Ons help dra mekaar se stories
As klein dogtertjie het ek elke oggend met my bakkie hawermoutpap en my bene swaaiend by ons rooi Formica-kombuistafel gesit. Terwyl musiek oor die radio speel het ek opgewonde gewag vir die kinderverhaal om te begin.
Die stemme uit daardie klein kassie het ons kombuis gevul. Ek het meer gedoen as om net te luister. Ek was deel van die storie en het die karakters se emosies gevoel. Die vrees van die verlore hasie, die moed van die klein seuntjie en die verligting wanneer dinge reg uitgedraai het, was werklik. Selfs voordat ek woorde daarvoor gehad het, het ek geweet: stories help ons om sin van die wêreld te maak.

Na baie jare is dit steeds waar vir my. Stories help my om my eie lewe te verstaan en om geloof, waardes en betekenis oor te dra. Hulle help ons om in iemand anders se omstandighede, kultuur, vreugde en pyn in te stap. Stories bou brûe.
Om Lewensverhale te Deel
Toe my jongvolwasse seuns tieners was, het my ma-rol my dikwels onseker, verdedigend en stilweg bang laat voel. Ouerskap het nie meer instinktief gevoel nie. Dit het broos gevoel. Een oggend, vasgevang in Kaapstad se verkeer op pad werk toe met taxi’s wat tussen bane inskiet en toeters wat gefrustreerd blêr, het ek my suster gebel. Ek het sleg geslaap. My gedagtes was deurmekaar. Ek onthou hoe ek die stuurwiel styf vasgehou het terwyl ek met ʼn stem swaar van emosie gesels het.

Sy het nie oplossings of lesings gegee nie. Sy het eenvoudig geluister. Stadig, soos ek gepraat het, het die geraas binne my sagter geword. Ek kon myself weer hoor dink. Haar teenwoordigheid het my geanker. Daardie gesprek het nie my ouerskapvrae opgelos nie, maar dit het my gehelp om my eie hart beter te verstaan. Dit is die draende krag van aandagtige luister.
Briewe
Jare later, toe ons na Switserland verhuis het, het ek die afwesigheid van daardie soort luister intens ervaar. Ek onthou hoe ek in ons nuwe kombuis gestaan het, met die klanke van ’n nuwe taal wat ek nog leer oor die radio. Beangs het ek gewonder: Hoe gaan ek die lewe doen sonder die ondersteuning van vriende? Met wie gaan ek praat wanneer ek nie die antwoorde het nie?

Ek het begin skryf. In my briewe huis toe het ek meer gedoen as om sneeubedekte berge of kulturele verskille te beskryf. Ek het probeer om my lewe te interpreteer. Ek het gevra: “Wie is ek hier? Waarheen is ek op pad? Waarmee is God in my lewe besig?” Skryf het ’n manier geword om met iemand aan die ander kant van die aardbol mee te gesels.
Wanneer iemand my nou met hul storie vertrou, voel dit soos heilige grond. Daar is ’n stil oomblik wanneer ’n mens besluit om die risiko te neem om geken te word. Ek voel dit wanneer ek iets kwesbaars met my man deel en hy luister eerder as om met ʼn oplossing te kom. In daardie oomblik groei vertroue. Só leer ons mekaar beter ken. Tog ken ʼn mens mekaar nooit ten volle nie. Elke lewe dra verborge hoofstukke en ongeskrewe eindes.

Digitaal
Oor die afgelope paar jaar het vriende self of saam met ʼn gesinslid ʼn pad met lewensbedreigende siektes gestap en hulle storie gedeel. Die eerste keer wat ek by ’n WhatsApp-“broadcast group”vir sulke nuus gevoeg is, was toe ’n dierbare vriendin se tienerseun met kanker gediagnoseer is. Haar boodskappe was rou en eerlik.
Ek het hulle stil-stil oopgemaak, soms met my asem opgehou. Ek het gehuil toe sy ’n foto plaas van hom wat die hospitaalklok lui ná sy laaste chemo behandeling — maer, glimlaggend, oorwinnaar. Selfs deur ’n gloeiende skerm het hoop, geloof en liefde gereis. Ons dra mekaar se stories selfs soms digitaal.
Storie Bondgenote
Wanneer iemand ons met hul vrae, seer of verwarring vertrou, nooi hulle ons om te word wat ek ’n storie-bondgenoot noem. Die temas in ons stories is universeel: liefde en verlies, hoop en wanhoop, lewe en dood. Die besonderhede van ons stories is altyd uniek en heilig.
Om ’n storie-bondgenoot te wees gaan nie daaroor om antwoorde te hê nie. Ek moet myself dikwels daaraan herinner dat dit nie gaan oor wyse raad of woorde om hulle beter te laat voel nie. Dit gaan oor teenwoordigheid. Dit is om langs iemand te staan terwyl hulle sin maak van verraad, ’n diagnose verwerk, verlief raak, of ’n droom begrawe. Wanneer ons luister, word ons getuies van lyding, veerkragtigheid, twyfel en geloof. Soms, as ons fyn in gestel is, kan ons die fyn drade van goddelike liefde wat stilweg deur verwarring en pyn geweef is, raaksien.

Die meeste mense soek nie ’n kenner nie. Hulle soek iemand wat bereid is om saam met hulle die onbekende in te stap. Iemand wat hul krag na hulle terugspieël wanneer hulle dit vergeet het. Iemand wat sonder woorde sê: “Jy is nie alleen in hierdie hoofstuk nie.”
Empatie
Ons kan nie getroue storie-bondgenote sonder empatie wees nie. Empatie is om saam met iemand te voel, terwyl ons onsself bly. Ons misluk soms hiermee as ons te gou, weens ons eie ongemak, die onderwerp verander of wanneer ons die ander persoon se angs ervaar asof die ons eie is.
Ware empatie hou twee waarhede tegelyk vas: Ek is by jou, maar jou ervaring is nie myne nie. Dit vereis nie ooreenstemming nie; eerder begrip. Dit skep verbinding sonder ineenstorting. Simpatie voel jammer van ’n afstand. Empatie kom nader, maar neem nie oor nie.
Gesonde Grense
Grense maak empatie volhoubaar. ’n Grens dui aan waar ek eindig en jy begin. Sonder dit raak ons verstrengel en verloor ons onsself in iemand anders se storie. Met mure wat te hoog is, onttrek ons en beskerm onsself teen ongemak. Gesonde grense is buigsaam en laat nabyheid toe sonder beheer. Hulle skep ruimte vir medelye sonder besit.

Kultuur, geloof en politiek het ʼn impak op waar daardie lyne vir ʼn individu natuurlik voel. Wat vir een persoon diep intiem voel, mag vir ’n ander heeltemal alledaags wees. Bewustheid hiervan help ons om verantwoordelik én sag te bly. Om onderskeid te tref beteken nie dat ons koud en kul is nie. Dit is wat liefde laat voortduur.
Luister as Kuns en Gawe
Wanneer ons nie luister nie, verbeur ons die reg om te praat. Diep luister vra verstand én hart. Dit vra die soort stilte wat weerstaan om elke pouse te vul. Ons praat té dikwels om ons eie ongemak te verlig, of om wys te klink, eerder as om te troos. Niemand is ’n kenner van ’n ander se lewe nie.
Mense vertel stories om te oorleef, te verwerk en te genees. Wanneer iemand werklik luister, kom iets tot rus. Die storie kry vorm. Trauma se greep verslap. Betekenis begin vorm aanneem. Om met deernis te luister is een van die stilste en kragtigste dade van liefde wat ons kan bied.
Dankbaarheid
Van die rooi Formica-tafel van my kinderjare tot die stemboodskap met nuus op my foon, het stories my nog altyd gedra. Hulle het my in verkeer geanker. Oseane saam met my oorgesteek. Langs hospitaalbeddens gesit. Kombuise met lag gevul. Trane in veilige ruimtes vasgehou.
Ek is diep dankbaar vir die storie-bondgenote in my lewe — dié wat geduldig geluister het, vrylik gelag het, getrou gebid het, en soms eenvoudig langs my gestaan het wanneer woorde nie genoeg was nie.
Hulle het my gehelp om my eie storie met groter moed en hoop te leef. Ek bid dat ek dieselfde vir ander mag doen.
Groete
Emsia


























































