Kies deur watter lens jy gaan kyk

Kies deur watter lens jy gaan kyk

Ek het ʼn paar jaar gelede ʼn kort video gesien wat ongelooflik tot my gespreek het.  In die videogreep, met die titel “Finding the right answers”, deel Dewitt Jones, ʼn fotograaf vir National Geographic, wyshede oor wat sy fotografie hom oor die lewe en besigheid geleer het. 

In uitdagende situasies moet ons keuses maak oor die lense waardeur ons kyk. Soms moet jy wyer kyk, soms moet jy dieper kyk en soms moet jy uit iemand anders se perspektief kyk.  Die Switserland situasie het my nou al ʼn paar maal gedwing om doelbewus  ʼn ander lens te kies.

Jacques kies sy lens om vir niggie Marga af te neem (Ansa van Zyl se foto)

Vlugtelingkamp in Zürich

As deel van die ICS Community Impact klub, besoek ons Vrydae ʼn vlugtelingkamp in Zürich.  Die vlugtelinge is hoofsaaklik mammas en kinders wat uit lande soos Iran, Irak, Sirië en Afganistan gevlug het. Alle Europese lande is verplig om ʼn aantal vlugtelinge te huisves om die lading eweredig te versprei. Die meeste van die vlugtelinge kom Europa binne deur Griekeland, waar die Griekse polisie hulle al redelik rof behandel het. Vandaar word hulle na verskillende lande uitgeplaas.

Hulle bly in die vlugtelingkamp vir drie maande terwyl hulle formele aansoek om amptelike vlugtelingstatus in proses is. Die vlugtelingkamp in Zürich is baie netjies met skoon geriewe vir bad en slaap en hulle kry gekookte kos.  Trauma en onsekerheid is egter duidelik op hulle gesigte sigbaar. Die vlugtelinge praat almal verskillende tale en hulle Engels is baie beperk. Hulle leer Duits praat sodra hulle Switserland binne kom.

Vlugtelingkamp in Zürich

Ons speel speletjies met die kleintjies en kommunikeer deur beperkte Duits, lyftaal, geluide, gesigsuitdrukkings en aanraking. Een dogtertjie het sommer op my skoot geklim om te teken. Terwyl ek nog so liggies oor haar ruggie vryf, het sy na my gekyk en my op die wang gesoen. As uitlanders verstaan die ICS mammas die aanpassing wat ʼn nuwe land vereis. Die groot verskil is dat die vlugtelinge in totale onsekerheid leef, min persoonlike besittings kon pak en nie weer na hulle eie land kan terugkeer nie. Die hele ervaring het ʼn groot impak op my perspektiewe op verandering en aanpassing in ʼn nuwe land.

Scooters

Met Zander se naderende verjaarsdag het hy vir ʼn “Stunt scooter”  as verjaarsdag geskenk gevra, want al die maats hier besit een.  Ons is een middag na skool na die naaste scooter-winkel toe om ons opsies beter te verstaan. Die nuwe Amerikaanse vriend, Nate, is gelukkig saam en hy gee my ʼn volledige tegniese les oor scooters. Na nog twee dae se navorsing op die internet is ek hoogs ingelig en ons reg vir koop.

Skaatspark

Hier in Switserland is baie skaatsparke waar die kinders gaan om hulle toertjies met hulle fietse, scooters en skaatsplanke te oefen. Die scooter verjaarsdag geskenk het my gedwing om ʼn ander lens ten opsigte van skaatsparke op te sit. As ek deur my huidige lens na skaatsparke kyk, sien ek graffiti, tieners met broeke wat laag hang en snaakse goed rook. Nou wil Zander vir sy verjaarsdag met sy nuwe scooter na die naaste skaatspark toe gaan! Ek moet ʼn lens kies wat raaksien dat dit moontlik ʼn goeie manier vir hom is om in te skakel terwyl dit sorg vir gesonde fisiese oefening, in plaas van voor die rekenaar sit.

Ek het vir sy verjaarsdag kolwyntjies gebak en skool toe gestuur saam met servette met mooi Afrikaans gedrukte woorde op. Die Hollandse kinders is baie ingenome dat hulle sommige van die Afrikaanse woorde kon verstaan.

Lens van vertroue

Ek is nog besig om aan my lens van vertroue te werk, maar ʼn onlangse insident het darem gehelp.  In Switserland is dit verpligtend vir alle kinders onder 14 jaar wat fiets of scooter ry, om ʼn helmet te dra. My OCD was so ingenome toe Zander se turkoois helmet presies dieselfde kleur as sy nuwe scooter is. Zander se blink trane in sy oë een middag na skool, het my dadelik laat besef dat daar iewers groot fout is. Die helmet het op die trein se sitplek agtergebly en die trein se deure het voor hom toegemaak om verder te ry toe hy daarvan onthou.

Uit desperaatheid het ek besluit om die sisteme te toets en het die helmet as ʼn verlore item op die trein se webwerf registreer. Ek word sowaar ʼn week later in kennis gestel dat die helmet gevind is en dat ons dit by Stadelhofen treinstasie kan gaan haal. Ek kon ons geluk nie glo nie! By die skool is dit net Zander Goosen se scooter wat met ʼn slot gesluit is in opdrag van sy ma.  Al is die fietsparkering aan die straatkant van die skool, is geen ander kind se fiets of scooter gesluit nie.

Ek terg heel gereeld my huisgenote wie se glase half leeg mag lyk, dat hulle hul brilglase moet skoonmaak en weer na ʼn situasie moet kyk. Switserland dwing my om soms ʼn heel nuwe bril op te sit.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Kies deur watter lens jy gaan kyk

  1. Geniet ek nou jou brief terwyl ek in die vroeë oggend op die bank lê met my Jack Russel wat bang is vir die weer. Net toe ek klaar gelees het, het die reën begin uitsak op die dorre Kalahari…

    1. Mariet ek kan julle sommer daar in my geestesoog op die bank sien. Ek is so bly om te hoor oor die reën. Reën in die Kalahari is baie spesiaal en het die lekkerste reuk! Ek was mal daaroor om sommer kaalvoet in die reën te loop.

Comments are closed.

Comments are closed.