Wat ek van my kinders leer
Beide Jacques en Christo is op die eerste Vrydag in Maart gebore. Jacques het 22 jaar gelede in die wêreld gekom en op sy rustige manier sy tyd geneem. Christo het twee jaar later opgedaag, maar weens sy aard kon hy nie wag om sy lewe te begin nie. Toe hy my drie weke vroeg dringend kennis gee het ek met waarskuwings ligte aan, hospitaal toe gejaag. Moederskap het my intussen waardevolle lesse geleer.
Ouerskap is ʼn ongelooflike voorreg. In my ervaring was dit nie noodwendig so maklik om ʼn ma te word soos wat almal my gedurende my tienerjare gewaarsku het nie. Die rol is ook nie so maklik soos wat dit gelyk het toe ek ‘n tiener was nie!
My ouers het my oneindig lief. Ek het dit eers verstaan die dag toe ek ʼn ma geword het en voel of ek my hart broos en blootgestel buite my lyf dra. As ek terugdink oor my jare as tiener is daar baie geleenthede, situasies en woorde met my eie ouers wat ek wens ek anders hanteer het. Gelukkig weet ek darem nou uit ervaring ‘n ma se liefde vir haar kinders is geduldig en verdra baie.
Elke mens is uniek geskape. Ek het dit besef toe ek probeer het om my ouerskap-lesse geleer met Jacques, op Christo en Zander toe te pas. Elke tak van die familieboom groei in sy eie rigting om sy eie sonlig te kry en sy eie doel te dien. Dit is nodig vir balans. ʼn Mens mag nooit twee mense, veral kinders, met mekaar vergelyk nie.
Die Wonder van Lewe. Dis ongelooflik hoe ʼn mens uit twee selletjies binne nege maande ontwikkel en in ʼn onafhanklike jong volwassene binne ʼn paar jaar transformeer.
Moenie ander mense se ouerskap oordeel nie. Jou eie groen koring gaan ander mense baie geleentheid gee om jou te veroordeel. In die somer staan die koring letterlik groen op die land hier om ons. Soms groei daar ʼn helder rooi papawer tussen die groen koring en dit laat my so dink aan Dr Seuss se wysheid van “Why fit in when you were born to stand out”. Dit is veral hierdie rooi papawers wat mense rede gee om te oordeel!
Ouerskap is ʼn geleentheid vir persoonlike groei. Met elke kind leer ek nuwe dinge en moet ek nuwe uitdagings in die omstandighede, maar ook in myself oorkom. Elkeen van my kinders daag my op verskillende maniere uit. Ek leer van grense stel, onderhandeling en word direk gekonfronteer met my eie swakhede. Soms is ek skuldig aan onnodige haastigheid. Ek onthou ʼn spesifieke geleentheid waar ʼn sesjarige Jacques my bewus gemaak het van my swakheid. Hy het gesê: “Dit is reg Ma. Ek sal gou maak, maar waarom moet ons gou maak as dit Sondag is en ons net op pad is strand toe?”
Te midde van baie ouerskap uitdagings, is die verhouding met jou kind die belangrikste. Ek het op die harde manier geleer dat konflik deel is van die rol, maar dat ek die konflik op ʼn respekvolle manier moet hanteer sodat die verhouding nie skade ly nie. Ek het ook geleer dat net soos met ʼn krisis, ek ʼn konfliksituasie optimaal moet benut vir wedersydse begrip en groei in die verhouding.
Elkeen van ons kinders word in sy eie omstandighede groot. Elkeen het sy eie uitdagings en lesse om te leer. “In my dae het ons dit so gedoen”, is nie woorde wat help nie. Zander en Jacques verskil amper tien jaar en dit is ongelooflik om te sien hoeveel dinge in tien jaar verander het wat veroorsaak dat hulle grootword-omstandighede in baie opsigte verskil.
Ek het nog baie om te leer. Sedert jou kinders se geboorte, leer jy die veranderende wêreld deur hulle oë ken. Ek moet hard daaraan werk om by te bly. Jacques en Christo het aan my musiekkennis gewerk op pad skool toe en Zander het nou oorgeneem. Tegnologie en sosiale media het ʼn hele nuwe klomp geleenthede en uitdagings geskep en ek probeer bybly.
Ouerskap is nie ʼn reis wat jy alleen kan aanpak nie. Ons moet oop wees vir verskillende insette om ons kinders te help gebalanseerde volwassenes te word. Wanneer kinders skielik in twee verskillende huise grootword, is daar noodgedwonge verskillende sienings, uitdagings en ouerskapstyle. Ouers en stiefouers saam met wonderlike ander volwassenes soos grootouers, familie, onderwysers en almal wat hulle pad kruis, help hulle om hulle weg te vind.
Ek is dankbaar vir elkeen wat ʼn positiewe rol in my kinders se lewens speel!
Groete
Emsia
2 thoughts on “Wat ek van my kinders leer”
Emsia
Jou skildery van kinders-grootmaak, is so duidelik, al het dit so baie kleure. Ek dink dit is ook baie duideliker vir die mamma as die pappa. Ek as pappa, is ontsettend dankbaar dat my vrou al haar tyd aan ons kinders kon gee. Kinders het ‘n mamma nodig om elke tree van die grootword-pad te stap. Ons as pappa’s, waardeer julle ontsettend baie.
Dankie vir die terugvoer Oom. Gelukkig is ouerskap spanwerk. Die mamma en die pappa het mekaar se bedraes, insette en perspektiewe nodig om in die beste belang van die kinders op te tree
Comments are closed.