Browsed by
Category: Na aankoms

Zürich deur die vliegtuig se venster

Zürich deur die vliegtuig se venster

Op 17 Julie 2019 het ek en Zander vir die eerste maal voete op Switserse grond neergesit. My eerste prentjie van ons nuwe tuiste deur die vliegtuig se venster, was die volmaan wat die nuwe dag groet in die pers-oranje skynsel van dagbreek oor die wit pieke van die Alpe. Soos wat ons die landingsvlak nader het ek opgelet hoe presies alles in rye is en hoe elke liewe stukkie aarde nuttig en netjies benut word.  My OCD was verheug, maar ek het tog gewonder: “Is ek gereed vir hierdie uitdaging?”

My eerste blik op Zürich

In die aankomssaal het Charl soos my rots daar gestaan.  Dit was so lekker om hom te sien.  Hy het amper moeër as ek en Zander gelyk van bekommer oor ons.  Ons is saam hom na sy tydelike blyplek toe.  My moeë brein kon nie al sy verduidelikings van hoe alles werk inneem nie en ek moes maar na ʼn bietjie slaap die basiese dinge self uitpluis.

Ons eerste winkel uitstappe

My en Zander se eerste uitstappie was na die plaaslike supermark, Coop, toe.  As gevolg van beperkte spasie en die feit dat jy jou aankope moet dra, gaan die mense elke dag winkel toe en koop net vir daardie dag.  Ek het gou besef my beproefde pakstoor-konsep gaan nie hier werk nie.  Sekere  soorte vrugte en groente is onbekend aan my, maar al die rooi vrugte soos bessies en kersies maak my opgewonde. 

Die reuk van daaglikse vars gebakte brode hang in die lug en die verskeidenheid soorte kase verstom my. Vleisopsies is beperk en onbekostigbaar duur. Maalvleis is tot drie maal duurder en ander snitte tot ses maal duurder as in Suid Afrika. Coop het gelukkig Prix handelsmerk produkte wat redelik bekostigbaar is, selfs in ons terme.  Zander was verheug oor sy ontdekking van Prix roomys.  Volgens Zander kan hy sien hoe ons twee nou “Bargain Hunters” gaan word.

Ons eerste inkopie uitstappie na Coop

Treine, trams en busse

Ons tweede uitdaging was om ons pad te vind tussen al die treine, trams en busse.  Ons getroue vriend Google Maps doen gelukkig steeds sy ding.  Dit wys presies watter vorm van vervoer op ‘n gegewe tyd van watter plek af vertrek.  Die bene moet ook nou ‘n groter bydrae lewer tussen al die loop, trappe klim en soms hardloop as ons bietjie laat is. 

Opstaan uit die bed is baie meer pynlik as voorheen, maar ek hoop dit werp vrugte af op die voorkoms. Aangesien plaaslike data nodig is vir Google Maps, moes ons vinnig plaaslike selfoonkontrakte kry.  Zander doen meeste van ons roete navorsing en volgens hom is hy my “Trip Advisor”. 

Ons plaaslike S18 voorstedelike trein

Ek het vir Zander al ʼn paar maal winkel toe gestuur met ʼn lysie.  Dit is ʼn paar treinstasies weg en hy het baie trots reggekom.  Die groter algemene veiligheid het ʼn positiewe impak op ons stresvlakke en gee my die gemaklikheid om vir Zander groter verantwoordelikheid te gee. Die tieners loop redelik laat in die aand nog rond besig op hulle selfone.

Taal is ‘n uitdaging

Taal is vir ons ʼn groot uitdaging en ons al drie besef ons sal so gou as moontlik Duits moet leer praat as ons wil oorleef. Google Translate word sommer gereeld ingespan. Baie mense kan darem ‘n klein bietjie Engels praat en is redelik vriendelik en behulpsaam.  Tussen grüezi (hallo), danke schön (baie dankie) en tschuss (totsiens), lyk ons darem of ons ʼn poging aanwend met die Duitse taal. As ek in die winkels regtig sukkel gooi ek sommer Afrikaans met net baie sch- en gh- klanke in. Met ʼn klein bietjie geluk werk dit soms.

Ons nuwe blyplek (Ankenbüel) in ‘n landelike omgewing

Blyplek, soos alles anders hier, is ongelooflik duur.  Ons was dankbaar om te hoor dat ons, ons nuwe woonstel se sleutel ʼn week voor Julie se maandeinde kon kry.  Die nuus dat ons skip eers 9 Augustus kom was minder goed. As Suid-Afrikaners is ons gelukkig gemaklik met kamp. Met alles op die skip, was ons genoodsaak om ʼn ketel, matrasse en die nodigste eetgerei aan te skaf om vir drie weke oor die weg te kom. In Switserland kom die blyplekke ook sonder ligte en ingeboude kaste.

Ons IKEA bouprojekte

Ikea

Ons was genoodsaak om ons beperkte begrip van IKEA se prosesse uit te brei.  Met een stappie deur IKEA se uitstalruimte bereik mens sommer maklik jou 10 000 treetjies doelwit vir die dag. Tydens die proses skryf jy die meubels of huishoudelike items wat jy wil koop se nommers neer, gaan jy na ʼn stoorruimte en haal al die items van ʼn rak af in ʼn trollie en betaal daarvoor. 

Daar is spesifieke rekenaars op die vloer om groot meubels, soos ingeboude kaste, se uitleg en voorkoms aanlyn te ontwerp.  As die ontwerp gefinaliseer is druk ʼn personeellid ʼn faktuur vir al die planke en skroewe.  Ons moes die meubels self soos reuse Lego-stelle van ʼn plan af bou.  Charl het gelukkig baie vaardigheid op die terrein. My leerkurwe is steil.

Behalwe vir die feit dat ons vreeslik na ons hartsmense by die huis en Zander na sy hartskos in die vorm van Woolworths hamburgers verlang, gaan dit goed met ons en is ons tevrede met ons vordering ten opsigte van die verkenning van ons nuwe tuiste die afgelope twee weke.

Groete

Emsia