Vroue swyg oor menopouse struwelinge
Ons het kort voor my 50ste verjaarsdag na ‘n nuwe land verhuis. Twee van my seuns moes in Suid-Afrika agterbly om hul studies voort te sit. My jongste seun en man moes aanpas by ‘n nuwe skool- en werksomgewing in ‘n vreemde land. Ek moes ook aanpas by baie veranderinge, insluitend ‘n amper leë nes. Ten minste kon ek hieroor praat.
Ek het dit egter baie moeiliker gevind om te praat oor wat binne my eie liggaam aan die gebeur was. Ek was besig om menopouse te betree, en dit het gevoel asof ek in iemand anders se vel leef.
Daarom het ek besluit om openlik te praat oor ‘n onderwerp en ‘n lewensfase waarvoor ek glo te veel vroue onvoorbereid is. Hierdie onderwerp is menopouse, hoe ons dit ervaar en die dikwels oor die hoof gesiene risiko van afhanklikheid wat daarmee gepaard kan gaan.

Die Middeljare val saam met ander uitdagtings
Hierdie lewensfase val dikwels saam met ander stresveroorsakende oorgange. Kinders wat die huis verlaat, kan gevoelens van verlies en leegheid veroorsaak. Terselfdertyd kan ons bejaarde ouers siek word of toenemend afhanklik van ons word. Dit voeg ‘n verdere laag emosionele verantwoordelikheid by. Boonop nader ons lewensmaats aftrede en verskeie onsekerhede verhoog angs. Daar is vrae soos: “Is ons finansies voldoende? Waar gaan ons aftree en wat gaan ons doen met ons tyd?”
Menopouse bring ‘n wye reeks fisiese en emosionele simptome. Ek het warm gloede, nagsweet, slaapversteurings en buierigheid verwag. Ek was egter onvoorbereid op die depressie, angs en oorweldigende gevoel van doelloosheid wat gevolg het. Die fisiese veranderinge het my ook onkant gevang. Hierdie vetrol om my maag, veldroogheid en liggaamspyne het my laat voel asof ek nie in my eie liggaam tuishoort nie.

Ons praat dikwels openlik oor adolessensie en die uitwerking van hormone op tieners. Tog erken ons selde die groot hormonale impak wat vroue tydens menopause ervaar en die emosionele tol wat dit kan eis.
Die risko van negatiewe hanteringsmeganismes
Gedurende hierdie lewensfase staar baie vroue ’n ander ernstige risiko in die gesig. Daar is ’n groeiende afhanklikheid van middels en gedrag wat slegs tydelike verligting bring. Dit sluit dinge in soos alkohol, pynstillers en slaappille, asook gewoontes soos oormatige gebruik van sosiale media of kompulsiewe inkopies.
Alkohol is só genormaliseer en ingeburger in ons sosiale kultuur dat dit maklik is om ’n gebruikspatroon te ontwikkel sonder om die gepaardgaande gevare raak te sien. Sosiale druk speel ook ’n groot rol en moedig dikwels drink en die gebruik van ander stowwe aan. Aangesien daar soveel “ontvlugtingsopsies” beskikbaar is, soek baie vroue troos daarin. Hierdie afhanklikheid kan vroue op verskillende maniere bewustelik of onbewustelik benadeel.

By ouer vroue word die skadelike gevolge van hierdie middels dikwels misken of verkeerdelik gediagnoseer as ander toestande, soos depressie of selfs demensie. Skaamte of ontkenning kan veroorsaak dat vroue huiwer om hulp te soek, wat die probleem verder vererger.
Dit is belangrik om te besef dat vroue alkohol anders as mans metaboliseer. Dit maak ons meer vatbaar maak vir langtermyn skade, soos lewerskade en kognitiewe agteruitgang. Navorsing toon ook dat alkoholgebruik tydens menopouse simptome kan vererger en die risiko vir ernstige gesondheidsprobleme, soos hartsiektes en osteoporose, kan verhoog.
Hoe die brein plesier in hunkering verander
Ek het dit fassinerend gevind om te leer dat die brein alle vorme van plesier op dieselfde manier verwerk. Dit kan ‘n drankie, ‘n finansiële beloning, ‘n seksuele ervaring of ‘n heerlike maaltyd wees. In elke geval stel die brein ‘n neurotransmitter genaamd dopamien vry in ‘n area wat bekend staan as die brein se plesiersentrum.

Die waarskynlikheid dat ‘n middel of aktiwiteit tot ‘n problematiese verhouding sal lei, hang van drie faktore af. Dit is hoe vinnig dit dopamienvrystelling veroorsaak, hoe intens daardie vrystelling is, en hoe konsekwent dit plaasvind. Selfs die wyse hoe ʼn persoon ‘n middel inneem, wat lei tot hoe vinnig dit die bloedstroom binnedring, kan die potensiaal vir verslawing beïnvloed.
Die Rol van Dopamien
Dopamien doen meer as om net gevoelens van plesier te skep. Dit speel ook ‘n belangrike rol in leer en geheue. Hierdie funksies kan iets wat jy geniet, omskep in iets waarna jy hunker, wat jou aanspoor om dit te soek.
Met verloop van tyd pas die brein aan by herhaalde dopamien-stygings. Hierdie aanpassing lei tot toleransie, wat beteken dat dieselfde middel of aktiwiteit nie meer dieselfde vlak van plesier lewer nie. Mense vind dikwels dat wat hulle eens ‘n bevredigende “high” gegee het, nou dof voel, tensy hulle die hoeveelheid of frekwensie verhoog.

Selfs nadat iemand hul verhouding met ‘n middel of gedrag beëindig het, kan die hunkering na die plesier wat dit eens verskaf het, soms jare lank voortduur.
Ons moet mekaar ondersteun
Dit is belangrik dat ons as vrouens mekaar ondersteun deur hierdie lewensfase. Om bloot met iemand te praat wat werklik luister, kan ‘n wêreldse verskil maak. ‘n Paar vriendelike woorde of bemoedigende boodskappe kan baie beteken. Dit het veral ʼn groot impak wanneer iemand neerslagtig voel, belangstelling verloor in aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het, of sukkel met selfbeeld.
Ons moet na ander vroue uitreik en hulle nooi om aan verskillende aktiwiteite deel te neem of met ander mense kontak te hê. Dit skep geleenthede vir hulle om weer goed oor hulle self te voel.

Ek sal altyd dankbaar wees teenoor die vroue wat na my uitgereik het toe ek dit die nodigste gehad het. Deur hul ondersteuning het ek wonderlike nuwe vriendskappe gebou wat my lewe verryk.
Groete
Emsia