Om met grasie te laat gaan verg moed

Om met grasie te laat gaan verg moed

Om te laat gaan en die gepaardgaande verlies, is tans ʼn tema vir baie mense na aan my. Baie vriende het onlangs ʼn ouer, kind of huweliksmaat verloor. Koningin Elizabeth se afsterwe het dit vir ons almal benadruk.  Die proses van laat gaan besoek ons in verskillende gedaantes, gedurende ons lewens. Dit verg leeuemoed om elkeen van hulle in die oë te kyk.

Om mense te laat gaan

Mense kom in ons lewens vir ʼn rede, seisoen of leeftyd. Dit is gevolglik ʼn realiteit dat mense een of ander tyd sal gaan. Die diepte van die verlies hang af van die diepte van die verhouding.

Wanneer iemand sterf

Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons ʼn groot leemte. Daar is gewoonlik kosbare herinneringe, stories en aandenkings wat ons koester.  Ons laat hulle gaan met groot hartseer maar ook dankbaarheid vir die voorreg om ‘n pad met hulle te kon stap en hulle impak op ons. 

Ons probeer berusting vind in die aanvaarding dat dit deel van ons Skepper se tyd en plan is.

Wanneer mense kies om te gaan

Dit is egter baie moeilik wanneer mense vir wie jy lief is, kies om jou lewe te verlaat. Om hulle met grasie te laat gaan is ʼn liefdesdaad. Anders as met sterfte gaan hierdie verlies met verwerping en selfs skaamte gepaard. Dit is egter belangrik dat ons dit nie verpersoonlik nie, want gewoonlik het dit min met ons te doen.

Mense maak hierdie keuse om te gaan vir verskillende redes. Soms is die verhouding net nie ʼn prioriteit in hulle lewe nie, want hulle wil op `n ander pad of doelwit fokus.  Ander kere skyn die verhouding ʼn helder lig op hulle donker plekke wat hulle nog nie gereed is om te besoek nie.  In baie gevalle weet hulle iets wat ons nie weet nie; hulle ken hul beperkinge op daardie oomblik in tyd.

Wanneer kinders uit die huis uit gaan

My generasie is in die fase van ons lewens, waar ons kinders die nes verlaat. As ouers moet jy hulle toelaat om hulle eie keuses te maak en besluite te neem.  Aanvanklik hou jy jou foon by jou en is gereed vir enige krisissituasie. Die verhouding verander drasties en vir beide partye is daar verlies en aanpassing betrokke.

My 23-jarige seun, wat nou op sy eie voete staan, stuur onlangs vir my ‘n kort video waarin die kliniese sielkundige Jordan Peterson die volgende oor die rol van ‘n ma verduidelik,

Die Freudiane het gesê die goeie Ma faal noodwendig. Dit beteken sy hou op om haar kinders teen die behoefte aan avontuur te isoleer. Die beste kunswerk wat ek hiervan gesien het, is Michaelangelo se Pieta. Dit is ‘n standbeeld van Maria en sy het Christus se volwasse liggaam op haar skoot, maar gebreek en gewond. Dit is die dapperheid van ‘n ma.

Sy laat toe dat dit gebeur, maar fasiliteer dit ook. Sy sê: “Ek verstaan die wêreld daar buite is gevaarlik. Jy kan dalk jou liggaam daar buite in die wêreld verloor, maar as jy hier by my bly, sal jy jou siel verloor.”

Op sy manier het my seun met die aanstuur van die video deernis gewys en erkenning gegee aan die konflik tussen ʼn ma se hart en verstand. Dit het my ook gehelp om op ʼn ander manier na die laat gaan van my jong volwasse kinders te kyk.

Om die bekende te laat gaan

Verandering is deel van groei.  Dit beteken by implikasie dat ons bekende moet laat gaan, die verlies aanvaar en die gerusstelling van sekerheid moet opgee.  Ons het dit baie prakties ervaar met ons verhuising na Switserland 3 jaar gelede.  Dit was baie moeilik om ons huis waarin ons die kinders groot gemaak het, die skool, kerk, vriende, Tafelberg en die wynlande te groet en te laat gaan.

In ʼn nuwe land het ons baie leefstyl veranderinge moes maak en moet ook ʼn nuwe taal leer. Ek hanteer die verlies aan ʼn bekende omgewing, op dieselfde wyse as met mense.  Ek onthou en vier dit wat goed en lekker was en is baie dankbaar vir die voorreg om dit in my lewe te kon gehad het.  Om dit makliker te maak, herinner ek myself gereeld daaraan dat verandering deel van groei is en dat aanpasbaarheid my sterkter maak. ʼn Lewensboek bestaan tog uit verskillende hoofstukke.

Om deel van jou identiteit te laat gaan

Soms ontstaan situasies wat veroorsaak dat dit jy dit waaraan jy jou eie waarde en identiteit heg, moet laat gaan. Ek het eers nadat ek ophou werk het, besef in watter mate ek my identiteit van my beroep laat afhang het.  Daar is baie interne en eksterne faktore wat ons eie identiteitsvorming beïnvloed soos die samelewing, familie, geliefdes, etnisiteit, ras, kultuur, ligging, geleenthede, media, belangstellings, voorkoms, selfuitdrukking en lewenservarings. 

Ouderdom gee ons baie ervaring in die kuns van laat gaan

Soos wat tyd verloop, hoe beter verstaan ek dat ouderdom ons baie ervaring gee in die kuns van laat gaan.  Ons moet heel gereeld dinge en mense wat vir ons lief en kosbaar is, laat gaan.  Oor tyd moet ons die voordele en voorregte wat gesondheid en beweeglikheid meebring, laat gaan. 

Om met grasie te laat gaan is voorwaar ʼn kuns.  Die ingesteldheid waarmee ons dit doen is die groot uitdaging en toets. Ek het baie respek vir diegene wat dit regkry om met waardigheid oud te word.  Koningin Elizabeth was vir my een van daardie mense.

Groete

Emsia

2 thoughts on “Om met grasie te laat gaan verg moed

  1. Pragtig! Baie dankie vir die mooi manier waarop jy die verskillende afskeidspyne beskryf Emsia.

    Wat vir my bitter swaar was om te laat gaan was die “droom” van ‘n gesin – ek dink sulke drome wat mens amper vansselfsprekend neem raak deel van jou. En wanneer jy dit dan laat gaan is dit soos om ‘n stuk van jouself (identiteit) te laat gaan. Eina.

    Maar ja, die lewe is nie vir sissies en ek stem ERII het met grasie deur die op en af oud geword en tog relevant gebly.

    1. Vanessa, jy het dit nou baie raak beskryf. Die hele aspek rondom die afskeid van drome wat deel van jou prentjie van jouself was.

Comments are closed.

Comments are closed.