My kinders verlaat die nes

My kinders verlaat die nes

Aan die einde van elke jaar stap kinders vir die laaste maal by die skool uit en maak gereed vir ʼn nuwe hoofstuk in hulle lewe.  Aanvanklik is almal maar bang en onseker met die aanvang van die na-skool hoofstuk en jy as ouer hoop en bid vir die beste.  Dit is baie spesiaal om die transformasie en groei in selfvertroue by elkeen op sy of haar unieke manier waar te neem.

Tot dusver het ons die voorreg gehad om die transformasie by Candice en Jacques te kon waarneem en Christo is nou gereed om sy nuwe hoofstuk te begin.

Christo, Jacques, Candice saam met Tristan

Candice

Candice het vier jaar gelede as onseker eerstejaarstudent haar intrek in ʼn koshuis in Potchefstroom geneem. Sy het hard gewerk, wonderlike vriende gemaak, al hoe meer geleenthede aangegryp en getransformeer in ʼn pragtig jong selfstandige vrou. Sy het pas haar onderwysgraad by NWU in Potchefstroom voltooi en sien uit na ʼn jaar van skoolhou saam met haar vriend Tristan in Thailand.

Tristan en Candice

Christo

Christo het sy intrek in Matieland as eerstejaar geneem om ingenieurswese te studeer . Ek sou graag wou help pak en rondry om die laaste benodigdhede vir Christo se nuwe hoofstuk te kry. Ek wou graag die rektor se toespraak op ʼn pragtige somersnamiddag op Coetzenburg gaan luister terwyl ek opgewonde oor die wonder van jonkwees raak. Ek kon egter net aan hierdie kant van die aardbol sit en na koshuis intrek-foto’s kyk met Stellenbosch se blou berge en groen akkerbome wat die agtergrond inkleur. Die rektor se toespraak het ek op ʼn video gekyk wat ʼn dierbare vriendin vir my gestuur het.

Universiteit Stellenbosch

Jare gelede het ek al verlief geraak op Stellenbosch met sy Eersterivier, ou eikebome en uitbundige studentevrolikheid. Alreeds werkend, het ons Maties se Vensters-geleentheid en die feestelikheid van die eerstejaarstudente se bydraes tot die vermaaklikheidsprogram geniet. Ek het begin uitsien na die dag dat ek deel kon wees van my eie kinders se studentejare in hierdie historiese dorp. ‘n Paar jaar gelede het ons ‘n woonstel in Stellenbosch gekoop tussen die Fakulteit Besigheid en Ingenieurswese, sodat die studentehuisvesting vir die seuns in plek is.

Vensters, Stellenbosch

Jacques

Met groot opgewondenheid het ons die Desember van Jacques se matriekjaar in 2017 die woonstel reggekry vir sy groot begin. Die mansstudent wat op daardie stadium uit ons woonstel getrek het, was ʼn tweedejaars ingenieurs student wie se ouers in Dubai gewoon het.  Die jongman was so selfstandig. Ek was baie beïndruk oor hoe hy self regkom, maar ek het tog ook so jammer vir hom gevoel met sy ouers so vêr.  Ek dank die Vader elke dag dat ons nie weet wat die toekoms inhou nie, want min het ek geweet wat vir my voorlê!

NWU Potchefstroom

Binne ‘n week nadat Januarie 2018 aangebreek het, het die realiteite tot my deurgedring dat Jacques nie ʼn Matie gaan word nie. Ek was verplig om te aanvaar dat Ons Hemelse Vader ander planne vir hom het. Ek moes baie hartseer en onseker oor hoe hy sy pad gaan vind, afskeid van hom neem in die vertreksaal van die lughawe vir sy reis Potchefstroom toe, wat 1300km ver weg is.

Hy het net vir een nag aan die ander kant slaapplek in Candice se nuwe leë woonstel gehad. ‘n Dun kombersie was al beddegoed was in sy tas kon pas. Die res was aan hom oorgelaat. Hy het blykbaar die kombers as kussing gebruik en die gordyn as laken. Vele wonderwerke later het hy darem blyplek gehad in Campus Key en moes hy vir hom self sorg.

Nou, twee jaar later, sien ek ʼn pragtige jong man wie vinnig moes onafhanklik word, heerlike kos kook, ʼn verskil in ander se lewe maak en hard werk aan sy toekoms. Ek is baie trots op hom.  Jacques  is gretig om sy laaste jaar van sy besigheidsgraad by NWU in Potchefstroom af te handel sodat hy as gebore entrepreneur al sy idees en planne in werking kan stel.  

Christo intrek by Helshoogte, Stellenbosch

Christo se intrek in Helshoogte

Op 22 Januarie 2020 het Christo in Helshoogte manskoshuis op Stellenbosch ingetrek om sy hoofstuk as student te begin. Met sy ma vêr weg, is daar baie ooreenkomste tussen my twee seuns se situasies. Hy moes self planne maak, besluite neem en hulp kry waar nodig.

Sovêr gaan dit baie goed en geniet hy al die nuwe ervaringe en mense. Ek staan net altyd verstom oor die engele op ons pad wat help waar nodig met soveel liefde en omgee. Net soos wat ek met Jacques gedoen het, beplan ek om in April 2020 by Christo in Stellenbosch te gaan kuier om te sien hoe sy nuwe tuiste en lewe lyk. Ek kan nie wag nie!

Hierdie paar jaar tussen nes verlaat en jong volwassene gaan ongelooflik vinnig verby.  Dit is ʼn periode van nuwe vriende maak, waardes bevraagteken en toets, ontdek wie hulle is en watter rol hulle in die samelewing wil speel. Die jongmense raak selfstandig en die verhouding tussen ouer en kind verander na ʼn verhouding tussen twee volwassenes. Dit verg groei en aanpassing vir beide partye.

Groete

Emsia

Ons eerste jaar se hoogtepunt afsluiting

Ons eerste jaar se hoogtepunt afsluiting

Oor die jare heen het ons die nuwe jaar op verskillende plekke ingewag en so kosbare herinneringe versamel. Elke plek het sy eie tradisies en ons was nuuskierig oor die Silvester ervaring, soos wat hulle daarna in Switserland verwys. Dit was ons eerste winterervaring en met ysige temperature was dit baie anders as ons somerervarings.

Rigi Kulm in die Alpe

Candice en Tristan wou graag hulle Switserse besoek in die sneeubedekte Alpe afsluit. As deel van ‘n daguitstappie het ons Luzern en die berg Rigi Kulm besoek. ‘n Kabelkar het ons 1800 m hoog geneem om die spierwit en asemrowende mooi landskap te aanskou. Groot dele was bedek met gladde ys en ons het almal ‘n beurt gekry om verleë op ons boude te land. Candice en Tristan se besoek is letterlik en figuurlik op ‘n hoogtepunt afgesluit.

Zander, Candice en Tristan

Lausanne

Die laaste twee dae van 2019 het ons in Lausanne aan die Franse kant van Switserland deurgebring. Die koue het ons gedwing om binnenshuise aktiwiteite te soek. Museums is gewoonlik nie hoog op ons toeristelys nie, maar ons besoek aan die Olimpiese Museum was vir my ‘n hoogtepunt. Ek het baie interessante dinge geleer deur middel van visuele en interaktiewe aktiwiteite.

Olimpiese museum in Lausanne

Uiteindelik het die laaste dag van die dekade aangebreek. Tot 17h00 was die winkels nog oop en die strate vol mense, maar daarna was daar amper niemand meer op straat te sien nie. Ons het ons verkyk aan die sjampanje en wyn wat op die woonstelle se vensterbanke vir die viering van die nuwe jaar koudgemaak word.

Silvester vieringe

Met ons soektog na ‘n feestelike Silvester viering, het ons einde ten laaste ʼn area met straatmarkies en musiek gevind. Ek het vir die eerste keer ʼn stil disko ervaar. Lywe beweeg rond met verligte oorfone. Daar word drie verskillende liedjies op ʼn gegewe tyd gespeel en dit word onderskei deur die kleur liggies van die oorfone wat dit moontlike maak vir dansmaats om na verskillende musiek op ʼn gegewe tyd te luister.

Lausanne jaareind liggies

Die sigbare polisiëring was beperk tot drie polisiemanne wat van die trein afgeklim het met koffie en eetgoedjies vir die ysige wintersaand. Ons het geen vuurwerke gesien nie. Dit was ʼn skrille kontras met Rio de Janeiro waar die polisie die vorige jaar van vroegoggend af met masjiengewere die strate vol gestaan het. Eintlik was alles ʼn skrille kontras met Rio, insluitend die aantal mense, die geraas, die temperatuur asook die skouspel van vuurwerke wat tot vroegoggend in Rio aangehou het. Die enigste gemene deler was die sterk reuk van dagga op albei plekke.

Lausanne katedraal

Die jaar is in Lausanne afgesluit met ‘n orreluitvoering in die stad se pragtige katedraal. Ek het so daarna uitgesien om dit by te woon, maar die prys van die toegangskaartjies het ons in ons spore laat omdraai om eerder ‘n warm sjokolade by die huis te geniet. Ons is net voor middernag terug na die katedraal met massas mense wat uit hul gesellige woonstelle gekom het.

Om 00:00 het die klokke van die katedraal oorverdowend vir 15 minute begin lui met rooi ligte en rook wat dit laat lyk het asof die toring aan die brand is. Dit was vir ons baie interessant om te ervaar hoe die Switsers in Lausanne die nuwe jaar verwelkom.

Ski dorp Leysin

Skidorpie Leysin

Nuwejaarsoggend is ons na ʼn skidorpie Leysin, om te sien ‘n Switserse wintervakansie te ervaar.  Dit het vir my soos ʼn stranddorp in Suid Afrika, net met ʼn sneeu-tema, gevoel. Hierdie vakansie-dorpie het ook menigte toeriste-winkeltjies en ʼn tekort aan parkeerplek.  In plaas van toue vir die waterpark staan hulle in toue vir die kabelkarretjie op na die-ski area toe. Die meisies het in plaas van ontwerpers-bikini’s, ontwerpers ski-uitrustings aan

. In die aand is almal gedaan van in die sneeu baljaar. In Suid Afrika het die branders en die son hulle uitgeput.  ʼn Strandvakansie in Suid Afrika is natuurlik net baie goedkoper is as ʼn skivakansie in Switserland en dan is dit onmoontlik om ‘n Switserse kaasfondue of raclette met ‘n Suid Afrikaanse braaivleis of potjiekos te vergelyk.

Mag 2020 julle almal uitstekend behandel en aangename verassings en geleenthede oplewer. Aangesien die lewe mos in balans is, hoop ek verder ons almal vind kreatiewe oplossings vir die uitdagings wat ons pad kruis en vrede en aanvaarding met die dinge waaroor ons nie beheer het nie. Ek sien uit na ons kuier in April 2020.

Groete

Emsia

My kinders se kuier was my groot kersgeskenk

My kinders se kuier was my groot kersgeskenk

As ‘n Suid-Afrikaner is Desembervakansie vir my sinoniem met see, strand, lang sonskyndae, braai,  familie en vriende. Hierdie vooruitsig het my nog elke jaar deurgehelp as my energietenk se naald gevaarlik laag lê. Voorbereiding vir die vakansie en feestyd is net so lekker soos die vakansie self.

Candice, Christo, Zander en Jacques

Ek kon my kinders teen my vasdruk

Hierdie jaar is natuurlik ‘n ander ervaring. Winter in Desember is vir my net so ‘n vreemde konsep as wat ‘n sonnige Kersfees sekerlik vir enige Europeër moet wees. Hierdie jaar was die grootste deel van my beplanning en voorbereiding gewei aan my seuns en Candice se besoek in Desember. Ondanks die visumuitdagings en vertraagde vlugte was alles die moeite werd toe ek hulle doodmoeg deur die deure van die Zürich-lughawe sien stap en hulle teen my kon vasdruk. Hulle besoek was my grootste Kersgeskenk!

Zürichmeer en Kersmarkte

Ek was gretig om vir hulle die kersversierings in die hoofstraat sommer al op die aand van hulle aankoms te wys. Ons het van die treinstasie na die meer geloop en die kleurvolle versierings en feestelike atmosfeer van die Kersmarkte geniet.

Ek moes noukeurig beplan om al my nuwe ontdekkings met hulle te deel in die kort tydjie wat hulle hier was. Ons het ‘n balans gevind tussen die wandeling deur die woud naby ons huis en die ontdekking van die ou stad van Zürich. Ons het pragtige foto’s geneem van die brûe oor die Limmatrivier en die vele kerktorings. Met ons fles koffie en ‘n kosblik vol toebroodjies het ons langs die Zürichmeer piekniek hou.

Rapperswil

Ons het met die trein al langs die meer tot by Rapperswil gery.  Dit is ʼn pragtige ou stad op die oewers van die Zürich meer en die kersmarkies en kosstalletjies het ʼn gesellige atmosfeer geskep.  Op die heuwel van die stad is ʼn pragtige kasteel wat al gedurende die twaalfde eeu gebou is. 

Lindt sjokolade fabriekswinkel

ʼn Besoek aan die Lindt sjokolade fabriekswinkel was ʼn moet om geskenkies te koop vir almal in Suid Afrika. Die winkel is langs die fabriek en van vêr af word jy verlei deur die sjokoladereuk wat in die lug hang.  Aan die voorkant van die winkel is al die pragtige uitstallings van gekleurde sjokolade balletjies en aan die agterkant is die winskopies in grootmaat beskikbaar.

Ons almal se eerste sneeu-ervaring

Die hoogtepunt was die onverwagse sneeu een aand net voor slaaptyd. Ons het almal weer kinders geword en na buite gehardloop, die sneeu probeer vang, sneeuballe gemaak en foto’s geneem. Die volgende oggend om 6:15 toe Charl werk toe vertrek, was die wêreld bedek met ‘n spierwit laag sneeu en Candice en Zander het briewe aan hul vriende in die sneeu geskryf. Ek sal die gedeelde eerste sneeumoment vir altyd koester.

Candice se wens was om haar verjaarsdag in Amsterdam te vier en hulle drie het met groot opgewondenheid op die vliegtuig geklim om Candice se vriend Tristan daar te ontmoet vir hul eie ontdekkings. Hulle het in ‘n jeugherberg gebly, interessante mense ontmoet en wonderlike ervarings gehad. Na Amsterdam is Jacques en Christo na Londen om Kersfees en Nuwejaar saam met die gesin in die Verenigde Koninkryk te geniet. Candice en Tristan het teruggevlieg om saam met ons Kersfees te vier.

Tristan en Candice

Kersdiens in Duits in die Fraumünster kerk

Kersoggend het ons die Kersdiens in Duits in die Fraumünster kerk bygewoon.  Die kerk was stampvol en aan die begin van die diens het hulle die liggies van die kersboom voor in die kerk met ʼn lang stok aansteek.  Ons Kersete het uit ʼn mengsel van Suid Afrikaanse en Switserse geregte bestaan en die res van die dag het ons ʼn groot speelkaartkompetisie in ons warm snoesige woonstel gehou terwyl dit ysig koud buite was.

Alhoewel ek verlang het na al die ander familie wat nie by my kon wees nie, was my hart tevrede.

Groete

Emsia

Vermaak geleenthede vir donker winteraande

Vermaak geleenthede vir donker winteraande

Hier by ons is dit nou alreeds teen half vyf laatmiddag donker. Met ysige temperature en donkerte buite moet ons dinge vind om onsself in die aande mee besig te hou. Die Switsers het oor tyd baie gebruike en geleenthede geskep om hulle self te vermaak. Ons neem deel en woon by waar ons kan sodat ons by hulle kan leer.

Bahnhofstrasse, Zurich

Raap-lanternfees

Halloween, aan die einde van Oktober, het die winterprogram afgeskop. Vroeg in November is daar ʼn raap-lanternfees. Groot rape word uitgehol en ontwerpe in die wande gekerf om te dien as lanterns vir die laternfees.  Ek en Zander het die skool se fees bygewoon.

Die kleiner kinders het in skooltyd die mooiste lanterns gemaak en die aand vyfuur het kinders en ouers in die woud agter die skool met die lanterns gaan stap. In die middel van die woud het is daar Switserse volksliedjies met kitaarbegeleiding om ʼn groot kampvuur gesing. Ek verstaan die gebruik gaan terug na die 1800’s, toe rape as stapelvoedsel gedien het. Die afsluiting van die oesseisoen is gedurende November gevier met ʼn dankdiens by die kerk en dan het die mense met die raaplanterns al singende kerk toe gestap.

Fondue en Raclette

Oral in die winkels sien ons ʼn groot verskeidenheid kaas en toebehore vir Fondue en Raclette te koop. Ons is gelukkig genooi vir ʼn fondue-ete by ʼn kollega van Charl se huis. Ek het nooit gedink dat mense so gesellig kan kuier met net brood en kaas nie! Die Switserse wyn het natuurlik ook sy kant gebring. Na al die baie kaas, drink jy Kirsch (kersiebrandewyn) wat help met spysvertering.

Raclette is spesifieke Switserse kaas wat in ʼn Raclette-oondjie gesmelt en saam met gekookte aartappels en groente geëet word. Hulle maak van eenvoudige kos iets baie spesiaals. Charl het net daar en dan besluit dat fondue die manier is hoe hy sy verjaarsdag wil vier.  Ons kon dit uittoets met ʼn fonduestel wat hy jare gelede as geskenk, na die aanbied van ʼn opleidingsessie in Zürich, ontvang het.

Yshokkie en ysskaats

Soos ons rugby in Suid Afrika, is yshokkie hier een van die toeskouersporte in die winter. Ons het die geleentheid benut om yshokkie in Lausanne naby aan die Franse grens te gaan kyk. Dit is ʼn baie vinnige sport en interessante ervaring. Hierdie tyd van die jaar word verjaarsdagpartytjies op die ysskaatsbaan gevier.

Die ysskaatsbaan het ʼn mooi verligte Kersboom in die middel en families kom met die ou kleintjies om te skaats. Langsaan die ysskaatsbaan het ʼn groep sesjariges met hulle haasbekkies  ʼn yshokkiewedstryd gespeel. Ysskaats disko’s is algemeen gedurende Desember.

Kersmarkte en inkopiestraat

Laat November is ʼn Swarovski kristalboom by die hooftreinstasie aangeskakel om die amptelike Kersvieringe af te skop. Tussen die hooftreinstasie en Zürich se meer is die inkopiestraat met die mooiste liggies versier wat die lug na ʼn sterrehemel laat lyk. Oral is daar stalletjies waar hulle kersgeskenke, kos en glühwine verkoop. Die warm rooiwyn met sy lekker soet speserysmaak maak lekker warm as dit so koud is.

My grootste Kersgeskenk hierdie jaar is my kinders en Candice wat kom kuier. In my hart sal ek na almal wat ʼn Somerkersfees vier verlang en in my geestesoog alles sien wat op julle Kerstafel is. In my gedagtes sal ek saam met julle sing: “Kersfees kom, Kersfees kom – Gee aan God die eer. Skenk ons ʼn helder Somerkersfees met baie seën in hierdie land O Heer!

Ek hoop julle ervaar wonderlike saamwees en ʼn geseënde tyd hierdie Desember.

Groete

Emsia

Ons engele op aarde is sorgvuldig uitgekies

Ons engele op aarde is sorgvuldig uitgekies

Mense kom in ons lewens vir ʼn rede, ʼn seisoen of ʼn leeftyd. Ons weet egter nie as ons hulle ontmoet, vir watter rede hulle oor ons pad gestuur is nie. Net tyd sal leer.

Oom Frikkie as ‘n Oupa-engel vir ons gestuur

Ek glo vas dat met ons reis hier op aarde, ons Hemelse Vader met baie sorg spesifieke mense uitkies om engele op ons pad te wees. As ons terugkyk op ons lewensreis, kan ons soms met ʼn glimlag terugdink aan die wyse waarop individue ons pad gekruis het, sowel as die unieke rol wat elkeen in ons reis speel. Met die kronkel wat ons pad nou hier Switserland toe gevat het, kry ek net meer herbevestiging van die feit. Daar is ʼn hele paar engele in Suid Afrika wat steeds baie klippe uit ons pad vir ons rol en ondersteuning bied. Ons het gelukkig hier in Switserland ook die engele begin raaksien.

Zander se juffrou, Sandy Hill

Een groot engel is Zander se juffrou, Sandy Hill. Sy is van Britse afkoms, het jare se ondervinding as ma en onderwyseres en weet hoe om amper tieners te hanteer. Tesame met haar liefde vir rugby is sy ʼn perfekte juffrou vir Zander en is hy baie erg oor haar.  Sy rig ook hulle binnehuise sokkerspan af. Die Vrydag voor die 2019 wêreldbeker rugby eindstryd het sy haar Engelse ondersteuners-hempie skool toe gedra.  Maandag was hy baie trots toe sy hom plegtig voor die klas gelukgewens het met die Bokke se oorwinning. By die tennis het die twee Britse ma’s my ook gelukgewens en die Japannese ma het vertel hoe almal in Japan nou skielik rugbymal is.

Aan die einde van kwartaal een het ons die gebruiklike individuele ouer-onderwyser vergaderings gehad. Kwaai juffrouens maak my na al die jare nog steeds senuweeagtig. Ter voorbereiding van die vergadering het ek vir Zander gevra watse terugvoer ek van Juffrou kan verwag. “Ag Ma, ek dink sy gaan sê akademies gaan dit redelik, maar dat ek heeltemal te veel praat in die klas. Dit is nie ʼn probleem vir my nie, maar ek mag dalk van die ander kinders pla”. Juffrou het met ʼn glimlag bevestig dat Zander se opsomming korrek is. Aan haar terugvoer kon ek agterkom dat sy moeite doen om die kinders as individue te leer ken.

Zander se vriend Nate en sy ma Ellen

Zander se vriendskap met Nate, die Amerikaner van San Francisco, het sommer op die eerste skooldag ontstaan. Ek het onafhanklik op dieselfde dag in Nate se ma, Ellen vasgeloop en ons het so lekker gesels, dat ek haar vir koffie genooi het. Oor koffie het ons besef dat ons loopbane baie dieselfde rigtings geloop het en ons belangstellings baie ooreenkomste het. Ons het al ʼn paar keer saam gaan stap en het ook saam met ons Duitse klasse begin.

Pampoenplaas en Halloween

Die laaste naweek van die herfs skoolvakansie het ek en Zander ʼn pampoenplaas besoek. Hy kon sy geluk nie glo toe Nate-hulle ook toevallig op dieselfde dag en tyd daar opdaag nie. Ons was verstom oor die kreatiewe pampoen-uitstallings. Met die heerlike speseryreuk van pampoensop en glühwine in die lug, kon mens pampoene vir die naderende Halloween uitkerf.

Halloween is ʼn groot geleentheid by die internasionale skool. Met die aanbreek van die laaste kwartaal, moes ons as ouers opteken vir hulpverlening met die Halloween vieringe. Die opsies het bestaan uit versierings opsit, bak vir die koekverkoping, toesig hou by die disko (hulle weergawe van ʼn sokkie) of jou kar versier en beskikbaar maak as ʼn “trick or treat” punt met ʼn kattebak vol lekkers. Met gebrekkige kennis oor die onderwerp het ek vir die koekverkoping opgeteken en sommer sjokolade oatskoekies (mishopies) gemaak en ʼn suurwurm in elkeen gedruk. Met die ingee van my koekies, het ek eers die ander Halloween kunswerke gesien! Ek beplan om volgende jaar eerder by die disko toesig hou.

Switserse engele, Stephan en Barbara

Switserse engele wat naby aan ons woon is Stephan en Barbara.  Stephan werk saam met Charl en ons baie dankbaar vir ʼn bietjie later slaap as hy hom soms oplaai werk toe. Hy het al vir Charl baie nuttige wenke en raad gegee. Hy is gekwalifiseerd as ʼn mediese dokter en sy vrou ʼn verpleegster. Hulle het vir ʼn lang tyd in Jemen gewerk waar hulle vier kinders ook skoolgegaan het. Hy het kort nadat hy daar gekom het leer Arabies praat en skryf toe hy agterkom dat sy tolk aanbevelings maak, vêr verwyderd van sy diagnose.

Sy storie is nogal ʼn inspirasie as ek so met die Duits sukkel. Hulle boer met bokke hier naby op ʼn stuk grond wat hy huur. Aangesien hy nie ʼn boerdery lisensie het nie, mag hy nie ʼn stal opsit nie en het toe ʼn wa op wiele gekoop waarin hy in die nag die diere warm hou. Hy is beslis ʼn Switserse boer wat ʼn plan kan maak.  Barbara was ook so dierbaar om my uit te nooi na ʼn geleentheid by hulle kerk om Adventskranse te maak asook vir koffie en Switserse kerskoek by haar huis.

Oral waar ons betrokke raak, ontmoet ons baie interessante mense. Ek het uiteindelik met my Duitse klasse begin en ons is ʼn groep van 12 studente verteenwoordigend van 12 lande. Ek sien uit daarna om die mense oor die volgende ses maande beter te leer ken.

Net tyd sal leer of die mense wat ons ontmoet in ons lewens kom vir ʼn rede, seisoen of ʼn leeftyd.

Groete

Emsia

My siening en viering van mylpaal verjaarsdae

My siening en viering van mylpaal verjaarsdae

Verjaarsdag- en Kersfeesvieringe maak my senuweeagtig. Dit skep verwagtinge of jy nou aan die gee of aan die ontvang kant is.  Verwagtinge verhoog die risiko hoog dat iemand agterna teleurgesteld voel.  Ons huishouding gaan nooit aan die tydskrif en Pinterest prentjies van Kersetes en mylpaalverjaarsdae voldoen nie. Ek het dus lank gelede myself vrygestel van al die verwagtinge. Sommige beplande groot dae en oomblikke is ʼn uiterste teleurstelling, terwyl ander onbeplande dae, spesiale onthou-oomblikke word.

My visie vir ‘n familiekuier

Ek het tog daaraan begin dink om my vyftigste verjaarsdag in Oktober 2019 as ʼn verskoning vir ʼn lekker familiekuier te gebruik. In my geestesoog het ek al gesien hoe ons almal gesellig in die lenteweer langs die Oranjerivier kuier. In my prentjie het die kinders vrolik in die rivierwater baljaar en ons sommer net gebraai, gelag en gesels. Ek het ook my oudstes kennis gegee om 2019 se Oktober vakansie vry te hou van ander kuiergeleenthede wat dalk hulle pad mag kruis. 

Het dinge nou nie anders uitgewerk nie! My vyftigste verjaarsdag is gevier op ʼn nat koue herfsdag in Zürich, in plaas van ʼn sonnige lentedag om ʼn braaivleisvuur langs die Oranjerivier. In stede van my gesin en familie ʼn hele naweek saam met my, is dit net ek en Zander in Zürich wat geweet het ek verjaar.  Charl se konferensie in Suid Afrika het op presies dieselfde week as my verjaarsdag plaasgevind.

Gewone kuiers is ook vieringe

Gelukkig het ek vroeg in die proses my siening oor die mylpaalverjaarsdag verander. In my eie gemoed was al my laaste koffies, etes of kuiers met hartsmense vir my die viering van my vyftigste.  Ek het die gesels en saamwees gesien as my geskenk.  In die mooi Kaap het ek sommer ʼn hele paar vieringe saam met vriende elke week gehad. In my geboorteplek, die Kalahari tussen die groot ou Kameeldoringbome en rooi sand, het ek verjaarsdag saam met my familie gehou. Saam met Jacques en Candice het ons die Vrystaatse koue in Parys verdryf met lekker kerriekos en ʼn glas Shiraz.

Ons Franse besoek

Charl, Zander en ek het die naweek voor my vyftigste verjaarsdag in Parys Frankryk gaan rondloop en in verwondering gestaan oor geboue wat baie stories vertel van tye lank voor ons op hierdie aarde geloop het. Ons het oor die Franse Revolusie gesels en hoe baie bloed gevloei het op dieselfde grond as waar ons ʼn broodjie in vrede kon sit en eet. Ons het vir Zander Disney Parys toe gevat ter viering van sy verjaarsdag in September. Toe ons die aand heel sensories oorlaai in die bed lê, kon ons lag oor ons lywe van vyftig jaar wat pyn van tuimeltreine deur Star War sterrestelsels ry!

Op die dag van my verjaarsdag het ek en Zander tuis gebly, sodat ek sonder onderbrekings met almal in Suid Afrika kon gesels. Ek het elke oproep en boodskap as ʼn geskenk gesien, want mense het tyd vir my gemaak.

Die afstand laat mens opnuut besef hoe kosbaar fisiese saamwees is. Op hierdie vyftigste verjaarsdag herinner ek myself weer daaraan dat ons elke dag wat ons leef moet vier; elke oomblik wat ons saam met hartsmense kuier as ʼn geskenk moet sien; en onsself moet vrystel van al die tydskrif of sosiale media verwagtinge van spesiale dae.

Groete

Emsia

Ons leef trots Suid Afrikaans

Ons leef trots Suid Afrikaans

Wanneer ʼn mens in enige nuwe plek moet inskakel, is jou brein bedraad om vas te stel wat verskillend is.  As ʼn mens moet deel word en tuis voel, is dit noodsaaklik om te fokus op die dinge wat eenders is.

Die Switsers is  ʼn volk wat ongelooflik lojaal en trots is op hulle Switserse nasionaliteit.  Hulle medaljes vir ekonomiese voortuitgang, veiligheid en orde hang blink gepoets in ʼn ry. Meeste mense hier het vele universiteitsgrade.  Die feit dat alle skole en naskoolse opvoedkundige instansies gratis vir Switserse burgers is, bevorder die situasie.

Offisiële tale in Switserland

In Switserland is die offisiële tale Duits, Frans, Italiaans en Romaans. Die mense wat hierdie tale praat het baie verskille in terme van kultuur. As jy met die Switsers in Switserland kuier, sal hulle baie gou laat blyk van watter een van die drie kulture hulle is. As jy hulle egter in Duitsland, Frankryk of Italië teëkom, kom jy agter dat hulle met trots Switsers is.

Hirslanden wat deel is van Suid Afrikaanse MediClinic groep

Op die stadium wat Charl Switserland toe gekom het, het die Hirslanden groep, wat deel van die MediClinic groep is, heelwat uitdagings in terme van veranderende wetgewing wat hulle negatief beïnvloed ervaar. Dan is daar ook verskillende rekenaarstelsels by die verskillende hospitale wat oor tyd aangekoop is en wat eenvorming gemaak moet.  Dit veroorsaak  ʼn reuse aantal rekenaarprojekte.

Met hierdie inligting as konteks kan ʼn mens verstaan dat Charl se nuwe rol as Hoof van Inligtingstelsels met heelwat meer uitdagings begin het as waarvoor hy gehoop het. Sy koms het ook meegebring dat bestuursvergaderings in Engels moet plaasvind in plaas van Duits en hy is die vark in die verhaal as almal sukkel om hulleself in ʼn tweede of derde taal uit te druk.

Leierskap

Die Switsers in Charl se span is redelik gewoond aan ʼn outokratiese leierskapstyl waar die leier instruksies gee en die span dit uitvoer.  Komende van Suid Afrika het ons duur lesse oor leierskap uit ervaring, maar ook voorbeeld, geleer.  Ons weet dat goeie leiers fokus op spanwerk ten einde gesamentlike in plaas van individuele doelwitte te bereik. 

In die proses is dit baie belangrik om ruimte skep vir individue om hulle unieke bydraes te lewer en ook geleentheid te gee om hulle potensiaal te ontsluit.  Met ʼn span wat een soort leierskapstyl gewoond is en dan aan ʼn ander een onderwerp word, is hulle terugvoer en reaksie nie goed vir enige een se selfbeeld nie.

Ons as Suid-Afrikaners het baie in gemeen

Tydens hierdie uitdagings moes ons onsself herinner aan wat ons as Suid-Afrikaners in gemeen het:

Ons

  • is baie goed met planne maak en innoveer, want ons het nie altyd net alles geredelik beskikbaar nie.
  • kan aanpas, want sedert elkeen van ons se geboorte, ongeag watter jaar, het ons by baie nuwe dinge en veranderinge leer aanpas.
  • het diversiteit op baie vlakke ervaar en verstaan daarom die krag in diversiteit.
  • het geleer maniere vind om vele uitdagings soos politiese probleme, ekonomiese krisisse, kragonderbrekings, waterbeperkings, en soortgelyke kwessies te oorkom. Ons maak planne, stig forums, WhatsApp- en Facebook groepe en vertel grappe oor ons dilemmas.
  • verstaan dat ons as mense baie eenderse basiese behoeftes het.  Ons almal soek geleenthede om ons talente uit te leef as deel van ons lewensdoel, wil graag vordering te sien en het  ʼn behoefte aan erkenning.

Verandering en aanpassing neem tyd en verg baie deursettingsvermoë, maar ons elkeen het as gevolg van ons reis as Suid Afrikaners baie dinge geleer en vaardighede ontwikkel. Ons noem onsself met trots Suid Afrikaners.

Groete

Emsia

Toe-val-lig in plaas van toevallig

Toe-val-lig in plaas van toevallig

Daar is so baie gevalle van waar ons dinge hoor, mense ontmoet of gebeurtenisse ervaar op tye wat ons dit die meeste nodig het. Ons weet in ons binneste dis nie toevallig nie, maar meer ʼn geval van toe-val-lig. Die psigoterapeut Jung het met die term synchronicity (syn = met, chronos = tyd) opgekom wat gebeure of toevallighede beskryf wat blykbaar geen duidelike oorsaak het nie, maar wel baie betekenisvol is.

Teken van hoop in die Karoo

In kort sien ek dit sommer as God se manier om met my te praat of antwoorde vir my te gee as ek dit regtig nodig het. Ek het al hoeveel maal radeloos met vertwyfeling, oor wat die regte stap of besluit in my lewe is, in ʼn boekwinkel ingestap met ʼn prewelgebedjie: “Ag Here, gee my asseblief  ʼn teken of ʼn antwoord”. Sommer gou-gou sal ʼn boek my oog vang en het gewoonlik die antwoord om my uit my worsteling te red.

Dit het ook al heelwat kere met my gebeur dat ek onophoudelik aan iemand dink of ʼn behoefte het om vir iemand iets te sê, al voel dit ʼn bietjie ongemaklik. Die uiteinde is gewoonlik die persoon wat bevestig dat hulle nou my woorde of oproep baie nodig gehad het. Die omgekeerde gebeur natuurlik ook. Daar bel uit die bloute mense of hulle daag net met net die regte antwoord, hulp of advies op.

Ons troue in April 2007

Charl se pad het myne op ‘n toe-val-lig(e) manier gekruis

Charl se pad het myne op een van die toe-val-lig(e) maniere gekruis. Na my egskeiding het ek myself een jaar gegee om in ʼn gat te wees en daardeur te werk. Aan die einde van die jaar het ek saam met my ma en seuns by Sedgefield gaan vakansie hou. Die dag met ons terugkeer Kaap toe het ek vir oulaas in ʼn kano op die meer gaan roei en sommer hardop gebid. Ek het vir God verduidelik ek is nou reg vir aanbeweeg. Ek het mooi vir hom gevra om vir my iemand te stuur wat lief is vir Hom, vir my, maar ook vir my kinders.

Die Sondagaand van daardie selfde naweek nog in April 2006, het Charl my gebel om te hoor of ek nie saam hom die musiekblyspel Mamma Mia wil gaan kyk nie. Hy het die kaartjies nog voor sy eie egskeiding gekoop en wou dit nie verlore laat gaan nie. Ek verstaan hy het die oproep ʼn paar maal uitgestel. Een ding het gelei tot ʼn volgende en is ons een jaar later in April 2007 getroud. Ek weet God het hom vir my gestuur en dat die oproep nie toevallig was nie.

Die nommer 11:11

Sedert twee jaar gelede sien ek aanmekaar die nommer 11 raak. As ek op die horlosie kyk dan sien ek dit is 11:11, soms sommer ʼn paar maal ʼn week. Ek het baie daaroor gewonder en toe ʼn bietjie gaan nalees. Die nommer 11, word na verwys as die meesternommer en is die Heelal of God se manier om ons bewus te maak om tussen die lyne te lees en raak te sien dat daar meer aan jou huidige situasie is as waarvoor jy voorsiening maak.

11 Oktober 2019 was Christo se Matriekuitstapdag.  Dit was die laaste skooldag met ʼn eindeksamen wat tussen hom en sy toekoms staan. My gedagtes was die hele oggend by hom en hierdie laastes.  Dit saam met ʼn hele paar ander onseker situasies waarvan ek nie die uitkoms kon sien of beheer nie, het swaar op my gedruk. Met die opstaan van agter my rekenaar vir ʼn koppie tee, kyk ek gou op my selfoon en raak bewus van die tyd en datum – 11 Oktober 11:11.

Liewenheersbesies

Ek het daarna huis skoongemaak en die vensters bietjie oopgemaak. Met die instap in die leefvertrek,  let ek al die liewenheersbesies op.  Daar was byna vyftig van hulle in my huis. As kinders het ons geglo hulle bring geluk as hulle op jou kom sit.

Die volgende oggend het ek alleen gaan stap om sommer net stil te raak. By die water het die mooiste wit swaan teen die oranje agtergrond van sonsopkoms geswem. ʼn Groot vrede het oor my gekom. Drie tekens dat ek maar kan glo, vertrou en rustig raak. Ek onthou my ma het al voorheen genoem dat haar teken van hoop ʼn veertjie op die grond by haar huis se agterdeur is.

Loopbaan

Wat my loopbaan aanbetref het ek altyd die visie gehad om my permanente rol in ʼn korporatiewe omgewing te verruil vir ʼn eie-besigheid konsultantrol waar ek op die dinge kan fokus waaroor ek passievol is en ook meer vryheid het. Die ideale tyd vir my sou wees rondom ag-en-veertig, omdat dit my met voldoende tyd sou laat om weer iets op die been te bring voor die risiko-aversie wat ouderdom meebring te erg inskop.

Dit is egter makliker gesê as gedaan om ʼn goeie maandelikse salaris te verruil vir ʼn van-vooraf-begin. Gelukkig is my pos toe toe-val-lig beëindig in dieselfde Oktober as my 48ste verjaarsdag. Wonderlike geleenthede het vanaf die vreemdste plekke oor my pad gekom en ek het elke oomblik van my nuwe rol geniet.

Nou het hier op vyftig ʼn vreemde wending gekom wat my effens onkant gevang het. Ek weet wel dat vandat ek vir Charl ken, Switserland een van sy geliefkoosde plekke op aarde is. Die natuurlike skoonheid, tegnologiese vooruitgang, presisie en die kos dra by tot sy liefde vir die plek. Alhoewel ek die avontuur en die leer en groei wat so ʼn verandering meebring geniet, is ek nog nie heeltemal seker hoe dit in my lewensplan inpas nie.

Ek weet egter dat ek tans nog na ʼn dowwe spieël staar, maar dat ek die nodige antwoorde en perspektief sal kry soos wat die storie geskryf word. Ek sien uit daarna!

Groete

Emsia

Herfs, voorbereiding vir ‘n periode van rus

Herfs, voorbereiding vir ‘n periode van rus

Die kant van die wêreld is dit duidelik dat Moeder Natuur met haar oranje en roes-bruin kamerjas besig is om reg te maak vir ʼn periode van rus. Ons is nog onseker wat hierdie periode presies behels, maar al wat ons kan uitmaak is: “Winter is coming!”

Boerdery

Dit is veral die boerderybedrywighede hier rondom ons wat ons ʼn besliste aanduiding gee dat die mense voorberei vir ʼn nuwe seisoen. Die boere het die lande omgeploeg en langs al die skure kan ons sien hoe die bale hooi en veevoer besig is om vinnig op te hoop. Die stapels netjies gekapte hout word ook hoër. Die veeboere besit hoofsaaklik beeste, skape en lamas wat in die somermaande hoër op teen die berge wei.

Gedurende September en vroeg Oktober kom die diere in hulle massas af dorpe toe en die boere maak hiervan  ʼn kleurvolle gebeurtenis. Die koeie, met die klokke om hulle nek, word versier met blomme en die boere en hulle gesinne in hulle tradisionele klere, begelei hulle al klingelend af dorp toe.

Koeie oppad dorp toe vir die winter

Sampioen- en jagseisoen

Die oggende is nou al sommer ysig met temperature tussen 0 en 10 grade Celsius. Dit is ook mistig soos wat ons herfs in die Kaap gewoond is. In die woude met hulle mat van herfskleurige blare, ontstaan daar oral die mooiste soorte sampioene. In Europa is daar blykbaar sesduisend verskillende soorte sampioene. By die munisipaliteite (Gemeindes) is daar hierdie tyd van die jaar sampioen inspekteurs wat na die mense se geplukte sampioene kyk om raad te gee oor watter eetbaar en watter giftig is.

September en Oktober is ook jagseisoen en die mense jag die wilde bokke in die woude. Jaglisensies word streng gereguleer. Wildsvleis (Kalbfleisch) is baie algemeen op die restaurant spyskaarte en wildsvleis in ʼn sampioensous is ʼn gewilde opsie.

Pampoene en Halloween

Oral is die mooiste soorte en groottes geel en oranje pampoene te koop. Houtstalletjies, met verskillende pampoene op die rakke uitgestal, ontstaan oral in die dorp. Elke pampoen is met ʼn prys gemerk en nadat jy jou pampoen gekies het, gooi jy jou geld in die geldtrommeltjie wat daar eenkant staan. Die feit dat niemand die stalletjie beman en beheer hou nie, gaan my verstand nog te bowe. 

Die pampoene laat mens sommer dadelik aan Halloween dink. Ek verstaan Halloween is ʼn groot storie by die skool wat mens kan verstaan met 90% van die skoliere van Amerikaanse of Britse afkoms.  Daar is ʼn hele mamma-komitee wat die Halloween-partytjie vir einde Oktober, reël.

Oktoberfest

Oktober is bekend vir sy Oktoberfest in die Duitssprekende lande.  Ek het vyf-en-twintig jaar gelede in München in Duitsland een bygewoon en onthou net massas baie gesellige mense met een-liter bierbekers in die een hand en ʼn reuse pretsel in die ander, terwyl die kelnerinne in tradisionele kort rokkies nog aandra. Reuse biertente ontstaan en dis mooi om die jongmense, trots op hul kultuur en herkoms, in hul tradisionele klere te sien.

Charl se kollegas waarsku dat die donkerte, eerder as die koue, gedurende die wintermaande die uitdaging skep. Die stad is vir amper vier tot vyf maande in ʼn digte mislaag gehul sonder enige sonskyn. Die dagligperiode is ook baie kort. Die ICS mammas het my ingelig dat almal hierdie tyd maar sukkel met neerslagtigheid en depressie. Die plaaslike mense besit naweekhuise in die berge bo die wolke sodat hulle ten minste oor naweke bietjie sonlig kan sien.

Die skool het laat weet dat die kinders drie verskillende pare skoene vir skooldoeleindes moet hê. Behalwe vir afsonderlike sportskoene, is daar buiteskoene wat buite moet bly en binneskoene wat binne moet bly. Elke kind moet ʼn sneeubaadjie, handskoene en ʼn mus hê, want pouses speel hulle buite, ongeag reën of sneeu.

As kinders van ʼn sonskynland wat nog nie eintlik sneeu beleef het nie, sien ons uit na ʼn wit Kersfees, sneeumanne en warm sjokolade.  Daar hang egter  ʼn digte mislaag van onsekerheid oor hoe ons onsself voldoende kan voorberei vir die seisoen.

Groete

Emsia

Kies deur watter lens jy gaan kyk

Kies deur watter lens jy gaan kyk

Ek het ʼn paar jaar gelede ʼn kort video gesien wat ongelooflik tot my gespreek het.  In die videogreep, met die titel “Finding the right answers”, deel Dewitt Jones, ʼn fotograaf vir National Geographic, wyshede oor wat sy fotografie hom oor die lewe en besigheid geleer het. 

In uitdagende situasies moet ons keuses maak oor die lense waardeur ons kyk. Soms moet jy wyer kyk, soms moet jy dieper kyk en soms moet jy uit iemand anders se perspektief kyk.  Die Switserland situasie het my nou al ʼn paar maal gedwing om doelbewus  ʼn ander lens te kies.

Jacques kies sy lens om vir niggie Marga af te neem (Ansa van Zyl se foto)

Vlugtelingkamp in Zürich

As deel van die ICS Community Impact klub, besoek ons Vrydae ʼn vlugtelingkamp in Zürich.  Die vlugtelinge is hoofsaaklik mammas en kinders wat uit lande soos Iran, Irak, Sirië en Afganistan gevlug het. Alle Europese lande is verplig om ʼn aantal vlugtelinge te huisves om die lading eweredig te versprei. Die meeste van die vlugtelinge kom Europa binne deur Griekeland, waar die Griekse polisie hulle al redelik rof behandel het. Vandaar word hulle na verskillende lande uitgeplaas.

Hulle bly in die vlugtelingkamp vir drie maande terwyl hulle formele aansoek om amptelike vlugtelingstatus in proses is. Die vlugtelingkamp in Zürich is baie netjies met skoon geriewe vir bad en slaap en hulle kry gekookte kos.  Trauma en onsekerheid is egter duidelik op hulle gesigte sigbaar. Die vlugtelinge praat almal verskillende tale en hulle Engels is baie beperk. Hulle leer Duits praat sodra hulle Switserland binne kom.

Vlugtelingkamp in Zürich

Ons speel speletjies met die kleintjies en kommunikeer deur beperkte Duits, lyftaal, geluide, gesigsuitdrukkings en aanraking. Een dogtertjie het sommer op my skoot geklim om te teken. Terwyl ek nog so liggies oor haar ruggie vryf, het sy na my gekyk en my op die wang gesoen. As uitlanders verstaan die ICS mammas die aanpassing wat ʼn nuwe land vereis. Die groot verskil is dat die vlugtelinge in totale onsekerheid leef, min persoonlike besittings kon pak en nie weer na hulle eie land kan terugkeer nie. Die hele ervaring het ʼn groot impak op my perspektiewe op verandering en aanpassing in ʼn nuwe land.

Scooters

Met Zander se naderende verjaarsdag het hy vir ʼn “Stunt scooter”  as verjaarsdag geskenk gevra, want al die maats hier besit een.  Ons is een middag na skool na die naaste scooter-winkel toe om ons opsies beter te verstaan. Die nuwe Amerikaanse vriend, Nate, is gelukkig saam en hy gee my ʼn volledige tegniese les oor scooters. Na nog twee dae se navorsing op die internet is ek hoogs ingelig en ons reg vir koop.

Skaatspark

Hier in Switserland is baie skaatsparke waar die kinders gaan om hulle toertjies met hulle fietse, scooters en skaatsplanke te oefen. Die scooter verjaarsdag geskenk het my gedwing om ʼn ander lens ten opsigte van skaatsparke op te sit. As ek deur my huidige lens na skaatsparke kyk, sien ek graffiti, tieners met broeke wat laag hang en snaakse goed rook. Nou wil Zander vir sy verjaarsdag met sy nuwe scooter na die naaste skaatspark toe gaan! Ek moet ʼn lens kies wat raaksien dat dit moontlik ʼn goeie manier vir hom is om in te skakel terwyl dit sorg vir gesonde fisiese oefening, in plaas van voor die rekenaar sit.

Ek het vir sy verjaarsdag kolwyntjies gebak en skool toe gestuur saam met servette met mooi Afrikaans gedrukte woorde op. Die Hollandse kinders is baie ingenome dat hulle sommige van die Afrikaanse woorde kon verstaan.

Lens van vertroue

Ek is nog besig om aan my lens van vertroue te werk, maar ʼn onlangse insident het darem gehelp.  In Switserland is dit verpligtend vir alle kinders onder 14 jaar wat fiets of scooter ry, om ʼn helmet te dra. My OCD was so ingenome toe Zander se turkoois helmet presies dieselfde kleur as sy nuwe scooter is. Zander se blink trane in sy oë een middag na skool, het my dadelik laat besef dat daar iewers groot fout is. Die helmet het op die trein se sitplek agtergebly en die trein se deure het voor hom toegemaak om verder te ry toe hy daarvan onthou.

Uit desperaatheid het ek besluit om die sisteme te toets en het die helmet as ʼn verlore item op die trein se webwerf registreer. Ek word sowaar ʼn week later in kennis gestel dat die helmet gevind is en dat ons dit by Stadelhofen treinstasie kan gaan haal. Ek kon ons geluk nie glo nie! By die skool is dit net Zander Goosen se scooter wat met ʼn slot gesluit is in opdrag van sy ma.  Al is die fietsparkering aan die straatkant van die skool, is geen ander kind se fiets of scooter gesluit nie.

Ek terg heel gereeld my huisgenote wie se glase half leeg mag lyk, dat hulle hul brilglase moet skoonmaak en weer na ʼn situasie moet kyk. Switserland dwing my om soms ʼn heel nuwe bril op te sit.

Groete

Emsia