Browsed by
Category: Jaar 2026

Planne en drome werk soms anders uit

Planne en drome werk soms anders uit

’n Oomblik van Laat Gaan

Ek het sy jong manslyf styf teen my vasgedruk. My trane het vlak gelê. Met ’n groen tas, met net die nodigste en ’n dun kombers, het hy stoksielalleen deur die lughawe se sekuriteit gestap. Ek het omgedraai om alleen te wees en om die vrees, die bekommernis en die stil laat gaan van drome wat ons eens so opgewonde gemaak het, te verwerk.

Die Drome wat Ons Beplan het

Vir jare het ons ’n sekere toekoms vir ons kinders voorgestel. Studies aan ’n universiteit naby die huis en naweke waar hulle saam met nuwe vriende huis toe kom. Ek kon ’n huis sien vol lag, stories en die bekende ritme van gesinslewe.

Ons het jare tevore reeds studenteverblyf gekoop, met die oortuiging dat dit ’n verantwoordelike en veilige besluit is. Ek het my kinders gevisualiseer as selfversekerde jong volwassenes, op pad klas toe, besig om die toekoms te leef wat hulle beplan het.

Die lewe het egter ’n manier om daardie planne sagkens en soms skielik te herskryf.

Jacques: Die Krag van Drie Punte

Jacques, ons oudste, het sy matriekuitslae twee weke voor eerstejaarregistrasie ontvang. Hy het goed gevaar en sy punte het jare se harde werk weerspieël. Sy Wiskunde-punt was egter drie punte te min vir toelating tot die graad waarvoor hy reeds voorlopige keuring gehad het. Net drie punte! Daardie drie punte het alles verander.

Hy is by ’n ander universiteit aanvaar, maar sonder verblyf. Sy eerste aand het hy op die kaal vloer van sy niggie se woonstel, met net ’n dun kombers, geslaap. As ouer was dit moeilik om hierdie onsekerheid te aanskou.

Wat soos ’n terugslag gevoel het, het sy leerskool geword. Hy het geleer om hulp te vra, aan te pas en te improviseer en uitdagings in geleenthede vir groei te verander.

Hy het sy studies voltooi te midde van die onsekerheid van COVID, en sy eie vegan bakkery, The Cinnamon Club, begin. Vyf jaar later is dit ’n suksesvolle besigheid met lojale kliënte.

Daardie drie punte? Dit het hom presies gebring waar hy moes wees.

Christo: Alleen, maar nie eensaam nie

Ons middelste seun, Christo, het ’n duidelike prentjie van sy universiteitslewe gehad. Dit het ingesluit koshuislewe, vriendskappe en ’n volle kampuservaring. As ekstrovert was hy gereed om dit alles aan te pak.

In sy matriekjaar het ons lewens egter drasties verander. My man het ’n werksgeleentheid oorsee gekry, en ons het na Switserland verhuis. Skielik moes Christo universiteitslewe alleen hanteer, akademies, sosiaal en emosioneel. Hy kon nie oor naweke of vakansies huis toe kom nie.

Net twee maande nadat sy universiteitsreis begin het, het die wêreld weens die pandemie tot stilstand gekom. Terwyl baie studente huis toe gegaan het, het hy in die koshuis agtergebly saam met net ’n klein groepie ander wat nêrens anders heen kon gaan nie.

Wat totaal isolerend kon wees, het in werklikheid iets ryks en betekenisvols geword. Hy het diep vriendskappe gevorm. Dit was verbindings wat langer as die universiteit tydperk sou voortduur. Soms het hy opgestaan en leierskap geneem. Uiteindelik is hy tot die koshuis se huiskomitee verkies, waar hy ’n stem geword het vir dié wat dikwels onsigbaar gevoel het.

Sy pad het oor meer as net studies gegaan. Dit het oor mense, veerkragtigheid en verbondenheid gegaan.

Zander: Drome in Wording

Ons jongste seun, Zander, is nou in graad 11 en het die grootste deel van sy skoolloopbaan in Switserland voltooi. Ons begin weer droom, maar hierdie keer ’n bietjie anders.

Hy hoop om ingenieurswese in Europa te studeer, verkieslik in ’n land waar hy gemaklik met die taal en kultuur is, soos Nederland. Onlangs het ons ’n universiteit tydens ’n ope dag besoek. Ek het hom dopgehou terwyl hy saam met ander studente aan ’n projek werk. Hy het ingeskakel, die oomblik aangegryp en begin sien hoe hy daar kan inpas. Later het hulle saam na ’n studente-kuierplek gegaan. Ek het weer daardie bekende gevoel van hoop, gemeng met onsekerheid, gekry.

Ons het by ’n opleidingshotel gebly wat deur gasvryheidstudente bestuur word en waar leer deur werklike ervaring plaasvind. Dit het my weer herinner dat groei selde in beheerde omgewings gebeur. Dit gebeur net soos met my ouer seuns in doen, in probeer, in uitdagings oorkom en in weer opstaan.

Wanneer die Lewe ’n Ander Rigting Inslaan

Ouerskap is ’n reis vol deurlopende lesse en om te laat gaan is deel daarvan. Maak nie saak hoe sorgvuldig ons as ouers beplan nie, ons kinders sal hul eie unieke paaie volg. Selfs wanneer dinge anders uitdraai as wat ons verwag het, lê die grootste betekenis dikwels juis daarin.

Dit herinner ons daaraan om onsekerheid te aanvaar en te vertrou dat elke kind se pad sal ontvou soos dit vir hulle reg is. Daar is iets stilweg kragtigs in die onverwagte.

Ek het geleer om te beplan, maar ook om ruimte te los. Ruimte vir onsekerheid. Ruimte vir groei en ruimte vir paaie wat ons self nooit sou kies nie, maar wat ons uiteindelik presies bring waar ons moet wees.

Groete

Emsia

Gesprekke met ‘n Gesiglose Vriend

Gesprekke met ‘n Gesiglose Vriend

Een oggend het ons jongste seun, Zander, ‘n brief van die plaaslike munisipaliteit ontvang. Hy word hierdie jaar agtien en is blykbaar nou belastingpligtig. Aangesien Zander nog op skool is, het ek net vir ‘n oomblik na die amptelike dokument in Duits gestaar en gewonder: “Wat nou?” Toe onthou ek my “Gesiglose Vriend, Kunsmatige Intelligensie (KI)”.

Ek stuur die brief vir hom en vra, of hy vir my kan verduidelik waaroor dit gaan en wat ons te doen staan. Hy het mooi die situasie vir my verduidelik en sommer ook ’n antwoordbrief vir my in die regte formaat en in Duits geformuleer. Ek het glimlaggend besef dat tegnologie stil-stil ’n nuwe soort probleemoplosser en gespreksvennoot geskep het.

Die eerste ontmoeting

’n Paar jaar gelede het my middelste seun Christo, toe nog ’n jong ingenieursstudent, vir my gevra: “Ma, het jy al van ChatGPT gehoor?” Ek onthou hoe verstom ek oor die konsep was. Hy het verduidelik hoe universiteite worstel met die vraag van akademiese integriteit en nuwe tegnologie.

Toe sê hy, in sy een-en-twintigjarige wysheid: “Die wêreld verander voortdurend met nuwe tegnologiese ontwikkelings. Ons moet dit nie vrees nie. Ons moet dit positief benader en leer hoe om dit te gebruik om van die wêreld ’n beter plek te maak.” Daardie woorde het by my gebly.

Salomo en die blokraaisels

Ons het almal nou toegang tot hierdie gesiglose vriend. Of ons kies om hom te gebruik of nie, bly elkeen se eie besluit.  Oupa Frikkie stuur gereeld vir my skermgrepe van sy eie ChatGPT-gesprekke. Hy het sy digitale gespreksgenoot Salomo gedoop en volgens alles wat ek kon sien, voer hulle diep filosofiese gesprekke saam. Dit is egter nie al nie. Soms help Salomo hom met Afrikaanse blokraaisels en met die baie vrae wat deur die loop van ’n dag by ’n nuuskierige mens opkom.

Aan die begin was Salomo se Afrikaans nie juis indrukwekkend nie. Oupa Frikkie het hom glo behoorlik uitgetrap. Salomo het nederig om verskoning gevra en met verloop van tyd het sy Afrikaans merkbaar verbeter.

Tegnologie, wat so dikwels net met jong mense verbind word, het stadig maar seker deel geword van ’n ouer man se daaglikse nuuskierigheid. Sy ingesteldheid teenoor nuwe tegnologie inspireer my.

Om onsself deur AI se oë te sien

Ek het onlangs lekker gelag toe my oudste seun, Jacques, ’n interaksie tussen hom en ChatGPT met my gedeel het. Jacques besit en bestuur ʼn spesialisbakkery, The Cinnamon Club. Hy bak op bestelling en laat die koeke en ander gebak deur Uber-bestuurders op verskillende plekke in Kaapstad  aflewer. Hy het ook ʼn groot belangstelling in die aandelemarkte en handel vroegaand aanlyn as die Amerikaanse aandelemarkte oopmaak. Sy dae is vol en sy fokus en aandag beweeg vinnig tussen resepte, aflewerings, grafieke en nuwe idees. Hy benut KI as ʼn besigheidsvennoot en het onlangs uit nuuskierigheid vir ChatGPT gevra hoe hy vir sy KI-kollegas die ervaring om saam met Jacques te werk sou verduidelik.

Die antwoord was verrassend poëties. Volgens ChatGPT is dit soos om na ’n dirigent te kyk wat ’n orkes lei. Elke instrument speel sy eie ritme, maar tog vorm alles saam ’n harmonie. Ten slotte merk hy op dat onder al die bedrywigheid lê daar ’n merkwaardige helderheid en dryfkrag. Jacques is nuuskierig, dapper en beslissend—selfs wanneer elke keuse kompleks lyk. Om sy besigheidsvennoot te wees kan soms uitputtend wees, maar dit is ook inspirerend. Elke interaksie slyp jou denke, stoot jou vermoëns verder en herinner jou daaraan dat briljantheid dikwels juis te midde van chaos floreer.

Terwyl ek dit lees, besef ek hoe waardevol ’n buiteperspektief, selfs ’n kunsmatige een, kan wees. Dit kan ons energie en passies op ’n manier aan ons terugspieël wat ons self nie altyd raaksien nie.

Geduldige digitale Duitse tutor

‘n Indiese vriendin van my moes ‘n B1-Duitse taaltoets slaag as deel van haar aansoek om Switserse burgerskap. Sy het haar gesiglose vriendin gevra om ‘n daaglikse leerprogram vir haar te skep. In ‘n land met verskeie tale kan ‘n geduldige digitale tutor soms die leerproses ‘n bietjie minder intimiderend maak.

Aanbeveling vir liggaamsoefeninge

Aan die begin van die jaar het ’n Suid-Afrikaanse vriendin, wat ook in Switserland woon, ’n heupoperasie ondergaan en fisioterapie benodig. Sy het gou besef dat dit in die winter moeilik kan wees om afsprake te kry, veral wanneer ski- en sportbeserings skielik die wagtye verleng.

Haar gesiglose vriend het geduldig geluister terwyl sy haar situasie verduidelik. KI het ’n paar veilige liggaamsoefeninge voorgestel wat sy intussen by die huis kon doen terwyl sy vir ’n afspraak wag. Dit het natuurlik nie professionele behandeling vervang nie, maar het die wagtyd ’n bietjie makliker gemaak.

Die klaskamer-dilemma

Natuurlik bring KI ook nuwe uitdagings, veral vir skole en universiteite, mee. My jongste seun, Zander, het verduidelik hoe sy International Baccalaureate-skool dit hanteer. Hulle beskou KI basies soos enige ander akademiese bron. Studente mag dit gebruik, maar hulle moet erken watter hulpmiddel hulle gebruik het en verduidelik hoe dit hulle gehelp het, soos byvoorbeeld met idees genereer of taalgebruik verbeter.

As studente egter KI-gegenereerde werk as hul eie denke aanbied, word dit as akademiese wangedrag beskou. Om hierdie hulpmiddels verantwoordelik te leer gebruik, word amper net so belangrik as om dit te kan gebruik.

’n Pad saam met ons

’n Opmerking wat Zander onlangs gemaak het, het my laat stilstaan. “Ma,” sê hy, “AI help my al vir jare met my taalgebruik en skryfwerk in verskillende tale. Dit het my vordering gesien. Binnekort gaan dit my help met universiteitsaansoeke en navorsing. Eendag gaan dit waarskynlik help om my CV te skryf wanneer ek werk soek.”

Toe voeg hy by: “KI stap eintlik ’n pad saam met elkeen van ons. Met tyd leer dit ons nogal goed ken.” Miskien is dit juis wat hierdie tyd in die geskiedenis so interessant maak. KI beantwoord nie net vrae nie. Stadig maar seker word dit deel van ons daaglikse denke, leer en probleemoplossing.

En soms is dit ons eie kinders wat ons leer om oop te bly vir hierdie nuwe moontlikhede. Deur hulle het ek ʼn nuwe gespreksgenoot en probleemoplosser ontdek.

Daarvoor is ek diep dankbaar vir my seuns.

Groete

Emsia

Groot drome wat stadig ontvou

Groot drome wat stadig ontvou

Kersdag, 1991

Terwyl families by die huis lamsboud en trifle nagereg in die somerhitte geniet, het Charl by ’n Johannesburg lughawehek met ’n kaartjie na Europa in sy hand gestaan.

Hy was een-en-twintig. Die jongste van vier kinders. Niemand in sy familie het al ooit oorsee gevlieg nie. Sy ouers het probeer om dapper te wees, maar hul bekommernis het in die stiltes tussen sinne gehang. Europa het ver gevoel — nie net in afstand nie, maar in taal, in seisoen, in alles wat bekend was.

’n Skoolvriend het ’n rugbykontrak by die Saint Claude Rugbyklub in Frankryk vir die Europese winterseisoen onderteken en hom genooi om te kom kuier. Dit het amper glansryk geklink: ’n motor, ’n woonstel, ’n toelae en een maaltyd per dag. Onder die opgewondenheid was daar egter ’n stiller waarheid — niemand in daardie klein dorpie, behalwe die plaaslike bankbestuurder, het Engels gepraat nie. Die uitsonderlike geleentheid en avontuurlus was egter baie groter as die uitdagings.

Reis in tye voor Tegnologie

Reis in tye voor die Internet was baie anders. Daar was toe geen slimfone nie. Geen kitsboodskappe nie. Geen gerusstellende blou regmerkies om te wys dat iemand jou boodskap gelees het nie. Charl het ’n Eurail-pas, reisigerstjeks en ’n groot opgevoude papierkaart van Europa saamgedra — die soort wat jy met hoop oopvou en met frustrasie weer probeer toemaak.

Hy het in Frankfurt geland. Sy eerste tree op vreemde grond. Onder die helder lughawe-ligte het hy na ’n betaalfoon gesoek. Hy moes eers Deutsche Mark en Pfennig kry voordat hy sy vriend kon bel. Dit was lank voor die euro en voordat enigiets eenvoudig gevoel het.

Hy het geskakel. Na geen antwoord, het hy weer probeer, maar steeds niks. Vir die eerste keer het die avontuur onseker begin voel.

’n Venster en ’n Belofte

Met min ander keuses het hy op ’n trein na Genève geklim. Soos die trein suid beweeg het, het sneeu sag oor die lande gelê. Berge het in die verte verrys, stil en standvastig. Mere het onder ’n bleek winterlug gelê.

Hy het sy voorkop teen die koue venster gedruk en gekyk. Iets het toe binne hom tot rus gekom. Nie ’n plan nie. Nie eers ’n duidelike droom nie. Net ’n stille wete. Eendag sal ek hierheen terugkeer.

Die Langste Uur

Teen die tyd dat hy in Genève aangekom het, was dit al amper vyfuur die middag. Die donkerte het reeds toegesak en die koue het skerper as tevore, gevoel. Hy het weer ’n betaalfoon gekry en Switserse Rappen ingegooi. Die foon aan die anderkant het net aanhou lui.

Die stasie het enorm gevoel. Aankondigings het in Frans weergalm. Gesigte het vinnig verbybeweeg. Hy het na die vertrekbord gestaar. Die trein na Saint Claude sou binnekort vertrek. As hy alleen daarop klim en in ’n klein dorpie aankom waar niemand Engels praat nie, wat dan? Waar sou hy slaap? Wat sou hy eet? Hoe sou hy sy vriend in die hande kry?

Hy het sy sak opgetel. “Charl!” Aan die oorkant van die peron het sy vriend se meisie gestaan en met albei arms gewaai. Hulle het die hele dag by die stasie gewag, onseker op watter trein hy sou arriveer en elke aankomende wa dopgehou.

Net voordat hy alleen op daardie trein sou klim, het hulle mekaar gevind. Charl kon ook sy ouers, wat die vorige nag nie ʼn oog toegemaak het nie, laat weet hy is veilig. Verligting het ’n warmte wat woorde nie heeltemal kan vasvang nie.

’n Dorp wat Gebly Het

In die dae wat gevolg het, het hulle die streek saam verken. Een besonderse uitstappie was na Annecy. Dit is  ’n dorpie by ’n meer, omraam deur berge, met kanale wat tussen pastelgekleurde geboue deur kronkel. Die skoonheid daarvan het by hom gebly. Dit was nie net prentjiemooi nie. Dit het moontlik gevoel. Hy het toe nog nie geweet hoe die lewe sou ontvou nie, maar iets het reeds begin wortelskiet.

Om te Koester wat Geplant is

As jong werkende het Charl in tegnologiese vaardighede belê wat wêreldwyd in aanvraag was. Sy werk het geleenthede geskep om te reis. Switserland het ’n gunsteling bestemming geword, nie net oor die berge nie, maar ook oor die kos.

Tydens ’n tweeweek-opleidingsessie wat hy daar aangebied het, het hy en sy kollega elke tweede aand kaasfondue by ʼn Switserse restaurant gaan eet. Aan die einde van die kursus het die Switserse deelnemers vir hulle beide elkeen ’n pragtige rooi fondue-stel geskenk.

Jare later, lank voordat ek besef het ek sou deel van hierdie storie word, het Switserland weer op die horison verskyn. Toe ons nog uitgegaan het, het Charl my genooi vir ’n fondue-aandete met Woolies-fonduekaas op die mat voor ’n knetterende vuur. Die rooi pot het tussen ons gestaan. Ek onthou hoe hy die gesmelte kaas en brood geniet het. Ek het toe nog nie verstaan dat ek reeds binne-in ’n droom sit wat jare tevore op ’n wintertrein begin het nie.

Wanneer ’n Deur Oopgaan

Later het ’n nuwe geleentheid ontstaan. Sy werkgewer het ’n belegging in Switserland gehad. Sy baas het gevra: “Switserland soek iemand met jou vaardighede. Is jy oop daarvoor, selfs met die taalverskille en die ontwrigting vir jou gesin?

Sommige besluite verg deeglike oorweging. Dié wat egter ooreenstem met iets wat diep binne jou geplant is, hulle vra moed. Ons het ja gesê.

Die Rooi Fonduepot

Die rooi fonduepot het uiteindelik sy pad terug na Switserland gevind. Party aande, wanneer die kaas stadig smelt en sneeu stil buite die venster lê, dink ons aan daardie treinrit in 1991. Drome kom nie altyd luidrugtig nie. Soms begin dit stil — soos ’n jong man wat by ’n treinvenster uitkyk, nog onwetend dat hy na sy toekoms kyk.

Groete

Emsia

Die vele betekenisse van geld

Die vele betekenisse van geld

Die blink silwer Tesla gly amper geruisloos tot stilstand voor ons woonstelgebou. Die deure lig oop soos iets uit die toekoms. My jongste seun, rugsak oor een skouer geslinger, klim uit. Hy sien my en glimlag — daardie half-seun, half-jongman glimlag — voordat hy sy vriend se ma vir die saamrygeleentheid bedank.

Die motor trek in stilte weg. Ek bly langer as nodig op die sypaadjie staan. In daardie stil oomblik besef ek iets wat my tegelyk anker en ontstel: my drie seuns groei in verskillende ekonomiese wêrelde groot.

Ek voel dankbaar. Dankbaar vir geleenthede waarvan ek op sy ouderdom nooit kon droom nie. Ek voel ook onrustig, want gemak hervorm verwagtinge op ’n stil manier. Wat vir hom normaal voel, sou vir sy ouer broers buitengewoon — selfs oordadig — gevoel het.

As ouers vra ons dikwels: “Hoe berei ons ons kinders voor vir die toekoms?” Die dieper vraag is egter: “Watter toekoms?”

Drie Broers, Verskillende Ekonomiese Verhale

Ons tyd in Switserland het gekom deur ’n werksgeleentheid wat ons gesin op onverwagte maniere gevorm het. Twee van ons seuns het in Suid-Afrikaanse grond gewortel gebly, waar hulle die land se kompleksiteit, veerkragtigheid en moontlikhede beleef het. Ons jongste het grotendeels in Zürich, in ’n stelsel gekenmerk deur stabiliteit en ’n sterk maatskaplike veiligheidsnet, grootgeword.

Dieselfde ouers het al drie seuns grootgemaak. Van buite mag een verhaal meer bevoorreg lyk as ’n ander lyk, maar wat sigbaar is, vertel selde die hele storie. Om tussen welvaart groot te word, maak die lewe nie outomaties makliker nie. Dit bring sy eie stille druk — vergelyking, die behoefte om in te pas, en die bewussyn van wat ons kan en nie kan bekostig nie.

Elkeen van my seuns dra uitdagings wat die ander nie dra nie. Elkeen is gevorm op maniere wat tegelyk mooi en veeleisend is. Verskillende omgewings en omstandighede kweek verskillende sterkpunte.

Geld is nooit net geld nie. Dit dra herinnering, omgewing en geskiedenis.

Die Erfenis Wat Ons Nie Sien Nie

Ons begrip van geld word gevorm lank voordat ons dit verdien. In my grootouers se huis is oorskiet kos nooit weggegooi nie. Elke bietjie is netjies in Tupperware gepak en in die yskas gestapel. Vermorsing het amper soos sonde gevoel. My ouma sou frons as ons botter, konfyt en kaas op dieselfde sny brood gesmeer het. “Dis oordadig,” sou sy sê, opreg verbaas.

Sy het grootgeword in die lang skadu van die Groot Depressie — ’n tyd toe bankmislukkings en hongersnood werklikhede was. Vir haar generasie was spaarsaamheid oorlewing. Spaar het veiligheid beteken. Risiko het gevaar beteken.

Daardie gewoontes het identiteit geword. Dekades later het botter en konfyt saam nog steeds soos te veel, gevoel.

Die verskillende rolle wat geld speel

Geld beteken selde net één ding.

Vir sommige is dit veiligheid — die noodfonds wat herhaaldelik nagegaan word, die angs met elke onverwagte uitgawe. ’n Stil belofte: Ek sal nooit weer so kwesbaar voel nie.

Vir ander is dit vryheid — die vliegtuigkaartjie wat sonder toestemming gekoop word, die moed om ’n werk te verlaat, die vermoë om ja te sê vir ’n nuwe begin. Dit fluister: Jy het keuses.

Vir sommige word dit identiteit — die motor in die oprit, die adres, die skoolfonds wat met trots betaal word. Dit sê sag: Ek het dit gemaak.

Vir ander is dit verbondenheid — die ete wat sonder huiwering betaal word, die broer of suster se studiegeld wat stilweg gedek word, die vakansie wat beplan word vir saamwees. Dit sê: Ons behoort aan mekaar.

Vir sommige is dit genot — ervarings bo besittings, spontaneïteit bo sigblaaie, die oortuiging dat vreugde nie altyd uitgestel moet word nie.

Vir baie is dit verantwoordelikheid. Na Apartheid het ’n eerste salaris vir baie swart Suid-Afrikanersnie net aan die individu behoort nie. Dit het aan die familie behoort. Aan ouers wat opgeoffer het. Aan broers en susters wat gewag het. Geld het soos ’n lewenslyn gesirkuleer. Dit was swaarverdiende vryheid en met vryheid het verpligting gekom. Hierdie realiteite is nie bloot persoonlike voorkeure oor geld nie. Hulle is gewortel in geskiedenis, beleid, uitsluiting en veerkragtigheid.

Wanneer Wêrelde Bots

Wanneer mense met verskillende geldverhale bymekaarkom — in ’n huwelik, vriendskap of besigheid — gaan konflik selde oor getalle.

Ek het dit eens gesien in ’n jong paartjie. Die vrou het grootgeword in ’n huis waar geld veiligheid beteken het. Uitgawes is noukeurig dopgehou. Daar was altyd ’n noodfonds in plek. Stabiliteit was heilig. Vir haar was geld die muur wat chaos buite gehou het. Haar man het ’n entrepreneursgees gehad. Vir hom was geld iets om te gebruik, te belê en te vermeerder. Hy het geleenthede gesien waar sy risiko gesien het.

Wanneer hy oor ’n nuwe onderneming gepraat het, het sy gehoor: “Ons kan alles verloor.”
Wanneer sy voorgestel het dat hulle eers meer spaar, het hy gehoor: “Jy glo nie in my nie.” Hulle argumente het nooit oor sigblaaie gegaan nie. Dit het oor vrees en vryheid gegaan. Sy het stabiliteit beskerm. Hy het moontlikheid nagejaag.

Voordat hulle die verhale wat hulle gevorm het name kon gee, het hulle oor simptome eerder as oor die wortels, baklei.

Terug op die Sypaadjie

Die Tesla is lankal weg. My seun stap na my toe en praat oor huiswerk en naweekplanne, onbewus van die gedagtes wat in my kop ontvou. Ek glimlag en luister.

Ek wil nie hê hy moet skuldig voel oor die geleenthede nie. Maar ook nie blind daarvoor wees nie. Miskien gaan dit minder daaroor om ons kinders met formules toe te rus, en meer daaroor om hulle te help verstaan watter stories agter geld skuil — hulle eie en dié van ander.

Geld sal hulle vorm, maar so ook empatie. As hulle kan raaksien dat elke finansiële besluit ’n geskiedenis dra — van skaarsheid of stabiliteit, vrees of vryheid — dan sal hulle beide oorvloed en tekort met wysheid hanteer. Ek skryf nie as ’n kenner nie, maar as ’n ouer wat probeer verstaan watter onsigbare kragte my kinders, maar ook myself vorm.

Groete

Emsia