Ons 10-jaar pad saam met MSC

Ons 10-jaar pad saam met MSC

Ons was baie teleurgesteld toe Booking.com ons in kennis gestel het dat die verhuurder ons vakansieverblyf by die see, gekanselleer het. Ons het gesukkel om verblyf te kry wat bekostigbaar is en aan ons behoeftes voldoen. Ons was verlig toe Charl ‘n e-pos van MSC kry met ‘n gunstige en aanloklike aanbod. Ons het al ʼn paar maal met MSC gedurende die afgelope 10 jaar gevaar.

Ons geskiedenis met MSC

Vakansies moet aan baie verskillende doelwitte en behoeftes voldoen. Jare gelede was ons ‘n hersaamgestelde gesin met twee tieners en ‘n klein seuntjie. ’n Lekker vakansie was gevolglik deurslaggewend om nuwe gesinsherinneringe te bou. Op daardie tydstip het MSC Cruises Suid-Afrika as ‘n bestemming beproef en ons het besluit om hulle uit te probeer.

MSC is ‘n familiebesigheid met ‘n fokus op gesinne. Kinders vaar vry en met drie kinders het dit ‘n groot verskil gemaak. Met ons eerste vaart het ons van Durban na Mosambiek gevaar en ‘n eiland besoek.

MSC was ‘n wenresep vir ons. Almal kon eet wat en soveel hulle wou. Die tieners kon hul geluk nie glo met Italiaanse pizzas en hamburgers wat 18 uur per dag beskikbaar is nie. Ek kon nuwe geregte na hartelus probeer. Snags sus die boot jou in ‘n diep slaap. Charl se gunsteling is om vroegoggend in die jacuzzi te sit wanneer die meeste passasiers nog slaap.

Die MSC-kinderklub bied vermaak en ‘n oppasdiens vir die kinders. Zander het die nuwe vriende en aktiwiteite geniet en kon nie wag vir die openingstyd soggens nie. Die tieners het die Bingo-aande en die sokker op die boonste dek geniet.

Vele bestemmings, tale en kulture

Die skip vaar na verskillende bestemmings en die beste is om vroegoggend ʼn nuwe plek te sien sonder om oor reëlings te bekommer.  Ons het verskillende lande in Afrika, Europa en Suid Amerika op hierdie manier gesien. Engels is die voertaal op al die skepe, maar hulle doen moeite om die tale van die bestemmings te praat. Gedurende ons onlangse Europese vaart het hulle Italiaans, Frans, Duits, Spaans en Portugees gepraat.

Baie Suid Afrikaners werk op die MSC skepe

Mense van Afrika werk graag op die MSC skepe.  Ons het tydens ons afgelope vakansie die meeste Afrikaans in ʼn lang tyd gehoor het. Die eerste MSC skepe wat na die Covid periode gevaar het, was in die suidelike halfrond se somer.  Baie van die Suid Afrikaners het na hierdie seisoen kontrakte aanvaar vir die Europese somer seisoen.  Ek kon hoor hulle verlang, na 9 maande op die see, erg huis toe.

Gelukkig vir ons was daar altyd Suid Afrikaners as deel van die kinderdiensspan.  Zander het gevolglik altyd ʼn jong dame gehad wat na hom gekyk het en in Engels of Afrikaans met hom gepraat het. Ons was tydens sy vyfde verjaarsdag op ʼn vaarvakansie en MSC het hom bederf met ʼn verjaarsdagkoek en ʼn MSC geskenk.

Unieke en spesiale ervaringe

Elke vakansie en elke bestemming het sy eie unieke en spesiale ervaringe.  Ons vaart gedurende 2015 se Kersfeesvakansie sal my altyd bybly.  Op Kersdag het ons by ʼn eiland naby Mosambiek geanker.  Die plaaslike inwoners het die toeriste hartlik met Afrika sang en dans begroet. 

Dit was baie warm en toeriste en eilandbewoners het in die see geswem.  Ons het duikbrille by ons gehad en na die vissies en seesterre in die vlak water gekyk.  Eiland seuntjies, Zander se ouderdom, het saam met hom begin speel.  Al kon hulle mekaar se taal nie verstaan nie, het hulle goed oor die weg gekom. 

Ek het my duikbril vir hulle gegee om te gebruik.  Die reaksie en uitdrukking op hulle gesiggies, toe hulle vir die eerste maal deur ʼn duikbril die seelewe sien, was aangrypend. Ek onthou dit as ʼn heilige en eenvoudige Kersfees waar die regte dinge saak gemaak het.

Die afgelope vakansie

Ons het die afgelope vakansie Italië, Frankryk, Spanje en Portugal besoek.  Die teater vertonings in die aande het gefokus op die kultuur van die lande.  Ek het die musiek en danse, veral die Flamingo danse en Franse burleske vertonings vreeslik geniet.

My gunsteling besoek was Lissabon in Portugal.  Ek was nog nooit in Portugal nie en het vir die eerste keer besef Lissabon lê langs ʼn rivier wat in die Atlantiese oseaan uitmond.  Ons het duisende jellievisse en die mooiste seeskilpad in die riviermonding opgemerk.  In Lissabon het ons met een van die oudtydse trams gery en ons verkyk na die mooi geboue met teëls versier. By die mark het ons heerlike tradisionele vla tertjies “pasteis de nata” geëet.

Ek deel in die video hieronder foto’s van ons onlangse MSC reis

MSC het ons oor die afgelope tien jaar wonderlike geleenthede gebied om plekke te sien, kulturele ervaringe te geniet en gesinsherinneringe te bou.

Groete

Emsia

3 thoughts on “Ons 10-jaar pad saam met MSC

  1. Ongelooflike ervaring – ons kan net droom v sulke ritte – en dit bly ‘n droom vir my. Dankie vir deel en die saamstel daarvan oor soveel jare.

    1. Ek hoop regtig Oom kry iewers die geleentheid om dit te ervaar en so die droom werklikheid te maak. Dit is ‘n baie gewilde manier van vakansie hou vir afgetrede mense. Op ons onlangse vakansie het ons saans voor ete gesit en kyk hoe die afgetrede mense ball room dans by die mooiste musiek. Ek kon sien hoe hulle 25-jarige self weer in ‘n vier en regop houding terugkom. Dit was vir my ‘n inspirasie.

Comments are closed.

Comments are closed.