Onsekerheid tot moontlikheid

Onsekerheid tot moontlikheid

Die beplanner in my sukkel met onsekerheid.  Verskeie planne in my lewe het nie uitgewerk nie.  Ten spyte van die onsekerheid het die omstandighede wel interessante moontlikhede en geleenthede geskep. In meeste gevalle was die mislukking of uitdaging nodig om my perspektief en ook my optrede te verander.

Hoogtevrees

Ek het reflekteer op tye in my lewe waar planne nie uitgewerk het nie en ek moes leer om geleenthede raak te sien.

Die eerste groot paniekaanval onthou-oomblik was my finale eksamen op Universiteit. Alles was in plek om die volgende jaar in Stellenbosch te begin werk, maar toe druip ek een van my hoofvakke! My pa was opgeroep om uit te help. Ten spyte van sy eie werksprobleme moes hy  verlof insit en my terug neem Bloemfontein toe neem vir ʼn mondelinge eksamen.  Hy moes sy oudste wat in groot paniek was, motiveer en ondersteun.  Ondersteuning was tradisioneel my ma se rol. Hy het  tjoklits gaan koop terwyl ek stoei met Maatskappywet en Ouditkunde Standpunte.

Die mondeling het nie so goed gegaan nie en ek was bekommerd. Tuis gekom, was my ma se glimlag en bos blomme ʼn groot verligting. Prof het gebel met goeie nuus. Die krisis het veroorsaak dat ek my pa se liefde en ondersteuning op ʼn ander manier kon ervaar. Ons pa-dogter verhouding was op ʼn nuwe vlak.

Emsia en universiteitsdae

My grootste lewensdroom was nog altyd om kinders te hê. Na ses jaar van een-strepie swangerskapstoetse, baie bid en smeek het ons ʼn afspraak by die Infertiliteitskliniek gemaak. Die waglys is lank en die eerste beskikbare afspraak is maande vêr in Julie. My lyf voel vreemd en ek doen nog ‘n swangerskaptoets ʼn dag voor ons afspraak. Die mooiste gesig van twee strepies begroet my en nege maande later kry ek die rol wat ek die heel graagste wou hê – die Mamma-rol!

Op amper veertig kruis my lewenspad weer die Infertiliteitskliniek. Ek onthou die dokter se woorde “Wetenskap skep moontlikhede, maar julle moet altyd onthou dat God die uiteindelike besluit maak”. Ek is geseën met drie wonderlike seuns. Candice en Justin het ook later by ons gesin aangesluit. Charl wat gedink het hy gaan nooit kinders hê nie, sê altyd hy het een, drie of vyf kinders, afhangend van hoe jy daarna kyk.

Van kinderloos tot drie seuns

Gesin is my vreugde. Na ʼn huwelik van twaalf jaar, besef ek tydens ʼn onverwagse middagete-afspraak dat my huweliks- en gesinslewe soos ek dit geken het, onherroeplik verander het.  Die onsekerhede staan met hulle bangmaakgesigte in ʼn ry. Hoe gaan ek die huis afbetaal? Sal ek regkom met die huis-instandhouding en die grootmaak van die seuns? Gaan ek met al my kompleksiteite weer ʼn lewensmaat vind vir die pad?

Ek het dele van die huis omskep en uitverhuur om die finansiële uitdagings hok te slaan. In die proses het ek wonderlike en interessante mense in krisisjare van hulle eie lewe leer ken. Ek en die seuns het spesiale tye saam beleef. Ek was wel gedwing om my tegnologie- en krieketkennis te verbeter en het sommer vinnig moes leer van besproeiing en swembaddens. Die Vader het ook vir my ʼn lewensmaat gestuur wat my kompleksiteite soms verstaan en soms verdra.

Van alleen tot getroud

Switserland en die toekoms bly nog een groot onsekerheid en nou het Covid-19 ook nog in die ry kom staan. Ek het wel geleer om die Groot Plan te vertrou. Ek probeer nog verstaan en werk aan die moontlikhede wat die situasie skep. In onseker tye hou ek vas aan woorde van die wyses.

“Embrace uncertainty. Some of the most beautiful chapters in our life’s, won’t have a title until much later” – Bob Goff

“Trust the wait. Embrace the uncertainty. Enjoy the beauty of becoming. When nothing is certain, anything is possible” – Mandy Hale

Reenboog as teken van hoop

Every problem, every dilemma, every dead end we find ourselves facing in life, only appears unsolvable inside a particular frame or point of view. Enlarge the box, or create another frame around the data, and problems vanish, while new opportunities appear.” ― Rosamund Stone Zander, The Art of Possibility

Groete

Emsia

Elkeen van ons is deel van die geskiedenis

Elkeen van ons is deel van die geskiedenis

As kind kon ek ure lank luister na volwassenes se stories oor hul persoonlike ervarings van geskiedkundige gebeurtenisse of natuurverskynsels. Ons het almal unieke ervarings gebaseer op die tydperk waarin ons leef en die plekke waar ons was. Ek deel ons stories.

Verskillende geskiedkundige gebeure

Vloede gedurende 1988

Onlangs het swaar reën in Suid-Afrika geval ná die langdurige droogte. Dit het my laat dink aan die vloede in my eerste jaar by die universiteit in Bloemfontein in 1988. Ons het uitgesien na ons eerste kort vakansie in Maart. By die huis aangekom, het die sluise van die hemel oopgegaan, en dit het dae lank gereën. Die Augrabies-waterval was ‘n skouspel, en die Oranjerivier het oorstroom.

Teen die tyd dat ons moes teruggaan universiteit toe vir ons eerste toetsreeks, was dit ‘n onmoontlike taak vanweë die reën wat die paaie weggespoel het. Die terugrit na Bloemfontein het deeglike beplanning vereis. Ons reis het kilometers se ompaaie ingesluit en was angswekkend.

Augrabiese waterval

Die 1994 verkiesing in Suid Afrika

Die 1994-verkiesing het ‘n beduidende impak op die wêreldgeskiedenis gehad. Nelson Mandela het die eerste swart president van Suid-Afrika geword. Apartheidsboikotte is opgehef wat oorsese deelname aan sport en werk beperk het. Aan die einde van die opwindende 1995 rugby eindstryd het Nelson Mandela die Webb Ellisbeker in ‘n rugbytrui aan die Suid-Afrikaanse kaptein François Pienaar oorhandig. Dit het ‘n positiewe impak op die harte van alle Suid-Afrikaners gehad.

Suid Afrikaanse 1995 wêreldbeker rugbyfinaal

Elfstedentocht in Nederland

Met geleenthede wat ‘n nuwe Suid-Afrika bied, het ons vir twee jaar in Londen gaan werk en studeer. In Desember 1996 het ons Nederland besoek. Hierdie besoek het die geleentheid geskep om die Elfstedentocht te beleef, wat nog net 16 keer in die geskiedenis plaasgevind het. Die 200 skaats byeenkoms vind net plaas wanneer dit so koud word dat die kanale, riviere en mere ‘n dik laag ys vorm. Die sirkelroete begin en eindig in Leeuwarden, die hoofstad van die provinsie Friesland, en dit gaan verby tien ander dorpe. Ek onthou die skrikwekkende prentjie van die reddingspoging van ‘n kind wat op ‘n dun kol op die ys in die ysige water beland het.

 Elfstedentocht

Lady Diana

Gedurende ons laaste maand in Engeland is Lady Diana oorlede. Sy was ‘n ikoon. Ek onthou hoe ons as skoolkinders die koninklike troue op die grootskerm in die skoolsaal by Kathu gekyk het. Met die aankondiging van haar dood het alles in Londen pikswart geword, selfs die mediaborde. Dit was onmoontlik om blomme te koop. Ons het dus eikeboom takkies gepluk om ons eer te betoon by Buckingham Palace. Ek sal nooit die morbiede atmosfeer in die stad vergeet nie.

Lady Diana

Daar is ‘n paar dinge wat ek met die vreemde Covid-tye sal assosieer. Groot hoeveelhede sneeu in Switserland tydens ons verblyf hier spring na vore. Ek dink ook hartseer aan my verlange na my seuns en familie wat ek nie kan sien nie. Ek sal nooit na die Jerusalemlied kan luister sonder dat die trane loop nie. Jerusalema is 2020 se temalied waarna ons nou gereeld op Switserse radio hier in Zürich luister. Wêreldwyd laat Jerusalema almal dans.

Sneeu in Zumikon

September 11, 2001 ervaring

Charl was in die VSA met vakansie gedurende die aanval op die World Trade Center in New York op 11 September, 2001. Die vrees, emosionele impak en verhoogde sekuriteitsmaatreëls het hulle beweeglikheid en beplande aktiwiteite in die wiele gery. 

Charl was met vakansie in die VSA tydens die aanval op die World Trade Centre in New York op 11 September 2001. Die vrees, emosionele impak en verskerpte veiligheidsmaatreëls het hul mobiliteit en beplande aktiwiteite belemmer. Charl het in Johannesburg gewerk tydens die sluipmoord op Chris Hani, hoof van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. Ná die sluipmoord was daar rasse-aangedrewe onluste en onstabiliteit.

Met PwC se kantore in Johannesburg se middestad het hy die wilde skietery beleef. Hy het ook baie lyke op straat gesien en selfs ervaar hoe ‘n koeël ‘n kantoorvenster reg langs hom getref het. Hy en sy kollegas is gereeld vir veiligheid in die kantoorgebou toegesluit. Die onstabiliteit het sy besluit om na die Wes-Kaap te verhuis beïnvloed.

Groete

Emsia

Uitsonderlike diens tydens Covid-19 pandemie

Uitsonderlike diens tydens Covid-19 pandemie

Die wêreld rondom ons het baie monochroom begin lyk weens Covid-19. ’n Helderkleurige storie is egter soos sonskyn vir die gemoed. Die goue verhaal het hom afgespeel in ‘n hospitaal in ‘n klein dorpie hier in Switserland.

Klein dorpie in Switserland

Privaat hospitaal in ‘n Switserse dorpie

Die dorp is groot genoeg vir ‘n staatshospitaal en twee privaat hospitale. Slegs geskeduleerde operasies vind in een van die privaat hospitale plaas. Die pasiënte bly net ‘n paar nagte totdat hulle sterk genoeg is om na die prosedure huis toe te gaan. Die hoofdoel van die hospitaal en personeel is om pasiënte na ʼn operasie geestelik en fisies te versorg vir ‘n spoedige herstel.

Met die aanbreek van Covid-19 het die regering aangekondig dat alle nie-noodsaaklike geskeduleerde operasies eers moet stop om op Covid-19 pasiënte te fokus. Die hospitaal in die verhaal het nie ‘n hoësorgeenheid nie, en die direkteur het besef dat sonder geskeduleerde operasies die hospitaal tydens Covid-19 sou moes sluit.

Hospitaal situasie

Hy was nog besig om sy gedagtes, planne en kommunikasie met personeel te orden toe hy ‘n belangrike oproep van die staatshospitaal ontvang het. Daar is verskeie mense met Covid-19 wat op hul mediese dokumentasie aangedui het dat mediese ingryping nie op hulle toegepas moet word soos hulle sterwensuur nader nie. Koppeling aan ‘n ventilator is ‘n voorbeeld van mediese ingryping.

Sterwensbegeleiding

Die regering het die hospitaal nodig gehad as ’n stil plek met sorg waar mense hul laaste dae kon deurbring. Byna al die pasiënte was bejaard. Hierdie versoek was ‘n groot skok omdat sterwensbegeleiding  nie deel van die hospitaalpersoneel se opleiding uitgemaak het nie. Hul sterkpunt is om pasiënte ná operasies weer op hul voete te kry.

Jong en ou hande

Dié hospitaal het 50 ernstig siek Covid-19 pasiënte ontvang. Die personeel het hierdie bejaarde pasiënte met liefde en omgee versorg. Al die liefde en omgee het so ‘n groot verskil gemaak dat 47 van hulle kon teruggaan na hul huise hier op aarde.

Ná die eerste Covid-19-piek in Switserland het die getalle afgeneem, en die regering het die groen lig gegee vir geskeduleerde operasies. Personeel het die hospitaal ontsmet en alles in gereedheid gebring om normale bedrywighede van Maandag van die volgende week af te hervat.

Verpleegster wat na ouer pasient omsien

Laaste ure in hospitaal van geboorte

Ná die eerste Covid-19-piek in Switserland het die getalle afgeneem, en die regering het die groen lig gegee vir geskeduleerde operasies. Personeel het die hospitaal ontsmet en alles in gereedheid gebring om normale bedrywighede van Maandag van die volgende week af te hervat.

Die Vrydagmiddag het die hospitaaldirekteur ‘n onverwagse oproep ontvang. ’n 96-jarige inwoner was baie siek aan Covid-19, en hulle het geweet sy tyd op aarde was minder as 48 uur. Hy wou sy laaste ure in dieselfde hospitaal deurbring as wat hy gebore is. Sy vrou, in haar negentigs, het ook Covid-19 gehad en saamgekom. Dit was ’n moeilike besluit, maar die egpaar het Vrydagaand by die hospitaal ingeboek. Saterdag het hy sy laaste asem uitgeblaas. Sy vrou se hartseer het geen einde geken nie, maar sy het voortgegaan om die siekte te beveg en kon en moes alleen huis toe gaan.

’n Week later het die hospitaaldirekteur ’n oproep van die dogter van die bejaarde egpaar ontvang. Haar ma kon nie uitgepraat raak oor die liefdevolle behandeling wat sy en haar man in die hospitaal ontvang het nie. Uit dankbaarheid het die dame ‘n groot bedrag geld geskenk en die direkteur versoek om dit tussen die hospitaalpersoneel te verdeel.

Verpleegster met masker

Die hospitaaldirekteur het ‘n funksie gereël om elke personeellid te bedank vir hul uitsonderlike diens. Hy het ’n spesiale sertifikaat uitgedeel om aan elkeen erkenning te gee vir hul buitengewone sorg tydens die pandemie. In hierdie tye was dit nie hul tegniese kennis wat die verskil gemaak het nie maar die liefde en sorg waarmee hulle opgetree het. Die krag van liefde en omgee was hoër as dié van enige ventilator.

Groete

Emsia

Covid-19 vryheid met verantwoordelikheid

Covid-19 vryheid met verantwoordelikheid

30 April 2020

Soos wat die Covid hekke aan die buitekant oopgaan voel dit of die kleure aan die binnekant ook verhelder. Ek raak opgewonde oor dinge en voorregte wat ek voorheen bloot as van selfsprekend aanvaar het. Vryheid beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Dit waarna elkeen van ons die meeste smag, is uniek aan elkeen van ons as individue. Met baie reëls wêreldwyd in plek kan ons steeds nog nie alles doen wat volkome vryheid ons sou toelaat, soos om Suid Afrika toe te vlieg, nie. Ons gaan egter elke geleentheid aangryp met die beperkte vryheid wat ons wel het.

Irisse in Belvoir park

Toe my Covid-hok se deurtjie wat oopmaak, was my eerste uitstappie na ʼn park waar verskillende soorte blomme en bloeisels ʼn skouspel vorm gedurende verskillende tye in die lenteseisoen. Mei-maand is dit die Irisse se beurt en ek wou nog die laaste daarvan sien. Die groen grasperke en verskeidenheid Irisse in Belvoir park was pragtig, maar die mooiste van alles was die ruimte.

Zürich meer

Zander se grootste wens is om in water te wees. Ons mis die see baie.  Ons mis die wit skuim branders op die blou en soms groen water, die soutreuk wat in die lug hang en dan natuurlik die verfrissende gevoel van koue water wat jou lyf spoel. Ons naaste water is nou die Zürich-meer wat ironies genoeg “Zürich See” in Duits genoem word. Die meer se water is nog baie koud, maar ek kon sien aan die glimlag op Zander se gesig, elke ysige druppel was die moeite werd. Op pad terug het ons vir hom ʼn lekker “cookie-dough” roomys gekoop, want swem en roomys is mos gelyk aan vakansie-gevoel.

Luzern

Charl se grootste wens is om vir ʼn rukkie iewers anders sonder verantwoordelikhede te wees.  Ons het op die eerste trein na Luzern geklim. Luzern is ʼn tipiese toeriste stad en gewoonlik gepak met Chinese toeriste gewapen met hulle kameras. Wat ʼn vreemde gesig om niemand langs die meer te sien nie! Die uitsondering was een gemaskerde verdwaalde siel met haar hele lyf en rugsak bedek met plastiek. Gelukkig was die Chapel Bridge oor die Reussrivier net so pragtig soos altyd, dalk nog mooier sonder al die toeriste.

Na ʼn eerste jaar van verandering en aanpassing het ons opgewonde uitgesien na ons eerste Europese somervakansie. Tipies Goosen-styl het ons  ʼn komplekse vakansie geboek met baie kaartjies en booking.com transaksies. Al was die skrif aan die muur gesien, was dit nog steeds ʼn ontnugtering toe die bootkansellasie tussen Denemarke en Rusland en die vlugkansellasies een vir een deurkom. Die staat se aanbeveling is dat inwoners hulle somervakansie in Switserland deurbring.

In Switserland is die aanbeveling dat ons moet probeer leef ten spyte van Covid-19 en sonder paniek. Dit is ʼn uitdaging om moraal hoog te hou en gees te skep in enige land met so baie sosiale afstand reëls. Ons het die naweek aan ‘n nasionale pretdraf deelgeneem as gees-bou aktiwiteit.

Mense moes oor die naweek 10 km aflê op hulle eie tyd en roete en dit dan registreer op ʼn webtuiste. Ons het die 10 km in die woud hier naby aan ons afgelê. Om my eie moraal hoog te hou het ek my eerste plantjies in Switserland geplant in twee potte wat ek saamgebring het. Die bloupers Laventel en bloedrooi Malva laat my na my lieflike tuin in Welgemoed verlang.

Groete

Emsia

Lydenstyd en Paasfees tydens inperking

Lydenstyd en Paasfees tydens inperking

14 April 2020

Hierdie eerste paar maande van 2020 gaan beslis die nodige plek in die Geskiedenisboeke kry.  Al is die nie maklik nie, is dit ʼn voorreg om deel van hierdie stuk geskiedenis te wees.  Ons moet onsself uitdaag om ons eie persoonlike ervaring van hierdie tye neer te skryf om te deel met die geslag wat nog gebore moet word.  Ek het ‘n interessante vertelling van Groot Griep in 1918 op Facebook gelees wat my weer aan die belangrikheid van stories herinner het.

Dit is baie ironies dat hierdie inperktyd juis saamval met Lydenstyd voor Paasfees.  Ons word op ʼn sielevlak gedwing om stil te raak en word gestroop van alles wat ons aandag weglei van die dinge waarop ons eintlik moet fokus.

Goeie Vrydag in Welgemoed

In Welgemoed was die verhelderde kruis op Tygerbergheuwels sinoniem me Lydenstyd en ʼn goeie bewusmaking van hierdie besonderse periode op die kerkkalender.  Met sonop op Goeie Vrydag het gemeentelede saam opgestap na die verhelderde kruis.  Elkeen het tyd gekry om alleen stil te word waarna ons saam gesing en uit die Bybel gelees het.  Verlede jaar was emosioneel, want ons het geweet dit is ons laaste maal dat ons dit so sou doen.  Dit was kort voor Charl Zürich toe sou vlieg om sy nuwe begin te maak en ek verder met eiendomsagente en trekbokse moes stoei.

Paasfees in ‘n nuwe land

Ek het gewonder hoe Paasfees in ʼn nuwe land sou wees.  Ek het gehoop om een van die kerkdienste in ʼn ou kerk by te woon saam met die Switserse mense.  Ek glo dat gemeensaamheid ervaar kan word saam met mense wat anders groot geword het en ʼn ander taal praat, omdat ons dieselfde God dien.  Nou gaan ons Paasfees wêreldwyd in isolasie vier en die verskeie kerkdienste oor Radio, TV of YouTube in ons eie moedertaal bywoon.  Daar is iets van ʼn wêreldwye gemeensaamheid wat tog op sy eie manier spesiaal is.

Die paaseiers op die bome vol bloeisels en botsels, is so simbolies van nuwe lewe. Ons mensdom het tot stilstand gekom, maar dit is duidelik dat Moeder Natuur voortgaan met haar normale siklusse.  Ek het daarna uitgesien om mooi foto’s van lente in Switserland te neem.  Ek moes egter tevrede wees met foto’s van die tuine van huise naby ons. Hopelik kan ek volgende jaar die kersiebloeisels in Berta straat, Zürich met my eie kamera gaan afneem.

Ek was verlig om te sien dat die Lindt Paashase darem nie afgesper is, soos die res van  nie-essensiële items, nie. Daar is ʼn groot verskeidenheid paaseiers en die mooiste sjokolade Paashase te koop.  Paasfees voel in hierdie onseker tye effens op die agtergrond geskuif . 

Ons mis die tradisionele paasbolletjies waaraan ons gewoond is en wat glad nie hier beskikbaar is nie.

Groete

Emsia

Vele aanpassings by’n nuwe ritme

Vele aanpassings by’n nuwe ritme

Die nuus dat ons nie meer gedurende April Suid Afrika toe kan kom nie, is ‘n groot teleurstelling. Zander het lang lyste gemaak van almal wat hy wou sien, dinge wat hy wou doen en kos wat hy wou eet. Hy wou onder andere net weer ʼn slag ProNutro vir ontbyt eet, braaivleis en boerewors rolletjies met blatjang en tamatiesous hê vir middagete Spur toe gaan vir ‘n Hamburger en tjips en Nachos

Zander se gunsteling Suid Afrikaanse kos wat hy mis

Nog slegte nuus het gekom toe ons besef dat Christo en Michaela ook nie meer die Junie vakansie kan kom kuier nie, want die Switserse Ambassade het laat weet hulle is gesluit tot middel Junie en geen visa kan verkry word nie. Ons probeer nou om ons se vlugte so te verander dat ons in Junie Suid Afrika toe kan vlieg.

Inkopies

Dit is ‘n hele verandering in leefstyl met alles behalwe kruidenierswinkels en apteke gesluit en mense wat gedwing word om van die huis af te werk. Net ʼn paar mense word op ʼn slag in die winkels toegelaat nadat ʼn sekuriteitsbeampte seker gemaak het jy het jou hande ontsmet. Die mense raak kwaai as jy te naby aan hulle beweeg. Met lente in die lug is ons baie allergies. As jy winkel toe wil gaan moet jy gevolglik seker maak jy het jou neus geblaas en al jou niese afgehandel voor iemand  ʼn sauerkrautbottel na jou wil gooi.

Werkslewe

Charl werk ongelooflike lang ure van die huis af en is die hele tyd op videovergaderings.  Soos wat die reëls in die land verander en nuwe uitdagings na vore kom, moet besigheidsleiers die hele tyd nuwe planne maak.  Almal was genoodsaak om tuiskantore in te rig en daar is nêrens meer selfone en rekenaars in Switserland te kry nie.  Die selfoon en internet netwerke is onder druk, want dit was nooit ontwerp met die swaar gebruik in gedagte nie. 

In die hospitale is alle vooraf beplande operasies uitgestel om plek te maak vir die groeiende aantal Covid pasiënte.  Die Hirslanden groep se ervaring is dat kuberaanvalle verdubbel het die afgelope paar weke.  Mense het meer tyd op hande en besighede is meer onder druk en kwesbaar in onseker tye.

Skool en sosiale verkeer

Aanvanklik was die veranderende situasie baie traumaties vir Zander . Hy was onrustig en het gesukkel om te slaap. Hy het gelukkig gou ʼn nuwe ritme gevind wat vir hom lekker werk.  Elke dag stuur die skool werk vir die dag en hy en sy Meksikaanse maatjie doen dit terselfdertyd op die rekenaar, terwyl hulle met mekaar oor die selfoon praat.  Die voltooide werk word terug skool toe gestuur wat voor die volgende dag deur die onderwysers gemerk word. 

In die middae speel hy hier by die woonstelkompleks met paar ander seuns van sy ouderdom.  Hulle vyf, wat die maksimum is volgens die reëls, is ʼn mengelmoes verteenwoordigend van Singapoer, Pakistan, Duitsland, Nederland en natuurlik Suid Afrika.  Hulle speel almal buite polisie-en-dief, sokker en Zander het hulle ook nou blykbaar handjietennis leer speel wat hulle pouses by Welgemoed gespeel het.  Hy kom saans stokflou huis toe net voor ons eet en lyk eintlik of hy sy nuwe roetine geniet.

Ons geniet die natuur

Die weer raak aangenamer en kan ons darem elke aand gaan stap.  Vroegoggend tjirp die voëltjies onbewus van Corona.  Oral stap en ry mense fiets met hulle honde en kinders.  Dit is veral jong ouers met kleuters op scooters wat die prentjie oorheers. Ouers se kreatiwiteit om die kleingoed besig te hou asook hulle geduld word getoets.  Ons is dankbaar dat ons nog nie soos die mense in Italië en Spanje verbied is om uit ons woonstelle en huise te gaan nie. 

Die Corona virus situasie het gelukkig vir ons ‘n geleentheid geskep.  Kerke maak nou hulle dienste op YouTube beskikbaar.  Ons mis kerkdienste in ons moedertaal en die vele dienste beskikbaar in Afrikaans skep vir ons ʼn gevoel van samesyn. 

Ek is oortuig dat Corona ons gaan help om anders na dinge en verhoudinge te kyk.  Ons sal moeg van tegnologie wees, meer tyd buite in die natuur wil spandeer en meer moeite doen met kosbare mense en verhoudinge.  Met die reuse ekonomiese impak wat die situasie op baie organisasies en individue gaan hê, vermoed ek dat mense ekonomies gedwing gaan wees om eenvoudiger te lewe. 

Groete

Emsia

Die Corona virus het almal op hol

Die Corona virus het almal op hol

20 Maart 2020

Corona virus het die wêreld op hol! Mense se vernislagies raak dun en die onseker omstandighede bring die verskillende nasionaliteite se eiesoortige kleure na vore wanneer hulle onder druk is.  Ons Suid Afrikaners oorleef moeilike tye met humor en kreatiwiteit.  Die Switsers hanteer moeilike tye met reëls en prosesse.  In die omstandighede het ons het nou meer as ooit waardering vir al die grappies op Facebook en is dankbaar vir almal wat dit aanstuur.

Elke oggend, as Charl probeer uitvind watter vure brand die hoogste, kry ons die nuutste nuus oor die Corona virus situasie. Die hospitale moniteer die situasie noukeurig om gereed te wees.  Die eerste impak was die regering wat afgekondig het dat alle byeenkomste van meer as duisend mense gekanselleer moet word. Hierdie tyd van die jaar is daar baie feeste en byeenkomste om mense deur die laaste winterkoue te dra, wat nou gekanselleer is.

Werk van die huis af

Werkgewers het aanbeveel dat werknemers nie met publieke vervoer mag reis nie en vergaderings moet aanlyn plaasvind.  Prosesse en tegnologie word in plek gestel sodat nie-mediese personeel van die huis af kan werk.  Die hospitale is besig om hulleself in te rig om pasiënte te versorg soos nodig.  Ooreenkomste word met verskaffers gesluit om beskikbaarheid van mediese items soos gesig-maskers en ventilators te verseker.  Die meeste verskaffers van die items is ironies genoeg in China!

Woon skool aanlyn by

By Zander se skool het hulle ook die nodige voorbereidings begin tref as die skole sou sluit.  Hulle is ingerig en die kinders opgelei om skool by te woon in ʼn virtuele klaskamer op hulle rekenaars van die huis af.  Alle sportbyeenkomste en skool vergaderings met ouers is gekanselleer.  Die geleentheid waar al die graad 5 ouers die kinders se harde werk ten opsigte van hulle wêreldprobleem navorsing sou kon aanhoor en aanskou is ook gekanselleer.  Dit is ironies dat die oorsaak van die verandering in plan  ʼn onverwagse wêreldprobleem met die naam Corona virus is.

Impak op toerismebedryf

Charl het ʼn gunsteling fondue restaurant in Zürich wat hy al vir 25 jaar besoek.  Voorheen moes hy ten minste twee weke voor die tyd ʼn tafel bespreek.  Die afgelope tyd was die restaurant net kwart vol. Toeriste is minder en veral die gebrek aan Chinese toeriste laat ʼn groot leemte.  Die eienaars is baie bekommerd oor die toekoms van hierdie top restaurant in Zürich.  Baie mense in die toerisme-bedryf het reeds hulle werk verloor. Daar is ook minder mense sigbaar op straat en in die treine en busse.

Ons het vele stories gehoor van verjaarsdagvieringe of huweliksherdenkings in die mooiste dele van Italië wat afgestel moes word weens kwarantyn. ʼn Kennis ‘n student by Milaan Universiteit. Hulle het 23h00 uur gehoor die Universiteit sluit en Milaan word in kwarantyn geplaas. Sy het onmiddellik in haar motor geklim en Zürich toe gery, want die polisie het dadelik beperkinge begin plaas op die mense se bewegings. Sy kon gelukkig net betyds daar wegkom.

Ons hou die situasie versigtig dop en gee ons samewerking. My grootste vrees is dat die situasie so draai dat ons nie vroeg in April Suid Afrika toe kan kom nie. Charl se grootste vrees is dat ons wel Suid Afrika toe gaan en nie weer kan terugkom Switserland toe nie!

Groete

Emsia

Ons maak wonderlike winter pret ontdekkings

Ons maak wonderlike winter pret ontdekkings

28 Februarie 2020

ʼn Onverwagse weeklange sport-vakansie in Februarie het ons verras. In Switserland sluit die skole vir ʼn week of twee tussen die einde Januarie en middel Maart om die mense geleentheid te gee om te gaan ski. Die Desember vakansie is baie kort en die sneeu val gewoonlik eers later. Almal hier sien baie uit na die ski-vakansie en hulle bespreek verblyf in die berge lank voor die tyd.

Ski-vakansie realiteite

Teen die tyd dat ons verblyf probeer bespreek het, het ek gou agtergekom dat die vraag groter as die aanbod is. Ek het ook agter gekom dat ʼn ski-vakansie ʼn peperduur uitstappie is tussen verblyf, ski-toerusting, klere en passe om tot bo in die berge te kom.

Ons het die addisionele probleem dat ons nie kan ski nie en met Charl wat by ʼn hospitaalgroep werk, goed ingelig is oor die aantal ski-ongelukke per jaar. Daguitstappies was ʼn goeie manier om nuwe ontdekkings te maak en meer inligting te bekom vir die toekoms.

Charl en Zander in warm swembad

Termiese spa’s

Een van die heerlike ontdekkings was die termiese spa’s wat in hierdie lande voorkom. Ons het twee van hulle besoek en beide was groot bederf. Die Switsers verstaan watter welkome lafenis en pamperlang die warm water vir seer spiere is. In die spa is daar gewoonlik een groot swembad met waterspuite teen die kant wat jou lyf masseer. Besoekers staan in ʼn ry en beweeg van een hoë druk spuit na ʼn volgende elke twee minute. Die eerste waterspuit begin by jou kuite en die laaste een eindig by jou skouers.

Leukerbad

Ek is mal oor die stoombaddens wat verskillende aromageure stoom vrylaat. Meeste spa-areas het ʼn buitelug swembad waar jy met jou lyf in heerlike warm 38 grade water staan terwyl jy na wit gesneeude berge kyk en die ysige lug op jou gesig voel. Dit voel onwerklik en is asemrowend mooi.

Die een spa het ʼn soutbad in ʼn ondergrondse grotagtige area met rustige klanke. By die ingang is daar lang verduidelikings van die gesondheidsvoordele van sout vir die menslike liggaam. Dit het my met nuwe oë na die voordele van ʼn son, see en strand vakansie laat kyk.

Warm swembad met sneeuberge

Watervalle in Rynrivier

Een van ons daguitstappies was na die watervalle in die Rynrivier naby aan die Duitse kant. Dit was pragtig om die massas water te sien, die gedruis te hoor en die ligte sproei op jou gesig te voel.  Ons het net daar besluit dat ons in die somer sal terugkom om die sproei vanaf ‘n roeibootjie op die rivier te ervaar.

Watervalle in Rynrivier

Sledging by Elm

Daar is gelukkig verskeie maniere om die sneeu te geniet as jy nie vaardig op ski’s is nie. As Suid-Afrikaners wat nie eintlik sneeu gewoond is nie, is al die opsies effens oorweldigend. Een opsie is “sledging” as jy met ʼn houtslee teen die heuwels af gly.

ʼn Ander opsie is om te “snow-shoe” as jy groot plat verlengings aan jou skoene vashaak ten einde bo-op die sneeu te loop.  “Cross-country” is ʼn ander opsie vir die wat vaardig genoeg is om met die ski’s vêr afstande in die sneeu paadjies te beweeg. Ons het besluit om met die “sledging” te begin om selfvertroue te wen.

Zander probeer sledging

In teenstelling met vorige jare het hier naby aan ons amper geen sneeu geval nie.  Die Switsers skryf dit toe aan globale aardverwarming. Daar was darem twee kere ʼn ligte sneeuval wat groot opwinding verskaf het. Meer sneeu het aan die Franse en Italiaanse dele van die Alpe voorgekom.

By Elm aangekom het  ʼn kabelkarretjie ons vyfhonderd meter hoër geneem vanwaar ons teen die berg op ʼn slee afgegly het vir ʼn twintig-minute-lange rit. Die rit was soms baie hobbelrig en vreesaanjaend as jy spoed op tel terwyl jy die afgrond net hier langs jou kan sien. Ons het kwaai met ons skoene gerem om die slee in die pad te hou terwyl die sneeu opspat in ons oë. Ons skoene, sokkies en broeke was sopnat maar die adrenalien het lekker vinnig deur ons are gepomp.

Groete

Emsia

Simbool van hoop in die natuur of in mense

Simbool van hoop in die natuur of in mense

Ons hou die media fyn dop om op hoogte te bly van gebeure en nuus in ons land. Suid-Afrika gaan deur ‘n moeilike tyd, en ons familie en vriende ly om verskeie redes. My familie se besigheid is boerdery, en die boere in Suid-Afrika het verskeie uitdagings. Plaasmoorde, brande, droogte en grondonteiening sonder vergoeding konfronteer hulle sonder einde.

Boks vir ‘n boervrou projek

Ten spyte van hierdie uitdagings is daar iets van wedersydse ondersteuning en liefde wat meer sigbaar word namate dinge meer uitdagend raak. Die boks vir ʼn boervrou-projek in Suid Afrika is ‘n kreatiewe idee om liefde en ondersteuning tasbaar te maak. My suster Ansa het ‘n spesifieke ervaring met my gedeel wat my soveel hoop gegee het dat ek dit graag as ‘n simbool van hoop vir jou in moeilike tye wil deel.

Met die onlangse brande in die Vrystaat het die boere daar soveel bokse vir ‘n boer ontvang dat hulle besluit het om sommige na die Noord-Kaap te stuur as hoop vir boere wat gebuk gaan onder erge droogte. Een aand het Andre huis toe gekom met gevulde bokse van die Noord-Kaap Boerevereniging.

Saam met die bokse was ook briewe met bemoedigende woorde of ‘n bybelvers, maar meestal sonder ‘n naam. Een van die bokse het egter ’n brief met ’n naam en telefoonnommer gehad, en al was dit laataand, het Ansa besluit om ’n dankie-boodskap te stuur.

Ansa skryf: 

“Liewe Gerda,

Ek is seker jy slaap reeds. Enigiemand wat vandag hard gewerk het, slaap reeds. Jy ken my nie, maar vanaand het jy my soos ‘n honger hond laat huil. Vanaand het my man van die boerevereniging gekom met jou spesiale boks met geskenke. Nie net het jy vandag jou kosbare kos, koffie, badsout en toiletpapier met ons gedeel nie, maar jou hart ook. Terwyl ek die boks oopmaak, kon ek liefde ervaar, al ken ek jou nie.

Dank die Here vir mense soos jy. Dankie dat jy ons wil help sonder om ons te ken. Ons gaan ‘n ontspannende bad hê, en ons is mal oor koffie! Toe my man die koffie sien, was hy opgewonde. Jy sal nie weet wat dit vir ons beteken nie. Mag die Here jou en Oupa baie seën! Jy is nog steeds so bevoorreg om ‘n pa te hê! As ek verkeerd tik, kan ek nie deur die trane sien nie en het ‘n bril nodig op amper 50. Mag die Here jou in ruil daarvoor seën met iets besonders net soos jy ons geseën het!

groete, Ansa van Zyl”

Gerda antwoord die volgende oggend:

“Liewe Ansa, hallo 

Vandag het jy my dag gemaak. Ek het vir ‘n vriendin gesê ek wens ek kon daar wees as iemand een van my bokse oopmaak. Die Here het my daardie wens gegee. Baie dankie vir die dankie-briefie aan my!

Jy is die mooiste vrou met die mooiste kinders met ‘n talent met woorde! Ek is dankbaar vir alles wat ek hoor. Ek het nog nooit in my lewe daardie handelsmerk koffie probeer nie. ‘n Ou skoolvriendin in die Kalahari, ook ‘n boervrou, het my raad gegee oor wat om te gee. Sy het ook bokse ontvang. Sy het goed voorgestel wat boere bederf sal laat voel, al is dit net ’n paar items.

Ek wou weet watter handelsmerk koffie boere drink. Koffie was eerste in my hart! Sy het ‘n foto gestuur en vir my gesê dit is wat sy nou drink, maar sy glo enige koffie is goed. Ek wou hê die koffie moet buitengewoon wees. Ek het daardie koffie vir jou van die rak gegryp met ‘n gejuig in my hart. Miskien moet ek myself ook met ‘n sak bederf.

Ek het oor die radio gehoor drie trokke met geskenke vir die boere is verbrand en het gewonder of my drie bokse in as vergaan het. Dit is ‘n tema in my lewe wat ek aan ander gee sonder om te weet wat met my gawes gebeur. Die afgelope tyd raak ek soms moeg en moedeloos omdat die stryd groot is.

Die bevestiging dat my boks opgedaag het en ‘n gesin geseën het, is ‘n groot troos vir my hart. My trane loop. Dankie, liewe Ansa, vir jou pragtige brief aan my. Kan ek vir jou bid? Hoe gaan dit? Geniet elke oomblik van alles in daardie boks. Ek het die boks met liefde en gebed gestuur.

Liefde Gerda”

Ons Vader gebruik ons om Sy liefde aan ander oor te dra. In ons wêreld is daar baie swaarkry en baie geleenthede om God se liefde te wys. Die wedersydse liefde wat uitgespreek word tussen twee gesinne wat mekaar nie ken nie, is nog ‘n groot inspirasie vir my.

God het ook onlangs Sy Liefde gewys op ‘n direkte manier wat boere die beste verstaan. In gebiede met erge droogte vir jare het die sluise van die hemel oopgegaan, en baie water het geval. Die dorre aarde het dankbaarheid getoon en vinnig omskep in die mooiste groen landskap.

Wanneer dinge moeilik raak, en ons dink ons kan nie verder gaan nie, moet ons mooi kyk. Daar is altyd ‘n simbool van hoop. Soms is dit in die natuur, maar ander kere kom dit as mense wat onverwags opdaag en help waar nodig. In hierdie Covid-tye het ons almal simbole van hoop nodig. Ons moet optree wanneer ons gekies word om die simbool van hoop vir iemand anders te wees.

Saam met Gerda se brief het sy ook ʼn lied gestuur.  Gaan luister gerus die woorde van I have this hope lied en kyk foto’s van hoe die Kalahari in groen verander.

Groete

Emsia

Migrasie vind wêreldwyd plaas

Migrasie vind wêreldwyd plaas

By Zander se nuwe skool was migrasie die eerste onderwerp waaroor hulle navorsing en ʼn klasaanbieding moes doen.  Migrasie was ʼn goeie onderwerp om mee te begin aangesien dit al die families by sy skool persoonlik raak.  Hulle het spesifieke faktore wat migrasie veroorsaak bespreek en moes ʼn toepaslike migrasie voorbeeld uit die geskiedenis van hulle land van afkoms kies vir hulle navorsingsprojek.

Gelukkig vir ons Suid Afrikaanse geskiedenis, kon Zander sy hele projek oor Jan van Riebeeck en die speserye uit Indië doen.  Die skool het selfs van die ouers genooi om persoonlike migrasie-stories te deel, wat die kinders baie interessant gevind het.

In Suid-Afrika is migrasie ʼn groot werklikheid – in sowel as uit.  Daar is soveel mense wat vanuit Afrika lande na Suid Afrika toe trek in die hoop vir werk en ʼn beter bestaan.  Dan is daar net soveel mense wat uit Suid Afrika trek in die hoop vir werk en ʼn beter toekoms.

Samuel van Malawi

Tegnologie help om kontak te hou met ons hartsmense.  Samuel, ons tuinman in Suid-Afrika, is van Malawi.  Taal was maar moeilik, maar hy het vroeg-vroeg gevra vir die “wee-fee password” om met sy mense tuis te kommunikeer.  Ek het met baie deernis geluister as die man met sy mooi glimlag oor sy klein kinders in Malawi vertel, terwyl die trane onbeskaam oor sy wange loop.

Met ʼn klip in my hart het ek geweet my dag is ook op pad dat my kinders so vêr van my af gaan wees.  Samuel stuur nou en dan met trots vir my foto’s van ons tuin in Welgemoed wat hy steeds met liefde en sorg vir die nuwe eienaars onderhou.  Ek neem aan hy het hulle “wee-fee password” ook gekry.

Samuel en sy vrou, hulle huis in Malawi en hulle seun

Zürich vlugtelingkamp

Mense migreer vir verskillende redes, maar ʼn groot groep mense wat migreer is vlugtelinge. Ek is deel van die skool se “Community Impact” mamma-groep wat Vrydae die vlugtelingkamp in Zürich besoek.  Die stories wat mens daar hoor is maar baie onstellend. 

Teen die tyd dat die vlugtelinge veilig by ʼn vlugtelingkamp aankom, is hulle al deur baie trauma.  Die hartseerste stories is van ouers en kinders wat van mekaar verwyder raak gedurende die vlugproses en dan nie weet of hulle mekaar ooit weer gaan sien nie. 

Ek probeer maar fokus op die positiewe en doen moeite om die tydjie wat ons daar is, lekker te maak.  Ons gaan net vir twee ure en maak saam pizzas en speel verskeie speletjies met die kinders.  Kommunikasie is ‘n uitdaging, want meeste van hulle praat Persies of Arabies. 

Hulle begin leer van die begin af Duits en dit is die enigste gemeenskaplike taal wat meeste van ons met hulle het.  Daar word ek gedwing om my Duits te oefen.  Gelukkig praat hulle stadig en ʼn basiese Duits.  Die tieners help my sommer gou reg as my Duits nie reg uitkom nie. Ek geniet veral die kleintjies wat sommer maklik op my skoot kom sit of my hand vat om vir my te wys wat hulle wil hê of doen.

Verskillende tale is ‘n uitdaging

Baie van die vlugtelinge kom van Iran, Irak en Afghanistan met Persies as taal en dan dien een van die ICS mammas wat kan Persies (Farsi) praat, baie maal as tolk. Sy luister na die vlugtelinge se stories en deel dit met ons. In baie van die lande kry mense baie swaar as gevolg van korrupsie in die regering. 

In sommige lande misbruik die regering die moslem godsdiens om landsburgers te manipuleer en daar word erg teen vrouens gediskrimineer. Vrouens en dogters word verplig om die kopdoek (Hijab) in die publiek te dra en word in die tronk gegooi of swaar beboet as hulle nie dit doen nie. In Iran het mans weens die wette baie mag oor hulle gesinslede en ek het gou besef dat baie vrouens en kinders uit Iran wegvlug weens gesinsgeweld.

Verlies aan voorregte wat burgerskap bied

Mense vlug of trek omdat hulle hoop op iets beter in ʼn ander land.  In baie gevalle word daar nie aan hulle verwagtinge voldoen nie, want hulle besef gou dat hulle nooit dieselfde voorregte as burgers van daardie land sal hê nie.  In ʼn ander land sal jy na ‘n paar jaar in die samelewing inskakel, maar tog op ʼn manier lewenslank ʼn buitestaander wees. 

ʼn Mens kan kos leer eet, taal leer praat, maar kultuur is nie oordraagbaar nie.  Kultuur vorm deel van jou identiteit van kleins af en is so ʼn belangrike deel van wie jy is.  Dit help jou die konteks verstaan, weet wat die ongeskrewe reëls is en veroorsaak dat jy saam kan lag as iemand ʼn grappie maak, wat ons as Suid Afrikaners tog so graag doen.

Om na ʼn ander land toe te trek het altyd ʼn impak op die mense naby aan jou en vir hulle is dit soms erger, want hulle was nie noodwendig deel van die besluit nie. Hulle ervaar nie die avontuur nie, net die verlies.

ʼn Mens mag nooit ʼn ander persoon se keuses en besluite oordeel voor jy nie in sy skoene geloop het nie.  Die faktore en omstandighede wat besluite dryf, is uniek tot elke persoon.  Met ons korttermyn kontrak hier in Switserland kry ons ʼn voorsmakie van hoe dit voel.  My gevolgtrekking is dat migrasie nie ʼn besluit is wat ʼn mens maklik neem nie.  Daar is baie uitdagings in so ʼn veranderingsproses. Ek is seker die miljoene mense regoor die wêreld wat die besluit deur die eeue heen moes neem vir hulle eie unieke redes en die aanpassing moes maak, sal die feit bevestig.

Groete

Emsia