onder meer sy beroemde The Starry Night geskep. Sy verhaal herinner ons daaraan dat swaarkry nie altyd die laaste woord hoef te hê nie.

Wanneer die wêreld jou waarde nog nie raaksien nie

Van Gogh het gedurende sy leeftyd betreklik min erkenning ontvang. Hoewel hy wel enkele skilderye verkoop het, het hy nooit die kommersiële sukses behaal waarop hy gehoop het nie.

Hoe maklik meet ons nie sukses aan erkenning, inkomste of gewildheid nie! Vincent se verhaal herinner my daaraan dat die waarde van ons werk nie altyd onmiddellik raakgesien word nie. Soms sien ander eers jare later die raak wat ons met soveel toewyding geskep het.

Jo Van Gogh-Bonger: Die vrou wat ‘n nalatenskap help bewaar het

Nog iemand wat my diep beïndruk is Jo van Gogh-Bonger, Theo se vrou. Toe Vincent in 1890 sterf, was Theo nog aan sy sy. Theo is egter slegs ses maande later oorlede. Jo was toe 28 jaar oud en het met haar jong seuntjie en Vincent se groot versameling onverkoopte skilderye, tekeninge en briewe agtergebly.

Jo het in Vincent se werk geglo. Met merkwaardige geduld en vasberadenheid, het sy uitstallings gereël, met kunshandelaars en versamelaars geskakel en sy kuns aan ‘n groter publiek bekend gestel. In 1914, het sy ook die belangrike briewewisseling tussen Vincent en Theo gepubliseer.

Dit is grootliks danksy Jo se toewyding dat Vincent se kuns vandag internasionale erkenning geniet. Sy herinner ons daaraan dat ons invloed soms nie lê in wat ons self skep nie, maar daarin dat ons iets waardevols in ander raaksien en help bewaar.

Die lig wat ons nalaat

Toe ek die uitstalling in Zürich verlaat, het ek besef dat Vincent van Gogh se verhaal oor veel meer as kuns gaan. Dit gaan oor die moed om op 27-jarige ouderdom ‘n nuwe pad te begin; oor mense wat in ons glo wanneer ons self twyfel; oor lig soek wanneer die wêreld donker lyk; en oor volharding wanneer erkenning uitbly.

Bowenal gaan dit oor die blywende lig wat ‘n mens se lewe kan nalaat.

Groete

Emsia

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui