Kaapstad is meer as ‘n bestemming
Terwyl die vliegtuig sy landing begin, sit ek vasgenael teen die venster. Daar is dit. Tafelberg staan trots bo die Moederstad, met die Atlantiese Oseaan wat onder dit glinster. Skielik oorweldig emosies my: heimwee, dankbaarheid, opgewondenheid… en ook ‘n stille hartseer.

Waarom Kaapstad My Altyd Huis Toe Roep
Vir 27 jaar was Kaapstad ons tuiste voordat ons na Zürich verhuis het. Maak nie saak hoeveel keer ek terugkom nie, dié stad herinner my telkens daaraan dat sommige plekke nooit regtig jou hart los nie. Hierdie besoek is besonders kosbaar. Ons is hier om tyd saam met my volwasse seuns, my suster en haar kinders deur te bring. Daar is iets diep vertroostend daaraan om rondom ’n tafel te sit, saam te eet, oor ou stories te lag en nuwe herinneringe te skep.

Om in Switserland te woon, het ons aan ‘n wonderlike internasionale gemeenskap blootgestel. Baie van ons vriende het reeds op verskeie kontinente gewoon en reis graag. Deur die jare het hulle my van hul gesinsvakansies in Suid-Afrika vertel. Byna sonder uitsondering beskryf hulle dit as een van hul kinders se gunstelingbestemmings. Hulle onthou die dramatiese landskappe, onvergeetlike wildlewe, heerlike kos en, bowenal, die warmte van die mense.
Baie vriende droom daarvan om Suid-Afrika te besoek, maar huiwer oor wat hulle op die nuus of sosiale media sien. Hul vraag is amper altyd dieselfde: “Sal ons veilig wees?” My antwoord is eenvoudig: ja, met sinvolle beplanning en bewustheid kan jy Kaapstad met gemoedsrus geniet.
Om Veilig en Ontspanne in Kaapstad Rond te Beweeg
Kaapstad is nie bloot ‘n plek wat jy besoek nie; dit is ‘n plek wat jy beleef. Om elke draai wag nog ‘n asemrowende uitsig, ‘n versteekte strand, ‘n bergpaadjie, ‘n wynplaas of ‘n koffiewinkel wat jou uitnooi om net ‘n bietjie langer te vertoef.
Omdat die stad oor ’n groot area versprei is, verg rondbeweeg beplanning. Anders as baie Europese stede is openbare vervoer beperk. Vir gerief en gemoedsrus beveel ek Uber of Bolt aan eerder as om ’n motor te huur. Dit is bekostigbaar, betroubaar en wyd beskikbaar.
Een Uber-rit het egter om ‘n heel ander rede by my gebly. Nuuskierig oor sy agtergrond vra ek die bestuurder waar hy vandaan kom. Kort voor lank vertel hy ons van sy familie in Zimbabwe, die tale wat hy praat en sy drome vir sy kinders. Dit het my weer herinner dat reis oor mense eerder as bestemmings gaan. Dikwels is dit die gesprekke tussen die besienswaardighede wat die langste by ‘n mens bly.

My gunsteling manier om Kaapstad te verken is op die Hop-On Hop-Off-bus. Dit verwyder die stres van bestuur en laat jou die skouspelagtige natuurskoon met al jou sintuie geniet. Met die wind in ons hare en kameras in die hand het ons Groot Constantia verken en deur Houtbaai gewandel en gekyk hoe robbe in die water speel. Na ʼn varsgebakte vis-en-skyfies maaltyd, het ons die dag met die son wat agter die Twaalf Apostels in Kampsbaai sak, afgesluit.
Waar om in Kaapstad Tuis te Gaan
Waar jy tuisgaan, kan ‘n groot verskil aan jou vakansie maak. Hierdie keer het ons Century City gekies omdat dit presies aan ons familie se behoeftes voldoen het: veiligheid, gerief en genoeg om ons jong volwassenes besig te hou.
Slegs 15 tot 25 minute van Kaapstad se middestad af, kombineer Century City moderne leefstyl met pragtige groen ruimtes. My nefie en niggie, wat op ’n plaas woon, het veral daarvan gehou om een van Afrika se grootste winkelsentrums te verken. Elke oggend het begin met my suster se tuisgebakte karringmelkbeskuit voordat ons deur die rustige vleilande van nabygeleë Intaka-eiland gestap het.

Die Beste Tyd om Kaapstad te Besoek
Winter is dalk nie die voorkeur keuse nie, maar vir ons was dit perfek. Vlugte en verblyf was goedkoper, restaurante het uitstekende winteraanbiedinge gehad en die koeler weer was perfek vir besigtiging.
Elke seisoen het sy eie bekoring. Somer behoort aan strandliefhebbers. Herfs is ‘n gunsteling onder plaaslike inwoners vir bergstap en wynproe, terwyl lente die Wes-Kaap in ’n see van veldblomme verander.
Kaapstad se Kosverhaal: ‘n Smeltkroes van Geure
Vir my 17-jarige seun was een van die grootste hoogtepunte nie ‘n beroemde landmerk nie, maar die oorvloed bekostigbare vleis van uitstekende gehalte en vars seekos. In Switserland, waar vleis duur is, het dit soos ‘n luukse gevoel.
My familie is beesboere, en my suster het ons verras met ‘n koelhouer vol plaasvars beesvleis. Baie aande het ons nefie dit op die woonstel se stoep gebraai terwyl ons lank ná ete nog om die tafel gekuier het.

Kaapstad vertel sy geskiedenis deur sy kos. As belangrike hawe op die antieke speseryroete het die stad ‘n ontmoetingsplek van kulture geword en nêrens is dit duideliker as om die etenstafel nie.
Die Warmte van Suid-Afrikaanse Gasvryheid
Mense kom dikwels vir die natuurskoon. Hulle keer terug oor die mense.
Wanneer ons in Kaapstad land, staan ons altyd vir ‘n oomblik stil om die warmte en positiewe energie om ons in te neem. Mense groet mekaar hartlik. Gesprekke begin sommer vanself. Gelag klink oral.
Ons het al baie pragtige plekke regoor die wêreld besoek, maar nêrens het ek gasvryheid beleef soos in Suid-Afrika nie. Besoekers word nie net verwelkom nie. Hulle word laat voel dat hulle hoort.
Die Onverwagte Vreugde van Saam Reis
Terwyl ons op die Hop-On Hop-Off-bus gereis het, het ‘n jong man gevra of hy die dag saam met ons kon deurbring. Aanvanklik was ons verbaas, maar kort voor lank het ons stories uitgeruil, foto’s van mekaar geneem en saam soos ou vriende gelag.

Anthony het van Ghana af gekom om ‘n Hotel- en Gasvryheids-ekspo in Kaapstad by te woon. Toe hy hoor dat my suster se kinders daarvan droom om in toerisme te werk, het sy gesig sommer begin straal terwyl hy sy ervaring en aanmoediging met hulle gedeel het.
Teen die einde van die dag het ek besef ons het veel meer as net ‘n reisgenoot ryker geword. Hy het my herinner dat saam reis nie net veiliger voel nie, maar dikwels die deur oopmaak na die mooiste menslike ontmoetings.
Ons het as vreemdelinge op die bus geklim. Ons het as vriende afgeklim.
Waarom Ek Hoop Meer Internasionale Vriende Ontdek Suid-Afrika
Wanneer ‘n internasionale vriend vir my sê: “Ek wil so graag eendag Suid-Afrika besoek,” glimlag ek. Want ek weet reeds wat op hulle wag.
Sommige plekke beïndruk jou. Kaapstad bly by jou. Sy mense, sy geure en sy lig bly lank ná jou terugvlug in jou gedagtes hang.
Ek hoop dat ek eendag persoonlik by Kaapstad Internasionale Lughawe sal staan om hulle te verwelkom in die stad wat my gevorm het, die stad wat steeds soos huis voel en die stad wat ‘n besonderse manier het om ‘n plek in jou hart te vind.
Groete
Emsia