Browsed by
Category: Avonture

Selekteer die kategorie van briewe wat jy wil lees.

Griekeland bly roep ons terug

Griekeland bly roep ons terug

‘n Verpaste veerboot in Athene

Ons EasyJet-vlug vanaf Londen het net ná sonsopkoms in Athene geland. Ek het deurnag gewerk en reguit van die kantoor af lughawe toe gegaan.  Die opgewondenheid van ‘n welverdiende vakansie het die moegheid laat verdwyn, die oomblik to ons van die vliegtuig afklim.

Met die uitstap na buite het dit gevoel asof iemand die oond se deur wawyd oopgelos het. Ons taxibestuurder het, met Griekse musiek oor die luidsprekers, deur die oggendverkeer gejaag asof hy aan ‘n Formule 1-wedren deelneem.

Ons het die vakansie sorgvuldig beplan met ‘n tent, rugsakke, besprekings en selfs ‘n kleurgekodeerde reisplan. Daar was net een ding waarvoor ons nie voorsiening gemaak het nie: om die veerboot te verpas.

Uitasem het ons by die kaartjiekantoor ingestorm. “Die veerboot het reeds vertrek,” was die man agter die toonbank se woorde. “Wat bedoel jy dit het vertrek?” Hy het na my sorgvuldig voorbereide reisplan gekyk en aanbeveel. “Verander jou plan.”

Drie woorde ons manier van reis verander

Dit was dertig jaar gelede, maar daardie drie woorde het my nooit verlaat nie. Elke keer wanneer die lewe my met ‘n toe deur of ‘n onverwagte ompad konfronteer, dink ek terug aan die Griekse man agter die kaartjietoonbank.

Destyds het ek gedink hy gee bloot reisadvies. Ek het eers later besef dit was ‘n eenvoudige les oor hoe ‘n mens deur die lewe behoort te beweeg.

Hoekom Griekeland ons aanhou terugroep

Sommige plekke beïndruk jou een keer. Griekeland het stilweg deel van ons lewensverhaal geword.

Dit is nie net die asemrowende natuurskoon wat ons telkens teruglok nie; dit is die mense. Keer op keer het ons ‘n stille gasvryheid ervaar wat niks terugverwag nie. Families verwelkom vreemdelinge soos ou vriende. Mense geniet etes stadiger en die lewe voel net eenvoudiger. In daardie rustige oomblikke besef jy hoe skaars opregtheid geword het.

Gesinsherinneringe in Griekeland

Toe ons oudste seun, Jacques, net 13 maande oud was, het ons saam met hom in Griekeland gaan kamp. Elke aand het ons na die plaaslike taverna gestap vir Griekse slaai, vars brood en tzatziki. Sodra die musikante begin speel het, het Jacques waggelend die dansvloer ingevaar. Die ander gaste het geglimlag, hande geklap en sy klein danspassies deel van die aand se vrolikheid gemaak.

By die kampterrein het studente tot laatnag gesels en gelag. Wanneer hulle uiteindelik stil geraak het, het Jacques oorgeneem. Gewapen met ‘n klippie en ‘n leë Coke-blikkie het hy met sonsopkoms sy eie perkussiekonsert begin en die stil oggend met dieselfde entoesiasme begroet waarmee hy die vorige aand gedans het.

Met ons terugkeer na Kaapstad het ons uitgevind dat Jacques ‘n boetie gaan kry. Ons het hom Christo genoem. Hoewel dit ‘n familienaam is, het dit nog meer betekenis gekry omdat dit afkomstig is van die antieke Griekse woord Christos, wat “die Gesalfde” beteken. Oral in Griekeland word jy daaraan herinner dat hierdie landskappe deel van die Nuwe Testament wêreld was.

Jare later, tydens die COVID-pandemie, het ons weer teruggekeer. Dit was toevallig tydens die FIFA Wêreldbeker. Gaste van verskillende lande het saam op die grasperk by ons verblyf vergader om die wedstryde te kyk. Vir ‘n paar uur het vreemdelinge vriende geword.

Hoekom ons Kefalonia gekies het

Ons afgelope vakansie het oor meer gegaan as net nog ‘n mooi eiland. Ons het rus nodig gehad, tyd om te dink en geestelik voor te berei vir ‘n nuwe seisoen van afsluiting, nuwe begin en verandering. Kefalonia was presies wat ons nodig gehad het.

Die Griekse gasvryheid het sigbaar geword in die twee pragtige huisies waar ons gebly het. Ons gashere het ons bederf met bottels plaaslike Robola-wyn, sonryp perskes, druiwe, spanspek en tuisgemaakte baklava. Elke besoek het geëindig met dieselfde vraag: “Is alles reg? Het julle enigiets nodig?” Dit het nooit soos kliëntediens gevoel nie; eerder soos opregte vriendskap.

Ons eerste huisie het aan ‘n Belgiese egpaar behoort wat hul winters op die eiland deurbring. Binne was ‘n kas vol bordspeletjies. Gou het ons aande ontaard in uiters mededingende Scrabble-wedstryde. Die stel was in Frans, daarom het ons besluit dat woorde uit enige taal sou tel.

Met ons aanbeweeg na die tweede huisie, wou ons die kompetisie voortsit. Charl het die grootste speelgoedwinkel in Argostoli gebel en was verheug om te hoor dat hulle Scrabble in voorraad het. Nadat ons oor die berge en dwars oor die eiland gery het, het ons die boks triomfantlik oopgemaak. Elke letter was Grieks. Ons kon net lag. Ek het nuwe waardering vir die Grieke ontwikkel wat meer as een alfabet moet aanleer.

Kefalonia se mooiste plekke

Kefalonia voel asof die natuur besluit het om haar mooi te vertoon. Berge tuimel af na ongelooflik blou see, woude bedek die heuwels en agter byna elke draai wag ‘n versteekte baai.

Myrtos-strand

Toe ons bo-op die krans by Myrtos-strand staan, was ons sprakeloos. Onder ons het die see geskitter in skakerings van turkoois en saffier, omraam deur indrukwekkende wit kranse. Die kronkelpad af strand toe was amper net so onvergeetlik soos ons eerste swem.

Melissani-grot

Die Melissani-grot was ewe betowerend. Sonlig het deur die ineengestorte dak gestroom en die ondergrondse meer in vloeibare saffier verander. Terwyl ons roeibootjie oor die kristalhelder water gegly het, het dit gevoel asof ons in die lug dryf.

Argostoli en die karetseeskilpaaie

In Argostoli het ons oor die historiese De Bosset-brug gestap en afgekyk na bedreigde karetseeskilpaaie wat rustig deur die helder hawewater geswem het.

Fiskardo – ‘n Dorpie waar tyd stil gaan staan het

Een van my gunstelingplekke bly Fiskardo, een van die min dorpies wat die verwoestende aardbewing van 1953 oorleef het. Die kleurvolle Venesiaanse geboue en blomryke waterfront laat dit voel asof tyd daar stadiger verloop.

Antisamos-strand en Captain Corelli’s Mandolin

Naby ons huisie was Antisamos-strand, bekend uit die film Captain Corelli’s Mandolin. Ek het die fliek jare gelede geniet. Dit het soos ‘n klein geskenkie gevoel om die DVD op die rak van ons huisie te ontdek, asof die eiland ons stilweg aan sy eie verhaal herinner.

‘n Bootvaart om die Mitiese Ithaka

Een van die hoogtepunte van ons vakansie was ‘n bootvaart om die naburige eiland Ithaka, die legendariese tuiste van Odusseus. Terwyl ons verby afgesonderde baaie en rotsagtige kuslyne gevaar het, was dit maklik om te verstaan hoe hierdie landskap die Griekse mites geïnspireer het.

Twee keer het die kaptein eenvoudig die boot gestop en almal genooi om in die glashelder see te spring. Later het ons rustig middagete geniet in slaperige vissersdorpies waar niemand haastig was nie. Daardie stadige lewenstempo het gou aansteeklik geword.

Wat Griekeland ons geleer het

Dertig jaar gelede, in ‘n besige kaartjiekantoor in Athene, het ek gedink “Verander jou plan” is die slegste reisadvies wat ek nóg ontvang het. Vandag weet ek beter.

Van ons grootste avonture, kosbaarste herinneringe en diepste vriendskappe het ontstaan toe ons planne nie uitgewerk het soos ons verwag het nie. Griekeland het ons geleer om stadiger te leef, ruimhartige mense raak te sien en te vertrou dat die onverwagte ompaaie dikwels die mooiste deel van die reis word.

Miskien is dit waarom Griekeland ons telkens terugroep. Dit is nie net die turkoois see, die bergdorpies of die eindelose somersaande nie. Dit is die herinnering dat, terwyl ons ons eie planne maak, die lewe dikwels ‘n mooier verhaal skryf as wat ons ooit self sou kon uitdink.

En wanneer die plan verander, probeer ons saam verander.

Groete

Emsia

Kaapstad is meer as ‘n bestemming

Kaapstad is meer as ‘n bestemming

Terwyl die vliegtuig sy landing begin, sit ek vasgenael teen die venster. Daar is dit. Tafelberg staan trots bo die Moederstad, met die Atlantiese Oseaan wat onder dit glinster. Skielik oorweldig emosies my: heimwee, dankbaarheid, opgewondenheid… en ook ‘n stille hartseer.

Waarom Kaapstad My Altyd Huis Toe Roep

Vir 27 jaar was Kaapstad ons tuiste voordat ons na Zürich verhuis het. Maak nie saak hoeveel keer ek terugkom nie, dié stad herinner my telkens daaraan dat sommige plekke nooit regtig jou hart los nie. Hierdie besoek is besonders kosbaar. Ons is hier om tyd saam met my volwasse seuns, my suster en haar kinders deur te bring. Daar is iets diep vertroostend daaraan om rondom ’n tafel te sit, saam te eet, oor ou stories te lag en nuwe herinneringe te skep.

Om in Switserland te woon, het ons aan ‘n wonderlike internasionale gemeenskap blootgestel. Baie van ons vriende het reeds op verskeie kontinente gewoon en reis graag. Deur die jare het hulle my van hul gesinsvakansies in Suid-Afrika vertel. Byna sonder uitsondering beskryf hulle dit as een van hul kinders se gunstelingbestemmings. Hulle onthou die dramatiese landskappe, onvergeetlike wildlewe, heerlike kos en, bowenal, die warmte van die mense.

Baie vriende droom daarvan om Suid-Afrika te besoek, maar huiwer oor wat hulle op die nuus of sosiale media sien. Hul vraag is amper altyd dieselfde: “Sal ons veilig wees?” My antwoord is eenvoudig: ja, met sinvolle beplanning en bewustheid kan jy Kaapstad met gemoedsrus geniet.

Om Veilig en Ontspanne in Kaapstad Rond te Beweeg

Kaapstad is nie bloot ‘n plek wat jy besoek nie; dit is ‘n plek wat jy beleef. Om elke draai wag nog ‘n asemrowende uitsig, ‘n versteekte strand, ‘n bergpaadjie, ‘n wynplaas of ‘n koffiewinkel wat jou uitnooi om net ‘n bietjie langer te vertoef.

Omdat die stad oor ’n groot area versprei is, verg rondbeweeg beplanning. Anders as baie Europese stede is openbare vervoer beperk. Vir gerief en gemoedsrus beveel ek Uber of Bolt aan eerder as om ’n motor te huur. Dit is bekostigbaar, betroubaar en wyd beskikbaar.

Een Uber-rit het egter om ‘n heel ander rede by my gebly. Nuuskierig oor sy agtergrond vra ek die bestuurder waar hy vandaan kom. Kort voor lank vertel hy ons van sy familie in Zimbabwe, die tale wat hy praat en sy drome vir sy kinders. Dit het my weer herinner dat reis oor mense eerder as bestemmings gaan. Dikwels is dit die gesprekke tussen die besienswaardighede wat die langste by ‘n mens bly.

My gunsteling manier om Kaapstad te verken is op die Hop-On Hop-Off-bus. Dit verwyder die stres van bestuur en laat jou die skouspelagtige natuurskoon met al jou sintuie geniet. Met die wind in ons hare en kameras in die hand het ons Groot Constantia verken en deur Houtbaai gewandel en gekyk hoe robbe in die water speel. Na ʼn varsgebakte vis-en-skyfies maaltyd, het ons die dag met die son wat agter die Twaalf Apostels in Kampsbaai sak, afgesluit.

Waar om in Kaapstad Tuis te Gaan

Waar jy tuisgaan, kan ‘n groot verskil aan jou vakansie maak. Hierdie keer het ons Century City gekies omdat dit presies aan ons familie se behoeftes voldoen het: veiligheid, gerief en genoeg om ons jong volwassenes besig te hou.

Slegs 15 tot 25 minute van Kaapstad se middestad af, kombineer Century City moderne leefstyl met pragtige groen ruimtes. My nefie en niggie, wat op ’n plaas woon, het veral daarvan gehou om een van Afrika se grootste winkelsentrums te verken. Elke oggend het begin met my suster se tuisgebakte karringmelkbeskuit voordat ons deur die rustige vleilande van nabygeleë Intaka-eiland gestap het.

Die Beste Tyd om Kaapstad te Besoek

Winter is dalk nie die voorkeur keuse nie, maar vir ons was dit perfek. Vlugte en verblyf was goedkoper, restaurante het uitstekende winteraanbiedinge gehad en die koeler weer was perfek vir besigtiging.

Elke seisoen het sy eie bekoring. Somer behoort aan strandliefhebbers. Herfs is ‘n gunsteling onder plaaslike inwoners vir bergstap en wynproe, terwyl lente die Wes-Kaap in ’n see van veldblomme verander.

Kaapstad se Kosverhaal: ‘n Smeltkroes van Geure

Vir my 17-jarige seun was een van die grootste hoogtepunte nie ‘n beroemde landmerk nie, maar die oorvloed bekostigbare vleis van uitstekende gehalte en vars seekos. In Switserland, waar vleis duur is, het dit soos ‘n luukse gevoel.

My familie is beesboere, en my suster het ons verras met ‘n koelhouer vol plaasvars beesvleis. Baie aande het ons nefie dit op die woonstel se stoep gebraai terwyl ons lank ná ete nog om die tafel gekuier het.

Kaapstad vertel sy geskiedenis deur sy kos. As belangrike hawe op die antieke speseryroete het die stad ‘n ontmoetingsplek van kulture geword en nêrens is dit duideliker as om die etenstafel nie.

Die Warmte van Suid-Afrikaanse Gasvryheid

Mense kom dikwels vir die natuurskoon. Hulle keer terug oor die mense.

Wanneer ons in Kaapstad land, staan ons altyd vir ‘n oomblik stil om die warmte en positiewe energie om ons in te neem. Mense groet mekaar hartlik. Gesprekke begin sommer vanself. Gelag klink oral.

Ons het al baie pragtige plekke regoor die wêreld besoek, maar nêrens het ek gasvryheid beleef soos in Suid-Afrika nie. Besoekers word nie net verwelkom nie. Hulle word laat voel dat hulle  hoort.

Die Onverwagte Vreugde van Saam Reis

Terwyl ons op die Hop-On Hop-Off-bus gereis het, het ‘n jong man gevra of hy die dag saam met ons kon deurbring. Aanvanklik was ons verbaas, maar kort voor lank het ons stories uitgeruil, foto’s van mekaar geneem en saam soos ou vriende gelag.

Anthony het van Ghana af gekom om ‘n Hotel- en Gasvryheids-ekspo in Kaapstad by te woon. Toe hy hoor dat my suster se kinders daarvan droom om in toerisme te werk, het sy gesig sommer begin straal terwyl hy sy ervaring en aanmoediging met hulle gedeel het.

Teen die einde van die dag het ek besef ons het veel meer as net ‘n reisgenoot ryker geword. Hy het my herinner dat saam reis nie net veiliger voel nie, maar dikwels die deur oopmaak na die mooiste menslike ontmoetings.

Ons het as vreemdelinge op die bus geklim. Ons het as vriende afgeklim.

Waarom Ek Hoop Meer Internasionale Vriende Ontdek Suid-Afrika

Wanneer ‘n internasionale vriend vir my sê: “Ek wil so graag eendag Suid-Afrika besoek,” glimlag ek. Want ek weet reeds wat op hulle wag.

Sommige plekke beïndruk jou. Kaapstad bly by jou. Sy mense, sy geure en sy lig bly lank ná jou terugvlug in jou gedagtes hang.

Ek hoop dat ek eendag persoonlik by Kaapstad Internasionale Lughawe sal staan om hulle te verwelkom in die stad wat my gevorm het, die stad wat steeds soos huis voel en die stad wat ‘n besonderse manier het om ‘n plek in jou hart te vind.

Groete

Emsia

Die Duitse benadering tot welstand

Die Duitse benadering tot welstand

Ek het in ’n land ryk aan verskeidenheid van natuurervarings, grootgeword. Daar is groot verskille tussen see, berg, bos, woestyn en woud, maar elke streek bring sy eie ritme van genesing en rustigheid – fisies, emosioneel én geestelik.

As kind het ek met my kaalvoete in die rooi Kalahari-sand grootgeword. Daar is ruimte. Daar is stilte. In die afwesigheid van geraas leer mens om te luister — na die wind, die voëls, en na jouself. As die son sak, ontvou een van die helderste sterrehemels op aarde. In die Kalahari het ek geleer welstand beteken wees stil, luister en leef stadig.

Later, het ek as jong werkende, in die skaduwee van Tafelberg begin woon.

My hart het in ritme met die see begin klop en die oseaan het my natuurlike terapeut geword. Met my voete in die koel wit sand het ek gevoel hoe die wêreld se gewig saam met elke golf wegspoel. Die sout lug, swaar van negatiewe ione en die reuk van kelp,  is soos ’n tonikum vir liggaam en gees. Dit reinig, verfris en herinner mens om weer dieper asem te haal.

Die Duitse weg tot welstand

Nuwe ontdekkings het op ons in Europa gewag. In die Duitssprekende lande — Switserland, Duitsland en Oostenryk — het ons ’n ander benadering tot welstand leer ken. Hierdie benadering is diep gewortel in eeue van tradisie en pas perfek by die natuurlike omgewing en klimaat. Hier het ons kennis gemaak met die Kurhotel, oftewel die “genesingshotel”.

’n Kurhotel is veel meer as ’n luukse spa. Dis ’n plek waar mense heen kom om liggaam en gees te herstel, onder die sorg van kundiges en met die natuur as bondgenoot. Hier vloei mediese sorg, natuur en ontspanning saam tot ’n unieke ervaring van balans.

Die hotelle lê in erkende kuuroorde, waar die lug kristalhelder is, die water minerale dra, en die ritme van die lewe stadiger klop. Binne wag dokters, fisioterapeute en welstandspesialiste wat elke gas se behoeftes verstaan. Daar word alles aangebied — van hidroterapie, massering en joga, tot saunas, bewustheidswerksessies en eenvoudige, gesonde kos.

Wat my veral beïndruk het, is dat in Duitsland sommige van hierdie Kur-verblywe deur mediese fondse gedek word. Dit wys hoe die Duitsers welstand as deel van gesondheid beskou — nie as ’n luuksheid nie, maar as ’n noodsaaklikheid vir volhoubare lewenskwaliteit.

Die genesende gees van Bad Wörishofen

Ons het onlangs die lieflike kuuroorddorp Bad Wörishofen besoek. Dit is ’n plek wat tot vandag toe asemhaal in die gees van Sebastian Kneipp. Ek was diep geraak deur sy lewensverhaal en die blywende invloed wat hy op hierdie dorpie gehad het. In die dorp verwys hulle sommer na Kneippstadt.

Ek het eers in Europa met Kneipp se produkte kennis gemaak en gebruik dit graag as geskenke vir familie en vriende wanneer ek Suid-Afrika toe reis. Om meer oor sy denke te leer, het my waardering vir sy produkte verdiep.

Sabastian Kneipp, die Beierse priester

Kneipp (1821–1897) was ’n Beierse priester wat geglo het dat die natuur self die grootste geneser is. Nadat hy homself van tuberkulose genees het deur in die koue Donau te bad, het hy ’n holistiese gesondheidstelsel ontwikkel wat mense wêreldwyd steeds inspireer.

Sy benadering berus op vyf eenvoudige, maar kragtige pilare:

  • Waterterapie – warm en koue baddens wat die bloedsomloop stimuleer.
  • Kruiegeneeskunde – natuurlike middels en tees vir innerlike herstel.
  • Beweging – die genesende waarde van daaglikse stap en vars lug.
  • Voeding – eenvoudige, plantgebaseerde kos wat voed eerder as vul.
  • Balans – rus, stilte en geestelike vrede as deel van gesondheid.

Toe hy in 1855 die pastoor van Wörishofen geword het, was dit ’n klein, nederige dorpie. Onder sy leiding het dit verander in ’n oord van genesing en hoop. Mense van regoor Europa het gekom om deur hom behandel te word — nie net om siekte te oorwin nie, maar om hul lewensenergie en balans terug te vind.

Vandag leef sy nalatenskap voort. Bad Wörishofen bied steeds Kneipp-wandelpaaie, kaalvoetroetes en watertrapbaddens, en die dorp se Kurhotelle eer sy vyf pilare van welstand. In 2021 het UNESCO die Kneipp-Kuur as Ontasbare Kulturele Erfenis erken — ’n welverdiende eer vir ’n eenvoudige priester wat geglo het dat water en geloof saam kan genees.

Bad Wolishofen Therme

Die Bad Wörishofen-termiese spa het ons asem weggeslaan. Die hoofswembadarea, bekend as “Thermenparadies,” is pragtig ontwerp, met regte palmbome wat ’n eksotiese, tropiese atmosfeer skep. Dit bied areas wat jou lyf met lugborrels masseer en selfs ʼn swembadkroeg. Dit is die perfek om in die warm water te ontspan en kuier.

Die spa maak gebruik van staat-gesertifiseerde termale geneeswater wat uit ’n diepte van 1 100 meter kom. Daar is verskeie mineraalryke baddens, elk met unieke genesende eienskappe: soutwater, swael, jodium-selenium en kalsium-litium. Die watertemperatuur wissel tussen 34 en 38 °C, wat heerlik ontspannend is. Die Vitality Bath & Sauna-area bied ’n groot verskeidenheid van 15 temasaunas en stoomkamers om te verken.

Die spa word omring deur uitgestrekte tuine van 163 000 vierkante meter, waar jy kan stap, rus of op jou gemak kaalvoet rondwandel. Die tuine bevat afdelings vir kruie, geurplante en medisinale plante—’n ware vreugde vir enigiemand wat Kneipp-terapie waardeer. Daar is ook ’n 1 500 meter lange “barfußweg” (kaalvoetpad) wat jou uitnooi om oor verskillende natuurlike oppervlaktes te stap en die natuur met elke tree te beleef.

Ware welstand begin in die natuur

Daar is ʼn goue draad wat loop tussen die verskillende plekke waar ek gewoon het. Die stil rooi Kalahari sandduine, die koue Atlantiese golwe van Kaapstad, en die warm minerale baddens van Europa is verskillend, maar tog diep verbind.

Al hierdie plekke fluister dieselfde waarheid: ware welstand begin in die natuur.

Dit lê in stilte en asemhaling, in sonlig en water, in eenvoudige rituele van rus en teenwoordigheid. Mag ons almal weer leer om stadig te leef — om kaalvoet in die sand te loop, die see se sout te ruik, diep asem te haal, en die natuur toe te laat om ons te herstel.

Groete

Emsia

Ontsag vir die natuur se grootheid en krag

Ontsag vir die natuur se grootheid en krag

As ek ‘n tema vir ons afgelope somervakansie moes kies , sou dit beslis “krag van die natuur” wees. Ons het plekke besoek wat hemelsbreed verskil van dit wat ons ken – van vuur en lawa tot sand- en seestorms. Elke bestemming het ons herinner hoe klein en magteloos ons eintlik teenoor Moeder Natuur is.

Ysland – Land van Vuur en Ys

Charl se droom om Ysland te sien het hierdie jaar waar geword. Ons hou van bootvakansies. Dit bied vir ons ’n sorgvrye vakansie en skep die geleentheid om baie plekke te sien sonder om gedurig in- en uit te pak.

Ons het met ’n Holland America-skip vanaf Rotterdam vertrek en koers gekies na Reykjavik, Ysland se hoofstad.

Ons eerste stop was die pragtige  Ålesund in Noorweë. Vandaar het ons Ysland se asemrowende fjords, met hul klein vissersdorpe en stil natuurskoon, verken. Game of Thrones verfilming het in sommige van hierdie plekke plaasgevind.

Ons het lank uitgesien na ons besoek aan die Blue Lagoon, een van Ysland se grootste trekpleisters. Enkele dae voor ons aankoms, breek ’n vulkaan naby die lagoon uit! Die spa moes sluit omdat die lawa paaie onbegaanbaar gemaak het. Ek het die situasie op sosiale media dopgehou en gelees hoe owerhede deur die nag gewerk het om paaie weer vir besoekers toeganklik te maak.

Aktiewe vulkaan

Ons huurmotorrit na die lagoon was ’n ervaring op sy eie. Die landskap, gevorm deur ’n uitbarsting meer as 800 jaar gelede, was iets om te aanskou. Soos ons nader beweeg, kon ons sien waar die vars lawa oor paaie gespoel het. Dit het soos swart modder gelyk. Hulle het keerwalle gebou en nuwe paaie gemaak om verkeer toe te laat. Mense het langs die pad gestop om foto’s en drone-videos te neem. En ja, ons kon self die vulkaan sien uitbars – van ’n veilige afstand af natuurlik. Dit was ongelooflik! Ons het skielik so klein gevoel teen die grootheid van die skouspel wat ons kon aanskou

Ons het tydens ons vaart die arktiese sirkel oorgesteek en ook Ysland se Middernagson, met byna 24 uur se daglig ervaar. Hierdie unieke daglig-siklus is een van Ysland se vele wonders. Winter bring korter dae met net ’n paar ure sonlig.  Dit maak dit dan weer moontlik vir besoekers om die Noorderligte te sien, want in die donker wintermaande is die nag lank genoeg sodat die aurora helder in die lug kan dans. Ek hoop ek het eendag die voorreg om dit ook te sien!

Geotermiese Blue Lagoon

Gelukkig kon ons darem steeds die Blue Lagoon besoek. Hierdie geotermiese spa is uniek – die warm, mineraalryke water het ’n sagte blou kleur en is bekend vir sy gesondheidsvoordele. Die water kom van  2000 meter diep in die aarde uit en bly lekker warm – tussen 37°C en 40°C – ongeag van die buitetemperatuur.

Die Blou Lagoon het toevallig ontstaan nadat stoom wat deur die geotermiese kragstasie by Svartsengi vrygestel is, gekondenseer het. Aanvanklik het hulle gedink die water sou in die lavaveld insypel, maar oor tyd het sediment die lava dig gemaak en die lagoon het bly groei.

By die spa is daar ’n masker-kroeg! Jy kon kies tussen silika-modder, alge, minerale of selfs ’n lavascrub. Ná die tyd het ons velle sag gevoel en ons was lekker ontspanne – reg vir die volgende avontuur.

Sandstorm in La Goulette, Tunisië

La Goulette, ‘n hawestad in Tunisie het dadelik soos Afrika gevoel. Die mense was gasvry, warm en verwelkomend en die markte vol speserye, lapwerk, keramiek en tradisionele kunswerk. Die dag met ons besoek was bloedig warm. Na ons rondloop in die ou stad en markte, is ons vroeg terug boot toe om in die swembad af te koel.

Terug in die kajuit kon ek aanvoel die lug verander. Ek het ons nat swemklere van die balkon af ingebring – net betyds! ’n Sandstorm het oor ons getrek, die lug het oranje geword en toe hoor ons iets breek. Dit was die swembadstort se glas. Swembad dekstoele en mense se klere het deur die lug die see in gewaai. Ons kajuit was op die 11de vloer en een van stoele het ’n merk op ons balkon se houtreëling gelaat.

Dit is blykbaar nie iets wat elke dag gebeur nie, maar dis deel van die lewe in ’n streek wat deur die Sahara beïnvloed word. Vir meeste inwoners is dit maar net ’n tydelike ongemak, maar vir ons was dit ’n skrikwekkende en unieke ervaring.

Seestorm en brand in Marseille, Frankryk

Toe ons Marseille se hawe nader, het ek gevoel die skip veg teen die elemente. Die see was onstuimig en vol wit skuimkoppe, amper soos die Kaapse Suid-Ooster op ’n dol dag! Die kaptein het dit reggekry om die skip veilig in die hawe te bring, met hulp van twee baggerbote wat die skip die hele dag in posisie moes hou. Ons stappie na die hawe shuttlebus toe was uitdagend en het ons windverwaaid gelaat.

Later die dag het ons rook opgemerk en gesien hoe ’n geel vliegtuigie kort-kort water skep en dit in die rigting van ’n bosbrand laat val. Skielik het almal op die skip se selfone begin vibreer en ’n onaardige geluid gemaak.  In rooi letters kon ons sien dit is ’n Veiligheidswaarskuwing. Almal wat aan die Marseille selfoontoring gekoppel was, het dit ontvang. Die brand het veroorsaak dat sommige busse met passasiers op ’n daguistappie, nie betyds terug kon kom nie. Die skip het later as beplan vertrek, maar ons was veilig.

Dankbaarheid en Respek

Na elke seestorm, elke rookwolk, elke sandstorm en vulkaanuitbarsting, het ons met nuwe oë na die wêreld begin kyk. Hierdie vakansie het ons nie net verstom met natuurskoon nie, dit het ons ook gewys hoe ongelooflik kragtig die natuur is en hoe klein ons eintlik is.

Ons is dankbaar om weer veilig by die huis te wees, met herinneringe wat ons vir altyd sal dra en ‘n nuwe respek vir die aarde se kragte.

Groete

Emsia

Vriendskap en nuwe insigte in Nepal

Vriendskap en nuwe insigte in Nepal

Zander het ’n wonderlike geleentheid gehad om Kathmandu in Nepal as deel van ’n skooluitstappie te besoek. Zander se skool, ICS in Zürich, het ‘n vennootskap met Shree Mangal Dvip (SMD) in Nepal. Die vennootskap is toegewyd aan opregte interkulturele uitruiling, wêreldburgerskap en transformerende onderwys. Oor die afgelope twee dekades het ICS studente van SMD verwelkom om hul IB-diplomas te voltooi.  Die ICS-skoolgemeenskap staan ook saam om fondse in te samel vir die verbetering van SMD se fasiliteite en onderrig.

Ons as ouers het ’n opgewonde groep graad 10 leerders op die lughawe afgesien. Die res van hierdie brief is my weergawe van hul reis, saamgestel uit boodskappe, foto’s en Google navorsing. Dit was ’n vreugde om hul avontuur van ’n afstand te volg. Ek hoop hierdie terugskouing vang ten minste ’n klein deeltjie vas van die opwinding en groei wat hulle beleef het.

ʼn Warm verwelkoming by SMD in Kathmandu

By die SMD skool in Kathmandu het hoof het hulle met ’n koppie tee verwelkom, gevolg deur ’n begeleide toer van die skool. Zander het laat weet: “Die skool het my aan ons laerskool in Suid Afrika herinner. Die leerders is aangenaam, vriendelik en vrolik. Dit was lekker om die ander SMD graad 10’s te ontmoet en mekaar beter te leer ken.”

Aan die einde van die skooldag het hul nuwe vriende saam met hulle ’n besoek gebring aan die Boudha Stupa, ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Die vorm van die Stupa simboliseer die Boeddha, gekroon en sittende in ’n meditatiewe houding op ’n leeutroon. In die Boeddhisme is ’n Stupa ’n koepelvormige, halfsirkelvormige struktuur wat verskeie soorte heilige relieke huisves.

Op hul tweede dag in Nepal het die groep ’n unieke geleentheid gehad om Saka Dawa, een van die heiligste vieringe in Tibetaanse Boeddhisme, mee te maak. Hierdie heilige dag herdenk die geboorte, verligting en parinirvana (heengaan) van Gautama Boeddha.

Zander het gedeel: “Na die viering het ons sport soos basketbal en sokker saam met ons nuwe vriende gespeel. Na tien minute se speel hier was ek heeltemal uitasem. Ek dink dis weens ’n kombinasie van die hoë hoogte en die lugbesoedeling. Later het die meisies ons in ’n saal bymekaargebring en vir ons ’n paar tradisionele Nepalese danse geleer.”

Verskillende wêrelde, dieselfde drome

Zander se terugvoer oor die klimaat en koservaringe: “Die klimaat in Nepal is warm en tropies. Die 30 grade hier voel nie soos 30 grade in Switserland of Suid-Afrika nie. Dit is baie meer humied. Gedurende die dag skyn die son helder, maar teen 6-uur in die aand is daar donderstorms met swaar reën. Ek geniet die kos, veral die Nepalese momo’s en Indiese kerrie.”

Hy het ook insigte oor voorregte gedeel: “Die Nepalese kinders het dieselfde belangstellings as ons. Ons luister na dieselfde musiek en praat op soortgelyke maniere. Ons is almal maar net gewone tieners. Hulle werklikhede is egter anders. Die seun wat ek ontmoet het, moet elke keer vyf dae per bus reis en dan ver in die berge stap om sy ouers te sien. Sy gesin het skaars geld vir die skool. Hy is die enigste in sy hele familie wat kan lees en skryf. Sy ouers offer alles op sodat hy ’n opvoeding kan kry.”

Samewerking oor Kulture heen by SMD

Gedurende die eerste week het Zander se groep saam met die SMD-leerders klasse bygewoon en aan groepsprojekte gewerk. Hulle het nie net sáám met die SMD-studente geleer nie, maar ook van hulle geleer. ICS- en SMD-studente het spanne gevorm om navorsing te doen oor volhoubare ontwikkelingsoplossings vir bergagtige, landgeslote lande soos Switserland en Nepal. Aan die einde van die week het die spanne hul idees aan die Graad 9-leerders en skoolpersoneel voorgelê.

Verkenning van Kathmandu

Gedurende die tweede week het Zander se groep op ’n kulturele uitstappie gegaan wat besoeke aan Patan Durbar-plein, ’n vroeëoggend-groentemark, Kathmandu Durbar-plein en die Swayambhunath-tempel ingesluit het.  Die tempel bied ’n asemrowende uitsig oor die stad. Volgens terugvoer was die hoogtepunt vir baie die verkenning van die lewendige Thamel-distrik, waar studente vrye tyd gehad het om rond te dwaal, aandenkings te koop en geskenke uit te soek.

Shivapuri-bergpiek Staptoer

Gedurende die naweek het ICS- en SMD-studente ’n staptoer aangepak na die piek van die Shivapuri-berg, wat geleë is in die nasionale park aan die noordelike rand van die Kathmandu-vallei. Die 10-kilometer klim, met ’n hoogteverskil van byna 1 100 meter, het sowat vier uur geneem om te voltooi. Langs die pad het hulle takbokke en ’n trop makaak-ape ( macaques) in die digte tropiese reënwoud gesien. Ongelukkig het hulle nie ’n kykie gekry van die skaars “clouded leopards” of Himalaja-swartbere wat ook in die gebied voorkom nie.

By die piek het die groep in ’n sirkel gerus, versnaperinge gedeel en hul energie herlaai vir die afdraand. Hulle het ’n ander, korter maar baie steiler roete vir die terugtog gekies. Die 6-kilometer-afdraand, wat honderde trappe ingesluit het, het ongeveer twee uur geneem. Ná so ’n fisiek veeleisende dag was hul sagte beddens veral welkom.

Rustigheid by Namo Buddha-klooster

Die groep het ’n oornagervaring by die Namo Buddha-klooster gehad. Ek het gelees dat Namo Buddha, vanuit ’n Boeddhistiese perspektief, een van die heiligste godsdienstige plekke in Nepal is. Saam met die Boudha Stupa en die Swayambhunath Stupa vorm dit drie van die belangrikste Boeddhistiese pelgrimsoorde in die land.

Volgens Zander is Namo Buddha nie net geestelik betekenisvol nie, maar ook asemrowend mooi en diep vreedsaam. Die omgewing is stil, skoon en vry van besoedeling, met koel, vars lug. Dit is die ideale plek vir meditasie en stil refleksie. In die vroeë oggend groet ’n pragtige sonsopkoms besoekers, terwyl die aande ewe betowerende sonsondergange bied. In die verte verskyn die sneeubedekte pieke van die Himalajas, wat ’n gevoel van suiwerheid en grootheid uitstraal.

Reis is ‘n geskenk wat aanhou gee

Ek sluit af met die woorde van een van die onderwysers wat deel was van die reis: “Dit was ’n wonderlike twee weke – ’n ervaring wat geen van ons ooit sal vergeet nie. Ek glo die lesse wat ons uit die Boeddhisme, die SMD-leerders, die Nepalse kultuur en hul leefwyse geleer het, sal op verskillende maniere in elk van ons na vore kom. Hierdie insigte sal oor die komende dae, weke, maande en selfs jare op verskillende tye en plekke in ons lewens verskyn.”

Ek is opreg dankbaar teenoor Zander se skool en onderwysers wat hierdie onvergeetlike ervaring moontlik gemaak het. ’n Reis soos hierdie verruim jou horisonne, verander jou kyk op die wêreld en sy mense, en laat jou die dinge in die lewe wat regtig saakmaak, waardeer. Reis is ’n geskenk wat aanhou gee.

Sien meer foto’s in die fotovideo.

Groete

Emsia

Istanbul is vol kleur en geur

Istanbul is vol kleur en geur

Ons het die nuwe jaar in Istanbul verwelkom en een van die wêreld se gewildste toeristebestemmings verken. Dit is die enigste stad wat oor twee kontinente strek, met ‘n lang brug wat sy Europese en Asiatiese kante verbind. Danksy sy strategiese ligging het Istanboel lank as ‘n spilpunt vir plaaslike handelsroetes gedien. Ons het die geleentheid gehad om die unieke mengsel van Oosterse en Westerse kulture te ervaar.

Turkse Kos en Drank

Die vooruitsig van Istanbul se kos het Zander opgewonde gemaak. In Switserland is die Turkse döner-kebab ons gunsteling straatkos. Turkse immigrante het veroorsaak dat döner-kebabs in die 1970’s gewild geword het in Duitsland. Goedkoop, smaaklik en vullend, het hulle vinnig ‘n gunstelingmaaltyd vir werkers, studente en laataand-feesgangers geword.

Een van die gewildste drankies wat straatkos te vergesel, is Ayran. Dit is ‘n souterige, ligte en skuimerige jogurtdrankie. In die warm Turkse somers les Ayran jou dors en vul ook die sout aan wat deur sweet verlore gaan.

Ons het onsself daagliks met Turkse tee en soms met ʼn soetigheid soos Baklava bederf. Baklava is ‘n nagereg gemaak van lae filodeeg, gevul met gekapte neute en met stroop of heuning versoet.

Ons het ook Turkye se geliefde winterdrankie, Salep, probeer. ‘n Onderskeidende bestanddeel in hierdie warm en soet drankie is die verpoeierde wortels van verskeie orgideëspesies. Dit is tydens die Ottomaanse Ryk aan Istanbul bekendgestel. Mense het Salep as ‘n troosdrankie en ook afrodisiak geniet. Salep het ons aan Suid Afrikaanse kaneelgegeurde melktertvulsel laat dink.

Salep word ook in Turkse roomys gebruik. Dit gee die roomys ‘n ferm tekstuur en verhoed dat dit smelt wat baie handig in die somerhitte is.

Bazaars

Die Grand Bazaar in Istanbul is een van die wêreld se grootste en oudste onderdak markte. Konstruksie het in 1461 begin. Dit is oorspronklik gebou om die stad se handelsaktiwiteite te organiseer en te reguleer. Dit word dikwels beskou as een van die eerste winkelsentrums ter wêreld. Vandag het die basaar 61 onderdak strate en meer as 4 000 winkels wat verskeie plaaslike produkte aanbied. Onderhandeling vir beter pryse is ‘n integrale deel van die ervaring. Zander het vaardig onderhandel om bykomstighede wat deur sy vriende versoek is, teen goeie pryse te koop.

Die Egiptiese, of Spice Bazaar, is ‘n historiese binnenshuise mark wat in die 17de eeu ontstaan het. Dit is bekend vir sy uitgebreide verskeidenheid van kruie en speserye. Ons het dit geniet om verskeie lekkernye in hierdie bedrywige en geurvolle basaar te proe.

Plaaslike inwoners koop hulle huishoudelike benodigdhede by die vele straatmarkte, waar alle produkte seisoenaal is en hoofsaaklik in Turkye verbou word.

Landmerke wat vier Ryke verteenwoordig

Istanboel spog met ‘n ryk geskiedenis. Dit het as die hoofstad van vier ryke gedien: die Romeinse Ryk (330-395), die Bisantynse Ryk (395-1204), die Latynse Ryk (1204-1261), die Bisantynse Ryk weer (1261-1453) ), en die Ottomaanse Ryk (1453-1922). Ons het verskeie landmerke verken en die unieke mengsel van Christelike en Islamitiese omgewings ervaar.

Blue Mosque

Die Blue Mosque is ‘n uitstekende voorbeeld van Ottomaanse argitektuur. Dit is ‘n aktiewe plek van aanbidding wat oop is vir alle besoekers, mits hulle gepaste klere dra. Blou Iznik-teëls met ingewikkelde blompatrone, geometriese ontwerpe en kalligrafie versier die binnemure.

Hagia Sophia

Hagia Sophia, wat “Heilige Wysheid” in Grieks beteken, is een van Istanbul se mees heilige en asemrowende landmerke. Dit is in 537 nC gebou, het ‘n geskiedenis wat oor 1 400 jaar strek en het gedien as ‘n sentrum van godsdienstige, artistieke en politieke betekenis. Dit lok jaarliks ​​talle besoekers en word dikwels die “Agtste Wonder van die Wêreld” genoem.

Hagia Sophia was oorspronklik ‘n kerk, later ‘n moskee, en nou ‘n museum. Die pragtige argitektuur daarvan weerspieël die invloed van beide Bisantynse en Ottomaanse ontwerp.

Ons verblyf was langs ‘n moskee Die oproep tot gebed wat oor die luidsprekers uitgesaai is, was ‘n gereelde herinnering aan daaglikse gebede. Om so naby aan die konflikte in Istanbul se buurlande te wees, het my bewustheid van die behoefte aan vrede verhoog. Ek het hierdie oomblikke gebruik om vir vrede in die wêreld te bid.

Basilica Cistern

Onder die bedrywige strate van Istanbul lê die Basilica Cistern, ‘n 6de-eeuse wonder wat eens water vir die stad geberg het. Die 336 kolomme, sommige versier met spookagtige Medusa-koppe, ondersteun die antieke ondergrondse reservoir.

Bekende rolprente soos Inferno en From Russia with Love het die onheilspellende atmosfeer van die plek as ‘n dramatiese agtergrond gebruik, wat die aanloklikheid en kulturele betekenis daarvan versterk.

Istiklal Caddesi

Istiklalstraat, die stad se bekendste winkelstraat, is ’n plek van vermaak. Hierdie voetgangerstraat gons van bedrywigheid; winkels, restaurante, kafees en straatkunstenaars vul die area. Ons het dit net voor Nuwejaar besoek en kon sien hoe dit pragtig met feesliggies versier, lyk.

Balat

Balat was in die verlede ‘n toevlugsoord vir minderheidsgroepe soos Joodse en Grieks-Ortodokse gesinne.

Ons sal Balat onthou vir die kleurvolle huise langs die skuins geplaveide strate. Baie van hierdie huise is meer as 50 jaar oud, met sommige wat tot 200 jaar terug dateer. Die kafees en restaurante is prentjiemooi en die spyskaarte weerspieël die distrik se diversiteit.

Ons foto’s vertel meer oor ons ervaringe.

Ons Istanbul besoek was ‘n positiewe ervaring vol kleur- en geurvolle herinneringe. Reis is ‘n geskenk wat aanhou gee.

Groete

Emsia

Reis is ‘n geskenk wat aanhou gee

Reis is ‘n geskenk wat aanhou gee

Ons het in Desember ‘n wonderlike geskenk van ons familie ontvang.  Andre, en my sus Ansa het dit vir hulle kinders, Marga en Altus, moontlik gemaak om by ons in Zurich vir twee weke te kom kuier. Hulle wens was om hul kinders se perspektiewe en ervarings te verbreed. Vir ons was dit ‘n voorreg om ons wêreld en Kersfees met familie te deel.

Marga en Altus se besoek was propvol eerstes. Dit was hul eerste keer wat hulle gevlieg het, hul eerste reis buite Suid-Afrika, en hul eerste ervaring met sneeu. Die sneeuval was ‘n groot seën wat ons almal saam geniet het. Die lang nagte, koue dae en die verskillende Europese tale, was nuwe ervarings vir hulle. Kortom, hul besoek was ‘n buitengewone avontuur.

Om ’n beter begrip van hulle reiservaring, indrukke en impak op hulle toekomsvisie te kry, het ek hulle gevra om sekere vrae te beantwoord. Ek deel hulle terugvoer in die brief.

Wat was jou hoogtepunt ervaringe wat deel van jou herinneringe vorm?

Marga – Die sneeu was vir my die hoogtepunt. Dit is magical en iets wat mens altyd oor droom. Dit is egter eers as jy dit in persoon ervaar, wat mens besef hoe “wow” dit werklik is. Die rondloop in Zurich en die besoek aan die Franse kant was vir my persoonlik ‘n eye-opener, Ek het die pragtige winkels, lekker kosreuke en die mooiste liggies wat gemoedere opvrolik, geniet.

Ek swot toerisme en die besoek aan die Dolder Grand Hotel was vir my ‘n belewenis. Die plek is prentjiemooi en het my met my studies aangemoedig en my passie op ‘n nuwe vlak aangehits.  Ek kon werklik ‘n droom van myself wat in die Dolder Hotel werk, sien.

Altus – Die sneeu was vir my ‘n ongelooflike ervaring en beslis die vakansie se hoogtepunt.

Sal jy na ander lande wil reis en waarom?

Marga – Ek sal verseker na nog lande wil reis as ek die geleentheid kry. Ek het ‘n passie vir reis, verskillende kulture en verskillende maniere van dinge doen. Ek stel veral belang in hoe hotelle funksioneer en het ‘n diep waardering vir hul skoonheid, elegansie en uniekheid.

Altus – Dit was vir my ʼn besonderse ervaring gewees om ander kulture te ervaar. Ek sal dit graag weer wil doen.

Watter lande is op jou reis wenslys en wat hier interesseer jou?

Altus – Ek sal graag Parys in Frankryk, Mauritius, Amerika, Swede en Tokio wil besoek. In Parys wil ek die Eiffeltoring sien en ervaar. Mauritius lok my met sy pragtige see en fassinerende kultuur. Amerika se kultuur voel bekend, soortgelyk aan Suid-Afrika s’n, en al sien ons dit gereeld op televisie, wil ek dit persoonlik ervaar. Swede is van kleins af op my wenslys. Tokio is bekend vir sy motors, unieke kosse en kultuur en aangesien ek van motors hou, sal dit die hooffokus van my reis wees!

Marga – Die mode, asook die mengsel van geskiedkundige en moderne argitektuur in Milaan, Italie, is graag iets wat ek self wil sien. Ek is mal oor die Franse kultuur en sal baie graag dit self in Frankryk wil beleef. Tulpe is my gunsteling blom en wanneer ek selfs net n bossie in die winkel sien, raak ek kinderlik opgewonde. Daarom sal ek graag Nederland wil besoek om die velde vol tulpe en ander kleurvolle blomme te ruik en bewonder.

As jy soos ons na Switserland moes verhuis, wat van so ‘n ervaring sal jy geniet en wat daarvan jy uitdagend vind?

Altus – Ek is mal oor melk en kaas en sal dus maklik by die Switserse koskultuur aanpas. My familie kom egter altyd eerste en dit sal vir my die ergste wees om hul agter te los.

Marga – Ek sal dit geniet om so vryklik met publieke vervoer te kan rondgaan en nuwe plekke te besoek. Ek sal dit ook geniet om nuwe goed in my nuwe tuisdorp te ontdek soos die melkery naby aan my Tannie-hulle se huis waarby mens varsmelk in jou eie bottels kan gaan tap vir gebruik. Die mooi woude en vriendelike boere in die omgewing sal my bekoor.

Wat vir my wel uitdagend sal wees, is dat my familie so ver van my af gaan wees.  Dit sal moeilik wees om nie in my moedertaal te kan praat nie.  Ek is baie lief vir mense en om praatjies te maak maar in Engels of selfs ander tale sal dit baie uitdagend wees. Die verskriklike hoë lewenskostes sal vir my ‘n groot aanpassing wees aangesien Suid-Afrika eintlik in baie omstandighede nog bekostigbaar is (al voel dit nie aldag so nie).

In watter opsig het die Switserse besoek jou met meer waardering na Suid Afrika laat kyk?

Marga – Alhoewel die sneeu ʼn mooi prentjie was, het ek die Kalahari sonsakke verskriklik baie gemis. Ek het tydens ons besoek my familie en vriende baie gemis en het nuwe respek gekry vir mense wat oorsee verhuis.

Terwyl ek in Switzerland was, het die Kalahari boere deur  ʼn strawwe droogte gegaan. Gedurende die laaste week van ons besoek het dit in die Kalahari begin reën en ek kon nie wag om die groen gras en positiewer boere te sien nie.

Altus – Ek het my biltong, droëwors en die heel belangrikste, braaivleis, baie gemis. Ek kyk met nuwe waardering na my eie die kultuur en mense wat my taal praat en verstaan. Die kosbaarste van alles is die Kalahari sonsak met n jakkals wat vêr in die agtergrond skree.

Ek deel meer oor ons gesamentlike ervaringe in die video hieronder.

Ons tyd saam was besonders en het ons familiebande versterk.  Daar was heelwat oomblikke en ervaringe wat in die toekoms stories sal word wat ons om braaivleisvuur of ‘n pot kaasfondue sal deel. Ek wonder nogal wat Zander se antwoorde op die vrae sou wees as hy twee weke oor Kersfees in die Kahalari sou kuier?

Groete

Emsia

München – veel meer as Oktoberfest

München – veel meer as Oktoberfest

Aangesien ek in Oktober verjaar, mag ek elke jaar ons herfswegbreek bestemming kies. Ek kies gewoonlik lande oos van Switserland, want die herfskleure is pragtig. In die verlede het ek Boedapest in Hongarye en Tirol in Oostenryk gekies. Hierdie jaar het ek my visier op München, Duitsland gerig.

München, die hoofstad van Bavaria, is bekend vir sy besonderse bier. Terwyl baie mense dit ken as die tuiste van Oktoberfest, die wêreld se grootste bierfees, was ons besoek net ná die feesvieringe. Ons het vinnig agtergekom dat München baie meer bied as bier en feesvieringe. Die stad het pragtige parke, ‘n ryk geskiedenis en verrykende ervarings.

Tuisdorp van BMW

München is die geboortedorp van my gunsteling motorhandelsmerk, BMW. Dit staan ​​vir Bavariaanse Motor Werke. Tydens ons besoek het ons in BMW se geskiedenis gedelf en gesien hoe dit van sy nederige begin tot die motorreus ontwikkel het.

Die indrukwekkende argitektuur van die BMW Welt-geboue weerspieël die handelsmerk se innovasie en elegansie. Binne het ons verskeie areas verken, insluitend die ontvangsgeriewe en die ruimte waar hulle die sleutels van splinternuwe voertuie aan hul opgewonde eienaars oorhandig.

My pa was passievol oor meganiese ingenieurswese en was saam met my toe ek my eerste BMW getoetsbestuur het. Ek wens ek kon hierdie BMW-ervaring in München met hom deel.

Wetenskap en Tegnologie Museum

Duitsland is lank reeds die middelpunt van wetenskaplike briljantheid. Die land het van die mees invloedryke geeste in fisika, wiskunde, chemie en ingenieurswese voortgebring. Dit het dus gepas gevoel om die ikoniese Deutsches Museum te besoek.  Dit is een van die grootste museums gewy aan tegnologie en wetenskap, ter wêreld.

Die groot verskeidenheid uitstallings was verbysterend. Vriende het ons aangeraai om op ‘n paar temas te fokus aangesien die museum veels te groot is om alles op een dag te verken. Ons het besluit om op Optika, Elektronika en Wiskunde te konsentreer. Later het ons ook na die modeltrein- en brugbou-uitstallings gaan kyk.

Die uitstallings is interaktief en nooi jou uit om met jou sintuie te ontdek. Die museum is enorm, en jy kan maklik in sy nimmereindigende gange verdwaal.

Duitse Kultuur en die Ou Stad

Marienplatz is al eeue lank die hart van München. Dit het eens gedien as die stad se bedrywige mark waar handelaars eiers, meel, wyn en vis verkoop het. Vandag is dit ‘n plek waar plaaslike inwoners en toeriste bymekaarkom, veral tydens geleenthede soos die Kersmark wat die plein elke winter met feestelike vrolikheid vul.

Klokkespel

Die Nuwe Stadsaal oorheers die noordekant van die plein. Sy gotiese argitektuur is indrukwekkend, maar die hoofattraksie is die historiese klokkekspel wat twee keer per dag lui. Met 43 klokke is dit een van die grootstes in Europa. Tydens die klokkespel voer beeldjies tonele uit München se verlede op.

Viktualienmarkt

Ons het ook die Viktualienmarkt besoek wat vroeër ‘n boeremark was. Deesdae is daar sowat 100 stalletjies wat alles van vrugte en groente, vis en vleis tot brood, speserye en lekkernye verkoop, asook lieflike geskenke en aandenkings.

Daar is ook ʼn groot biertuin waar almal sit en gesels en alles dophou. In Switserland en Duitsland is dit wettig om reeds van die ouderdom 16 af al bier te drink.  Hulle verkoop biere in halfliters of volliters.  Ons het toe maar in eg Duitse tradisie ingeval met ‘n bier en Bratwurst met sauerkraut.

Bavariaanse gees in Hofbräuhaus

Vir my verjaardag wou ek regte Bavariaanse kos en gees ervaar. Die aanvanklike plan was om na die legendariese Hofbräuhaus te gaan. Ons het binnegestap en die indrukwekkende plek ervaar, maar dit was so vol dat ons op ‘n kleiner soortgelyke plek met minder toeriste besluit het.

Die Duitse musiek en die plek se dekor het `n gasvrye atmosfeer geskep om die tradisionele Duitse kos in te geniet.  Ons het sit en kyk hoe hulle elke nou en dan `n nuwe biervat bring om die glase uit vol te maak.

Nymphenburg Palace

Die Numphenburg Paleis was die somerwoning van die Bavariaanse heersers gedurende die sewentiende en agtiende eeu.  Ek het veral die tuine van die Nymphenburg Paleis in herfskleure getooi, baie geniet. Dit word baie goed instand gehou en bied  ʼn pragtige agtergrond vir troufoto’s.

München is die rivierbranderplankry hoofstad van die wêreld

Ons het ontdek dat die wêreld se grootste stedelike branderplankryplek in München is. Die stad se Eisbach-rivier, ‘n 2-kilometer stuk met mensgemaakte golwe, lok branderplankryers van oor die hele wêreld. Die naam “Eisbach” beteken letterlik “ysspruit”, wat gepas is. Plaaslike inwoners en toeriste kom  bymekaar om te kyk hoe waaghalsige branderplankryers in die rivier se stygende getye balanseer.

München se kombinasie van kultuur, geskiedenis en hartlike kos maak dit  ʼn goeie bestemming vir ‘n herfsuitstappie.

Groete

Emsia

Ons eerste strandvakansie in Kroasië

Ons eerste strandvakansie in Kroasië

Suid-Afrika word deur oseane omring. Ons assosieer gevolglik somervakansies met wit strande en die klank van brekende golwe. Terwyl Switserland pragtige natuurskoon bied, verlang ons soms na die see. Ons mis dit om kaalvoet op die sand te loop, sandkastele te bou en in die branders te speel. Al die lede van die Goosen gesin is mal oor water en die strand is ons idee van ‘n Happy Place.

Ons het lank na ‘n strandvakansiebestemming in Europa gesoek. Beskikbaarheid en bekostigbaarheid van die pragtige liggings langs die Middellandse See het uitdagings gestel. Ná ’n lang en strawwe winter smag mense regoor Europa na son en see.

Toe Zander ‘n plek vir sy uitruilervaring moes kies, was sy topprioriteit ‘n land met ‘n kuslyn en golwe. Sy droom het waar geword toe hy ‘n uitruilgeleentheid in Perth gekry het. Hulle kon na skool strand toe gaan en ondanks die winter in Australië het hulle baie tyd in die see deurgebring en verskeie aktiwiteite geniet. Hy het selfs die kans gehad om te leer branderplankry.

Kampterrein in Kroasië

In ons soektog het ons op Kroasië gefokus en ‘n kampplek genaamd Mont Perin ontdek. Dit is by die see naby Rovinj in die Istrië-streek van Noord-Kroasië geleë. Dit het geblyk die perfekte keuse vir ons te wees. Die kampeerterrein bied verskeie soorte akkommodasie, insluitend kampeerplekke, mobiele huise, en ‘n verskeidenheid van villas.

Ons het in ‘n villa naby die see gebly en het elke oggend vroeg in die see geswem. Die strande was klipperig, so ons het waterskoene vir gemak gekry. Een voordeel van ‘n klippiestrand bo ‘n sanderige een, is dat die huis sandvry bly. ‘n Mens kon duidelik tot op die bodem deur die rustige en mooiste turkooisblou kleur water sien.

Vermaak

Die kampterrein het ‘n verskeidenheid vermaaklikheidsopsies vir gesinne gebied. Die baai-area het aangewese plekke vir swem, roei of roeiplankry (SUP’s). Ander gebiede was meer klipperig, perfek om die onderwaterwonderland met ‘n duikbril te verken. Bedags het die kinders die opblaas-speelarea in die see geniet. In die aand het hulle animasie films op `n grootskerm in die see gewys

Die kampterrein het ook tennis-, vlugbal- en sokkerbane en ‘n dinosourus-tema waterpark vir gesinne met jonger kinders gehad.

Vervoer

Die kampterrein is redelik groot. Om dit vir almal maklik te maak om rond te beweeg, is daar ‘n treintjie wat gereeld deur die terrein loop. Vir diegene wat nie hul eie saamgebring het nie, is fietse ook te huur. Ons was verheug om te ontdek dat elke villa ‘n klein elektriese of gholfkarretjie het.

Die villa se Twingo het Zander se eerste bestuursles in Kroasië moontlik gemaak. Ons het ‘n paar keer tennis gespeel en daarna het Zander ons terug huis toe gery. Charl het van voor instruksies gegee terwyl ek senuagtig agter gesit het. Gelukkig het hy baie goed reggekom. Dit is baie makliker om  met ‘n elektriese motor te leer bestuur as met `n handrat pertrol model soos wat sy ouer broers moes doen.

Bakkery en vars groente uit die tuin

Die kampterrein beskik oor ‘n bakkery, waar mense vroegoggend gretig in die ry staan ​​om ‘n vars broodjie of croissant saam met hul koffie te geniet. Elke oggend, nadat ek en Zander vinnig in die see geswem het, het Charl ons met warm, varsgebakte croissants bederf.

Ons was verheug om te ontdek dat Mont Perin groentetuine het. Die kampterrein bied gaste twee keer per week ‘n komplimentêre sak vars Mediterreense groente. Die sak het tamaties, komkommers, soetrissies, eiervrugte en murgpampoene ingesluit. Saam met die groente het ons ook ‘n spanspek en waatlemoen ontvang. Ons het die vrugte en groente in ons slaaie, pastasouse gebruik en ook gereeld ratatouille gemaak.

Vroegaand, was die kampterrein met heerlike kosreuke gevul. Kampeerders het hul maaltye op gasstowe voorberei aangesien oop vure nie toegelaat is nie.

Dinasours beendere in die Istrië area gevind

Ons het opgemerk dat baie waterparke in die Istrië-streek ‘n dinosourus-tema het. Dit het volkome sin gemaak toe ons uitvind dat Istrië die enigste streek in die Middellandse See is waar duikers dinosourusbene gevind het. In 1992 het ‘n duiker ‘n terrein met bene op die seebodem naby Bale-Valle ontdek, wat die eerste ontdekking van dinosourusoorblyfsels aandui.

Die bene het die bestaan ​​van ten minste tien groepe dinosourusse onthul, insluitend die plantvretende Brachiosaurus, een van die grootste en swaarste dinosourusse ooit. Hierdie massiewe wese was 20 tot 25 meter lank, met ‘n nek van ongeveer 10 meter lank.

Ons is dit almal eens dat hierdie een van ons lekkerste vakansies in Europa was. Ons het vergeet van tyd en net oorgegee, lekker en gesond geëet en baie goed geslaap. Moeder Natuur het mooi na ons gekyk.

Herinneringe in ‘n Fotovideo:

Groete

Emsia

Venisië het my asem weggeslaan

Venisië het my asem weggeslaan

My geliefdes beskryf my as prakties en realisties. Ek bekyk plekke en situasies deur hierdie lens, wat dikwels tot baie hoe en waarom vrae lei. My kameralens help my om die mooi, die ou, die snaakse en die anderse te sien en te geniet. In Venesië was daar baie om te geniet, te waardeer, oor na te dink en wonder. Venisië, bekend as die “Stad van Kanale” of die “Drywende Stad,” is skilderagtig en fassinerend.

Toerisme in Venisië

Die kanale van Venesië se historiese kwartier maak dit een van die mees besoekte plekke in Europa. Verlede jaar het 20 miljoen reisigers Venesië, wat net 50 000 inwoners het, besoek. Om die impak van oortoerisme te versag, het stadsamptenare verskeie maatreëls ingestel. In 2021 het hulle plesierbote verbied om aan te dok, toergroepgroottes tot 25 mense beperk en ‘n fooi vir dagbesoekers ingestel.

Ons het ons vakansie met ‘n kort besoek aan hierdie pragtige historiese stad afgesluit. Ons het op ‘n warm Sondagmiddag by St. Lucia Venesië-treinstasie aangekom. Ons verblyf was so 2 kilometer weg en hoewel ek mal is oor stap, was hierdie stap amper te veel vir my. Toeriste het in die strate saamgedrom en ons moes met ons bagasie deur die massas navigeer, terwyl sweet teen my rug afstroom. Om my swaar tas en rugsak oor die baie kanaalbrûe met baie trappies te dra, was besonder uitdagend. Ek was dankbaar dat Charl die navigasie tussen al die nou en kronkelpaadjies behartig het.

Venesië berei reeds van vroegoggend af vir die toeriste voor

Om vroeg in die oggend wakker te word as ‘n stad ontwaak, maak my opgewonde. In Venesië het die inwoners baie vroeg begin met voorbereidings vir die nuwe dag. Die geur van varsgemaalde koffie en gebak het in die lug gehang. Seevoëls het opgewonde by die vismark geskree. Handelaars het voorrade uit hul mobiele stalletjies uitgepak. Bote op die kanale het goedere vir winkels en restaurante ingebring terwyl rommel verwyder is. Dit alles in die vroeë ure gebeur, want bedags vul toeriste op gondels die kanale.

Gondels op die kanale

Gondels is ‘n historiese en tradisionele deel van Venesië, wat ‘n ikoniese manier bied om die stad te verken. In die 17de en 18de eeue het gondels ‘n hoogtepunt bereik in gewildheid, met ‘n geskatte 10 000 in Venesië. Daarteenoor word slegs sowat 400 deesdae hoofsaaklik vir toerisme gebruik.

Vroegoggend het ons gesien hoe gondeliers die bote vir die dag voorberei het. Om ‘n gondelier te word vereis meer as 400 ure se opleiding oor ses maande. Benewens die bemeestering van gondelmaneuver- en lewensreddingsvaardighede, leer hulle ook vreemde tale en Venesiese geskiedenis en kultuur.

Basilica van San Marco

Die Basilica di San Marco (St. Mark’s Basilica) is die katedraalkerk van Venesië en is saam met sy plein die bekendste en mooiste landmerk in die stad.

Volgens oorlewering het Markus die kerk in Egipte gestig en is hy as biskop van Alexandrië aangestel nadat hy saam met Petrus in Rome gedien het. Mense het geglo dat hy daar as ‘n martelaar gesterf het. Agt eeue nadat hy in 68 nC gesterf het, het die Venesiërs sy liggaam na Venesië gebring. Die stad se regerende klas wou St. Markus as die beskermheilige van hul ekonomiese status hê, en daarom het hulle gereël om sy liggaam uit Egipte te smokkel.

Murano die glaseiland

Ons het Murano, die glaseieland, met `n taxibootbesoek. Glaswerk is `n ou en belangrike kunsvorm en was vir honderde jare een van die belangrikste kommersiële nywerhede van die Venesiese Republiek. Stadsowerhede het die glasoonde is gedurende 1291 na Murano verskuif om die stadsentrum teen die risiko van brand en die uitlaat van handelsgeheime oor die produksieproses te beskerm. Die glasmeesters kon ook vaardighede en tegnieke uitruil en so die kunsvorm tot nuwe hoogtes verhef.

Ons het `n demonstrasie bygewoon waar ons kon sien hoe kunstenaars werk en glas blaas met eeue-oue tegnieke om die mooiste ornamente na vore te bring.  Daarna het ons `n uitstalling van die mooiste kunswerke besoek.

Die Venisië Karnaval

Verkopers het maskers vir die Venesiese Karnaval by die meeste stalletjies en markte verkoop. Hierdie geleentheid is wêreldwyd bekend vir sy pragtige kostuums en maskers. Die viering duur tien dae in Februarie, waartydens mense pragtig aantrek en aan georganiseerde parades of eenvoudige optogte op straat deelneem.

Die Karnaval voer sy oorsprong na die Middeleeue terug en het vir etlike eeue voortgeduur. Mense het die tradisie in 1797 afgeskaf, maar dit in 1979 laat herleef. Dit lok jaarliks ​​ongeveer 3 miljoen besoekers.

Venisië is besonders en een van Italië se mooiste stede

Die drywende stad, met sy kronkelende kanale, treffende argitektuur en pragtige brûe, is ongetwyfeld een van Italië se wonderlikste stede. Die standbeeld van die wit hande in Venesië het my met ‘n boodskap gelaat. Hulle simboliseer die nodigheid om brûe te bou en verskille te oorkom. Elke stel hande verteenwoordig ‘n ander menslike waarde soos liefde of wysheid.

As jy van reis hou, is Venesië die moeite werd om te besoek en te ervaar. Ek beveel egter aan om die tyd van die jaar vir jou besoek met sorg te kies en so lig as moontlik te reis.

Groete

Emsia