Vriendskap en nuwe insigte in Nepal
Zander het ’n wonderlike geleentheid gehad om Kathmandu in Nepal as deel van ’n skooluitstappie te besoek. Zander se skool, ICS in Zürich, het ‘n vennootskap met Shree Mangal Dvip (SMD) in Nepal. Die vennootskap is toegewyd aan opregte interkulturele uitruiling, wêreldburgerskap en transformerende onderwys. Oor die afgelope twee dekades het ICS studente van SMD verwelkom om hul IB-diplomas te voltooi. Die ICS-skoolgemeenskap staan ook saam om fondse in te samel vir die verbetering van SMD se fasiliteite en onderrig.

Ons as ouers het ’n opgewonde groep graad 10 leerders op die lughawe afgesien. Die res van hierdie brief is my weergawe van hul reis, saamgestel uit boodskappe, foto’s en Google navorsing. Dit was ’n vreugde om hul avontuur van ’n afstand te volg. Ek hoop hierdie terugskouing vang ten minste ’n klein deeltjie vas van die opwinding en groei wat hulle beleef het.
ʼn Warm verwelkoming by SMD in Kathmandu
By die SMD skool in Kathmandu het hoof het hulle met ’n koppie tee verwelkom, gevolg deur ’n begeleide toer van die skool. Zander het laat weet: “Die skool het my aan ons laerskool in Suid Afrika herinner. Die leerders is aangenaam, vriendelik en vrolik. Dit was lekker om die ander SMD graad 10’s te ontmoet en mekaar beter te leer ken.”
Aan die einde van die skooldag het hul nuwe vriende saam met hulle ’n besoek gebring aan die Boudha Stupa, ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied. Die vorm van die Stupa simboliseer die Boeddha, gekroon en sittende in ’n meditatiewe houding op ’n leeutroon. In die Boeddhisme is ’n Stupa ’n koepelvormige, halfsirkelvormige struktuur wat verskeie soorte heilige relieke huisves.

Op hul tweede dag in Nepal het die groep ’n unieke geleentheid gehad om Saka Dawa, een van die heiligste vieringe in Tibetaanse Boeddhisme, mee te maak. Hierdie heilige dag herdenk die geboorte, verligting en parinirvana (heengaan) van Gautama Boeddha.
Zander het gedeel: “Na die viering het ons sport soos basketbal en sokker saam met ons nuwe vriende gespeel. Na tien minute se speel hier was ek heeltemal uitasem. Ek dink dis weens ’n kombinasie van die hoë hoogte en die lugbesoedeling. Later het die meisies ons in ’n saal bymekaargebring en vir ons ’n paar tradisionele Nepalese danse geleer.”
Verskillende wêrelde, dieselfde drome
Zander se terugvoer oor die klimaat en koservaringe: “Die klimaat in Nepal is warm en tropies. Die 30 grade hier voel nie soos 30 grade in Switserland of Suid-Afrika nie. Dit is baie meer humied. Gedurende die dag skyn die son helder, maar teen 6-uur in die aand is daar donderstorms met swaar reën. Ek geniet die kos, veral die Nepalese momo’s en Indiese kerrie.”

Hy het ook insigte oor voorregte gedeel: “Die Nepalese kinders het dieselfde belangstellings as ons. Ons luister na dieselfde musiek en praat op soortgelyke maniere. Ons is almal maar net gewone tieners. Hulle werklikhede is egter anders. Die seun wat ek ontmoet het, moet elke keer vyf dae per bus reis en dan ver in die berge stap om sy ouers te sien. Sy gesin het skaars geld vir die skool. Hy is die enigste in sy hele familie wat kan lees en skryf. Sy ouers offer alles op sodat hy ’n opvoeding kan kry.”
Samewerking oor Kulture heen by SMD
Gedurende die eerste week het Zander se groep saam met die SMD-leerders klasse bygewoon en aan groepsprojekte gewerk. Hulle het nie net sáám met die SMD-studente geleer nie, maar ook van hulle geleer. ICS- en SMD-studente het spanne gevorm om navorsing te doen oor volhoubare ontwikkelingsoplossings vir bergagtige, landgeslote lande soos Switserland en Nepal. Aan die einde van die week het die spanne hul idees aan die Graad 9-leerders en skoolpersoneel voorgelê.

Verkenning van Kathmandu
Gedurende die tweede week het Zander se groep op ’n kulturele uitstappie gegaan wat besoeke aan Patan Durbar-plein, ’n vroeëoggend-groentemark, Kathmandu Durbar-plein en die Swayambhunath-tempel ingesluit het. Die tempel bied ’n asemrowende uitsig oor die stad. Volgens terugvoer was die hoogtepunt vir baie die verkenning van die lewendige Thamel-distrik, waar studente vrye tyd gehad het om rond te dwaal, aandenkings te koop en geskenke uit te soek.

Shivapuri-bergpiek Staptoer
Gedurende die naweek het ICS- en SMD-studente ’n staptoer aangepak na die piek van die Shivapuri-berg, wat geleë is in die nasionale park aan die noordelike rand van die Kathmandu-vallei. Die 10-kilometer klim, met ’n hoogteverskil van byna 1 100 meter, het sowat vier uur geneem om te voltooi. Langs die pad het hulle takbokke en ’n trop makaak-ape ( macaques) in die digte tropiese reënwoud gesien. Ongelukkig het hulle nie ’n kykie gekry van die skaars “clouded leopards” of Himalaja-swartbere wat ook in die gebied voorkom nie.
By die piek het die groep in ’n sirkel gerus, versnaperinge gedeel en hul energie herlaai vir die afdraand. Hulle het ’n ander, korter maar baie steiler roete vir die terugtog gekies. Die 6-kilometer-afdraand, wat honderde trappe ingesluit het, het ongeveer twee uur geneem. Ná so ’n fisiek veeleisende dag was hul sagte beddens veral welkom.

Rustigheid by Namo Buddha-klooster
Die groep het ’n oornagervaring by die Namo Buddha-klooster gehad. Ek het gelees dat Namo Buddha, vanuit ’n Boeddhistiese perspektief, een van die heiligste godsdienstige plekke in Nepal is. Saam met die Boudha Stupa en die Swayambhunath Stupa vorm dit drie van die belangrikste Boeddhistiese pelgrimsoorde in die land.
Volgens Zander is Namo Buddha nie net geestelik betekenisvol nie, maar ook asemrowend mooi en diep vreedsaam. Die omgewing is stil, skoon en vry van besoedeling, met koel, vars lug. Dit is die ideale plek vir meditasie en stil refleksie. In die vroeë oggend groet ’n pragtige sonsopkoms besoekers, terwyl die aande ewe betowerende sonsondergange bied. In die verte verskyn die sneeubedekte pieke van die Himalajas, wat ’n gevoel van suiwerheid en grootheid uitstraal.

Reis is ‘n geskenk wat aanhou gee
Ek sluit af met die woorde van een van die onderwysers wat deel was van die reis: “Dit was ’n wonderlike twee weke – ’n ervaring wat geen van ons ooit sal vergeet nie. Ek glo die lesse wat ons uit die Boeddhisme, die SMD-leerders, die Nepalse kultuur en hul leefwyse geleer het, sal op verskillende maniere in elk van ons na vore kom. Hierdie insigte sal oor die komende dae, weke, maande en selfs jare op verskillende tye en plekke in ons lewens verskyn.”
Ek is opreg dankbaar teenoor Zander se skool en onderwysers wat hierdie onvergeetlike ervaring moontlik gemaak het. ’n Reis soos hierdie verruim jou horisonne, verander jou kyk op die wêreld en sy mense, en laat jou die dinge in die lewe wat regtig saakmaak, waardeer. Reis is ’n geskenk wat aanhou gee.
Sien meer foto’s in die fotovideo.
Groete
Emsia
2 thoughts on “Vriendskap en nuwe insigte in Nepal”
This is absolutely an incredible experience in Zanders life. I can feel from your words, that Zander was deeply touched by this experience.
He is so fortunate to be able to witness other cultures and so are you.
Travelling really broadens your mind, I know and so do my children who are grateful for the experiences. Kind regards and much love, Peter
Peter, you speak from experience. We are incredible grateful for the opportunities we have to witness and experience other cultures.
Zander was very touched by the people in Nepal and it had a huge impact on the way he looks at his own life.
I hope NL is treating you well and you enjoy like us the beautiful European summer.
Kind regards and love, Emsia
Comments are closed.