Browsed by
Category: Ander

Ontsag vir die natuur se grootheid en krag

Ontsag vir die natuur se grootheid en krag

As ek ‘n tema vir ons afgelope somervakansie moes kies , sou dit beslis “krag van die natuur” wees. Ons het plekke besoek wat hemelsbreed verskil van dit wat ons ken – van vuur en lawa tot sand- en seestorms. Elke bestemming het ons herinner hoe klein en magteloos ons eintlik teenoor Moeder Natuur is.

Ysland – Land van Vuur en Ys

Charl se droom om Ysland te sien het hierdie jaar waar geword. Ons hou van bootvakansies. Dit bied vir ons ’n sorgvrye vakansie en skep die geleentheid om baie plekke te sien sonder om gedurig in- en uit te pak.

Ons het met ’n Holland America-skip vanaf Rotterdam vertrek en koers gekies na Reykjavik, Ysland se hoofstad.

Ons eerste stop was die pragtige  Ålesund in Noorweë. Vandaar het ons Ysland se asemrowende fjords, met hul klein vissersdorpe en stil natuurskoon, verken. Game of Thrones verfilming het in sommige van hierdie plekke plaasgevind.

Ons het lank uitgesien na ons besoek aan die Blue Lagoon, een van Ysland se grootste trekpleisters. Enkele dae voor ons aankoms, breek ’n vulkaan naby die lagoon uit! Die spa moes sluit omdat die lawa paaie onbegaanbaar gemaak het. Ek het die situasie op sosiale media dopgehou en gelees hoe owerhede deur die nag gewerk het om paaie weer vir besoekers toeganklik te maak.

Aktiewe vulkaan

Ons huurmotorrit na die lagoon was ’n ervaring op sy eie. Die landskap, gevorm deur ’n uitbarsting meer as 800 jaar gelede, was iets om te aanskou. Soos ons nader beweeg, kon ons sien waar die vars lawa oor paaie gespoel het. Dit het soos swart modder gelyk. Hulle het keerwalle gebou en nuwe paaie gemaak om verkeer toe te laat. Mense het langs die pad gestop om foto’s en drone-videos te neem. En ja, ons kon self die vulkaan sien uitbars – van ’n veilige afstand af natuurlik. Dit was ongelooflik! Ons het skielik so klein gevoel teen die grootheid van die skouspel wat ons kon aanskou

Ons het tydens ons vaart die arktiese sirkel oorgesteek en ook Ysland se Middernagson, met byna 24 uur se daglig ervaar. Hierdie unieke daglig-siklus is een van Ysland se vele wonders. Winter bring korter dae met net ’n paar ure sonlig.  Dit maak dit dan weer moontlik vir besoekers om die Noorderligte te sien, want in die donker wintermaande is die nag lank genoeg sodat die aurora helder in die lug kan dans. Ek hoop ek het eendag die voorreg om dit ook te sien!

Geotermiese Blue Lagoon

Gelukkig kon ons darem steeds die Blue Lagoon besoek. Hierdie geotermiese spa is uniek – die warm, mineraalryke water het ’n sagte blou kleur en is bekend vir sy gesondheidsvoordele. Die water kom van  2000 meter diep in die aarde uit en bly lekker warm – tussen 37°C en 40°C – ongeag van die buitetemperatuur.

Die Blou Lagoon het toevallig ontstaan nadat stoom wat deur die geotermiese kragstasie by Svartsengi vrygestel is, gekondenseer het. Aanvanklik het hulle gedink die water sou in die lavaveld insypel, maar oor tyd het sediment die lava dig gemaak en die lagoon het bly groei.

By die spa is daar ’n masker-kroeg! Jy kon kies tussen silika-modder, alge, minerale of selfs ’n lavascrub. Ná die tyd het ons velle sag gevoel en ons was lekker ontspanne – reg vir die volgende avontuur.

Sandstorm in La Goulette, Tunisië

La Goulette, ‘n hawestad in Tunisie het dadelik soos Afrika gevoel. Die mense was gasvry, warm en verwelkomend en die markte vol speserye, lapwerk, keramiek en tradisionele kunswerk. Die dag met ons besoek was bloedig warm. Na ons rondloop in die ou stad en markte, is ons vroeg terug boot toe om in die swembad af te koel.

Terug in die kajuit kon ek aanvoel die lug verander. Ek het ons nat swemklere van die balkon af ingebring – net betyds! ’n Sandstorm het oor ons getrek, die lug het oranje geword en toe hoor ons iets breek. Dit was die swembadstort se glas. Swembad dekstoele en mense se klere het deur die lug die see in gewaai. Ons kajuit was op die 11de vloer en een van stoele het ’n merk op ons balkon se houtreëling gelaat.

Dit is blykbaar nie iets wat elke dag gebeur nie, maar dis deel van die lewe in ’n streek wat deur die Sahara beïnvloed word. Vir meeste inwoners is dit maar net ’n tydelike ongemak, maar vir ons was dit ’n skrikwekkende en unieke ervaring.

Seestorm en brand in Marseille, Frankryk

Toe ons Marseille se hawe nader, het ek gevoel die skip veg teen die elemente. Die see was onstuimig en vol wit skuimkoppe, amper soos die Kaapse Suid-Ooster op ’n dol dag! Die kaptein het dit reggekry om die skip veilig in die hawe te bring, met hulp van twee baggerbote wat die skip die hele dag in posisie moes hou. Ons stappie na die hawe shuttlebus toe was uitdagend en het ons windverwaaid gelaat.

Later die dag het ons rook opgemerk en gesien hoe ’n geel vliegtuigie kort-kort water skep en dit in die rigting van ’n bosbrand laat val. Skielik het almal op die skip se selfone begin vibreer en ’n onaardige geluid gemaak.  In rooi letters kon ons sien dit is ’n Veiligheidswaarskuwing. Almal wat aan die Marseille selfoontoring gekoppel was, het dit ontvang. Die brand het veroorsaak dat sommige busse met passasiers op ’n daguistappie, nie betyds terug kon kom nie. Die skip het later as beplan vertrek, maar ons was veilig.

Dankbaarheid en Respek

Na elke seestorm, elke rookwolk, elke sandstorm en vulkaanuitbarsting, het ons met nuwe oë na die wêreld begin kyk. Hierdie vakansie het ons nie net verstom met natuurskoon nie, dit het ons ook gewys hoe ongelooflik kragtig die natuur is en hoe klein ons eintlik is.

Ons is dankbaar om weer veilig by die huis te wees, met herinneringe wat ons vir altyd sal dra en ‘n nuwe respek vir die aarde se kragte.

Groete

Emsia

Vriendskap en nuwe insigte in Nepal

Vriendskap en nuwe insigte in Nepal

Zander het ’n wonderlike geleentheid gehad om Kathmandu in Nepal as deel van ’n skooluitstappie te besoek. Zander se skool, ICS in Zürich, het ‘n vennootskap met Shree Mangal Dvip (SMD) in Nepal. Die vennootskap is toegewyd aan opregte interkulturele uitruiling, wêreldburgerskap en transformerende onderwys. Oor die afgelope twee dekades het ICS studente van SMD verwelkom om hul IB-diplomas te voltooi.  Die ICS-skoolgemeenskap staan ook saam om fondse in te samel vir die verbetering van SMD se fasiliteite en onderrig.

Ons as ouers het ’n opgewonde groep graad 10 leerders op die lughawe afgesien. Die res van hierdie brief is my weergawe van hul reis, saamgestel uit boodskappe, foto’s en Google navorsing. Dit was ’n vreugde om hul avontuur van ’n afstand te volg. Ek hoop hierdie terugskouing vang ten minste ’n klein deeltjie vas van die opwinding en groei wat hulle beleef het.

ʼn Warm verwelkoming by SMD in Kathmandu

By die SMD skool in Kathmandu het hoof het hulle met ’n koppie tee verwelkom, gevolg deur ’n begeleide toer van die skool. Zander het laat weet: “Die skool het my aan ons laerskool in Suid Afrika herinner. Die leerders is aangenaam, vriendelik en vrolik. Dit was lekker om die ander SMD graad 10’s te ontmoet en mekaar beter te leer ken.”

Aan die einde van die skooldag het hul nuwe vriende saam met hulle ’n besoek gebring aan die Boudha Stupa, ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Die vorm van die Stupa simboliseer die Boeddha, gekroon en sittende in ’n meditatiewe houding op ’n leeutroon. In die Boeddhisme is ’n Stupa ’n koepelvormige, halfsirkelvormige struktuur wat verskeie soorte heilige relieke huisves.

Op hul tweede dag in Nepal het die groep ’n unieke geleentheid gehad om Saka Dawa, een van die heiligste vieringe in Tibetaanse Boeddhisme, mee te maak. Hierdie heilige dag herdenk die geboorte, verligting en parinirvana (heengaan) van Gautama Boeddha.

Zander het gedeel: “Na die viering het ons sport soos basketbal en sokker saam met ons nuwe vriende gespeel. Na tien minute se speel hier was ek heeltemal uitasem. Ek dink dis weens ’n kombinasie van die hoë hoogte en die lugbesoedeling. Later het die meisies ons in ’n saal bymekaargebring en vir ons ’n paar tradisionele Nepalese danse geleer.”

Verskillende wêrelde, dieselfde drome

Zander se terugvoer oor die klimaat en koservaringe: “Die klimaat in Nepal is warm en tropies. Die 30 grade hier voel nie soos 30 grade in Switserland of Suid-Afrika nie. Dit is baie meer humied. Gedurende die dag skyn die son helder, maar teen 6-uur in die aand is daar donderstorms met swaar reën. Ek geniet die kos, veral die Nepalese momo’s en Indiese kerrie.”

Hy het ook insigte oor voorregte gedeel: “Die Nepalese kinders het dieselfde belangstellings as ons. Ons luister na dieselfde musiek en praat op soortgelyke maniere. Ons is almal maar net gewone tieners. Hulle werklikhede is egter anders. Die seun wat ek ontmoet het, moet elke keer vyf dae per bus reis en dan ver in die berge stap om sy ouers te sien. Sy gesin het skaars geld vir die skool. Hy is die enigste in sy hele familie wat kan lees en skryf. Sy ouers offer alles op sodat hy ’n opvoeding kan kry.”

Samewerking oor Kulture heen by SMD

Gedurende die eerste week het Zander se groep saam met die SMD-leerders klasse bygewoon en aan groepsprojekte gewerk. Hulle het nie net sáám met die SMD-studente geleer nie, maar ook van hulle geleer. ICS- en SMD-studente het spanne gevorm om navorsing te doen oor volhoubare ontwikkelingsoplossings vir bergagtige, landgeslote lande soos Switserland en Nepal. Aan die einde van die week het die spanne hul idees aan die Graad 9-leerders en skoolpersoneel voorgelê.

Verkenning van Kathmandu

Gedurende die tweede week het Zander se groep op ’n kulturele uitstappie gegaan wat besoeke aan Patan Durbar-plein, ’n vroeëoggend-groentemark, Kathmandu Durbar-plein en die Swayambhunath-tempel ingesluit het.  Die tempel bied ’n asemrowende uitsig oor die stad. Volgens terugvoer was die hoogtepunt vir baie die verkenning van die lewendige Thamel-distrik, waar studente vrye tyd gehad het om rond te dwaal, aandenkings te koop en geskenke uit te soek.

Shivapuri-bergpiek Staptoer

Gedurende die naweek het ICS- en SMD-studente ’n staptoer aangepak na die piek van die Shivapuri-berg, wat geleë is in die nasionale park aan die noordelike rand van die Kathmandu-vallei. Die 10-kilometer klim, met ’n hoogteverskil van byna 1 100 meter, het sowat vier uur geneem om te voltooi. Langs die pad het hulle takbokke en ’n trop makaak-ape ( macaques) in die digte tropiese reënwoud gesien. Ongelukkig het hulle nie ’n kykie gekry van die skaars “clouded leopards” of Himalaja-swartbere wat ook in die gebied voorkom nie.

By die piek het die groep in ’n sirkel gerus, versnaperinge gedeel en hul energie herlaai vir die afdraand. Hulle het ’n ander, korter maar baie steiler roete vir die terugtog gekies. Die 6-kilometer-afdraand, wat honderde trappe ingesluit het, het ongeveer twee uur geneem. Ná so ’n fisiek veeleisende dag was hul sagte beddens veral welkom.

Rustigheid by Namo Buddha-klooster

Die groep het ’n oornagervaring by die Namo Buddha-klooster gehad. Ek het gelees dat Namo Buddha, vanuit ’n Boeddhistiese perspektief, een van die heiligste godsdienstige plekke in Nepal is. Saam met die Boudha Stupa en die Swayambhunath Stupa vorm dit drie van die belangrikste Boeddhistiese pelgrimsoorde in die land.

Volgens Zander is Namo Buddha nie net geestelik betekenisvol nie, maar ook asemrowend mooi en diep vreedsaam. Die omgewing is stil, skoon en vry van besoedeling, met koel, vars lug. Dit is die ideale plek vir meditasie en stil refleksie. In die vroeë oggend groet ’n pragtige sonsopkoms besoekers, terwyl die aande ewe betowerende sonsondergange bied. In die verte verskyn die sneeubedekte pieke van die Himalajas, wat ’n gevoel van suiwerheid en grootheid uitstraal.

Reis is ‘n geskenk wat aanhou gee

Ek sluit af met die woorde van een van die onderwysers wat deel was van die reis: “Dit was ’n wonderlike twee weke – ’n ervaring wat geen van ons ooit sal vergeet nie. Ek glo die lesse wat ons uit die Boeddhisme, die SMD-leerders, die Nepalse kultuur en hul leefwyse geleer het, sal op verskillende maniere in elk van ons na vore kom. Hierdie insigte sal oor die komende dae, weke, maande en selfs jare op verskillende tye en plekke in ons lewens verskyn.”

Ek is opreg dankbaar teenoor Zander se skool en onderwysers wat hierdie onvergeetlike ervaring moontlik gemaak het. ’n Reis soos hierdie verruim jou horisonne, verander jou kyk op die wêreld en sy mense, en laat jou die dinge in die lewe wat regtig saakmaak, waardeer. Reis is ’n geskenk wat aanhou gee.

Sien meer foto’s in die fotovideo.

Groete

Emsia

Istanbul is vol kleur en geur

Istanbul is vol kleur en geur

Ons het die nuwe jaar in Istanbul verwelkom en een van die wêreld se gewildste toeristebestemmings verken. Dit is die enigste stad wat oor twee kontinente strek, met ‘n lang brug wat sy Europese en Asiatiese kante verbind. Danksy sy strategiese ligging het Istanboel lank as ‘n spilpunt vir plaaslike handelsroetes gedien. Ons het die geleentheid gehad om die unieke mengsel van Oosterse en Westerse kulture te ervaar.

Turkse Kos en Drank

Die vooruitsig van Istanbul se kos het Zander opgewonde gemaak. In Switserland is die Turkse döner-kebab ons gunsteling straatkos. Turkse immigrante het veroorsaak dat döner-kebabs in die 1970’s gewild geword het in Duitsland. Goedkoop, smaaklik en vullend, het hulle vinnig ‘n gunstelingmaaltyd vir werkers, studente en laataand-feesgangers geword.

Een van die gewildste drankies wat straatkos te vergesel, is Ayran. Dit is ‘n souterige, ligte en skuimerige jogurtdrankie. In die warm Turkse somers les Ayran jou dors en vul ook die sout aan wat deur sweet verlore gaan.

Ons het onsself daagliks met Turkse tee en soms met ʼn soetigheid soos Baklava bederf. Baklava is ‘n nagereg gemaak van lae filodeeg, gevul met gekapte neute en met stroop of heuning versoet.

Ons het ook Turkye se geliefde winterdrankie, Salep, probeer. ‘n Onderskeidende bestanddeel in hierdie warm en soet drankie is die verpoeierde wortels van verskeie orgideëspesies. Dit is tydens die Ottomaanse Ryk aan Istanbul bekendgestel. Mense het Salep as ‘n troosdrankie en ook afrodisiak geniet. Salep het ons aan Suid Afrikaanse kaneelgegeurde melktertvulsel laat dink.

Salep word ook in Turkse roomys gebruik. Dit gee die roomys ‘n ferm tekstuur en verhoed dat dit smelt wat baie handig in die somerhitte is.

Bazaars

Die Grand Bazaar in Istanbul is een van die wêreld se grootste en oudste onderdak markte. Konstruksie het in 1461 begin. Dit is oorspronklik gebou om die stad se handelsaktiwiteite te organiseer en te reguleer. Dit word dikwels beskou as een van die eerste winkelsentrums ter wêreld. Vandag het die basaar 61 onderdak strate en meer as 4 000 winkels wat verskeie plaaslike produkte aanbied. Onderhandeling vir beter pryse is ‘n integrale deel van die ervaring. Zander het vaardig onderhandel om bykomstighede wat deur sy vriende versoek is, teen goeie pryse te koop.

Die Egiptiese, of Spice Bazaar, is ‘n historiese binnenshuise mark wat in die 17de eeu ontstaan het. Dit is bekend vir sy uitgebreide verskeidenheid van kruie en speserye. Ons het dit geniet om verskeie lekkernye in hierdie bedrywige en geurvolle basaar te proe.

Plaaslike inwoners koop hulle huishoudelike benodigdhede by die vele straatmarkte, waar alle produkte seisoenaal is en hoofsaaklik in Turkye verbou word.

Landmerke wat vier Ryke verteenwoordig

Istanboel spog met ‘n ryk geskiedenis. Dit het as die hoofstad van vier ryke gedien: die Romeinse Ryk (330-395), die Bisantynse Ryk (395-1204), die Latynse Ryk (1204-1261), die Bisantynse Ryk weer (1261-1453) ), en die Ottomaanse Ryk (1453-1922). Ons het verskeie landmerke verken en die unieke mengsel van Christelike en Islamitiese omgewings ervaar.

Blue Mosque

Die Blue Mosque is ‘n uitstekende voorbeeld van Ottomaanse argitektuur. Dit is ‘n aktiewe plek van aanbidding wat oop is vir alle besoekers, mits hulle gepaste klere dra. Blou Iznik-teëls met ingewikkelde blompatrone, geometriese ontwerpe en kalligrafie versier die binnemure.

Hagia Sophia

Hagia Sophia, wat “Heilige Wysheid” in Grieks beteken, is een van Istanbul se mees heilige en asemrowende landmerke. Dit is in 537 nC gebou, het ‘n geskiedenis wat oor 1 400 jaar strek en het gedien as ‘n sentrum van godsdienstige, artistieke en politieke betekenis. Dit lok jaarliks ​​talle besoekers en word dikwels die “Agtste Wonder van die Wêreld” genoem.

Hagia Sophia was oorspronklik ‘n kerk, later ‘n moskee, en nou ‘n museum. Die pragtige argitektuur daarvan weerspieël die invloed van beide Bisantynse en Ottomaanse ontwerp.

Ons verblyf was langs ‘n moskee Die oproep tot gebed wat oor die luidsprekers uitgesaai is, was ‘n gereelde herinnering aan daaglikse gebede. Om so naby aan die konflikte in Istanbul se buurlande te wees, het my bewustheid van die behoefte aan vrede verhoog. Ek het hierdie oomblikke gebruik om vir vrede in die wêreld te bid.

Basilica Cistern

Onder die bedrywige strate van Istanbul lê die Basilica Cistern, ‘n 6de-eeuse wonder wat eens water vir die stad geberg het. Die 336 kolomme, sommige versier met spookagtige Medusa-koppe, ondersteun die antieke ondergrondse reservoir.

Bekende rolprente soos Inferno en From Russia with Love het die onheilspellende atmosfeer van die plek as ‘n dramatiese agtergrond gebruik, wat die aanloklikheid en kulturele betekenis daarvan versterk.

Istiklal Caddesi

Istiklalstraat, die stad se bekendste winkelstraat, is ’n plek van vermaak. Hierdie voetgangerstraat gons van bedrywigheid; winkels, restaurante, kafees en straatkunstenaars vul die area. Ons het dit net voor Nuwejaar besoek en kon sien hoe dit pragtig met feesliggies versier, lyk.

Balat

Balat was in die verlede ‘n toevlugsoord vir minderheidsgroepe soos Joodse en Grieks-Ortodokse gesinne.

Ons sal Balat onthou vir die kleurvolle huise langs die skuins geplaveide strate. Baie van hierdie huise is meer as 50 jaar oud, met sommige wat tot 200 jaar terug dateer. Die kafees en restaurante is prentjiemooi en die spyskaarte weerspieël die distrik se diversiteit.

Ons foto’s vertel meer oor ons ervaringe.

Ons Istanbul besoek was ‘n positiewe ervaring vol kleur- en geurvolle herinneringe. Reis is ‘n geskenk wat aanhou gee.

Groete

Emsia