Herfs weerkaatsings in Tirol

Herfs weerkaatsings in Tirol

Ons het my onlangse verjaarsdag in Tirol, Oostenryk, naby Innsbruck gevier. Ons verblyf was op ‘n melk- en gasteplaas, Edenhauserhof, naby Natters meer. Die pragtige herfsweerkaatsings, sowel as die kristaluitstallings by Swarovski Crystal World, het my groot vreugde verskaf. Dit het ook as  metafore gedien om my te laat nadink.

Familielewe op die melk- en gasteplaas

Die plaashuis het my asem weggeslaan. Dit is ‘n pragtige houthuis versier met helder pienk petunias op die vensterbanke. In die agtergrond was lowergroen weivelde en die melodiese geklingel van koeiklokke.

Met sononder het die koeie rustig na die stal gestap om gemelk te word. Ons het aangesluit om te sien hoe die boer elke koei se melkproduksie langs hul onderskeie name aanteken.

Die kinders het buite gespeel met speelgoed en die katjies en honde. Hulle is reeds die 10de geslag van die gesin wat op die plaas woon. Die ouma was verantwoordelik vir ontbyt. Alle produkte was plaasvars en tuisgemaak. Sy was gasvry en het stadig in Duits met ons gepraat sodat ons haar kon verstaan.

Daar is ‘n kapelletjie op die plaas. Tydens COVID-19 het die jongmense wat die gastehuis bestuur, daarin getrou en ook hul dogtertjie in die kapel laat doop. Hulle samewerking en interaksie as familie het my met ‘n warmte in my hart gelaat.

Naby die plaashuis is kampgeriewe, geleë langs Natters-meer. ’n Sonnige herfsgloed in die lug en die weerkaatsings van die warm kleure op die meer se oppervlak, het ’n rustige atmosfeer geskep. Almal het die natuur se skouspel geniet.

Innsbruck

Innsbruck is ‘n pragtige dorp en die hoofstad van die Tirol-gebied. Dit lê in die Innriviervallei, omring deur hoë berge. Innsbruck beteken dus “Brug oor die Inn”.

Innsbruck is ‘n internasionaal bekende wintersportsentrum. Dit het die Olimpiese Winterspele twee keer aangebied. Die moderne Bergisel-skisprong, met sy asemrowende uitsig oor Innsbruck, getuig hiervan.

Dit het in die pragtige ou stad rondloop. Die mees ikoniese landmerk in Innsbruck is die Goue Dak, wat in 1500 voltooi is. Ons het die voorreg gehad om ‘n paartjie te aanskou wat hul troue voor hierdie geskiedkundige gebou gevier het.

Swarovski

Die Swarovski Crystal World in Wattens, ‘n entjie van Innsbruck af, was vir my ‘n hoogtepunt. Dit is ‘n familiebesigheid wat deur die vyfde geslag bestuur word. Dit is bekend vir sy pragtige ornamente en juweliersware. Hulle het egter ook ‘n Optika-afdeling wat spesialiseer in lense en teleskope.

Die Kristalwêreld bestaan uit ‘n Reuse-grot met 18 Kamers vol Wonders en ‘n betowerende tuin. Binne die Chambers of Wonder het wêreldwyd bekroonde kunstenaars, ontwerpers en argitekte uiteenlopende ervarings geskep om die veelsydige fasette van kristal ten toon te stel. Die uitstallings was interaktiewe ervarings.

Ons ervaring het in die Silent Lightroom begin.  Dit is ‘n betowerende winterwonderland met sneeu wat val en temperature so laag as minus tien grade. Die tweede kamer was ‘n kristalkoepel wat uit 595 spieëls bestaan het. Dit skep ‘n diepte-effek wat jou die gevoel gee dat jy binne-in ‘n kristal is.

Die Heroes of Peace-uitstalling het die grootste indruk op my gemaak. Innoverende projeksietegnologie het lewensgrootte hologramme van Nobelpryspryswenners toegelaat om lewendig te word. Hierdie “Helde van Vrede” het by besoekers betrokke geraak, inspirasie aangebied en die wysheid gedeel wat hulle uit hul buitengewone lewens gekry het.

In die Tuin het ek soos ‘n kind gevoel. Ek was betower deur die kristalwolke wat in die glashelder poel daaronder weerkaats het. Toe die son agter die wolke opkom, het die kristalle geglinster soos Kersfeesliggies wat ‘n boom versier.

Ligbreking en refleksie

Te midde van al ons ervarings het ligbreking en refleksie as simbole vir my geresoneer.

Breking is die buiging van lig soos dit van een deursigtige stof na ‘n ander beweeg. Dit speel ‘n belangrike rol in verskeie optiese instrumente, van lense tot vergrootglase, prismas en reënboë. Selfs ons oë maak staat op die buiging van lig. Soos kristalle buig God se lig deur ons. Elkeen van ons buig die lig op ons unieke manier om van die wêreld ‘n beter, mooier en meer kleurvolle plek te maak.

Refleksie, aan die ander kant, behels die weerkaatsing van lig sonder absorpsie. Oppervlaktes dien as spieëls wat die beeld weerspieël. Op dieselfde manier kan ander mense en uitdagende situasies as spieëls dien, wat ons toelaat om onsself duideliker te sien. Refleksie tyd help ons om sin te maak van wat ons waarneem en om te besluit wat ons met hierdie bewustheid wil doen. Ons refleksies help ons om te verstaan wie ons is en wat ons streef om te word.

Binne families vind beide ligbrekings en refleksies plaas. Elke lid breek die lig in hul unieke kleure en skakerings. Familielede se refleksies dien as spieëls wat ons help om ‘n duideliker begrip van onsself te kry. Soms inspireer en motiveer hierdie refleksies ons om onsself verder te ontwikkel.

My onlangse geskenk, “Briewe aan Emsia,” was ‘n spieël wat die perspektiewe van vriende en familie weerspieël en waardevolle insigte gebied het.

In die video hieronder gee ek jou visuele refleksie van ons naweek.

Groete

Emsia

My Briewe aan Emsia geskenk

My Briewe aan Emsia geskenk

Ek sal my onlangse verjaardag onthou as ‘n besonderse spesiale viering. Ons was die naweek in Oostenryk en die herfsskoonheid en ons saamwees het ‘n rol gespeel, maar ek het ook ‘n wonderlike verrassingsgeskenk ontvang.

Christo en Simone het besluit om ‘n versameling Briewe aan Emsia saam te stel. Met Charl en my suster se hulp het hulle briewe en foto’s van familie en vriende ingesamel. Dit was ‘n aangename verrassing wat my in trane gehad het. Almal se deernisvolle woorde was soos ‘n kombers van liefde wat my omvou het. Dit was egter ook soos ‘n spieël wat my ‘n duideliker siening gegee het van die aard van my verhoudings en hul persepsies van my.

Die verskeidenheid mense in my lewe

Die briewe het die verskeidenheid en diversiteit van die mense in my lewe beklemtoon. Terwyl ek elke brief gelees het, kon ek die skrywer se stem met herkenbare manier van praat, hoor. Met elke verhouding het ons verskillende raakpunte, simbole en herinneringe waarmee ons die vriendskap vier. Ek deel enkele uittreksels.

`n Kreatiewe vriendin

Ek en een van my vriendinne het besluit dat die kleur van ons vriendskap geel is. Dit is vir ons ‘n simbool van vreugde. Ek het haar brief se speel op geel geniet.

Ek skryf vir jou ‘n brief vandag elektronies, maar in my geestes-oog skryf ek vir jou ‘n brief in my beste handskrif op ‘n 1970’s skryfblokbladsy (wat in die laerskooldae as hobby bymekaargemaak is) met ‘n ouo-goud Sarah Moon prentjie op en met ‘n geel Bic-pen in my hand. (om jou so bietjie nostalgies te maak oor ons grootword era in Suid Afrika). Ek sluit my brief af met baie liefde en vreugde en sit dit in ‘n giggel geel koevert spesiaal vir jou.

`n Syfer vriendin

Nou soos jy weet, is syfers meer my ding, maar ek gaan vir jou ‘n verjaarsdagbriefie skryf. Ek dink dat God die dag toe hy jou geskape het, in ‘n ongelooflike goeie bui was.

Met al die standvastigheid, het God gedink sy mag dalk ‘n bietjie boring wees- so toe gee GOD vir Emsia, n flippen lekker humorsin. Hy gee haar ook die talent om tevrede te wees. God het haar so bekyk en Hy was ook tevrede.

My eerste vriendin

My vriendskap met my eerste vriendin is 50 jaar oud. Sy is een jaar en een dag ouer as ek en het my leer lees toe sy in graad 1 was. Ons het albei rekenmeesters geword, Kruger as getroude vanne gehad en ons kinders op dieselfde dag gedoop in die dorp waarin ons grootgeword het, want ons wortels is in die Kalahari. Hulle het hul seun Charl Kruger gedoop, en ons seun was Christo Charl Kruger gedoop. Ons woon albei tans in die buiteland. Sy skryf,

Daar is soveel herinneringe wat ek met jou deel, die lys gaan aan en aan. Sommige is prettig, ander nostalgies en ander eenvoudig net seer. Dit is wat ʼn ware vriendskap is – deur dik en dun.

Skoonfamilie

Die briewe het weer vir my bevestig hoe ryk ek is met my skoonfamilie. Wanneer jy trou of jou lewe met iemand deel, word jy deel van ‘n ander familie.

Ek het die Kruger-gesin as student leer ken. Ons het in kontak gebly, selfs nadat ek opgehou het om Kruger agter my naam te skryf. Ek is vriende met my seuns se niggies en nefies op sosiale media en kyk met opgewondenheid hoe hul lewenspaaie ontvou.

Met my tweede kans in liefde en lewe het ek deel van die Goosen-familie geword. Ek het twee ouer skoonsusters wat kontak hou en lief en leed deel, al woon ons oor verskillende kontinente heen. In die vorm van Candice, Charl se broer se dogter, het ek ‘n dogter gekry toe sy haar ouers verloor het.

Ons het nog kontak met Charl se skoonpa uit sy vorige huwelik en het hom as Zander se Oupa aangeneem. Hy het op Saterdae kom kuier en saam met Zander gespeel en so vir my en Charl ’n paar uur sonder verantwoordelikhede gegee. Volgens hom is hy nou ’n “remote” oupa. Hy is ‘n vaderfiguur vir my en Charl.

My kinders

In my ouer seuns se woorde kon ek sien dat al het hulle waardering vir my ma-rol, hulle ook die ander dimensies wat my menswees uitmaak, begin raak sien.  Hulle verstaan nou die uitdagings wat dit geverg het om besige seuns vol kreatiewe planne lewendig te probeer hou, beter. 

My 15-jarige  jongste het in sy brief verduidelik dat hy nou reeds weet dat hy in die toekoms ook beter waardering sal hê vir die dinge wat hom nou irriteer.

Vir baie mense is foto’s ‘n manier om herinneringe te bewaar of ervarings met ander te deel. My ma hou daarvan om foto’s te neem. Sy het altyd haar kamera en het selfs elke foto wat sy oor die afgelope 30 jaar geneem het gestoor. In teorie lyk dit na ‘n goeie idee, maar ek en my pa moet poseer en wag dat sy foto’s neem oral waar ons gaan!

Ma, weet dat ons volgende keer as ons jou terg omdat jy foto’s neem, sê ons net ons is lief vir jou. Ons sal dalk nie nou die voordele ten volle nou sien nie, maar die aantal dankies wat jy sal ontvang wanneer ons dit in die toekoms sien, sal dit die moeite werd maak. So dankie, Ma, dat jy vir ons omgee en lief is, selfs wanneer jy nie ons dankbaarheid kan sien nie.

My besef

Die grootste besef uit al die briewe, was die belangrikheid daarvan om ons liefde en waardering vir die mense in ons lewens uit te druk terwyl ons die geleentheid het. Die briewe wat ek ontvang het, was presies dit.

Groete

Emsia

Sigbare klimaatsverandering in Switserland

Sigbare klimaatsverandering in Switserland

Die impak van klimaatsverandering is sigbaar in Switserland.

Hittegolwe gedurende die somermaande het aansienlik toegeneem in frekwensie en intensiteit. Om energie te bespaar, het die regering konvensionele lugverkoeling stelsels verbied. Ek het nooit gedink ek sou die hitte in Switserland intenser as in Suid-Afrika ervaar nie.

Aardverwarming in Switserland is nou meer as dubbel dié van die gemiddelde wêreldwyd. Die feit dat daar geen oseaan in Switserland is nie, is die rede vir hierdie situasie. Landmassas absorbeer nie hitte so effektief soos water nie. Die oseane gebruik die hitte vir verdamping. Soos die gletsers smelt en sneeubedekkings afneem, absorbeer die landmassas meer sonhitte.

Die impak van klimaatsverandering op Switserse wintertoerisme

Wintertoerisme is die belangrikste bron van inkomste vir groot dele van Switserland. Hierdie gebiede in die Switserse Alpe is afhanklik van betroubare sneeuval. Klimaatsverandering beïnvloed reeds sneeuval laer in die Alpe aansienlik.

Die gletsers in die Alpe het meer as 60% van hul volume verloor sedert 1850. Ski-oorde in Switserland bedek hul gletsers met komberse om die smeltproses te vertraag.

Baie ski-oorde produseer kunsmatige sneeu. Gedurende die winter van 2020-2021 het kunsmatige sneeu 53% van die ski-hange in die Switserse Alpe bedek. Hulle gebruik water van nabygeleë strome en mere en laat dit onder druk deur sneeumasjiene hardloop. Hierdie klein waterdruppels vries die oomblik wat hulle uit die spuitpunte kom. Kunsmatige sneeu benadeel egter waterbronne en koste.

Vroeër jare het ‘n dik lae ys in die winter bo-op die mere gevorm. Die Zürichmeer was in die winter van 1962/63 vir die laaste keer gevries en was vir ‘n rukkie almal se speelplek. Erge koue periodes kom minder gereeld voor, en bevrore mere is amper iets van die verlede wanneer dit by die groter mere kom.

1929 (Foto: ETH-Biblioteek Zürich, Bildarchiv / Fotograaf: Onbekend)

Swisstainable

Kiesers het onlangs daarvoor gestem dat Switserland hom daartoe verbind om teen 2050 klimaatneutraal te word. Dit sal ‘n verandering in gewoontes en samewerking van almal verg om die doel te bereik. Individue en besighede sal op baie moontlike maniere Energie moet bespaar.

Gelukkig het Switserland reeds ‘n baie doeltreffende openbare vervoerstelsel. Met een van die digste spoornetwerke ter wêreld, is selfs die mees afgeleë plekke toeganklik met openbare vervoer. Meer as 1,1 miljoen passasiers gebruik daagliks treine, trems of busse. Ek het ook besluit om die openbare vervoerstelsel in Switserland te gebruik. Ek doen dit al vir vier jaar en geniet die veiligheid en betroubaarheid.

Daar is ‘n groot dryfkrag om organiese produkte te gebruik. In vergelyking met ander lande gebruik die Switserse die meeste organiese produkte per capita, en Switserse kleinhandelaars is al jare boaan die internasionale volhoubaarheidsranglys. Die land se gesindheid het ‘n groter bewustheid by ons geskep, en ons as gesin leef ook baie meer organies vandat ons hier woon.

Herwinning word ernstig opgeneem.

Herwinning en afvalbestuur word in Switserland baie ernstig opgeneem, en die regering verwag van elke persoon om saam te werk. Dit het ons ‘n rukkie geneem om op die program te kom. Ons was ‘n paar keer in die moeilikheid omdat ons onwetend nie die korrekte prosedures gevolg het nie, maar ons huishouding het nou prosesse in plek om ons samewerking te verseker.

Switserland herwin byna 53% van al die afval wat dit skep, een van die hoogste koerse in Europa. Elke soort afval word afsonderlik hanteer – van glas- en PET-bottels tot papier en karton en reg deur tot organiese afval, batterye en aluminium. Die verbruiker moet dit by die huis sorteer en dit dan gratis by ’n sentrale openbare afvalpunt ingee. Hierdie voorlegging het nou vir ons ‘n roetine-naweekaktiwiteit geword.

Omskepping van afval in energie

Owerhede moedig gebruikers aan om so min as moontlik items in vullissakke te gooi deur huishoudelike afval swaar te belas. In Switserland word geen afval in stortingsterreine begrawe nie, maar in bruikbare energie omgeskakel. Afvalverbrandingsaanlegte omskep vullis in bruikbare energie, soos elektrisiteit en hitte. Die verbrandingsoonde aanvaar graag plastiekafval aangesien plastiek ‘n petroleumproduk met ‘n energiewaarde is.

Almal moet deel van die oplossing wees

Almal moet deel wees van die oplossing, en verskeie lande bied inspirerende oplossings. In Denemarke besit die burgers byvoorbeeld twee derdes van die windplase. Die ekologiese oorgang gaan hand aan hand met ‘n demokratisering van die energie-infrastruktuur. Ek hoop Suid-Afrika se huidige elektrisiteitskrisis dwing ook toekomstige oplossings in daardie rigting.

Groete

Emsia

Pampoen uitstalling oor vrouekrag

Pampoen uitstalling oor vrouekrag

Switserland vier die pampoenseisoen. Jucker Farms het elke jaar ’n pampoen uitstalling met ’n spesifieke tema en hierdie jaar was dit vrouekrag. Ek het die kreatiwiteit en die stories van sterk vroue, wat elkeen ‘n groot verskil gemaak het, geniet.

Ek deel meer oor die insig en indrukke wat die uitstalling by my gelaat het.

Bertha Benz

Soos met baie nuwe dinge, was mense skepties oor Carl Benz se patentaansoek vir ‘n motor met ‘n enjin. Bertha het haar twee seuns in die motor gelaai en vir twaalf uur en 100 kilometer op meestal grondpaaie gery. Sy het die publiek se aandag op haar man se uitvinding gevestig sonder dat hy geweet het van haar plan. Sy het ook haar erfporsie in hierdie navorsing belê.

Berta het ‘n praktiese benadering sonder vrees gevolg om haar man te ondersteun en het bygedra tot tegnologiese vooruitgang. Wat ‘n inspirasie!

Frida Kahlo

Ek is vertroud met hierdie Mexikaanse kunstenaar se kleurvolle werk. In die uitstalling het ek geleer dat sy as kind aan polio gely het en as tiener amper in ‘n busongeluk gesterf het. Sy het baie gebreekte bene en frakture gehad en het begin skilder terwyl haar liggaam in gips was. In haar leeftyd het sy 30 operasies gehad. Baie van haar skilderye is selfportrette.

Haar vermoë om soveel skoonheid te skep ten spyte van haar pyn, inspireer my. Frida is ‘n vaandeldraer vir vroue se innerlike krag en moed.

Greta Thunberg

Greta is ‘n jong omgewingsaktivis. In plaas daarvan om skool toe te gaan, het sy ‘n groot bord gemaak wat lees ‘SKOOLSTAAK VIR KLIMAAT’ en buite die Sweedse parlement gesit. Die media het bewustheid van haar optrede versprei en tienduisende studente wêreldwyd het by haar aangesluit.

Sy het Asperger-sindroom, maar sien dit as haar superkrag. Sy sê dit help haar om die wêreld in swart en wit te sien en dat daar geen grys areas is wat klimaatsverandering betref nie.

Joan of Arc

St. Joan of Arc is ‘n nasionale heldin van Frankryk. Sy was ‘n gelowige boeremeisie wat onder goddelike leiding opgetree het en die Franse leër na ʼn belangrike oorwinning gelei het. Sy het mansklere gedra wat haar in staat gestel het om ‘n leër van mans in geveg te regeer en het haar hare kort gesny in die ‘Bob’ snit wat ons deesdae met Franse vroue assosieer.

Alhoewel Joan twee keer in die stryd gewond is, het haar geloof en intuïsie haar beskerm totdat sy haar missie bereik het.

Cleopatra

Cleopatra was ‘n Egiptiese koningin wat in die geskiedenis bekend was as die minnaar van Julius Caesar en later as die vrou van Mark Anthony. Gedurende hierdie tyd het sy die Romeinse politiek aktief beïnvloed.

Cleopatra was goed ingelig en baie intelligent. Sy was bedrewe in chemie, ekonomie, handelstrategie, militêre teorie, regte en taalkunde. Cleopatra was tien tale magtig en die eerste Farao wat met die diverse groepe mense in haar ryk in hul moedertaal gepraat het.

“Mental load”

Hierdie uitstalling het ‘n boodskap gedra waarmee ek dink die meeste vroue hulle kan vereenselwig. In Engels noem hulle dit “worry work”. Zander sê dat kommer, na sy mening, die aktiwiteit is waaraan ek die meeste tyd spandeer.

Ek het weggestap met die besef dat sterk vroue deur die geskiedenis, elkeen op hul manier, ‘n beduidende impak gemaak het. Die meeste vroue sal nooit in geskiedenisboeke verskyn nie, maar hul ondersteuning, aanmoediging en vermoë om dinge bymekaar te hou, het `n langdurige impak in hul gesinne en gemeenskappe.

Groete

Emsia

Geskenke van liefde uit die hart

Geskenke van liefde uit die hart

My suster het onlangs 50 geword. Ek het ‘n geskikte geskenk om hierdie mylpaal verjaardag te vier, versigtig oorweeg. My enigste doelwit was om my liefde en waardering vir haar te herbevestig.

Ek het uiteindelik teen ‘n geskenk wat in papier toegedraai is, besluit. Ek wou my tyd deel en met opregte belangstelling luister terwyl Ansa meer oor haar vreugdes en hartseer gedeel het. Elkeen met ‘n koppie koffie aan verskillende kante van die wêreld het ons kosbare saamwees tyd geniet en lekker gelag.

Deesdae sien ek geskenke in ‘n heel ander lig. Enige tyd of moeite van iemand om ‘n situasie makliker te maak of my beter te laat voel, is ‘n geskenk. Dit behoort egter beide die ontvanger en die gewer positief te beïnvloed. Enige poging wat deur verpligting gedryf word, kwalifiseer as ‘n taak, nie ‘n geskenk nie. Geskenke met liefde uit die hart, kan baie vorme aanneem.

Maak tyd vir iemand

My liefdestaal is kwaliteit tyd.  As jy tyd maak saam met my of vir my, waardeer ek dit oneindig. Ek sien elke kuier, gesprek, of boodskap as ʼn kosbare geskenk, want iemand het tyd met my gedeel.

Ek het ʼn staande afspraak om elke Maandag met my ma oor die foon te gesels. Na die eerste lui antwoord sy, altyd vriendelik en bly om my stem te hoor. Die feit dat ek nog met haar kan praat is my geskenk, maar sy spreek altyd haar waardering vir my tyd en belangstelling uit.  Die gesels is waardevol vir beide van ons.

Ek het ʼn reëling met een van my vriendinne dat ons mekaar se verjaarsdae sal vier deur ʼn aanlyn video gesels in die maand wat ons verjaar. Ek het nog elke keer die gesels afgesluit met nuwe inspirasie en ʼn lied in my hart.  Geen fisiese geskenk kan naby aan dit kom nie.

Deel meer eerlik oor jouself

Ek hou van die Sweedse uitdrukking, “Gedeelde vreugde is dubbele vreugde; Gedeelde hartseer is ‘n halwe hartseer.” Die uitgangspunt is eenvoudig. Ons Skepper het ons as mense geskep om empaties te wees.

Vreugde

Wanneer ons stories van vreugde, geluk en prestasie hoor, beïnvloed dit ons positief. Ons moet mense aanmoedig om hul positiewe ervarings te deel en op hierdie manier te help om vreugde te versprei.

Uitdagings en hartseer

Mense is oor die algemeen huiwerig om meer oor die uitdagings en hartseer in hul lewens te deel. Ons almal vrees oordeel, onsensitiwiteit, en verwerping. Tog leer ek so baie uit ander mense se stories. Die deursettingsvermoë in die stories gee my nuwe nuwe inspirasie en ander perspektiewe.

Ek het ‘n vriendin wie se seun kanker het. Sy is ‘n baie private individu maar het ‘n WhatsApp groep vir familie en vriende geskep waarin sy meer oor hoe dit met hom en hulle gaan, deel. Die hele situasie is te veel vir ‘n ma en pa om alleen te dra. Haar eerlike deel oor ‘n emosionele situasie stel baie mense in staat om hulle in hul harte te dra en vir hulle te bid. Daarbenewens leer en verstaan ons almal baie meer oor die kanker ervaring.

’n Vriend wat met depressie gesukkel het, het my meer geleer oor hierdie swart hond en my begrip en perspektief ten opsigte van hierdie siekte verbreed. Dit het my gehelp toe ons ‘n familielid met depressie moes ondersteun.

Die lewe gooi verskillende uitdagings na ons kant toe.  Deur ons stories te deel skep ons bewustheid en ook geleentheid vir ander om ons op verskillende maniere te ondersteun.

Gee erkenning aan mekaar

Mense deel hulle vreugdes, gewaarwordinge en hartseer op verskillende maniere.  Sommige mense het vriende en familie wat naby woon en bereid is om te luister. Dit maak dit makliker om vreugdes en hartseer met hulle te deel. Wanneer iemand luister, voel jy en jou pyn erken.

In baie gevalle woon mense alleen of vêr van familie en vriende af. Hulle deel vreugdes en hartseer deur elektroniese boodskappe of plasings op sosiale media. Wanneer iemand reageer, voel hulle erken. Wanneer mense egter nie reageer nie, laat die situasie hulle selfs meer alleen voel.

Luister na iemand sonder onderbrekings.

Wanneer jy meer oor jouself deel, en iemand luister aandagtig en met belangstelling, het dit ‘n positiewe impak. Jy voel gehoor en gewaardeer. As ek ontsteld is en iemand luister na my sonder om my te onderbreek, help dit my om emosioneel te ontlaai en ‘n beter perspektief op my situasie te kry. Dit bou ook vertroue en laat my voel ek maak saak. Selfs om net rustig na iemand te luister, kan ‘n waardevolle geskenk wees.

Wanneer geleenthede opduik om geskenke te gee, moet ons die doelwit wat ons daarmee wil bereik, onthou. Nie alle geskenke hoef fisiese items te wees wat in papier toegedraai is nie. Dit is wanneer ons van ons tyd of onsself saam met liefde uit ons harte gee, dat dit ‘n impak het.

Liefde groete

Emsia

Verskillende juwele van die Baltiese See

Verskillende juwele van die Baltiese See

Dit is fassinerend sowel as verrykend om meer oor ander kulture te leer. Daar is soveel aspekte wat ‘n impak op die ontwikkeling van kulture regoor die wêreld gehad het.

Die geleentheid om vir ‘n paar jaar in Europa te woon, maak sekere lande en kulture meer toeganklik vir ons. Ons het besluit om die somervakansie te benut om dele van Noord-Europa rondom die Baltiese See met ‘n skip te verken.

Zander het sy Duits geoefen

Ek het al in `n vorige brief vertel dat ons gesin `n lang pad met MSC stap.  Die Baltiese see-vaart het vanaf Kiel vertrek en die meeste passasiers was Duits.

Die gebruik van die Duitse taal op die skip het ‘n voordeel vir Zander ingehou. Hy het by die tienergroep aangesluit en was dapper genoeg om Duits te probeer praat. Hy het in die proses kosbare vriendskappe met Duitse seuns gevorm. Hulle was baie geduldig met hom en het hom gehelp om sy Duitse woordeskat en uitspraak te verbeter. Hulle het selfs ingestem om weer iewers in die komende jaar in ‘n Duitse stad te ontmoet.

Tydens hierdie Baltiese vaart het ek meer van sekere Noord-Europese lande waarvan ek baie min geweet het, geleer.

Kopenhagen, Denemarke

In Kopenhagen se hawe aangekom, het ek dadelik die rye windmeulens in die see opgemerk. Denemarke is ‘n leier in windkrag innovasie.

Ná ons besoek is my beeld van Kopenhagen die rye gekleurde geboue, wat soos Lego-huise lyk.

Lego het in Denemarke ontstaan toe ‘n skrynwerker speelgoed begin maak het om sy inkomste aan te vul. Charl en Zander bou graag Lego en het die oudste Legoland-winkel met verskeie uitstallings baie geniet.

Ons het grootgeword met die verhale van Hans Christian Anderson, ‘n Deense skrywer van kinderverhale. ’n Standbeeld van die Klein Meermin, wat deel van hierdie stories vorm, was die eerste besienswaardigheid wat ons in Kopenhagen gesien het.

Tallinn, Estland (Estonia)

Toe ons deur twee stadstorings in Tallinn die ou stad binnestap, het dit gevoel of ons die 21ste eeu agterlaat en terug is in die Middeleeue. Blommeverkopers het ‘n verwelkomende en geurige atmosfeer geskep.

Ons het die handgemaakte items geniet wat die eienaars met trots in die toeristewinkels uitgestal het. Die woltruie, hoede en sokkies het my laat besef hoe koud dit hier moet word in die winter. Daar was ook baie produkte wat uit hout gesny is. Ek neem aan dat die skep van handwerk ‘n manier is om deur die lang koue winters te kom.

Ek was mal oor die mooiste juwele gemaak van Baltiese amber, wat hulle uit die see verkry. Dit is ‘n edelsteen wat meer as 45 miljoen jaar gelede ontwikkel het uit boomgom van dennebome.

Die Russiese argitektuur van sommige geboue het ons daaraan herinner dat ons baie na aan Rusland is. Voor die restaurant, waar ons ‘n bier geniet het, was ‘n plakkaat wat hul ontevredenheid met Poetin aandui.

Helsinki, Finland

In teenstelling met Estland, het Helsinki, bekend vir sy argitektuur en ontwerp, ‘n geweldige moderne en minimalistiese gevoel. Zander was mal oor Helsinki.

Ek wou die Sibelius-monument sien ter ere van ‘n wêreldbekende komponis. Hierdie monument bestaan uit 600 orrelpype. Dit was ‘n entjie buite die stad en met ‘n bietjie tyd oor het ons besluit om in ‘n moderne winkelsentrum te gaan stap.

Bouwerk naby die sentrum het meegebring dat die busse nie meer stilgehou het op die plekke wat op die padkaart aangedui is nie en het ons gesukkel om betyds terug by die skip te kom. Gelukkig het my ervare kaartlesers tot ons redding gekom.

Stockholm, Swede

Stockholm het my asem weggeslaan. Ek sal graag terug wil gaan, want ek het nie genoeg tyd gehad om alles op my wenslys te sien nie. Stockholm strek oor 14 eilande en ek was mal oor die stad met al sy water en goed versorgde parke.

Ons het die Paleis, die amptelike woning van die koning wat al 50 jaar aan bewind is, besoek. Ek was verstom om te sien hoe toeganklik hulle die Paleis vir besoekers gemaak het. Dit is deftig en pragtig.

Dit was ook interessant om die skryftaal te kon verstaan, want daar is baie woorde wat na aan Afrikaans is. Om ‘n dag in Stockholm se treinstelsel deur te bring is soos om ‘n kunsuitstalling te besoek. Kunstenaars het honderd stasies met unieke kuns op die platforms, mure of wagareas versier.

As ek meer tyd gehad het, sou ek graag die Nobelprys museum, ABBA-museum en die parke wou besoek het.

Ons besoek aan Noord-Europa en die Baltiese See was ‘n verrykende ervaring. Ek deel foto’s hieronder.

Groete

Emsia

Gardameer se waters van rus

Gardameer se waters van rus

Die wêreld waarin ons leef is besig en vol uitdagings en verandering. Ons liggaam en siel het stilte en rustigheid nodig. Ons het tyd nodig om asem te skep, sin te maak van alles, af te skakel en teenwoordig te wees om die skoonheid om ons te geniet. ’n Verandering in ons omgewing verrig dikwels wondere.

Toe ons voor ons vakansiehuis naby die Gardameer in Noord-Italië stilhou, het dit na net die regte plek gelyk om rus en vrede te vind.

Die verblyf het ‘n groot stoep gehad omring deur pers bougainvilleas. Die sonbesies in die omliggende olyfboorde het vir agtergrondmusiek gesorg. Vroegoggend en aand het die kerkklok die mooiste deuntjie gespeel en die plaaslike donkie en pou aangemoedig om hul musikale bydraes te lewer.

Gardameer

Die Gardameer is die grootste meer in Italië, geleë tussen die Alpe en die Po-vallei. Die hoë berge, skilderagtige dorpies en welige natuur dra by tot ‘n pragtige prentjie. Ek het die goedversorgde tuine, grasperke en vele historiese klipgeboue wat die oewer van die meer versier, bewonder.

Om in die meer te swem was ‘n rustige ervaring. Die water is silwerskoon en baie verfrissend. Gesinne het in die water met ‘n bal gespeel of op ‘n SUP of kajak geroei. Die son het op die water geblink en ons kon die klippies op die bodem sien.

Ons het gereeld rondgery om die omgewing en verskillende dorpies langs die meer te verken.

Toscolano Moderno

Die dorpie naaste aan ons verblyf was Toscolano Moderno. Hierdie dorpie dateer uit die Romeinse tyd en was ‘n belangrike sentrum van papierproduksie. Dit het ‘n hawe vanwaar bote die papier na Venesië geneem het. In die verlede het adellike families hier gewoon. Oorblyfsels van pragtige villa’s omring deur talle suurlemoenboorde en welige tuine vol pers bougainvillaeas getuig hiervan.

Limone

Limone was die mooiste plek vir my en het steeds die atmosfeer van ‘n klein dorpie Die hoofaktiwiteite tot die vorige eeu was visvang en olyf- en suurlemoenverbouing. Ons het Limone op markdag besoek en kon eerstehands die verkope van suurlemoene en ander plaaslike en handgemaakte produkte ervaar.

Limone strek langs die oewer van die Gardameer en het kliphuise wat in die berghange versteek en met plante en blomme versier is. Baie plekke kyk uit oor die meer, en jy kan wonderlike uitsigte oor die Gardameer geniet as jy bereid is om die vele trappe wat na die terrasse lei, te klim.

Salo

Ons laaste besoek was aan Salo, die grootste stad aan die westelike oewer van die Gardameer. Ek lees dat Salo die langste promenade in Italië het en ons het saam met al die ander besoekers daarlangs gaan stap.

Daar is talle kafees en restaurante en ons het ‘n rukkie gaan sit en kyk hoe die wêreld verbygaan.

Die smal paaie in Italië

Die smal paaie in Italië het ons soos voorheen gekonfronteer. Met ’n klipmuur weerskante van die pad dorp toe, het ons net vooraf gehoop op geen aankomende verkeer nie. Soms was ons gelukkig, maar ander kere moes Charl vir lang afstande in trurat ry om plek te maak vir aankomende werksmense wat haas om betyds by die werk te kom. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat daar ‘n groot verskil tussen Italiaanse en Switserse bestuurders is!

Ons het Gardameer se rustigheid geniet. Vir my is die Gardameer die Europse vorm van `n Hartenbos vakansie waarvan ek kosbare herinneringe as kind het.

Een van hierdie paadjies wat naby ons verblyf verby loop, vorm deel van ‘n Camino-roete. Die baie stappers het vir Zander en my aangemoedig om ‘n deel van die pad tussen twee kerke aan te durf. Die uitsigte oor die meer en baie koeltebome op die roete het ‘n aangename ervaring geskep.

Donderstorm

Een nag het `n donderstorm ‘n skouspel in die lug bo die meer veroorsaak. Dit was stormagtig, ons het glas hoor breek en die wind het die potplante op die stoep omgewaai. Die sonbeddens en sambrele het in die swembad ingewaai. ’n Pa het tevergeefs probeer om sy kinders se speelgoed wat buite gelaat is, te soek. Hy het met ‘n glimlag opgemerk dat hulle die volgende dag ‘n skattejag sou hou.

Die volgende oggend het ‘n kalmte neergedaal en die son het helder op die meer geskyn as ‘n teken dat die storm verby is. Ek deel ons vakansiefoto’s hieronder

Ek is dankbaar dat ons die rustigheid van die Gardameer kon ervaar. As kinders het ons gesin met somervakansies Hartenbos toe gegaan om vrede en ‘n verandering in omgewing te ervaar. Vir my is die Gardameer die Europese vorm van ‘n Hartenbos-vakansie.

groete

Emsia

Graffiti en straatkuns in Switserland

Graffiti en straatkuns in Switserland

Met ons aankoms in Zürich, was ek verstom deur al die graffiti in die stad. Op daardie stadium het ek graffiti as ‘n vorm van vandalisme beskou. Graffiti en straatkuns se rol in die samelewing het egter aansienlik verander. Kuns in openbare plekke bied geleenthede vir kunstenaars om hul talent ten toon te stel en sosiale menings met die algemene publiek te deel.

Banksy

Banksy het ‘n beduidende rol gespeel om graffiti meer gewild te maak. Die kunstenaar se straatkuns beklemtoon sosiale en politieke kwessies direk en pragtig. Die eerlikheid van die kuns en die feit dat die kunstenaar anoniem is, dra by tot Banksy se roem. Banksy se styl is minimalisties en gebruik dikwels ander items van die straat om deel van die beeld te vorm. Banksy het daarin geslaag om die kreatiwiteit en plek van graffiti in die artistieke gemeenskap te bevorder.

Mense het sedert die uitbreek van die oorlog verskeie Banksy-kuns in die Oekraïne ontdek. ‘n Uitstalling wat verleng is, “The Mystery of Banksy – A Genius Mind”, gee mense in Zürich die geleentheid gegee om meer te leer en Banksy se kuns te waardeer.

As ek aan Banksy dink, kom die meisie wat na die hartvormige ballon gryp, by my op. Die beeld het baie emosionele interpretasies. Vir sommige lyk dit asof die meisie die ballon verloor, terwyl ander sien dat sy op die punt is om dit te vang. Dit simboliseer hoop, liefde en vryheid.

BANE

Ek het onlangs bewus geword van BANE, ’n bekende Switserse straatkunstenaar. Fabian Florin, oftewel BANE, woon in die Switserse dorp Chur. Baie van sy werke is in Chur, maar sy werke versier ook nou mure in ander wêreldstede. ‘n Indrukwekkende muurskildery is op die koringmeultoring in Chur. Langs ‘n rivier in Chur is daar ook ‘n pragtige 3D-prent van ‘n visserman.

BANE se lewensverhaal is baie inspirerend. Op veertien het hy aan dwelms verslaaf geraak en vir 14 jaar op straat gewoon. Sy leefstyl het hom verskeie kere agter tralies geplaas. In sy laat twintigs het hy ‘n laagtepunt bereik. Hy is met drie en ’n half jaar tronkstraf gedreig, maar het langtermynterapie gekies. Die harde onttrekking het twee maande geduur, en die terapie twee jaar. In hierdie tyd het Fabian muurskilderye begin spuit.

Vir hom was sy kuns soos ’n klein “vlam” wat in hom gebrand het. “Noem dit hoop of die wil om te oorleef. Maar hierdie vlammetjie het daarin geslaag om die verskil op daardie oomblik te maak“, sê BANE.

BANE het ook deure vir ander graffiti-kunstenaars oopgemaak. Beskadiging van eiendom deur graffiti is onwettig in Switserland soos elders. Die stad Chur het egter besluit om graffiti as ‘n vorm van kuns te ondersteun en het sedert 2014 talle mure vir kreatiewe kunswerke vrygestel. Die stadsamptenare vra die kunstenaars om hul kunswerke op sosiale media met die hutsmerk #streetartchur of #churkultur te merk en te erken hulle vir hul deelname.

Frauenfeld se Straatkuns Fees

Omdat ek BANE se werk persoonlik wou sien, het ek Frauenfeld besoek. Die dorp het aan die begin van Junie ‘n Straatkunsfees gehou. Sestig nasionale en internasionale straatkunstenaars het Frauenfeld in ‘n opelug kunsgalery omskep. Besoekers kan die hele somer na die kunswerke kyk. Ek dink dit is ‘n baie kreatiewe manier om toeriste te lok.

Ek het BANE se kunswerk met die titel – Cutting through History gevind. Die gebou met die muurskildery van ‘n jong meisie wat naaldwerk doen, was die winkel van die dorp se kleremaker. My ma het in ons jeug ons klere self gemaak en ek onthou haar voor haar naaimasjien of met ‘n naald of skêr in haar hand. Hierdie kunswerk het iets in my geroer en ook volgens die naam, deur my geskiedenis gesny.

Straatkuns speel ʼn belangrike rol

Ek kyk nou anders na straatkuns en kan die voordele sien wat dit inhou. Daar is ‘n toerismevoordeel omdat mense van ander gebiede af reis om muurskilderye en ander straatkuns te sien, wat inkomste vir plaaslike besighede kan genereer. Straatkuns het ‘n toeriste-aantreklikheid in baie stede regoor die wêreld geword. Daar is selfs ‘n Straatkunstoepassing wat jy kan aflaai wat jou sal help om kunswerke in ‘n spesifieke stad te sien.

Straatkuns kan ook dien as ‘n platform vir sosiale kommentaar en bewusmaking. Dit kan die aandag op belangrike sake vestig en gesprekke binne die gemeenskap stimuleer. Straatkuns laat my dink aan die uitdrukking deur Albert Einstein. Hy het gesê Kreatiwiteit is intelligensie wat pret het.

Ek sluit af met woorde van Banksy.

Art should comfort the disturbed and disturb the comfortable.

I’ve learnt from experience that a painting isn’t finished when you put down your brush – that’s when it starts. The public reaction is what supplies meaning and value. Art comes alive in the arguments you have about it.

Groete

Emsia

As vreemdelinge vriende word

As vreemdelinge vriende word

Ons wil almal graag vriende hê, maar is nie altyd bereid om die moeite en tyd in te sit om vriendskappe te vorm nie. In ‘n nuwe land het ek gou besef hoeveel moed dit verg om na ‘n vreemdeling uit te reik. ‘n Eenvoudige gesprek is egter nodig om die proses om iemand beter te leer ken, af te skop.

Die waarde van vriendskap

Alle mense het konneksie nodig en ons vind dit in verskillende verhoudings. Vriendskap is ‘n verhouding wat ‘n belangrike rol in ons welstand speel. Gesonde en ondersteunende vriendskappe verbeter ons selfvertroue en eiewaarde. Dit help ons om ernstige lewensgebeure soos verandering of verlies te hanteer. Boonop versterk dit ons gevoel van behoort en moedig ons aan om veranderinge aan te bring wanneer nodig. Vriendskap bied ons ook die geleentheid om ‘n rol in iemand anders se lewensverhaal te speel.

Reik uit

`n Mens onderskat gereeld hoeveel iemand dit waardeer as jy na hulle toe uitreik.  Verlede jaar het een van die ma`s in Zander se graadgroep, Darja, vir my `n onverwagse boodskap gestuur.  Sy het gevra of ek kans sien om saam met haar die graadgroep ouer te wees wat kommunikasie tussen die skool en ouers hanteer.  Sy het dit as `n lekker manier om mekaar beter te leer ken ingekleur.  Ek was aanvanklik onseker of ek die regte persoon is vir die taak, maar het besluit om dit `n kans te gee.

Sy sal nooit besef watter groot guns sy my gedoen het nie.  Die positiwiteit wat ek deur haar aksie ervaar het, was ʼn aansporing vir my om meer vrymoedigheid te neem om na ander mense uit te reik. Daar is ʼn korrelasie tussen my gevoel van behoort en die aantal mense met wie ek ʼn gemaklikheid het om mee te gesels.

Raak betrokke

Ek maak die maklikste vriende deur iets saam met iemand te doen.  Dit is waarom dit so goed is om as vrywilliger by sake betrokke te raak.  Die geleentheid om saam aan `n gemeenskaplike doelwit te werk, skep ook baie geleentheid om ander mense op `n informele manier beter te leer ken en gemeenskaplike belangstellings te identifiseer. 

By die internasionale skool bly die meeste gesinne tussen 3 en 5 jaar. Die skool het baie strukture en prosesse in plek om mense te help integreer en die verandering hanteer. Die Ouervereniging reël geleenthede waar ouers saam met ander ouers as vrywilligers kan werk. Hulle koördineer ook klubs waar ouers met gemeenskaplike belangstellings aktiwiteite saam kan geniet.

Dit het baie moed geverg om my naam op die lys te sit en geleenthede vir die eerste keer by te woon. Ek het by die tennisklub en die vlugtelingkamp vrywilligersgroep aangesluit. Gelukkig het die ander mammas my tuis laat voel. Ek het baie positiwiteit ervaar in saamwees en minder alleen in my uitdagings om in ’n nuwe land aan te pas.

Belê in vriendskappe en verhoudings

Dit is maklik om so op werk, belangstellings en familie gefokus te wees dat ons nie tyd vir vriendskappe maak nie. Ek is al baie jare daaraan skuldig. Iets drasties, soos om na ‘n ander land te verhuis, het egter my oë oopgemaak.

Afstand en ’n verandering in omgewing het my genoop om anders na verhoudings te kyk en meer moeite daarmee te doen. ’n Mens moet buite die boks dink en kreatiewe maniere vind om die verhouding in stand te hou. Sommige vriende geniet dit om saam aktief te wees en ander hou daarvan om nuwe plekke te besoek. Ek doen aanlyn Bybelstudie saam met ‘n paar vriende en ek hou kontak met ander deur gereelde koffiekuiers, telefoonoproepe en briewe.

Ons moet tyd belê in die mense wat vir ons kosbaar is. Die konneksie en positiewe uitwerking daarvan is altyd die opoffering en belegging werd.

‘n Onlangse vriendskapsgeskenk

Ek het onlangs ‘n kosbare geskenk in die vorm van ‘n Afrikaanssprekende vriendin in Switserland, ontvang. Ons het soveel in gemeen dat ek weet dat Marna vir my gestuur is.

Een keer per week gaan ons op ‘n daguitstappie en verken Switserland saam. Dit is ‘n opwindende manier om die vriendskap te groei. Ek waardeer dit om ‘n vriendin in ‘n ander land te hê wat my kultuur verstaan, my taal praat en soortgelyke waardes en belangstellings het. Dit is ‘n positiewe manier om die buitelandse ervaring, vreugdes en uitdagings te deel.

As ek terugkyk op my lewenspad, kan ek sien hoe die regte mense op die regte tyd my pad gekruis het. Alhoewel op verskillende maniere en tye, het elkeen ‘n belangrike rol in my lewe gespeel. In `n vorige brief het ek meer vertel oor vriendinne wat my moederskap turbulensie help verlig het.

Ek verstaan nou dat elke vriend en vriendin ‘n geskenk is wat met `n doel aan my gegee is.

Groete

Emsia

Briewe dra woorde en emosies

Briewe dra woorde en emosies

In Switserland is die posstelsel effektief en die inwoners benut dit ten volle. Inwoners stuur uitnodigings en dankie-kaartjies per pos soos ons voorheen in Suid-Afrika gedoen het. Die Post werknemers lewer daagliks die pos in kenmerkende geel afleweringsvoertuie af. Ek het in die kleiner dorpe gesien hoe hulle die deurklokkies van die afgetrede inwoners lui en die briewe saam met vriendelike geselsies oorhandig.

Foto deur: Kyburz Switzerland

Dit is kosbaar om ‘n handgeskrewe dankie-briefie in die pos te ontvang. Dit voel of iets van die skrywer se menswees saam met die briefie arriveer. Ek is mal oor briewe en bêre almal wat ek ontvang. Toe ek tydens ons verhuising alles in bokse vir die stoorkamer moes pak, het ek tussen al die briewe en herinneringe uit die verlede verdwaal.

Ek heg waarde aan geskrewe woorde

Ek heg baie waarde aan woorde.  Woorde is kragtig en kan heel, motiveer en sake van die hart kommunikeer. Dit kan egter ook verwond. Briewe is die draer van woorde en gepaardgaande emosie en het nog altyd `n belangrike rol in my lewe gespeel. Met ons verhuising na Switserland het my tweeweeklikse briewe aan familie en vriende vir my `n reddingstou geword. 

Briewe is `n goeie manier om met die mense wat vir my kosbaar is kontak te hou. Dit dwing my om oor gebeure te reflekteer, sin daarvan te maak en in woorde weer te gee.

Briewe vir moeilike gesprekke

Ek het al in die verlede briewe gebruik om moeilike boodskappe oor te dra. Sommige was net ‘n goeie uitlaatklep vir opgekropte woede en frustrasie. Gelukkig het ek hulle agterna in klein stukkies opgeskeur en in die asblik gegooi.

Ná moeilike gesprekke kan ek gewoonlik aan baie ander dinge dink wat ek wens ek eerder gesê of op ’n beter manier gestel het. Woorde op papier gee my tyd om te dink en maak seker dat ek dit versigtig kies ten einde die boodskap met die regte bedoeling oor te dra. Woorde op papier is meer permanent en ek het al geleer ek moet hierdie briewe met die langtermyn in gedagte skryf.

My kinders

Ek hou daarvan om spesiale geleenthede in my kinders se lewens met briewe te erken. Daarin vertel ek vir hulle wat ek in hulle waarneem maar spreek ook my hoop vir hul lewenspad uit. Ek weet hulle lees dit soms wanneer hulle daardie plekke op die pad bereik waar hulle moedeloos voel en woorde nodig het. Selfs al is ek nie meer ‘n telefoonoproep vêr nie, weet ek my woorde sal by hulle wees.

Ek het al die briewe wat hulle tydens hul kinderjare geskryf het, gebêre. Daar is pragtige briewe met Moedersdag, verjaarsdae en briewe aan Kersvader.

Met sekere ouerskap situasies was ek meer tegemoetkomend as ander ouers, maar ek was met al my seuns streng oor ouderdomsgeskikte rekenaarspeletjies en flieks. Jare gelede was Christo se maats baie gefrustreerd met my omdat ek hom nie wou toelaat om ‘n 16-ouderdomsbeperkte rekenaarspeletjie saam met hulle te speel nie. Hulle het besluit om elkeen vir my ‘n persoonlike brief te skryf. Ek kon net glimlag toe ek die 12-jarige argumente lees. Ek beplan om daardie briewe eendag vir hom gee as self hy ‘n tiener het.

My pa en ma

As jong volwassene het ek meer bewus geword van die lewe se drake. Ek het anders na my ouers gekyk en was dankbaar vir wat hulle vir ons gedoen het ten spyte van al hul uitdagings. In ‘n brief aan my pa en ma het ek hulle bedank vir al hul opofferinge. Daar was vakansies wat hulle by die huis gebly het omdat alle beskikbare fondse na ons naskoolse opleiding moes gaan. Hulle moes vroeg opstaan, planne maak en probleme opgelos. My ma het my vertel van my pa se emosies toe hy die brief ontvang het. Ek is so dankbaar dat ek dit geskryf het, want ek het my pa kort daarna verloor.

Tydens ’n onlangse besoek het my ma vir my die briewe gewys wat my pa voor hul troue aan haar geskryf het. Hulle het in verskillende klein dorpies gewoon. Briewe was die enigste manier waarop hulle privaat oor ‘n afstand kon kommunikeer. Dit was kosbaar om my pa se handskrif op papier te sien en sy woorde so vol liefde vir haar te lees.

Ek kon iets van sy menswees in sy briewe ervaar maar ook beter insig in hul uitdagings kry. Hy moes met sy eerste motor ’n grondpad aandurf om by haar te kuier. Baie van sy probleme het met sy kar te doen gehad. Ek is seker sy briewe neem my ma vêr terug in tyd. 

Dankie dat jy my briewe lees

Groete

Emsia